Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 63

Handelinge 25–28, Psalm 2, Spreuke 26

Bybelteks(te)

Paulus beroep hom op die keiser

1Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af Jerusalem toe gegaan. 2Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het voor hom verskyn en 'n aanklag teen Paulus ingebring. Hulle het hom ernstig versoek 3om hulle 'n guns te bewys en Paulus na Jerusalem toe te laat haal. Hulle het dit gevra omdat hulle hom op pad daarheen in 'n hinderlaag wou doodmaak. 4Festus het egter geantwoord: “Paulus word in Sesarea aangehou, en ek is van plan om binnekort daarheen terug te gaan. 5Julle bekwaamste manne kan dan saam met my gaan en hom aankla as hy iets verkeerds gedoen het.”

6Hy het 'n dag of ag, hoogstens tien, daar deurgebring en toe na Sesarea toe teruggegaan. Die dag na sy aankoms daar het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus voor hom gebring moet word. 7Toe Paulus binnekom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van 'n hele klomp ernstige dinge beskuldig, wat hulle nie kon bewys nie. 8Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks verkeerds teen die Joodse wet of die tempel of die keiser gedoen nie.”

9Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en sê vir Paulus: “Sou jy bereid wees dat ek jou oor hierdie saak in Jerusalem gaan verhoor?”

10Paulus antwoord hom: “Ek staan tereg voor die keiserlike regbank. Hier moet ek verhoor word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed. 11As ek skuldig is en iets gedoen het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om te sterwe. Maar as daar niks in hulle beskuldigings teen my steek nie, kan niemand my as guns aan hulle uitlewer nie. Ek beroep my op die keiser.”

12Nadat Festus die saak met sy raadgewers bespreek het, het hy geantwoord: “Jy het jou op die keiser beroep; na die keiser toe sal jy gaan.”

Paulus voor Agrippa en Bernice

13Na verloop van tyd het koning Agrippa en Bernice na Sesarea toe gekom om Festus te verwelkom. 14Hulle het 'n paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak by die koning ter sprake gebring: “Hier is iemand wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. 15By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode 'n aanklag teen hom ingebring en my gevra om hom skuldig te bevind. 16Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om 'n beskuldigde as guns uit te lewer nie. Hy moet eers geleentheid kry om hom voor sy aanklaers teen hulle beskuldiging te verdedig. 17Toe hulle hierheen gekom het, het ek sonder uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en bevel gegee dat die man voor my gebring moet word. 18Sy aanklaers het om hom gaan staan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ek verwag het nie. 19Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe. 20Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word. 21Maar Paulus het hom op die keiser beroep. Hy wou liewer gevangene bly en deur die keiser verhoor word. Ek het toe beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

22Agrippa sê toe vir Festus: “Ek sou self ook graag die man wil hoor.”

“Môre kan u hom hoor,” antwoord Festus.

23Die volgende dag het Agrippa en Bernice met groot vertoon die saal binnegekom in geselskap van die generaals en die vooraanstaande inwoners van die stad. Op Festus se bevel is Paulus ingebring. 24Toe sê Festus: “Koning Agrippa en almal hier teenwoordig, kyk, dit is die man teen wie al die Jode in Jerusalem en hier 'n aanklag by my ingebring het. Hulle het geskreeu dat hy nie langer behoort te lewe nie. 25Ek kon egter nie vasstel dat hy iets gedoen het wat die doodstraf verdien nie. Aangesien hy hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom daarheen te stuur. 26Maar ek weet eintlik nie wat ek vir die keiser moet skrywe nie. Daarom het ek hom voor u gebring, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek ná die ondersoek iets kan hê om te skrywe. 27Dit is sinloos, lyk dit vir my, om 'n gevangene te stuur sonder om die aanklag teen hom duidelik aan te gee.”

HANDELINGE 25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus verdedig hom voor Agrippa

1Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy kan maar jou saak stel.”

Met 'n handbeweging het Paulus sy verdediging begin: 2“Koning Agrippa, ek ag my gelukkig dat ek my vandag juis voor u teen al die beskuldigings van die Jode kan verdedig, 3veral omdat u so goed bekend is met al die Joodse gebruike en twisvrae. Ek versoek u dus om geduldig na my te luister.

4“Al die Jode ken my geskiedenis van jongs af. Van die begin af het ek tussen my volk en in Jerusalem gewoon. 5Hulle ken my al lankal en kan getuig, as hulle wil, dat ek my hele lewe lank lid was van die Fariseërs, die strengste party van ons godsdiens. 6En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het. 7Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig. 8Waarom is dit vir u en ander onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?

9“Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. 10Dit het ek toe ook in Jerusalem gedoen. Met die magtiging van die priesterhoofde het ek baie van die gelowiges in tronke gestop, en as hulle die doodstraf opgelê word, het ek daarmee saamgestem. 11Dikwels het ek hulle in al die sinagoges laat straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het.

12“Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag en in opdrag van die priesterhoofde, 13het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad 'n lig gesien wat uit die hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit het op my en my reisgenote geskyn. 14Ons het almal op die grond neergeval, en ek het 'n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’ 15‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. 16Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. 17Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur. 18Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’

19“Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie. 20Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas. 21Daarom het die Jode my by die tempel aangeval en probeer vermoor. 22Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: 23Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”

24Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: “Jy's mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!”

25Maar Paulus sê: “Ek is nie mal nie, U Edele, maar onder die leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan. 26Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in 'n hoekie gebeur nie. 27Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo.”

28Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou 'n Christen maak.”

29“Of dit nou gou-gou gebeur of langer duur,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie.”

30Die koning het opgestaan en saam met hom ook die goewerneur en Bernice, met hulle gevolg. 31Toe hulle uitgaan, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man het niks gedoen wat die dood of tronkstraf verdien nie.”

32Agrippa sê toe vir Festus: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.”

HANDELINGE 26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus se reis na Rome toe

1Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig. 2Ons het weggevaar aan boord van 'n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, 'n Masedoniër van Tessalonika. 3Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien.

4Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was. 5Met Silisië en Pamfilië aan ons regterkant het ons die see oorgesteek en Mira in Lisië bereik. 6Daar het die offisier 'n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit.

7Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar. 8Ons het met moeite langs die kus op gevaar en 'n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.

9Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe: 10“Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.”

11Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het. 12Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was 'n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê. Daar sou hulle kon oorwinter.

Die storm op see

13'n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die manne het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Die anker is gelig, en hulle het so na moontlik aan die kus van Kreta gevaar. 14Maar dit was nie lank nie toe waai daar 'n stormwind van die land af, die Noordoos, genoem die Eurakilon. 15Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe. 16Ons het 'n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring. 17Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe.

18Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. 19Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. 20Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word.

21Nadat hulle 'n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. 22Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. 23Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. 24Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ 25Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. 26Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.”

27Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom. 28Hulle het 'n dieplood uitgegooi en 'n diepte van ses en dertig meter gekry. 'n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter. 29Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word. 30Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. 31Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val.

33Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet. 34Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.”

35Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. 36Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet. 37Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord. 38Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak.

Die skipbreuk

39Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het 'n baai met 'n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon. 40Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer. 41Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan. 42Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. 43Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. 44Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.

HANDELINGE 27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus op die eiland Malta

1Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons gehoor dat dit die eiland Malta is. 2Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons. Omdat dit begin reën het en koud was, het hulle 'n vuur aangesteek en ons almal daarby verwelkom. 3Paulus het 'n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar 'n slang uitgekom, en dit het aan sy hand vasgebyt. 4Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man moet beslis 'n moordenaar wees. Al is hy uit die see gered, wil die goddelike wraak hom nie laat lewe nie.”

5Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. 6Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle 'n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is 'n god.

7Daar was 'n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, 'n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons vriendelik ontvang en ons drie dae lank as sy gaste gehuisves. 8Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.

9Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak. 10Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het.

Van Malta af Rome toe

11Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, 'n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het. 12Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly.

13Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar 'n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli. 14Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe. 15Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

Paulus in Rome

16Na ons aankoms in Rome het Paulus die vergunning gekry om op sy eie te woon met 'n soldaat om hom te bewaak.

17Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek in Jerusalem gevange geneem en aan die Romeine uitgelewer. 18Hulle het my verhoor en wou my loslaat omdat daar geen rede was om my ter dood te veroordeel nie. 19Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep. Dit beteken egter nie dat ek 'n aanklag teen my volk gaan inbring nie. 20Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te ontmoet en met u te praat. Ek is in hierdie boeie ter wille van Hom vir wie Israel verwag.”

21Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor u van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het berig oor u gebring of iets kwaads van u gesê nie. 22Ons wil graag hoor wat u dink, want al wat ons weet, is dat daar oral teenstand teen hierdie rigting is.”

23Hulle het toe 'n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus. 24Deur sy uiteensetting het daar party oortuig geraak, maar ander wou nie glo nie. 25Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dít vir hulle gesê: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het! 26Hy het gesê:

“Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle:

Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie;

en kyk en kyk en tog niks sien nie.

27Hierdie volk se verstand is afgestomp:

hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak,

sodat hulle nie

met hulle oë kan sien

en met hulle ore kan hoor

en met hulle verstand verstaan

en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.

28“Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Húlle sal luister.”

30Paulus het 'n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het. 31Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.

HANDELINGE 28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Julle moet die Here met ontsag dien

1Waarom is daar onrus onder die volke,

waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs?

2Die konings van die aarde is in opstand,

die leiers span saam teen die Here

en teen sy gesalfde en sê:

3“Kom ons maak ons vry

en gooi hulle juk af!”

4Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit,

die Here spot met hulle.

5Hy spreek hulle aan in sy toorn,

in sy gramskap jaag Hy hulle op loop:

6“Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg.”

7Ek wil vertel wat die Here aangekondig het.

Hy het vir my gesê:

“Jy is my seun,

van vandag af is Ek jou Vader.

8Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom,

die hele aarde as jou besitting.

9Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter,

hulle flenters slaan soos 'n kleipot.”

10Wees dan nou verstandig, konings,

wees gewaarsku, regeerders van die aarde!

11Julle moet die Here met ontsag dien,

Hom met vrees en bewing toejuig

12en Hom onderdanig wees,

sodat Hy nie toornig word

en julle op die pad omkom nie,

want sy toorn ontvlam gou.

Dit gaan goed met almal

wat by Hom skuiling soek.

1Soos sneeu in die somer en reën in die oestyd,

so min pas dit dat 'n dwaas eer ontvang.

2Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie,

so gaan 'n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie.

3'n Sweep vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie,

en 'n lat vir 'n dwaas.

4Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie;

hy sal dink jy is soos hy.

5Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier,

anders dink hy hy het wysheid.

6As jy 'n dwaas met 'n boodskap stuur,

kan jy net so wel nie 'n boodskap stuur nie

en aanvaar dat daar moeilikheid kom.

7'n Lam mens se bene hang nutteloos aan hom;

net so nutteloos is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.

8Om 'n klip in 'n slingervel vas te bind,

dit is wat dit beteken om aan 'n dwaas mag te gee.

9'n Doring in 'n dronk man se hand,

so is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.

10'n Boogskutter wat nie omgee wie hy raakskiet nie,

so is iemand wat 'n dwaas of sommer 'n verbyganger huur.

11Soos 'n hond wat na sy braaksel toe terugkom,

so is 'n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.

12Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag,

is daar minder hoop as vir 'n dwaas.

13Die luiaard se verskoning is:

“Daar is 'n leeu in die pad!

Daar is 'n leeu in die straat!”

14'n Deur bly op sy skarnier draai;

'n luiaard bly omdraai op sy bed.

15Die luiaard steek sy hand in die skottel,

maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe.

16Die luiaard dink hy het meer wysheid

as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee.

17Iemand wat 'n kwaai hond sommer aan die ore pak,

so is iemand wat woedend instorm in 'n rusie wat hom nie aangaan nie.

18Soos 'n mal mens wat dodelike pyle rondskiet,

19so is iemand wat 'n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”

20Sonder hout bly 'n vuur nie brand nie;

sonder 'n kwaadstoker hou 'n rusie nie aan nie.

21Daar is houtskool nodig vir gloeiende kole, hout vir 'n vuur,

en 'n twissiek mens vir rusie stook.

22'n Geskinder is soos lekker kos,

mense sluk dit so maklik.

23Soos om 'n potskerf met silwer oor te trek,

so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek.

24Iemand kan sy haat verbloem met wat hy sê,

maar binne hou hy by sy valsheid.

25As hy vriendelik praat, moet hom nie glo nie;

hy is vol bose bedoelings.

26Hy verberg sy haat agter 'n valse skyn,

maar van die onheil wat hy gaan doen, sal almal weet.

27Wie 'n gat vir 'n ander grawe, val self daarin;

die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom.

28'n Leuenaar haat dié wat hy seermaak;

'n vleier bewerk 'n ander se ondergang.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS