Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 60

JOSUA 16–18, HANDELINGE 16–18

Bybelteks(te)

Die gebied van die nakomelinge van Josef

1Aan die nakomelinge van Josef is deur loting 'n gebied toegeken wat strek van die Jordaan af regoor Jerigo, oos van die Jerigofonteine. Die grens loop van Jerigo af oor die woestyn op na Bet-El se berge toe. 2Van Bet-El af loop dit na Lus toe, en verby die grens van die Erekiete na Atarot toe, 3dan weswaarts af na die grens van die Jafletiete toe tot by die grens van Bet-Goron-Onder en Geser, en dit loop dan dood aan die see.

4Die stamme Manasse en Efraim, nakomelinge van Josef, het die grondgebied gekry.

Die stamgebied van Efraim

5Die grens van die grondgebied van die families in die stam Efraim loop van Atrot-Addar in die ooste na Bet-Goron-Bo toe, 6en dan verder tot aan die see. Van Mikmetat af in die noorde swaai die grens oos verby Taänat-Silo na Janoag toe in die ooste, 7van Janoag af loop die grens af na Atarot en Naära toe, dan teen Jerigo verby en aan tot by die Jordaan. 8Van Tappuag af loop die grens wes met Kanaspruit langs en dit loop dood aan die see. Dit is die gebied van die families in die stam Efraim. 9Daarby het gekom al die stede en buiteposte wat aan die Efraimiete toegeken is binne-in die grondgebied van Manasse.

10Die Efraimiete het nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie en die Kanaäniete woon nou nog tussen die Efraimiete, maar hulle doen dwangarbeid.

Die stamgebied van die ander helfte van Manasse

1Daar is ook aan die stam Manasse 'n gebied deur loting toegeken. Manasse was Josef se oudste seun, en die toekenning is gemaak aan Manasse se oudste seun Makir die voorvader van Gilead. Hy was 'n krygsman en het Gilead en Basan ontvang. 2Die toekenning was vir die oorblywende families in die stam Manasse, dié van Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida. Dit was die families van die ander manlike afstammelinge van Manasse seun van Josef.

3Selofgad seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, het nie seuns gehad nie, net dogters. Hier is hulle name: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. 4Hulle het na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die leiers toe gegaan en gesê: “Die Here het vir Moses beveel om vir ons tussen ons stamgenote grond te gee.”

Moses het toe aan hulle grondgebied toegeken tussen hulle vader se broers soos die Here beveel het. 5Behalwe Gilead en Basan oos van die Jordaan het Manasse dus nog tien dele ontvang, 6want hierdie dogters uit die Manassestam het grondgebied ontvang saam met die mans. Die Gileadstreek het behoort aan die res van die stam Manasse.

7Die gebied van Manasse strek van Aser af tot by Mikmetat regoor Sigem, en die grens loop daarvandaan suid en sluit die inwoners van En-Tappuag in. 8Die Tappuagstreek het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het behoort aan die mense van Efraim. 9Van Tappuag af loop die grens af na Kanaspruit toe. Suid van die spruit lê stede van Efraim tussen dié van Manasse. Manasse se grens is noord van die spruit en dit loop dood aan die see. 10Efraim was aan die suidekant en Manasse aan die noordekant. Die gebied van Manasse loop tot teen die see, en grens noord aan Aser en oos aan Issaskar. 11In Issaskar en Aser self het Bet-San, Jibleam, Dor op die bergrug, En-Dor, Taänak en Megiddo met hulle buitedorpe ook nog aan Manasse behoort. 12Die mense van Manasse kon egter nie dié stede verower nie, en die Kanaäniete het dié gebied bly bewoon. 13Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar nie die stede ingeneem nie.

Die nakomelinge van Josef kry groter grondgebied

14Die nakomelinge van Josef het met Josua gaan praat: “Waarom loot u vir ons net een keer en gee u ons net een deel? Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën.”

15Josua het vir hulle gesê: “Julle is baie. Gaan maak vir julle 'n stuk boswêreld skoon in die gebied van die Feresiete en die Refaïete. Die Efraimsberge is te klein vir julle.”

16Hulle het vir Josua gesê: “Die Bergland is nie groot genoeg vir ons nie, en al die Kanaäniete wat in die laagte woon, het ysterstrydwaens, dié in Bet-San en sy buiteposte, en dié in die Jisreëlvlakte.”

17Daarom het Josua vir die nageslag van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Julle is baie mense en julle is sterk. Julle kry dus nie net een deel nie. 18Die Bergland is julle s'n. Dit is bebos, maar julle kan dit skoonmaak en dit ten volle benut. Die Kanaäniete het wel ysterstrydwaens en hulle is sterk, maar julle sal hulle uitdryf.”

Die verdeling van die res van die land

1Die hele Israelitiese volksvergadering het in Silo bymekaargekom en die tent van ontmoeting daar opgeslaan. Die land was nou onderwerp, 2maar daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grondgebied ontvang het nie. 3Josua het vir die Israeliete gesê: “Hoe lank gaan julle nog talm voor julle die land in besit gaan neem wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het? 4Bring drie man uit elke stam dat ek hulle kan stuur en dat hulle die res van die land kan deurgaan en 'n beskrywing kan maak van die verskillende dele en dit vir my bring. 5Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Juda behou sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle s'n in die noorde.

6“Julle moet 'n beskrywing maak van die sewe dele van die land en dit vir my bring dat ek die loting hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak. 7Die Leviete kry nie 'n deel saam met julle nie, want hulle besondere voorreg is die priesterskap in diens van die Here. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het hulle deel oos van die Jordaan gekry waar Moses, die dienaar van die Here, dit aan hulle toegeken het.”

8Die manne het toe klaargemaak en vertrek. By hulle vertrek om 'n beskrywing van die land te maak, het Josua hulle beveel: “Gaan die land deur, maak 'n beskrywing daarvan en kom terug na my toe dat ek vir julle die loting hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here kan doen.”

9Die manne is weg en het die land deurgegaan en in 'n boek 'n beskrywing van die sewe dele opgeteken, stad vir stad. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo. 10Josua het toe die loting daar in Silo in die teenwoordigheid van die Here gedoen en die land tussen die Israelitiese stamme verdeel.

Die stamgebied van Benjamin

11Aan die families in die stam Benjamin is deur loting 'n gebied toegeken tussen dié van Juda en Josef. 12Aan die noordekant begin hulle grens by die Jordaan en dit loop dan op teen die hang noord van Jerigo, teen die berge uit weswaarts en dan loop dit tot teen die woestyn van Bet-Awen. 13Daarvandaan loop die grens oor na Lus toe, teen die hang suid van Lus, dit is Bet-El, en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder. 14Dan draai die grens en swaai westekant toe suid van die berg regoor Bet-Goron en loop dood by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, 'n stad wat aan Juda behoort. Dit is die westelike grens. 15Die suidelike grens begin teenaan Kirjat-Jearim, loop wes en kom uit by Neftoagsfontein, 16en loop dan af na die voet van die berg regoor Ben-Hinnomdal, noord van Spooklaagte. Dan loop die grens met die Hinnomdal af na die hang suid van die Jebusietestad en af na Rogelfontein toe, 17draai noord en loop na Semesfontein toe, aan na Gelilot toe regoor Adummimspas en af tot by die Klip van Bohan seun van Ruben. 18Dan loop dit noord van die hang regoor die Jordaanvallei verby en af na die Jordaanvallei toe, 19noord van die hang van Bet-Gogla verby en loop dood by die noordelike punt van die Soutsee, waar die Jordaan inloop. Dit is die suidelike grens. 20Die Jordaan self vorm die oostelike grens. Dit is dan die grense rondom die grondgebied van die families in die stam Benjamin.

21Die stede van die families in die stam Benjamin is Jerigo, Bet-Gogla, Kesisdal, 22Bet-Araba, Semarajim, Bet-El, 23Awwim, Para, Ofra, 24Kefar-Ammoni, Ofni en Geba, twaalf stede met hulle buiteposte, 25verder Gibeon, Rama, Beërot, 26Mispa, Kefira, Mosa, 27Rekem, Jirpeël, Tarala, 28Sela, Elef, Jebusietestad, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat, veertien stede met hulle buiteposte. Dit is die besitting van die families in die stam Benjamin.

Timoteus sluit by Paulus aan

1Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was 'n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook 'n gelowige, was 'n Joodse vrou en sy pa 'n Griek. 2Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. 3Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is 'n Griek.

4Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. 5So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.

Die gesig in Troas

6Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. 9Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

Lidia se bekering

11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons na Filippi toe, 'n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae gebly.

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou 'n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was 'n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”

En sy het ons oorreed om dit te doen.

In die tronk in Filippi

16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons 'n slavin teëgekom in wie daar 'n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder 'n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle 'n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

40Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

HANDELINGE 16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die oproer in Tessalonika

1Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar 'n Joodse sinagoge was. 2Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. 3Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus.”

4Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. 'n Groot aantal godvresende Grieke en 'n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.

5Maar die Jode was hieroor afgunstig en het met die hulp van 'n klomp nikswerd leeglêers 'n betoging op tou gesit wat die stad in oproer gebring het. Hulle het na Jason se huis toe opgeruk en wou vir Paulus en Silas hê om hulle voor die volk te bring. 6Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en 'n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: “Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad, 7en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar 'n ander koning is, Jesus!”

8Die mense en die stadsbestuur was ontsteld toe hulle dit hoor, 9maar nadat hulle van Jason en die ander gelowiges die nodige waarborg gekry het, is hulle losgelaat.

Paulus en Silas in Berea

10Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan.

11Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. 12Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.

13Toe die Jode in Tessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die mense opgesweep. 14Die gelowiges het dadelik vir Paulus na die kus toe laat wegbring, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. 15Die mense wat vir Paulus begelei het, het hom tot by Atene gebring en toe teruggegaan met die opdrag van Paulus aan Silas en Timoteus om so gou as moontlik na hom toe te kom.

Paulus in Atene

16Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18'n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy 'n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.

19Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.”

21Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. 22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god.’

“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.

30“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”

33So het Paulus van hulle af weggegaan. 34'n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

HANDELINGE 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus in Korinte

1Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan. 2Daar het hy vir Akwila, 'n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek, 3en omdat hulle net soos hy tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. 4Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig.

5Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. 6Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”

7Toe het hy die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van 'n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge. 8Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop.

9Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, 10want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

11Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God.

12Nadat Gallio goewerneur van Agaje geword het, het die Jode egter soos een man teen Paulus in opstand gekom en hom voor die hof gebring. 13“Hierdie man,” het hulle gesê, “probeer die mense oorhaal om God op 'n manier te vereer wat in stryd is met ons wet.”

14Paulus wou praat, maar toe sê Gallio vir die Jode: “As dit oor 'n onreg of 'n ernstige misdaad gegaan het, was dit my plig om geduldig na julle Jode te luister. 15Maar aangesien dit 'n geredekawel is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle self daaroor beslis. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16Daarna het hy hulle uit die hof uitgejaag. 17Hulle het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter niks daaraan gesteur nie.

Paulus kom terug na Antiogië toe

18Nadat Paulus nog 'n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het, het hy van hulle afskeid geneem en saam met Priscilla en Akwila na Sirië toe vertrek. Voordat hy in Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy hare laat afsny, omdat 'n gelofte wat hy afgelê het, vervul was.

19By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote verlaat en in die sinagoge ingegaan, waar hy met die Jode geredeneer het. 20Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. 21Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: “As God wil, kom ek na julle toe terug.”

Hy het van Efese af weggegaan 22en in Sesarea aangekom. Daarvandaan het hy Jerusalem toe gegaan en die gemeente gegroet, en toe na Antiogië toe vertrek, 23waar hy 'n tyd lank gebly het.

Derde sendingreis

Daarna het hy weer vertrek en deur die landstreek van Galasië en Frigië gereis. Oral het hy die gelowiges geestelik versterk.

Apollos preek in Efese

24Intussen het daar 'n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was 'n begaafde spreker met 'n deeglike kennis van die Skrif. 25Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes. 26Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.

27Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom 'n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, 28want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 18AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS