Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 59

JOSUA 13–15, HANDELINGE 13–15

Bybelteks(te)

Josua kry opdrag om die land te verdeel

1Josua was al baie oud. Die Here het vir hom gesê: “Jy is al baie oud, en daar is nog 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word.

2“Onder die deel wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied. 3Die gebied van die Sigor af teen Egipte tot by die Ekrongebied in die noorde word as Kanaänitiese gebied beskou. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders, dié van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, en dit sluit die gebied van die Awwiete in.

4-5“Verder is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, die Gebalgebied van Meara af wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek aan die Amoritiese grens en die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.

6“Ek sal al die bewoners van die bergwêreld verdryf om vir die Israeliete plek te maak, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs. Intussen moet jy hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys soos Ek jou beveel het. 7Verdeel dus nou die land vir die nege stamme en die halwe Manassestam.”

Die Israelitiese gebied oos van die Jordaan

8Saam met die ander helfte van die Manassestam het die stamme Ruben en Gad reeds hulle besitting ontvang wat Moses aan hulle toegeken het oorkant die Jordaan, aan die oostekant. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebied aan hulle toegeken: 9van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad aan die rivier, die hele Medebahoogvlakte tot by Dibon, 10al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het, tot aan die Ammonitiese grens, 11Gilead met die gebiede Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka 12met insluiting van die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï geregeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en verdryf. 13Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka verdryf nie, en hulle woon nou nog tussen die Israeliete.

14Net aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het.

Die stamgebied van Ruben

15Aan die families in die stam Ruben het Moses die volgende gebied toegeken: 16van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad af aan die rivier, die hele hoogvlakte tot by Medeba, 17en tot by Gesbon met al sy stede op die hoogvlakte: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, 18Jahas, Kedemot, Mefaät, 19Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die laagte, 20Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot, 21al die stede op die hoogvlakte, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde wat aan Sihon onderhorig was en in die land gewoon het. 22Die waarsêer Bileam seun van Beor is een van dié wat deur die Israeliete doodgemaak is. 23Die gebied van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens.

Dit was dan die besitting van die families in die stam Ruben, die stede en hulle buiteposte.

Die stamgebied van Gad

24Aan die families in die stam Gad het Moses die volgende gebied toegeken: 25Jaser, al die stede in Gilead, die helfte van die Ammonitiese gebied tot by Aroër wat regoor Rabba lê, 26van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, van Maganajim af tot aan die grens van Lo-Dabar, 27en in die laagte Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot aan die Gennesaretmeer, die streek oos van die Jordaan.

28Dit was dan die besitting van die families van die stam Gad, die stede en hulle buiteposte.

Die stamgebied van die een helfte van Manasse

29Aan die families in die halwe Manassestam het Moses die volgende gebied toegeken: 30van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al die tentdorpe van Jaïr in Basan, sestig altesaam, 31die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is wat die nakomelinge van Makir seun van Manasse ontvang het, die families in die een helfte van die nakomelinge van Makir.

32Dit is dan die gebied wat Moses toegeken het in die Moabsvlakte oorkant die Jordaan, regoor Jerigo, aan die oostekant. 33Aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.

Die Israelitiese gebied wes van die Jordaan

1Hier volg nou 'n oorsig van die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun het saam met die stamhoofde die gebiede aan die Israeliete toegeken, 2dit is aan die nege stamme en die halwe stam. Dit is gedoen deur loting soos die Here deur Moses beveel het.

3Aan die ander twee stamme en die halwe stam het Moses 'n gebied oorkant die Jordaan toegeken, en aan die Leviete het hy nie 'n gebied toegeken saam met die ander nie. 4Die nageslag van Josef het twee stamme gevorm, Manasse en Efraim, en die Leviete het nie 'n deel van die land ontvang nie, maar wel dorpe om in te woon en weidingsgebiede vir hulle veetroppe.

5Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses beveel het, hulle het die land verdeel.

Hebron word aan Kaleb toegeken

6Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, 'n Kenassiet, vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades-Barnea. 7Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het, 8maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg, 9en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’

10“Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig, 11maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom. 12Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.”

13Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken. 14Daarom behoort Hebron tot vandag toe aan Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy die Here die God van Israel getrou gevolg het. 15Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van 'n groot man onder die Enakiete.

Die oorlog was verby, die land het gerus.

Die stamgebied van Juda

1Aan die families in die stam Juda is deur loting 'n gebied toegeken wat suidwaarts gestrek het tot aan die verre suidekant van die Sinwoestyn teen die grens van Edom.

2Juda se suidelike grens begin dus by die Soutsee, by die punt wat suid uitsteek, 3en dit loop suid van Skerpioenpas verby na Sin toe, op na 'n punt suid van Kades-Barnea, oor na Gesron toe, op na Addar toe en swaai na Karka toe. 4Dan loop dit oor na Asmon toe en met Egiptespruit langs totdat dit teen die see doodloop. Dit is Juda se suidelike grens.

5Die oostelike grens is die Soutsee tot waar die Jordaan in die see inloop.

Die grens aan die noordekant begin waar die Jordaan in die see inloop, 6en loop op na Bet-Gogla toe, noord van Bet-Araba verby, op na die Klip van Bohan seun van Ruben, 7op na Debir toe van die Akorlaagte af, en swaai noord na Gilgal toe wat regoor Adummimspas suid van die spruit lê. Dan loop die grens oor tot aan die water van Semesfontein en tot by Rogelfontein, 8daarvandaan op met Ben-Hinnomdal na die suidelike hang van Jebusieteberg, dit is Jerusalem, en op na die top van die berg wes van Hinnomdal by die noordelike punt van Spooklaagte. 9Van die top van die berg af draai die grens na Neftoagsfontein toe, loop aan na die stede teen Efronberg en draai na Baäla toe, dit is Kirjat-Jearim. 10Van Baäla af swaai dit wes na Seïrberg toe, verby die noordelike hang van Jearimsberg, dit is Kesalon, loop dan af Bet-Semes toe, oor na Timna toe 11en met die noordelike hang van Ekron langs. Dan draai die grens na Sikaron toe en loop oor Baälaberg na Jabneël toe, waarna dit teen die see doodloop.

12Die westelike grens is die kus van die Groot See.

Dit is die grense rondom die gebied van die families in die stam Juda.

Kaleb verower Hebron en Debir

13Aan Kaleb seun van Jefunne het Josua, soos die Here hom beveel het, 'n eie gebied toegeken tussen die mense van Juda, naamlik Kirjat-Arba, dit is Hebron. Arba was die voorvader van die Enakiete. 14Kaleb het die Enakiete Sesai, Agiman en Talmai uit Hebron verdryf, al drie Enakskinders. 15Daarvandaan het Kaleb die mense van Debir gaan aanval. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer. 16Kaleb het gesê: “Aan die man wat Kirjat-Sefer verslaan en inneem, gee ek my dogter Aksa as vrou.”

17Kaleb se stamgenoot Otniël seun van Kenas het die stad ingeneem, en Kaleb het sy dogter Aksa aan hom as vrou gegee. 18Toe sy by Otniël kom, het sy by hom aangehou dat hulle vir haar pa landbougrond moet gaan vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar wat sy wil hê, 19en sy antwoord: “Gee my 'n stuk vrugbare grond. U het my die droë Suidland gegee. Gee my nou ook standhoudende water.”

Hy het toe vir haar fonteine in die hooggeleë deel en fonteine in die laaggeleë deel gegee.

Die stede in die gebied van Juda

20Die families in die stam Juda het die volgende gebied as besitting ontvang:

21Die stede die verste suid wat aan hulle behoort het, dié teen die grens van Edom, was Kabseël, Eder, Jagur, 22Kina, Dimona, Adada, 23Kedes, Gasor, Jitnan, 24Sif, Telem, Bealot, 25Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor, 26Amam, Sema, Molada, 27Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet, 28Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja, 29Baäla, Ije-Abarim, Esem, 30Eltolad, Kesil, Gorma, 31Siklag, Madmanna, Sansanna, 32Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon, altesaam nege en twintig stede met hulle buiteposte.

33In die Laeveld was daar Estaol, Sora, Asna, 34Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim, 35Jarmut, Adullam, Soko, Aseka, 36Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim, veertien stede met hulle buiteposte, 37Senan, Gadasa, Migdol-Gad, 38Dilan, Mispe, Jokteël, 39Lakis, Boskat, Eglon, 40Kabbon, Lagmas, Kitlis, 41Gederot, Bet-Dagon, Naäma, Makkeda, sestien stede met hulle buiteposte, 42Libna, Eter, Asan, 43Jiftag, Asna, Nesib, 44Keïla, Aksib, Maresa, nege stede met hulle buiteposte, 45Ekron, met sy buitedorpe en buiteposte, 46wes van Ekron al die stede in die omgewing van Asdod, met hulle buiteposte, 47Asdod met sy buitedorpe en sy buiteposte, en Gasa met sy buitedorpe en sy buiteposte tot aan Egiptespruit en die kus van die Groot See.

48In die Bergland was daar Samir, Jattir, Soko, 49Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir, 50Anab, Estemoa, Anim, 51Gosen, Golon, Gilo, elf stede met hulle buiteposte, 52Arab, Duma, Esan, 53Janum, Bet-Tappuag, Afeka, 54Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior, nege stede met hulle buiteposte, 55Maon, Karmel, Sif, Jutta, 56Jisreël, Jokdeam, Sanoag, 57Kajin, Giba, Timna, tien stede met hulle buiteposte, 58Galgul, Bet-Sur, Gedor, 59Maärat, Bet-Anot, Eltekon, ses stede met hulle buiteposte, 60Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba, twee stede met hulle buiteposte.

61In die woestyn was daar Bet-Araba, Middin, Sekaka, 62Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi, ses stede met hulle buiteposte.

63Die mense van Juda kon dit nie regkry om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.

Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur

1Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 2Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

3Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.

Barnabas en Saulus preek op Siprus

4So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar 5en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help.

6Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle 'n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy 'n profeet is. 7Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. 8Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. 9Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk 10en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! 11Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son 'n tyd lank nie sien nie.”

Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. 12Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië

13Paulus en sy reisgenote het met 'n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom.

Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar.”

16Paulus het opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! 17Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei 18en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur.

“Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel. 21Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. 22Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’ 23Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom. 24Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. 25En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’

26“Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. 27Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. 28En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. 29Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. 30Maar God het Hom uit die dood opgewek. 31Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.

32“En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders 33vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe:

“Jy is my Seun,

vandag het Ek aan jou die lewe gegee.

34“God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê:

“Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes

vervul wat Ek aan Dawid toegesê het.

35“Daarom sê God ook op 'n ander plek:

“U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

36“En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan. 37Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek.

38-39“Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. 40Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie:

41“Kyk, julle verag God!

Julle sal verstom staan en te gronde gaan,

want in julle tyd doen Ek iets

wat julle beslis nie sal glo

as iemand dit vir julle vertel nie!

42Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. 43Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47want so lui die Here se opdrag aan ons:

“Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies,

sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.

48Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. 50Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. 52Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

HANDELINGE 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus en Barnabas in Ikonium

1In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. 2Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. 3Ten spyte hiervan het die apostels 'n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. 4Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. 5Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. 6Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. 7Daar het hulle toe die evangelie verkondig.

Paulus en Barnabas in Listra

8In Listra was daar 'n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. 10Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!”

Die man het opgespring en hy kon loop. 11Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!”

12Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. 13Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. 14Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15“Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 16Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.”

18Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.

19Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. 20Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug

21Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword.

Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. 22Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê.

23In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

24Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. 25Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. 26Daarvandaan is hulle met 'n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het. 27By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. 28Die apostels het 'n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.

HANDELINGE 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die vergadering in Jerusalem

1Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.”

2Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in 'n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog 'n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk.

3Nadat die gemeente hulle van die nodige vir die reis voorsien het, het hulle deur Fenisië en Samaria gegaan en vertel van die bekering van die heidene. Hieroor was al die gelowiges baie bly.

4Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het, 5maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.”

6Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek. 7Na 'n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. 8En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. 9Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. 10Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies 'n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? 11Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.”

12Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het.

13Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my! 14Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom 'n volk uit hulle te versamel. 15Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe:

16“Daarna sal Ek terugkom,

en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou,

en Ek sal sy bouvalle herstel

en dit weer regmaak,

17sodat al die ander mense die Here kan soek,

ja, al die heidennasies

wat Ek geroep het om my eiendom te wees,

sê die Here wat hierdie dinge doen.

18“Dit is van ouds af bekend. 19Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. 20Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. 21Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.”

Die besluit van die vergadering

22Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het. 23Hulle het die volgende brief saamgestuur:

“Van die apostels en die ouderlinge, julle broers.

“Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië.

“Groete.

24“Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie. 25Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus, 26wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. 27Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra. 28Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29dat julle nie vleis moet eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg.

“Hartlike groete.”

30Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig. 31Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap. 32Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk. 33Nadat Judas en Silas geruime tyd daar gebly het, het hulle teruggegaan en die groete van die gelowiges oorgedra aan dié wat hulle afgevaardig het.

35Paulus en Barnabas het 'n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig.

Tweede sendingreis: Paulus en Barnabas skei van mekaar

36'n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.”

37Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. 38Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. 39Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met 'n skip na Siprus toe vertrek. 40Paulus het vir Silas gekies en vertrek, nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is. 41Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes geestelik versterk.

HANDELINGE 15AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS