Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 58

JOSUA 10–12, HANDELINGE 10–12

Bybelteks(te)

Die oorwinning oor vyf Amoritiese konings

1Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai ingeneem en heeltemal vernietig het, dat hy met Ai en sy koning dieselfde gedoen het as wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en ook dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gemaak het en by hulle woon. 2Die mense van Jerusalem het baie bang geword, want Gibeon was 'n belangrike stad, soos 'n stad met 'n koning, en groter as Ai, en al sy manne was dapper vegters. 3Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe vir koning Hoham van Hebron, vir koning Piram van Jarmut, vir koning Jafia van Lakis en vir koning Debir van Eglon laat weet: 4“Kom help my dat ons Gibeon aanval; hulle het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.”

5Die vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe elkeen met sy hele leër gekom, hulle manskappe teen Gibeon ontplooi en die aanval begin. 6Die manne van Gibeon het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moet ons tog nie nou in die steek laat nie, u moet gou hiernatoe kom en ons red. U moet ons help, want al die Amoritiese konings in die Bergland het 'n bondgenootskap teen ons gesluit.”

7Josua en al sy manskappe, al die dapper vegters, het toe uit Gilgal vertrek. 8Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.”

9Josua het van Gilgal af die hele nag deur getrek en die Amoriete skielik oorval. 10Die Here het hulle paniekbevange laat word vir Israel. Israel het 'n groot slagting onder hulle aangerig in Gibeon, hulle agtervolg deur die pas na Bet-Goron toe en hulle bly doodmaak tot by Aseka en tot by Makkeda. 11Terwyl hulle op die vlug was vir Israel met die afdraand na Bet-Goron toe, het die Here van daar af tot by Aseka groot haelstene uit die lug op hulle laat val. Daar is meer van hulle deur die hael dood as wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is.

12Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê:

“Son, staan stil in Gibeon,

en maan, staan stil in Ajalonlaagte!”

13Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. 14So 'n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir 'n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.

15Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.

16Die vyf konings het gevlug en in 'n grot in Makkeda gaan wegkruip. 17Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle weggekruip het, 18en hy het beveel: “Rol groot klippe in die bek van die grot en sit daar manne om hulle op te pas. 19Maar julle moenie daar bly staan nie. Agtervolg julle vyande en val hulle van agter af aan. Moenie dat hulle by hulle stede kom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.” 20-21Toe Josua en die Israeliete klaar was met die groot slagting onder die vyande, is al die manskappe behoue terug na die kamp toe, na Josua toe in Makkeda. Die vyand is tot die laaste man toe doodgemaak, afgesien van die paar wat ontkom en die vestingstede gehaal het. Niemand het dit gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.

22Josua het gesê: “Maak oop die grot se bek en bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.” 23Hulle het dit gedoen, hulle het die vyf konings uit die grot uit na Josua toe gebring, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. 24Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, roep hy al die Israeliete en sê vir die offisiere wat met hom saamgegaan het: “Kom hier, sit julle voete op die konings se nekke.”

Hulle het dit toe gedoen, 25en Josua het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie, wees sterk, wees vasberade. So sal die Here maak met al julle vyande teen wie julle nog moet oorlog maak.”

26Daarna het Josua die konings doodgemaak. Hy het hulle elkeen aan 'n boom opgehang en hulle het daar bly hang tot die aand toe. 27Met sononder is hulle op bevel van Josua van die bome af afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Die bek van die grot is met groot klippe toegepak. Dié is tot vandag toe nog daar.

Die inname van ander stede in die suide

28Daardie dag het Josua ook Makkeda ingeneem. Hy het die mense en hulle koning laat doodmaak en al wat leef in die stad uitgeroei. Niemand het vrygekom nie. Hy het met die koning van Makkeda gedoen soos met die koning van Jerigo.

29Van Makkeda af is Josua, met die hele Israel by hom, na Libna toe. Hy het Libna aangeval, 30en die Here het ook dié stad met sy koning in die mag van Israel oorgegee. Josua het die mense, al wat leef in die stad, doodgemaak. Niemand het vrygekom nie. Hy het met die koning van Libna gedoen soos met die koning van Jerigo.

31Van Libna af is Josua, met die hele Israel by hom, na Lakis toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval. 32Die Here het Lakis in die mag van Israel oorgegee, en Israel het die stad na twee dae ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak, net soos hy met Libna gedoen het. 33Toe koning Horam van Geser vir Lakis te hulp snel, het Josua hom en sy manskappe ook verslaan. Niemand het vrygekom nie.

34Van Lakis af is Josua, met die hele Israel by hom, na Eglon toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval. 35Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak. Josua het die hele stad uitgeroei, net soos hy met Lakis gedoen het.

36Van Eglon af het Josua, met die hele Israel by hom, teen Hebron opgetrek en die stad aangeval. 37Hulle het die stad ingeneem en die koning, die inwoners van al die buitedorpe en al wat in die stad leef, doodgemaak. Niemand het ontkom nie. Soos Josua met Eglon gedoen het, het hy ook Hebron en al wat daarin leef, uitgeroei.

38Daarna het Josua, met die hele Israel by hom, na Debir toe gedraai en die stad aangeval. 39Hy het dit ingeneem, die koning en die inwoners van die buitedorpe doodgemaak en al die mense in die stad uitgeroei. Niemand het ontkom nie. Soos hy met Hebron en met Libna en sy koning gedoen het, het hy ook met Debir en sy koning gedoen. 40Josua het die hele gebied platgeloop, die Bergland, die Suidland, die Laeveld, die Hange, al die konings daar. Hy het niemand laat vrykom nie. Hy het alles wat asem het, uitgeroei, soos die Here die God van Israel beveel het. 41Josua het hulle platgeloop van Kades-Barnea af tot by Gasa, ook die hele Gosengebied en tot by Gibeon. 42Hy het al die konings en hulle lande in een veldtog oorwin, want die Here die God van Israel het die oorlog vir Israel gevoer. 43Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.

Die inname van Hasor en omgewing

1Koning Jabin van Hasor het gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe aan koning Jobab van Madon, aan die konings van Simron en Aksaf 2en aan die konings in die noordelike Bergland, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, in die Laeveld en op die bergrug van Dor in die weste, 3die Kanaäniete in die ooste en die weste, die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied. 4Hulle het almal gekom met hulle leërs, 'n groot menigte, so baie soos die sand van die see. Hulle het ook baie perde en strydwaens gehad. 5Al die konings het 'n bondgenootskap gesluit en saam hulle soldate vir die oorlog teen Israel ontplooi by die Meromwaters.

6Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7Josua en al sy manskappe het die vyand skielik oorval by die Meromwaters. 8Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee en dié het hulle verslaan en hulle agtervolg by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei. Nie een het vrygekom nie. 9Josua het met hulle gedoen soos die Here vir hom gesê het: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10Daarna het Josua na Hasor toe gegaan, die stad ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor het vroeër die leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar. 11Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het hulle uitgeroei sodat niks wat asemhaal, bly lewe het nie. Die stad self het hy afgebrand.

12Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense uitgeroei soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het. 13Israel het egter nie die ou, gevestigde stede afgebrand nie. Dit is net Hasor wat deur Josua afgebrand is. 14Die Israeliete het die buit en die vee van die stede gevat, maar al die mense doodgemaak. Hulle het die mense heeltemal uitgeroei. Nie een het bly lewe nie. 15Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie.

Die gebied wat verower is

16Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, die hele Suidland, die hele Gosengebied, die Laeveld, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle uitlopers. 17Die gebied het gestrek van Kaalberg af wat na Seïr toe oploop, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant Hermonberg. Josua het al die konings in dié gebied verslaan en doodgemaak. 18Hy moes lank teen hulle oorlog voer. 19Behalwe die Hewiete in Gibeon het nie een stad met die Israeliete vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower. 20Dit was die Here wat hulle in verset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, uitgewis word, soos die Here vir Moses beveel het.

21In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge uitgeroei. Hy het hulle saam met hulle stede uitgeroei, 22en daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod was daar Enakiete oor.

23Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam 'n deel.

Die land kon toe rus van oorlog.

Die konings wat oorwin is

1Die Israeliete het die volgende konings van die land oorkant die Jordaan, aan die oostekant, verslaan en hulle gebiede in besit geneem, die gebied van die Arnonvallei af tot by Hermonberg, en die hele oostelike deel van die Jordaanvallei:

2Koning Sihon van die Amoriete in Gesbon het geheers oor die helfte van Gilead, van Aroër af aan die kant van die Arnonbedding, die middel van die bedding, tot aan Jabbokspruit waar die Ammoniete se gebied begin. 3Ook die oostelike deel van die Jordaanvallei, van die Gennesaretmeer af suid tot aan die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, en verder in die rigting van Bet-Jesimot en suidwaarts van onderkant die Pisgahange af.

4Koning Og van Basan, een van die laaste van die Refaïete, het in Astarot en Edreï geregeer. Die gebied 5waaroor hy geheers het, het Hermonberg, Salka en die hele Basan ingesluit, tot aan die grens van Gesur en Maäka, en ook die helfte van Gilead tot aan die grens van die gebied van koning Sihon van Gesbon.

6Moses, die dienaar van die Here, en die Israeliete het hierdie twee konings verslaan, en Moses het die gebied aan die stam Ruben, die stam Gad en die halwe Manassestam as besitting gegee.

7Hier volg nou ook 'n lys van die konings van die land duskant die Jordaan, aan die westekant, wat deur Josua en die Israeliete verslaan is, van Baäl-Gad in die Libanonvallei af tot by Kaalberg wat na Seïr toe oploop. Josua het die gebied tussen die stamme as besitting verdeel: 8die Bergland, die Laeveld, die Jordaanvallei, die Hange, die woestyngebied en die Suidland, die gebiede waar die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gewoon het. 9Die konings van die volgende stede is verslaan: Jerigo, Ai naby Bet-El, 10Jerusalem, Hebron, 11Jarmut, Lakis, 12Eglon, Geser, 13Debir, Geder, 14Gorma, Arad, 15Libna, Adullam, 16Makkeda, Bet-El, 17Tappuag, Gefer, 18Afek, Saron, 19Madon, Hasor, 20Simron-Meron, Aksaf, 21Taänak, Megiddo, 22Kedes, Jokneam teen Karmelberg, 23Dor op die bergrug van Dor, Gojim by Gilgal, 24en Tirsa. Dit was altesaam een en dertig konings.

Petrus en Kornelius

1In Sesarea was daar 'n man met die naam Kornelius, 'n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. 2Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.

3Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!”

4Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?”

Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. 5Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.”

7Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep. 8Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. 9Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. 10Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. 11Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. 12Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. 13Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.”

14Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.”

15Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”

16Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.

17Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon 18en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. 19Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. 20Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”

21Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”

22Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, 'n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het 'n openbaring deur 'n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.”

23Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting.

Die volgende dag het hy en 'n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan 24en 'n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep. 25Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. 26Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net 'n mens.”

27Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, 28en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. 29Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”

30Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik 'n man met blink klere voor my, 31en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. 32Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.’ 33Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”

Petrus se toespraak by Kornelius

34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees

44Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. 45-46Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: 47“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

48Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om 'n paar dae by hulle te bly.

HANDELINGE 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Petrus verantwoord hom voor die gemeente in Jerusalem

1Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. 2Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: 3“Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”

4Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: 5“Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering 'n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. 6Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. 7Ek het toe 'n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ 8Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’ 9'n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ 10Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.

11“Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. 12Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. 13Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. 14Hy het 'n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’

15“Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. 16Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”

18Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

Die gemeente in Antiogië

19Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. 20Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. 21Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.

22Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur. 23Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 24Barnabas was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof.

'n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, 25en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. 26Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

27In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. 28Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat 'n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur. 29Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot 'n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. 30Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.

HANDELINGE 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem

1In dié tyd het koning Herodes party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. 2Hy het vir Jakobus die broer van Johannes met die swaard laat doodmaak.

3Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan en ook vir Petrus gevange laat neem. Dit het tydens die fees van die ongesuurde brood gebeur. 4Nadat Herodes vir Petrus laat vang het, het hy hom in die tronk gesit en hom deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná die paasfees voor die volk bring. 5So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.

Petrus word uit die tronk bevry

6Die nag voordat Herodes hom voor die volk sou bring, het Petrus tussen twee soldate geslaap. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak.

7Meteens staan daar 'n engel van die Here en skyn daar 'n lig in die sel. Die engel vat toe aan Petrus se sy om hom wakker te maak en sê vir hom: “Staan gou op.”

Onmiddellik het die boeie van sy hande afgeval. 8Toe sê die engel vir hom: “Maak jou gordel vas en trek jou skoene aan.”

Petrus het dit gedoen, en toe sê die engel vir hom: “Trek jou bokleed aan en kom saam met my.”

9Petrus het agter die engel aan uitgegaan sonder om te besef dat hy werklik bevry word. Vir hom het dit gelyk asof hy 'n gesig sien. 10Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterdeur kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buite kom en 'n ent met die straat af was, het die engel vir Petrus skielik verlaat. 11Toe dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy dink: nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het om my uit die hande van Herodes te red en van alles wat die Joodse volk van plan was om te doen.

12Met dié gedagte is hy na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is, waar baie gelowiges saam was om te bid. 13Hy het aan die voordeur geklop, en 'n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is. 14Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie, maar binnetoe gehardloop het om te vertel dat Petrus by die deur staan. 15Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal.”

Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: “Dan is dit sy gees.”

16Intussen het Petrus aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas. 17Hy het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het.

“Vertel dit vir Jakobus en die ander gelowiges,” het hy gesê en na 'n ander plek toe vertrek.

18Toe dit dag word, was die soldate nie min ontsteld oor wat van Petrus geword het nie. 19Herodes het hom laat soek, en omdat hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle doodgemaak moet word.

Hierna het Herodes van Judea af na Sesarea toe gegaan en 'n tyd daar gebly.

Herodes se dood

20Die mense van Tirus en Sidon het hulle die woede van Herodes op die hals gehaal. Daarom het hulle saam 'n afvaardiging na hom toe gestuur. Nadat hulle vir Blastus, die koning se kamerheer, op hulle hand gekry het, het hulle vrede gevra, omdat hulle land van die koning s'n afhanklik was vir lewensmiddele. 21Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. 22Die mense het toe geskreeu: “Dit is 'n god wat praat, nie 'n mens nie!”

23Op daardie selfde oomblik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe.

24Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen.

25Barnabas en Saulus het teruggekom nadat hulle hulle opdrag in Jerusalem uitgevoer het, en hulle het vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamgevat.

HANDELINGE 12AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS