Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 57

JOSUA 7–9, HANDELINGE 7–9

Bybelteks(te)

JOSUA 7

Die neerlaag teen Ai en die straf van Akan

1Die Israeliete het troueloos gehandel met die banoffer wat aan die Here behoort het. Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam, het van die goed wat aan die Here gewy was, gevat en daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam.

2Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.”

Die manne is toe weg en het Ai verken. 3Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. So twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.”

4Daar het toe omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, maar hulle moes op die vlug slaan vir die mense van Ai, 5en dié het omtrent ses en dertig van hulle doodgemaak. Die mense van Ai het van die stadspoort af op hulle hakke gebly tot by die klipskeure en hulle daar teen die afdraand doodgemaak.

Die volk se moed is gebreek, 6en Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig in die grond gelê voor die ark van die Here, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi.

7Daarna het Josua gesê: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer oorkant die Jordaan gebly! 8Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug? 9Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en alle gedagtenis aan ons uit die land uitroei! Wat sal U dán doen om die grootheid van u Naam te verseker?”

10Toe sê die Here vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond? 11Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek. Hulle het van die goed wat aan My gewy is, gevat, hulle het gesteel, hulle het gelieg en van die goed by hulle s'n gesit. 12Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie; hulle vlug vir hulle vyande omdat hulle nou self mense geword het wat vernietig moet word. As julle nie al die gewyde goed tussen julle verwyder nie, sal Ek nie meer by julle bly nie. 13Staan op, reinig die volk, sê vir hulle: Reinig julle vir môre, want so sê die Here die God van Israel: Daar is gewyde goed tussen julle, Israel. Julle kan nie teen julle vyande staande bly as julle nie die gewyde goed tussen julle verwyder nie. 14Kom môre nader volgens julle stamme; die stam wat deur die Here aangewys word, moet volgens families nader kom, die familie wat deur die Here aangewys word, moet volgens gesinne nader kom, en die gesin wat deur die Here aangewys word, moet man vir man nader kom. 15Die man wat gevang word met die gewyde goed, moet verbrand word, hy en al sy mense, want hy het die verbond van die Here verbreek en 'n roekelose sonde in Israel begaan.”

16Josua het die môre vroeg opgestaan en Israel volgens stamme laat nader kom. Die stam Juda is aangewys. 17Toe hy die families uit Juda laat nader kom, is die Seragfamilie aangewys, en toe hy die Seragfamilie man vir man laat nader kom, is Sabdi aangewys. 18Toe hy die gesin van Sabdi man vir man laat nader kom, is Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam aangewys.

19Josua het vir Akan gesê: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom. Sê my wat jy gedoen het, moet dit nie vir my wegsteek nie.”

20Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het gesondig teen die Here die God van Israel. Wat ek gedoen het, is dit: 21ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.”

22Josua het mense gestuur, en hulle het na die tent toe gehardloop en daar kry hulle toe die goed in Akan se tent, die silwer onder. 23Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring. Toe hulle dit daar voor die Here uitskud, 24vat Josua en die hele Israel saam met hom vir Akan seun van Serag en bring hom na die Akorlaagte toe, en ook die silwer, die klere en die staaf goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent, alles wat aan hom behoort.

25Josua het gesê: “Jy het die dood oor óns gebring, vandag bring die Here die dood oor jóú!”

Die hele Israel het toe vir Akan met klippe doodgegooi en hom en sy mense en sy besittings verbrand en met klippe toegegooi. 26Hulle het 'n groot hoop klippe bo-oor gepak. Dit is vandag nog daar. Daarna het die Here se toorn bedaar. Hulle noem die plek tot vandag toe die Akorlaagte.

JOSUA 8

Die inname van Ai

1Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor. 2Jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jerigo en sy koning gedoen het. Net die buit en die vee kan julle vir julle vat. Laat van die manskappe hulle agter die stad versteek.”

3Josua en al die manskappe het toe klaargemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig duisend dapper manne gekies en hulle in die nag gestuur 4en hulle beveel: “Julle moet julle agter die stad versteek, nie te ver van die stad af nie, en julle moet gereed wees. 5Ek en al die manskappe by my sal na die stad toe aankom, en as hulle ons tegemoet kom, soos die vorige keer, sal ons vir hulle vlug. 6Hulle sal agter ons aan kom en so sal ons hulle van die stad af weglok. Hulle sal dink ons vlug vir hulle soos die vorige keer. Ons sal vir hulle vlug, 7en dan moet julle uit die skuilplek opstaan en die stad in besit neem. Die Here julle God gee dit aan julle oor. 8Wanneer julle die stad ingeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Julle moet doen wat die Here beveel het. Ek dra die opdrag nou aan julle oor.”

9Josua het hulle toe laat gaan en hulle het hulle gaan versteek. Hulle het tussen Bet-El en Ai gelê, wes van Ai. Josua het dié nag tussen die manskappe geslaap.

10Vroeg die môre is Josua uit. Hy het sy manskappe in gelid opgestel en hy en die leiers van Israel het die manskappe na Ai toe gelei. 11Al die manskappe by hom het opgetrek en nader gegaan en reg voor die stad aangekom. Hulle het kamp opgeslaan noord van Ai. Die laagte was tussen hulle en Ai. 12Josua het omtrent vyf duisend man geneem en hulle 'n verskuilde posisie laat inneem tussen Bet-El en Ai, wes van die stad. 13Die manskappe het die hele kamp wat noord van die stad moes wees, opgeslaan, maar die ander deel was wes van die stad. Josua het dié nag afgegaan na die laagte toe.

14Die koning van Ai het gesien daar kom 'n aanval. Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag. Die koning en al sy manskappe is na die plek toe waar hulle Israel wou ontmoet, regoor die Jordaanvallei. Hy het nie geweet van die versteekte afdeling agter die stad nie. 15Josua en die hele Israel het hulleself laat terugdryf deur die manne van Ai, en in die rigting van die woestyn gevlug. 16Al die manskappe in die stad is toe vir die agtervolging opgeroep; hulle het Josua agtervolg en is van die stad af weggelok. 17Daar het geen man in Ai of Bet-El agtergebly wat nie uit is agter Israel aan nie. Hulle het die stad net so oop gelos en het Israel agternagesit.

18Toe sê die Here vir Josua: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.”

Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, na die stad toe uitgesteek, 19en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. 20Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe. 21Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan. 22Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie. 23Die Israeliete het die koning van Ai gevang en hom na Josua toe gevat.

24Israel het al die inwoners van Ai doodgemaak wat vir Josua-hulle in die veld en die woestyn agternagesit het. Die agtervolgers het almal gesneuwel, tot die laaste man toe. Daarna is die hele Israel terug na Ai toe en het hulle al die mense in die stad doodgemaak. 25Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vrouens, was twaalf duisend, al die mense van Ai. 26Josua het nie sy hand met die swaard teruggetrek voordat al die inwoners van Ai uitgeroei was nie. 27Israel het net die vee en die buit in die stad vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua beveel het. 28Josua het Ai afgebrand en daarvan vir altyd 'n verlate ruïne gemaak. Dit is nou nog so. 29Hy het die koning van Ai aan 'n boom opgehang en hom daar laat bly tot die aand toe. Toe die son ondergaan, het Josua opdrag gegee, en hulle het die lyk van die boom afgehaal, dit in die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe daarop gepak, wat vandag nog daar is.

Die voorlesing van die wet

30Daarna het Josua op Ebalberg 'n altaar gebou vir die Here die God van Israel, 31soos Moses, die dienaar van die Here, die Israeliete beveel het en soos dit geskryf staan in die wetboek van Moses: “'n altaar van ongekapte klip waarop daar nie 'n ysterwerktuig gebruik is nie.” Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en ook maaltydoffers geoffer. 32Josua het daar op die klippe 'n afskrif aangebring van die wet van Moses. Hy het dit voor die oë van die Israeliete neergeskrywe. 33Die hele Israel, sy leiers, sy beamptes en sy regters het daar weerskante van die ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar. Een helfte het regoor Gerisimberg gestaan en die ander helfte regoor Ebalberg, soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang. 34Daarna het Josua alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, net soos dit geskryf staan in die wetboek. 35Daar was nie een woord van alles wat Moses beveel het wat Josua nie voor die hele gemeente van Israel voorgelees het nie. Die vrouens en die kinders en die vreemdelinge wat tussen die Israeliete gebly het, was by.

JOSUA 9

Die Gibeoniete

1Al die konings wes van die Jordaan, dié in die Bergland, in die Laeveld, aan die hele kus van die Groot See en tot regoor die Libanon, die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, het van Josua gehoor 2en hulle het eendragtig saamgestaan om teen hom en Israel te veg.

3Maar toe die inwoners van Gibeon hoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het, 4het hulle 'n slim plan gemaak. Hulle het padkos ingepak; hulle het verslete saalsakke op hulle donkies saamgeneem en verslete wynsakke wat geskeur en weer toegewerk was; 5aan hulle voete was verslete, gelapte skoene en hulle het verslete klere aangehad; al hulle padkos was droog en verkrummel. 6Hulle het na Josua toe in die kamp by Gilgal gegaan en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom uit 'n ver land en ons kom vra dat u met ons 'n verdrag sluit.”

7Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete was, gesê: “Dalk woon julle hier tussen ons. Hoe kan ons dan met julle 'n verdrag sluit?”

8Hulle het vir Josua gesê: “Ons wil u onderdane wees.”

“Maar wie is julle en waar kom julle vandaan?” vra Josua.

9En hulle antwoord: “Ons kom uit 'n baie ver land; ons kom op grond van die roem van die Here u God. Ons het van Hom gehoor en van alles wat Hy met Egipte gedoen het, 10en ook van alles wat Hy met die twee Amoritiese konings oorkant die Jordaan gedoen het, met koning Sihon van Gesbon en met koning Og van Basan wat in Astarot gewoon het. 11Ons leiers en al die inwoners van ons land het vir ons gesê: Vat padkos saam en gaan die Israeliete tegemoet en sê vir hulle: Ons wil onderdane wees; wil u nie met ons 'n verdrag sluit nie? 12Kyk ons brood, dit was nog warm toe ons dit uit ons huise gebring het om vir padkos saam te vat die dag toe ons na u toe vertrek het, en nou is dit droog en verkrummel. 13En kyk ons wynsakke wat nuut was toe ons hulle vol gemaak het, nou is hulle vol barste. Kyk hoe verslete is ons klere en ons skoene van die lang pad.”

14Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. 15Josua het die Gibeoniete goed behandel en met hulle 'n verdrag gesluit dat hulle lewens gespaar sal word. Die leiers van die volksvergadering het dit met 'n eed bevestig.

16Drie dae nadat die verdrag gesluit is, het die Israeliete gehoor dat die Gibeoniete hulle bure is en tussen hulle woon. 17Die Israeliete het dadelik vertrek en op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim. 18Die Israeliete het hulle nie aangeval nie omdat die leiers van die volksvergadering 'n eed teenoor die Gibeoniete afgelê het voor die Here die God van Israel, maar die hele volk het teen die leiers gemor. 19Die leiers het vir die volk gesê: “Ons het 'n eed teenoor hulle afgelê voor die Here die God van Israel. Ons kan hulle nie nou aanval nie. 20Ons moet ons woord hou en hulle lewens spaar sodat die eed wat ons teenoor hulle afgelê het, nie die straf van God op ons bring nie.”

21Die leiers het verder ook nog vir die volk gesê: “Laat hulle lewe, maar dan moet hulle houtkappers en waterdraers van die hele volk word.”

Nadat die leiers met die Israeliete gepraat het, 22het Josua die Gibeoniete geroep en vir hulle gesê: “Hoekom het julle ons bedrieg? Julle het gesê julle woon baie ver van ons af en al die tyd woon julle tussen ons. 23Daar rus nou 'n vloek op julle. Julle sal altyd slawe wees: houtkappers en waterdraers vir die huis van my God.”

24Hulle het Josua geantwoord: “Daar is oor en oor aan ons vertel wat die Here u God vir sy dienaar Moses gesê het, naamlik dat Hy aan u die hele land gee en dat Hy al die inwoners van die land sal uitroei om vir u plek te maak. Ons het vir ons lewens gevrees, en daarom het ons dié ding gedoen. 25Ons is in u hande, doen met ons wat goed en reg is in u oë.”

26Josua het toe só gemaak: hy het hulle beskerm teen die Israeliete dat dié hulle nie doodmaak nie, 27maar hy het hulle van dié dag af houtkappers en waterdraers gemaak vir die volk en vir die altaar van die Here op dié plek wat die Here sou kies. Dit is vandag nog so.

HANDELINGE 7

Stefanus se toespraak

1Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar?”

2Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. 3God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ 4Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat trek na hierdie land toe waarin julle vandag woon. 5God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie 'n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie 'n kind gehad het nie. 6God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vier honderd jaar lank baie swaar kry. 7Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou.’ Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’ 8God het met Abraham 'n verbond gesluit waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.

9“Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom 10en het hom uit al sy ellende gered. God het aan Josef wysheid gegee, sodat hy in die guns van die farao, die koning van Egipte, gekom het. Die farao het hom as onderkoning van Egipte en as hoof van sy hele koninklike hof aangestel. 11Later het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Die nood was hoog, en ook ons voorouers kon nie kos in die hande kry nie. 12Toe Jakob hoor dat daar kos in Egipte is, het hy ons voorvaders op hulle eerste reis daarheen gestuur. 13Op hulle tweede reis het Josef hom aan sy broers bekend gemaak. Toe het die farao ook van Josef se familie te hore gekom. 14Josef het vir Jakob, sy pa, en die hele familie laat haal, vyf en sewentig mense altesaam. 15Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe. 16Hulle liggame is na Sigem toe gebring en begrawe in die graf wat Abraham vir 'n som geld daar in Sigem by die nakomelinge van Hemor gekoop het.

17“Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei. 18'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, 19en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie. 20In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, 21en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. 22Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad.

23“Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. 24Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. 25Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. 26Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ 27Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? 28Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’ 29Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore.

30“Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn. 31Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: 32‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. 33En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. 34Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’

35“Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. 36So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen. 37Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’

38“Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel. 39Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het hom verontagsaam en na Egipte terug verlang. 40Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ 41Die gevolg was dat hulle destyds 'n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van 'n kalf en daaraan offers gebring het en feesgevier het tot eer van hulle eie handewerk. 42Maar God het Hom van hulle afgewend en hulle laat begaan om die sterre te aanbid, soos daar geskrywe staan in die boek van die profete:

“Was dit vir My, Israel,

dat julle brandoffers en

ander diereoffers gebring het

gedurende die veertig jaar in die woestyn?

43Nee! Julle het die tent van Molek saamgeneem

en die ster van julle god Refan.

Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid.

Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon wegstuur.

44“Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. 45Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. 46God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. 47Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. 48God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel:

49“Die hemel is my troon

en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here.

Watter soort huis sal julle tog vir My bou

of watter plek as my rusplek?

50Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?

51“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook. 52Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor. 53Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie.”

Stefanus word gestenig

54Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners. 55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.

56“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”

57Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, 58hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus. 59Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”

60Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”

Met hierdie woorde het hy gesterwe.

HANDELINGE 7AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 8

Saulus vervolg die kerk

1Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur.

Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. 2Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.

3Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.

Die evangelie in Samaria

4Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. 5So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. 6Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. 7Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. 8Daar was groot blydskap in daardie stad.

9In dieselfde stad was daar 'n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, 10en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.”

11Hy het 'n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor 'n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. 12Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. 13Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.

14Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. 15Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”

20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.”

24Toe sê Simon vir die apostels: “Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.”

25So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

Filippus en die Etiopiër

26'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is 'n stil pad.

27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.

'n Ontmande Etiopiër wat 'n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”

Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:

“Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word;

en soos 'n lam wat stil is as hy geskeer word,

het Hy nie sy mond oopgemaak nie.

33In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie.

Wie sal van sy nageslag kan vertel?

Sy lewe op aarde word beëindig.”

34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”

38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

40Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.

HANDELINGE 8AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 9

Saulus se bekering

(Vgl. Hand. 22:6-16; 26:12-18)

1Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan 2en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.

3Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. 4Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”

5“Wie is U, Here?” vra hy toe.

“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. 6Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”

7Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie. 8Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. 9Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie.

10In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!”

“Hier is ek, Here,” het hy geantwoord.

11En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid 12en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.”

13Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. 14En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.”

15Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. 16Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.”

17Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.”

18Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop; 19en hy het geëet en sy kragte herwin.

Saulus preek in Damaskus

Saulus het 'n paar dae daar by die gelowiges in Damaskus gebly 20en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is. 21Almal wat dit gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie? En het hy nie ook hierheen gekom om hulle gevange te neem en voor die priesterhoofde te bring nie?”

22Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is.

23Na verloop van tyd het die Jode saamgesweer om Saulus te vermoor, 24maar hy het van hulle plan te hore gekom. Dag en nag was hulle by die stad se poorte op die uitkyk om hom dood te maak. 25Maar sy medegelowiges het hom een nag geneem en in 'n mandjie laat afsak deur 'n opening in die stadsmuur.

Saulus in Jerusalem

26Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie. 27Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. 28Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. 29Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. 30Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur.

31In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.

Die genesing van Eneas

32Petrus het baie rondgereis en het op 'n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. 33Daar het hy 'n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was.

34“Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.”

Hy het dadelik opgestaan. 35Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

Die opwekking van Tabita

36In Joppe was daar 'n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in 'n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.

HANDELINGE 9AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS