Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 53

DEUTERONOMIUM 32–34, HEBREËRS 3, PSALM1

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 32

Dink aan die dae lank verby

1“Hoor, hemele, ek praat,

luister na my woorde, aarde!

2My onderrig kom na julle toe soos reënwater,

my woorde verkwik julle soos dou,

soos sagte reëns op die grassies,

soos reënbuie op die graan.

3Ek wil die Naam van die Here roem.

Prys ons God om sy grootheid!

4Hy is die Rots, sy werk is volmaak,

alles wat Hy doen, is regverdig.

Hy is die getroue God, sonder onreg,

Hy is regverdig en betroubaar.

5“Israel is ontrou aan die Here,

nie meer sy kinders nie,

nie geskik vir sy diens nie,

vals en korrup.

6Doen julle dit die Here aan?

Jy is 'n dwase volk, sonder verstand.

Is die Here nie jou Vader, jou Skepper, nie?

Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring.

7Dink aan die dae lank verby,

onthou die jare van die voorgeslagte.

Vra jou pa dat hy jou vertel,

jou oumense dat hulle jou dit sê.

8Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het,

toe Hy die mense in volke opgedeel het,

het Hy vir hulle hulle grense bepaal,

soveel as wat daar Israeliete is.

9Hulle is die Here se volk, sy deel,

Jakob is die Here se vaste eiendom.

10Hy het sy volk in die woestyn gevind,

in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.

Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel

en versorg soos die appel van sy oog.

11Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop,

oor hulle fladder en hulle vang

op sy vlerke wat hy oopsprei,

soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra,

12so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei;

daar was nie 'n ander god by Hom nie.

13Die Here het sy volk die land in besit laat neem,

en hom laat eet van die opbrengs van die lande,

hom heuning uit klipskeure laat geniet,

olie uit harde klip,

14botter uit die beestrop, melk van die kleinvee,

vet lammers, skaapramme en bokramme uit Basan,

die beste koring;

die wyn wat jy drink, kom uit die beste druiwe.

15Jesurun het alles in oorvloed gehad;

hy het in opstand gekom.

Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword,

jy het jou ooreet.

Hy het God wat hom gemaak het, verwerp,

Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het.

16Israel het vreemde gode bo die Here verkies,

Hom getart met hulle afskuwelike afgode,

17offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie,

aan onbekende gode,

nuwe gode wat van die bure af kom,

gode wat onbekend was aan julle voorvaders.

18Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie,

die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet.

19“Die Here het dit gesien en vir jou minagting gekry.

Omdat sy seuns en dogters Hom getart het,

20het Hy gesê: Ek sal nie meer vir hulle sorg nie,

Ek wil kyk wat hulle uiteinde is,

want hulle is 'n onbestendige volk,

mense sonder trou.

21Hulle het iets wat nie 'n god is nie, bo My verkies,

My getart met wat niks is nie.

Ek sal wat nie 'n volk is nie, bo hulle verkies,

met 'n nasie sonder verstand sal Ek hulle tart.

22My toorn het 'n vuur aangesteek;

dit brand tot in die doderyk daaronder,

dit verteer die aarde en sy opbrengs,

dit brand deur tot diep onder die berge.

23Ek sal ramp op ramp oor hulle bring,

my pyle op hulle afskiet:

24hongerpyne, koorsgloed,

ongeneeslike siekte.

Ek sal roofdiere op hulle afstuur,

en giftige slange!

25Op straat roei die swaard die kinders uit,

in die slaapkamers is daar angs:

jong man en jong meisie,

suigling en grysaard, almal kom om.

26Ek sou wou sê Ek sal hulle verstrooi,

Ek sal maak dat geen mens meer aan hulle dink nie,

27maar Ek is bevrees die vyand sal My tart,

Israel se teenstanders sal dit verkeerd beoordeel

en sê: ‘In eie krag het ons dit alles gedoen,

nie die Here nie,’

28want hulle is 'n nasie sonder verstand,

hulle het geen insig nie.

29“As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het,

sou hulle begryp het wat hulle uiteinde sal wees.

30Hoe kan een mens duisend agtervolg

of twee tienduisende op die vlug jaag?

Gebeur dit nie omdat die Rots van Israel hulle verkoop het nie,

omdat die Here hulle uitgelewer het nie?

31Die rots van die nasies is nie soos ons Rots nie,

ons vyande kan tog self oordeel,

32want hulle stam uit Sodom se wingerd,

uit Gomorra se droë gelyktes.

Hulle druiwe is giftig,

elke tros is bitter.

33Hulle wyn is slanggif,

wrede addergif.

34“Die Here het gesê:

‘Dit is weggebêre by My,

toegesluit in my skure.

35Ek straf en Ek vergeld

op die dag as hulle voete gly.

Die dag van hulle ondergang is naby;

wat oor hulle besluit is, kom gou.’

36“Die Here behartig die saak van sy volk,

die Here ontferm Hom oor sy dienaars,

want Hy sien hulle krag het ingegee,

dit is klaar met hulle almal.

37Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode?

Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,

38die gode deur wie die vet van hulle offers geëet is

en die wyn van hulle drankoffers gedrink is?

Laat hulle na vore kom en julle help,

laat hulle vir julle 'n skuiling wees!

39Besef dit tog: Ek, Ek is die Here!

Naas My is daar geen ander God nie.

Ek maak dood en Ek gee lewe.

Ek maak siek en Ek maak gesond.

Uit my mag word niemand bevry nie.

40Ek steek my hand op na die hemel toe

en lê 'n eed af: So seker as Ek ewig lewe,

41wanneer Ek my blink swaard skerp gemaak het,

wanneer my hand dit gevat het om te oordeel,

sal Ek my teenstanders straf

en my haters vergeld vir wat hulle gedoen het.

42My swaard sal dood saai;

Ek sal my pyle deurweek met bloed:

die bloed van gesneuweldes en gevangenes,

die bloed van die vyand

met die lang haarlokke.’

43“Al julle nasies, julle moet

die volk van die Here roem,

want Hy wreek die bloed van sy dienaars,

Hy straf sy teenstanders,

Hy bring vrede tussen Hom en sy land,

tussen Hom en sy volk.”

44Moses het nader gekom en hierdie hele lied aan die volk voorgehou. Josua seun van Nun was by hom. 45Toe Moses hiermee klaar was, 46het hy vir al die Israeliete gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet. 47Dit is nie 'n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.”

Moses moet sterf op Neboberg

48Op dieselfde dag waarop Moses so met die Israeliete gepraat het, het die Here vir hom gesê: 49“Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab regoor Jerigo en bekyk Kanaän wat Ek vir die Israeliete as besitting sal gee. 50Jy sal sterf op die berg waarop jy moet klim. So het jou broer Aäron gesterf op Horberg. 51Julle was voor die oë van die Israeliete aan My ontrou by die waters van Meriba-Kades in die Sinwoestyn, want julle het My nie daar voor hulle oë as die Heilige geëer nie. 52Jy sal die land wat Ek aan die Israeliete sal gee, regoor jou sien, maar jy sal daar nie binnegaan nie.”

DEUTERONOMIUM 32AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 33

Die ewige God is 'n skuilplek

1Moses, die man van God, het die Israeliete voor sy dood met die volgende woorde geseën:

2Hy het gesê:

“Die Here kom van Sinai af,

Hy laat van Seïr af sy lig oor sy volk skyn,

laat dit deurbreek van Paranberg af.

Hy kom van waar tienduisende hemelwesens woon,

van waar hulle aan sy regterhand hulle plek het.

3“U, Here, het u volk lief,

al die heiliges is in u hand.

Hulle sit aan u voete,

elkeen luister na u woorde.

4Moses het ons 'n wet gegee,

dit is 'n besitting vir die volk van Jakob.

5Die Here het koning geword oor Jesurun

toe die volksleiers,

al die stamme van Israel, bymekaargekom het.

6“Ruben moet lewe, hy mag nie sterf nie;

hy moet 'n groot volk word.”

7Oor Juda het Moses gesê:

“Here, luister na Juda!

Bring hom na sy volk toe;

maak hom sterk,

wees vir hom 'n hulp teen sy teenstanders.”

8Oor Levi het Moses gesê:

“U tummim en u urim is toevertrou aan u troue dienaar,

U het hom by Massa op die proef gestel,

U het 'n saak teen hom gehad by die Meribawaters.

9Hy het van sy pa en ma gesê:

‘Ek hou nie rekening met hulle nie.’

Hy het sy broers nie erken nie,

sy seuns nie as familie beskou nie.

Die mense van Levi is gehoorsaam aan u bevele,

hulle eerbiedig u verbond.

10Hulle sal vir Jakob in u bepalings onderrig,

vir Israel in u wet.

Hulle sal wierookoffers voor U kom neersit,

brandoffers op u altaar.

11Seën sy werk, Here!

Aanvaar wat hy doen!

Tref sy teenstanders waar hulle krag sit,

tref sy haters sodat hulle nie weer opstaan nie.”

12Oor Benjamin het Moses gesê:

“Wie deur die Here bemin word, is veilig by Hom,

skuil altyd by Hom

en leef onder sy beskerming.”

13Oor Josef het Moses gesê:

“Mag sy land deur die Here geseën word:

met die beste uit die hemel, met dou

en met die beste uit die water diep onder die grond,

14met die beste wat deur die son gegee kan word

en met die beste wat deur elke maand opgelewer kan word,

15met die beste uit die gryse berge

en met die beste uit die ou-ou heuwels,

16met die beste uit die aarde en wat daarop is

en met die toegeneentheid van Hom wat woon in die doringbos.

Mag dit alles op Josef kom,

op hom wat heerser is oor sy broers.

17Hy sal trots wees soos 'n jong bul,

so sterk soos 'n buffel.

Hy sal volke met sy krag rondjaag,

almal saam tot in die uithoeke van die aarde.

Mag die tienduisende van Efraim so wees

en ook die duisende van Manasse.”

18Oor Sebulon het Moses gesê:

“Jy moet bly wees, Sebulon, as jy op pad gaan;

Issaskar, jy moet bly wees as jy by die huis bly.

19“Hulle twee nooi volke na die berg toe

en offer daar die offers wat voorgeskryf is.

Hulle twee geniet die oorvloed uit die see,

die skatte wat deur die sand bedek word.”

20Oor Gad het Moses gesê:

“Geseënd is elkeen wat vir Gad woonplek gee.

Hy lê soos 'n leeu, sterkes en leiers is sy prooi.

21Gad het die beste vir hom gekies,

want sy land is 'n uitsoekdeel, 'n terrasland.

Gad het met die leiers van die volk gekom

en die wil van die Here gedoen

en saam met Israel die bepalings van die Here nagekom.”

22Oor Dan het Moses gesê:

“Dan is 'n jong leeu,

hy bespring sy prooi van Basan af.”

23Oor Naftali het Moses gesê:

“Naftali geniet baie guns,

hy word ryklik geseën deur die Here

en besit die see en die suide.”

24Oor Aser het Moses gesê:

“Aser is meer geseënd as die ander seuns,

hy is die gunsteling onder sy broers

en hy sal sy voete met olie was.

25Jou sluitbalke is van yster en brons.

Mag jy jou lewe lank rustig woon.

26“Jesurun, daar is niemand soos God nie,

Hy ry deur die hemel om jou te kom help,

in sy majesteit ry Hy op die wolke.

27Die ewige God is 'n skuilplek,

sy arms is altyd onder jou.

Hy verdryf die vyand voor jou uit,

Hy beveel: ‘Roei uit!’

28Daarom woon Israel rustig,

woon die nasate van Jakob eenkant in 'n land van koring en wyn en drup die hemel dou.

29Dit gaan goed met jou, Israel!

Wie is soos jy? Jy is 'n volk wat deur die Here verlos is!

Hy beskerm en help jou.

Hy gee mag aan jou,

jou vyande kruip voor jou,

en jy sal oor hulle offerplekke stap.”

DEUTERONOMIUM 33AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 34

Moses sterf op Neboberg

1Moses het uit die Moabsvlakte opgeklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys: van Gilead af tot by Dan, 2die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse en die hele Juda tot by die see in die weste, 3die Suidland en die vlakte, die Jerigolaagte met sy palms tot by Soar. 4Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham en Isak en Jakob. Ek het gesê: ‘Ek gee dit aan jou nageslag.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen deurtrek nie.”

5Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het. 6Hy het vir Moses begrawe in 'n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.

7Moses was honderd en twintig jaar toe hy gesterf het; sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie. 8Die Israeliete het dertig dae oor Moses gerou in die Moabsvlakte en so die routyd oor Moses voltooi.

9Josua seun van Nun het oor wysheid beskik, want Moses het sy hande op Josua gelê. Die Israeliete het hom gehoorsaam en hulle het gedoen wat die Here vir Moses beveel het. 10Daar het nie weer 'n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken. 11Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen. 12Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen.

DEUTERONOMIUM 34AFR83Maak oop in die Bybelleser

HEBREËRS 3

Jesus is meer as Moses

1Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. 2Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God. 3Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat 'n huis bou, meer eer waardig is as die huis. 4Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. 5Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

Die gevaar van afval deur ongeloof

7Luister daarom na wat die Heilige Gees sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor,

8moet julle nie hardkoppig wees nie,

soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

9Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart,

hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

10Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê:

‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor,

hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

11Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:

In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

12Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar solank daar nog 'n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. 14Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. 15Daarom word daar gesê:

“Vandag as julle sy stem hoor,

moet julle nie hardkoppig wees nie,

soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

16Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank 'n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? 18Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy 'n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? 19Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

PSALMS 1

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

3Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,

wat op die regte tyd vrugte dra

en waarvan die blare nie verdroog nie.

Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

4So is die goddeloses nie.

Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.

5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie

en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.

6Waarlik,

die Here lei die regverdiges op hulle pad,

maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS