Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 52

DEUTERONOMIUM 29–31, MARKUS 15–16, PSALM 22, HEBREËRS 5

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 29

Die verbond in Moab

1Behalwe die verbond wat Moses by Horeb met die Israeliete gesluit het, het hy op bevel van die Here ook in Moab 'n verbond met hulle gesluit. Hier volg die inhoud daarvan.

2Moses het die hele Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het self ondervind wat die Here alles voor julle oë met Egipte, met die farao en al sy amptenare en met sy hele land gedoen het: 3die groot rampe wat julle self gesien het, die tekens, daardie groot wonderdade. 4En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie. 5Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie. 6Julle het nie brood geëet en wyn of bier gedrink nie sodat julle kon leer dat die Here julle God is. 7Toe julle by hierdie plek aangekom het, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan opgetrek om teen ons oorlog te maak. Ons het hulle verslaan 8en hulle land afgevat en dit as besitting gegee aan Ruben en Gad en aan die halwe Manassestam.

9“Sorg dat julle doen wat hierdie verbond bepaal en lewe daarvolgens sodat julle voorspoedig sal wees in alles wat julle aanpak. 10Julle staan vandag almal in die teenwoordigheid van die Here julle God. Julle is almal hier: hoofde, stamme, leiers, beamptes, elke Israeliet, 11ook julle kinders en julle vrouens, selfs die vreemdeling wat by julle in die laer is, dié wat julle hout vir julle moet kap, en dié wat julle water vir julle moet aandra. 12Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit, 13sodat Hy julle vandag sy volk kan maak en Hy julle God kan word, soos Hy julle beloof het en soos Hy met 'n eed beloof het aan julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob. 14Die Here het gesê: ‘Dis nie net julle met wie Ek hierdie verbond onder eed sluit nie.’ 15Hy sluit die verbond met almal wat vandag hier saam met ons voor Hom, die Here ons God staan, maar ook met hulle wat nie vandag hier saam met ons is nie. 16Julle weet hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons tussen die nasies deurgetrek het, en hoe julle waar julle verbygetrek het, 17hulle afskuwelike afgodsbeelde van hout en klip, van silwer en goud by hulle gesien het. 18Pas op dat daar nie dalk onder julle 'n man of 'n vrou, 'n familie of 'n stam is wat vandag afvallig word van die Here ons God en die gode van daardie nasies gaan dien nie. As daar so iemand is, so 'n gifwortel wat alles kan vergiftig, 19kan hy homself dalk probeer gerusstel wanneer hy hierdie woorde hoor, en kan hy dalk sê: ‘Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.’ Maar dit sal lei tot ellende en swaarkry, 20want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie. Die toorn, die verontwaardiging van die Here, sal teen so iemand ontbrand en elke vloek wat in hierdie boek opgeteken is, sal hom tref. Die Here sal die herinnering aan so iemand van die aarde af wegvee. 21Die Here sal hom van die ander stamme van Israel afsonder sodat rampe hom kan tref ooreenkomstig die verbond wat met 'n eed gesluit en in hierdie wet opgeteken is.

22“Wanneer die nageslag, julle kinders wat ná julle kom, en vreemdes wat van ver af kom, die plae in hierdie land sien en ook die siektes wat deur die Here daarin gebring word, sal hulle sê: 23‘Die hele land is verbrand, dis swael en sout! Niemand saai daar nie, daar groei niks, daar kom nie eers 'n groenigheid op nie. Dit is verwoes soos Sodom en Gomorra, soos Adma en Sebojim wat deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes is.’

24“Dan sal al die nasies vra: ‘Waarom het die Here dit met hierdie land gedoen? Waarom het hierdie groot toorn ontvlam?’ 25Dan sal die antwoord wees: ‘Omdat die mense van hierdie land die verbond verbreek het wat die Here die God van hulle voorvaders met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het. 26Hulle het ander gode gaan dien en vereer, gode wat onbekend was aan hulle en nie vir hulle bestem was nie. 27Daarom het die toorn van die Here teen hierdie land ontvlam en het Hy al die strawwe wat in hierdie boek opgeteken is, oor die land gebring. 28Daarom het die Here in sy gloeiende toorn en in sy groot woede die mense uit hulle land geruk en in 'n ander land neergegooi. Hulle is nou nog daar.’

29“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.

DEUTERONOMIUM 29AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 30

1“Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek jou voorgehou het, oor jou kom en jy daar tussen al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, daaraan dink 2en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, 3sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het. 4Al is jy verdryf tot in die uithoeke van die aarde, die Here jou God sal jou daar gaan bymekaarmaak en van daar af gaan haal. 5Hy sal jou terugbring na die land toe wat deur jou voorvaders besit is en jy sal dit in besit neem, en die Here sal aan jou goeddoen en jou meer laat word as jou voorvaders was. 6Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe, 7en die Here jou God sal al hierdie strawwe laat neerkom op jou vyande en op jou haters wat jou agtervolg. 8Dan sal jy terugkom na die Here en Hom gehoorsaam en volgens al sy gebooie lewe wat ek jou vandag beveel. 9-10Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

11“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. 12Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 13Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 14Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17-18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

DEUTERONOMIUM 30AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 31

Josua word aangestel as Moses se opvolger

1Moses het met die hele Israel gaan praat 2en vir hulle gesê: “Ek is nou honderd en twintig jaar oud, ek kan nie meer gaan oorlog maak nie. Die Here het vir my gesê: ‘Jy mag nie deur die Jordaan trek nie.’ 3Die Here julle God sal voor julle uit deur die Jordaan trek en Hy sal hierdie nasies voor julle uitroei sodat julle hulle gebied in besit sal neem. Josua sal julle deurlei, soos die Here beloof het. 4Die Here sal met hierdie nasies doen soos Hy gedoen het met die Amoritiese konings Sihon en Og en met hulle land toe Hy hulle uitgeroei het. 5Die Here sal hierdie nasies in julle mag oorgee, en julle moet met hulle alles doen wat ek julle beveel het. 6Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

7Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem. 8Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

9Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, en ook aan al die leiers van Israel.

10Toe het Moses hulle beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, op die vasgestelde tyd, die jaar waarin julle skuld moet afskryf, op die huttefees, 11wanneer die hele Israel in die teenwoordigheid van die Here julle God moet verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet julle hierdie wet lees in die teenwoordigheid van die hele Israel waar hulle dit kan hoor. 12Julle moet die volk bymekaarroep: mans, vrouens en kinders, en ook die vreemdeling wat in julle stede by julle woon, sodat hulle kan luister en die wet kan leer, sodat hulle die Here julle God kan dien en gehoorsaam, sodat hulle kan leef volgens alles wat in hierdie wet staan. 13So sal hulle kinders wat nie hierdie wet ken nie, dit kan hoor en leer en sal hulle die Here julle God kan dien so lank as julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem.”

14Die Here het vir Moses gesê: “Jou tyd om te sterf, het aangebreek. Roep vir Josua en gaan staan in die tent van ontmoeting sodat Ek hom sy bevele kan gee.”

Moses en Josua het toe in die tent van ontmoeting gaan staan, 15en die Here het daar verskyn in 'n wolkkolom, 'n wolkkolom wat by die tentdeur bly hang het.

16Toe sê die Here vir Moses: “Jy gaan nou sterf. Daarna sal hierdie volk ontrou word en in die land waar hy gaan woon, die vreemde gode van die land aanhang. Die volk sal My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hom gesluit het. 17Dan sal my toorn teen hom ontvlam en Ek sal hulle verlaat en van hulle af weggaan. Ek sal nie aan hulle verskyn nie en die volk sal te gronde gaan. Baie plae en rampe sal hom tref, en dan sal hy sê: ‘Hierdie plae tref my omdat my God nie by my is nie.’ 18Maar ook dan sal Ek nie aan hom verskyn nie, want hy het al hierdie verkeerde dinge gedoen en ander gode gaan dien.

19“Teken hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete. Laat hulle dit sing sodat die lied my getuie teen hulle kan wees. 20Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met 'n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek. 21Wanneer baie plae en rampe hom dan tref, sal hierdie lied teen hom getuig, want dit sal nie deur sy nageslag vergeet word nie. Ek weet wat daar vandag in Israel se hart omgaan, hier net voordat Ek hom inbring in die land waaroor Ek 'n eed afgelê het.”

22Moses het daardie selfde dag nog die lied opgeteken en dit vir die Israeliete geleer.

23Die Here het ook vir Josua seun van Nun beveel: “Wees sterk, wees dapper! Jy sal die Israeliete inbring in die land wat Ek met 'n eed aan hulle beloof het, en Ek sal by jou wees.”

24Toe Moses hierdie wet, tot die laaste woord toe, in 'n boek opgeteken het, 25het hy die Leviete wat die verbondsark van die Here dra, beveel: 26“Vat hierdie wetboek en sit dit langs die verbondsark van die Here julle God. Dit moet daar bly om teen julle te getuig. 27Ek weet hoe opstandig en hardkoppig julle is. Terwyl ek nog hier by julle in die lewe is, is julle al opstandig teen die Here, hoeveel te meer nog as ek eers dood is! 28Maak vir my julle beamptes en al die leiers van julle stamme bymekaar sodat ek al hierdie woorde vir hulle kan sê en die hemel en die aarde as getuies teen hulle kan inroep. 29Ek weet julle sal na my dood julle ondergang soek deur te verontagsaam wat ek julle beveel het. Wanneer julle in die toekoms doen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hom tart met wat julle doen, sal rampe oor julle kom.”

30Toe het Moses hierdie lied, tot die laaste woord toe, aan die hele Israel wat daar bymekaar was, voorgehou:

DEUTERONOMIUM 31AFR83Maak oop in die Bybelleser

MARKUS 15

Jesus voor Pilatus

(Matt. 27:1-2,11-14; Luk. 23:1-5; Joh. 18:28-38)

1Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad 'n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.

2Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”

Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

3Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”

5Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

(Matt. 27:15-26; Luk. 23:13-25; Joh. 18:38 – 19:16)

6Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. 7Daar was 'n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. 8Daar het toe juis 'n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 10Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.

12Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”

13“Kruisig hom!” skreeu hulle.

14“Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.

Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus

(Matt. 27:27-31; Joh. 19:2-3)

16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. 17Toe trek hulle Hom 'n pers mantel aan en vleg 'n doringkroon en sit dit vir Hom op. 18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19Hulle het Hom herhaaldelik met 'n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. 20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig

(Matt. 27:32-44; Luk. 23:26-43; Joh. 19:17-27)

21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22Hulle bring Jesus toe na 'n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 23Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. 24Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26En die rede waarom Hy gekruisig is, was op 'n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom.

29Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! 30Red jouself en kom van die kruis af.”

31Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”

Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe

(Matt. 27:45-56; Luk. 23:44-49; Joh. 19:28-30)

33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. 34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40Daar het ook vroue op 'n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. 41Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe

(Matt. 27:57-61; Luk. 23:50-56; Joh. 19:38-42)

42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46Josef het 'n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

MARKUS 16

Jesus het opgestaan

(Matt. 28:1-8; Luk. 24:1-12; Joh. 20:1-10)

1Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Jesus verskyn na sy opstanding

(Matt. 28:9-10,16-20; Luk. 24:13-53; Joh. 20:11-29; Hand. 1:6-11)

9Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. 10Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. 11Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.

12Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. 13Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie.

14Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. 15Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. 17Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; 18met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

19Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit. 20Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

PSALMS 22

U het my gebed verhoor

1Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. 'n Psalm van Dawid.

2My God, my God, waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

3My God, ek roep bedags en U antwoord nie,

ook snags, maar ek kry geen rus nie.

4U is tog die Heilige

wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!

5Op U het ons voorvaders vertrou.

Hulle het vertrou en U het hulle gered.

6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry;

op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.

7Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie.

Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.

8Almal wat my sien, spot my,

hulle steek vir my tong uit

en knik met voldoening die kop en sê:

9“Laat dit aan die Here oor!

Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry

as Hy dan so baie van hom hou.”

10U het my die eerste lewenslig laat sien,

my veilig laat rus aan die bors van my moeder.

11Van my geboorte af is ek onder u sorg,

van die begin van my lewe af is U my God.

12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,

want die nood is naby

en daar is niemand wat help nie.

13'n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,

soos beeste uit Basan staan hulle my toe.

14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af.

15Ek is soos uitgestorte water,

al my bene het uitmekaar geval,

my hart het soos was geword,

dit smelt weg in my.

16Ek is so min werd soos 'n potskerf,

my tong kleef aan my verhemelte,

U laat lê my asof ek dood is.

17Soos honde omsingel hulle my,

die bende misdadigers sak op my toe,

hulle bind my hande en voete vas.

18Al wat been in my is, kan ek tel;

hulle kyk na my met leedvermaak.

19Hulle verdeel my klere onder mekaar

en trek lootjies oor my mantel.

20En U, Here – moet tog nie so ver bly nie,

Bron van my krag, help my tog gou!

21Red my van die swaard,

my kosbare lewe uit die mag van die honde.

22Red my uit die bek van die leeu

en tussen die horings van die wilde beeste uit.

U het my gebed verhoor!

23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,

U in die volle vergadering prys.

24Julle wat die Here dien, prys Hom!

Vereer Hom, nageslag van Jakob!

Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel!

25Die nood van die hulpelose

het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,

Hom daarvan nie teruggetrek nie,

maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.

26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,

my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.

27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,

en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.

Mag hulle lank en gelukkig lewe.

28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken

en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken,

29want die koningskap behoort aan die Here;

Hy heers oor die volke.

30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem

en Hom as koning erken,

ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.

31Die nageslag sal Hom dien,

en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.

32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word

van hierdie verlossingsdaad getuig:

die Here het dit gedoen.

HEBREËRS 5

1Elke hoëpriester is 'n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:

“Jy is my Seun,

van vandag af is Ek jou Vader.”

6En op 'n ander plek sê Hy:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Waarskuwing teen afvalligheid

11In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. 12Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. 13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS