Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 51

DEUTERONOMIUM 26–28, MARKUS 12–14

Bybelteks(te)

Die eerste opbrengs van die oes

1“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit en jy daarin woon, 2moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n deel vat en dit in 'n mandjie sit en daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. 3Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met 'n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’ 4Dan moet die priester die mandjie by jou vat en dit neersit voor die altaar van die Here jou God.

5“Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was 'n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy 'n groot, sterk en talryke nasie geword. 6Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen. 7Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word. 8Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders. 9Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. 10Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid. 11Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.”

Oor tiendes

12“Om die drie jaar is dit 'n jaar van tiendes. Dan moet jy 'n tiende van die opbrengs van jou land opsy sit. As jy dit opsy gesit het, moet jy dit gee aan die Leviet, die vreemdeling, die weeskind en die weduwee dat hulle in jou stede genoeg kan hê om te eet. 13Dan moet jy in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘Ek het die gewyde deel uit my huis uit weggeneem en aan die Leviet, die vreemdeling, die weeskind en die weduwee gegee soos U my beveel het in al u gebooie. Ek het nie een van u gebooie oortree nie. Ek het hulle nie vergeet nie. 14Ek het nie van die tiende geëet terwyl ek gerou het nie. Ek het dit nie uit my huis uit weggeneem terwyl ek onrein was nie. Ek het nie daarvan aan 'n dooie afgod geoffer nie. Ek het na U geluister, Here my God, en ek het alles gedoen wat U my beveel het. 15Kyk tog af, Here, uit u heilige woonplek, uit die hemel, en seën u volk Israel en die land wat U aan ons gegee het soos U aan ons voorvaders met 'n eed beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning.’

16“Die Here jou God beveel jou vandag om volgens hierdie voorskrifte en bepalings te leef en om hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel. 17Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister. 18Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam, 19dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel en aan jou meer lof en roem en eer sal gee as aan hulle, en dat jy 'n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos Hy beloof het.”

DEUTERONOMIUM 26AFR83Maak oop in die Bybelleser

'n Klipaltaar op Ebalberg

1Moses en die leiers van Israel het die volk beveel: “Jy moet al die gebooie gehoorsaam wat ek jou vandag beveel. 2Wanneer jy deur die Jordaanrivier trek op pad na die land toe wat die Here jou God aan jou gee, moet jy groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit. 3Wanneer jy deurtrek om die land in te gaan, die land wat die Here jou God aan jou sal gee, die land wat oorloop van melk en heuning, soos die Here jou God aan jou voorvaders beloof het, moet jy al die woorde van hierdie wet op die klippe skryf. 4Nadat jy deur die Jordaan getrek het, moet jy die klippe waaroor ek nou net opdragte gegee het, op Ebalberg opstapel en moet jy hulle met kalk afwit. 5Daar moet jy 'n klipaltaar bou vir die Here jou God. Jy mag die klip nie kap nie. 6Jy moet die altaar vir die Here jou God bou van onbewerkte klip en daarop moet jy jou brandoffers aan die Here jou God offer. 7Jy moet jou maaltydoffers offer en dit daar eet en bly wees in die teenwoordigheid van die Here jou God. 8Jy moet hierdie hele wet duidelik leesbaar skryf op die klippe wat jy opstapel.”

By Gerisimberg en by Ebalberg

9Moses en die Levitiese priesters het vir die hele Israel gesê: “Bly stil en luister, Israel! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword. 10Jy moet na die Here jou God luister en jy moet lewe volgens die gebooie en die voorskrifte wat ek jou vandag beveel.”

11Op dieselfde dag het Moses vir die volk gesê:

12“Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet die volgende stamme op Gerisimberg gaan staan: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. Hulle moet die volk seën. 13Die volgende stamme moet op Ebalberg gaan staan: Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali. Hulle moet die straf aankondig.

14“Die Leviete moet hardop vir die hele Israel sê:

15“Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n afgodsbeeld uitsny of giet en dit in die geheim êrens neersit om te vereer. Die Here het 'n afsku daarvan. Dit is mensewerk.

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

16“Daar rus 'n vloek op elkeen wat sy pa of ma minag.

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

17“Daar rus 'n vloek op elkeen wat die grenslyn van sy buurman verlê!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

18“Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n blinde op 'n verkeerde pad lei!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

19“Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie reg laat geskied aan 'n vreemdeling, 'n weeskind of 'n weduwee nie!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

20“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy pa se vrou, want hy het haar wat aan sy pa behoort, ontbloot.

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

21“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met enige dier!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

22“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy suster, 'n dogter van sy pa of sy ma.

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

23“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy skoonma!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

24“Daar rus 'n vloek op elkeen wat sy naaste doodmaak, al is dit in die geheim!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

25“Daar rus 'n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om 'n onskuldige dood te maak!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’

26“Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie!

“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’ ”

DEUTERONOMIUM 27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Seëninge en strawwe

1“As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.

2“As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

3“Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.

4“Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.

5“Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.

6“Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.

7“Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

8“Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.

9“As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met 'n eed aan jou beloof het.

10“Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal bang wees vir jou. 11Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met 'n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee. 12Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.

13-14“As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie.

15“As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref:

16“Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld.

17“Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel.

18“Daar sal 'n vloek rus op jou nageslag en op die opbrengs van jou lande, op jou kalweroes en jou lammeroes.

19“Daar sal 'n vloek op jou rus waar jy ook gaan.

20“Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.

21“Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.

22“Die Here sal jou tref met tering, inflammasie en koorssiekte, met hitte, met oorlog en met brandkoring en roes. Dit sal by jou bly totdat jy uitgewis is.

23“Die hemel bo jou sal brons word en die aarde onder jou yster.

24“Die Here sal stof en roet in jou land laat reën. Dit sal uit die hemel uit op jou afkom en jou uitdelg.

25“Die Here sal jou laat vlug vir jou vyande. Uit een rigting sal jy teen hulle opruk, maar in talle rigtings sal jy voor hulle uit vlug. Jy sal bewe vir al die koninkryke van die aarde.

26“Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie. 27Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met bloedvinte, uitslag en jeuksiektes, waarvan jy nie genees sal kan word nie. 28Die Here sal jou tref met kranksinnigheid en blindheid en waansin. 29Jy sal op die helder middag rondtas soos 'n blinde rondtas in sy donkerte. Jy sal nie voorspoed ondervind nie. Jy sal aanhoudend verdruk en beroof word en daar sal niemand wees om jou te help nie. 30Jy sal aan 'n vrou verloof raak, maar 'n ander man sal haar verkrag; jy sal 'n huis bou, maar nie daarin woon nie; jy sal 'n wingerd plant, maar nie sy vrugte eet nie. 31Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar jy sal nie daarvan eet nie. Jou donkie sal voor jou oë geroof word en nie weer aan jou terugbesorg word nie. Jou kleinvee sal aan jou vyande gegee word, en daar sal niemand wees wat jou help nie. 32Jou seuns en dogters sal aan 'n vreemde volk gegee word terwyl jy toekyk, en jou oë sal ingee soos jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal niks daaraan kan doen nie. 33'n Volk wat jy nie ken nie, sal die opbrengs eet van jou lande en alles waarvoor jy jou afsloof. Daar sal deurentyd net verdrukking en swaarkry vir jou wees, 34en jy sal kranksinnig word van wat jy sien. 35Die Here sal jou tref met kwaadaardige swere aan jou knieë en jou dye. Van kop tot tone sal jy nie genees kan word nie.

36“Die Here sal jou en die koning wat jy vir jou sal aanstel, na 'n nasie toe laat gaan wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien: hout en klip. 37Daar sal jy wees tot 'n spot en 'n skimp onder al die volke na wie toe die Here jou sal bring, iets waarvoor hulle sal skrik. 38Jy sal baie saad saai, maar min oes, want sprinkane sal die oes opvreet. 39Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie wyn daarvan drink of druiwe daarvan oes nie, want wurms sal dit opvreet. 40Oral in jou grondgebied sal jy olyfbome hê, maar jy sal jou liggaam nie met hulle olie versorg nie, want die olywe sal afval. 41Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal hulle nie behou nie, want hulle sal as ballinge weggevoer word. 42Goggas sal jou bome en die opbrengs van jou lande oorneem. 43Die vreemdeling wat by jou woon, sal meer en meer kry, en jy sal agteruitboer en minder en minder hê. 44Hy sal aan jou leen, jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert. 45Al hierdie strawwe sal oor jou kom. Hulle sal jou tref en by jou bly totdat jy uitgeroei is, omdat jy nie na die opdrag van die Here jou God geluister het nie en nie sy gebooie en voorskrifte wat Hy jou gegee het, gehoorsaam het nie. 46Die gebooie en voorskrifte moet altyd vir jou en jou kinders 'n waarskuwingsteken wees.

47“As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit, 48sal jy jou vyande wat deur die Here teen jou gestuur sal word, moet dien. Jy sal dit doen terwyl jy honger en dors en sonder klere is en gebrek ly, en jou vyand sal 'n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou uitgeroei het. 49Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie, 50'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade. 51Hy sal die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land opeet totdat hy jou uitgeroei het. Hy sal nie vir jou koring of wyn of olie laat oorbly nie, ook nie van die aanteel van jou grootvee en jou kleinvee nie. Jou vyand sal dit doen totdat hy jou ondergang bewerk het.

52“Hy sal jou in al jou stede beleër totdat jou hoë stadsmure en jou vestings waarop jy staatmaak, dwarsdeur jou land afgebreek is. Hy sal jou beleër in al die stede van jou hele land wat deur die Here jou God aan jou gegee is. 53Wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry, sal jy die vleis van jou eie kinders eet, jou seuns en dogters wat deur die Here jou God aan jou gegee is. 54Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie. 55Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie. Dit is wat sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede. 56Die sagste en mees verfynde vrou by jou wat nie eers sal probeer om 'n voet op die grond te sit nie, so verfyn en sag is sy, sal vir haar man vir wie sy lief is, of vir haar seun of haar dogter niks omgee nie. Sy sal hulle nie laat eet 57van die nageboorte of van die vleis van haar kinders wat sy in die wêreld gebring het nie. Sy sal alles in die geheim opeet, so honger sal sy wees. Dit sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.

58“Sorg dat jy lewe volgens al die bepalings van hierdie wet wat in hierdie boek opgeteken is, dat jy eerbied betoon aan die Here jou God, Hy aan wie se Naam eer en ontsag toekom. 59As jy dit nie doen nie, sal Hy ontsettende rampe oor jou en jou nageslag bring, groot en langdurige rampe, kwaadaardige en ongeneeslike siektes. 60Hy sal al die siektes van Egipte oor jou bring, alles waarvoor jy bang is, en hulle sal ongeneeslik wees. 61Die Here sal ook al die siektes en rampe wat nie in hierdie wetboek genoem is nie, oor jou laat kom totdat Hy jou uitgeroei het.

62“Julle was so baie soos die sterre aan die hemelruim, maar daar sal net 'n klompie van julle oorbly omdat jy nie die Here jou God gehoorsaam het nie.

63“Soos die Here jou God Hom oor julle verbly het toe Hy aan julle goed gedoen en julle baie gemaak het, so sal Hy Hom verbly wanneer Hy julle tot niet maak en julle uitroei. Julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. 64Die Here sal jou verstrooi onder al die volke, oor die hele aarde. Daar sal jy ander gode dien wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, gode van hout en klip. 65Onder daardie nasies sal jy nie vrede vind nie, nie eers 'n rusplek vir jou voete nie. Die Here sal jou daar 'n hart vol angs gee, oë wat ingee, 'n lewe wat wegkwyn. 66Jou lewe sal aan 'n draadjie hang, jy sal dag en nag in vrees lewe, jy sal jou lewe lank onveilig wees. 67In die môre sal jy sê: ‘Was dit maar aand!’ en in die aand sal jy sê: ‘Was dit maar môre!’ so vol vrees sal jy wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe.

68“Die Here sal jou met die pad waarvan ek vir jou gesê het jy sal dit nie meer sien nie, terugvat Egipte toe in groot ellende. Daar sal julle julleself aan jou vyande as slawe en slavinne te koop aanbied, maar daar sal nie 'n koper wees nie.”

DEUTERONOMIUM 28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gelykenis van die boere en die wingerd

(Matt. 21:33-46; Luk. 20:9-19)

1Jesus het voortgegaan om in gelykenisse met hulle te praat en gesê: “'n Man het 'n wingerd aangeplant en 'n klipmuur daar rondom gebou. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en daarvandaan weggegaan. 2Op die vasgestelde tyd het hy 'n slaaf na die boere toe gestuur om by hulle sy deel van die wingerd se opbrengs te kry. 3Hulle het hom egter gegryp en geslaan en met leë hande weggejaag. 4Daarna het hy 'n ander slaaf na hulle toe gestuur. Hulle het hom oor die kop geslaan en hom uitgeskel. 5Hy het nog 'n ander een gestuur en vir hom het hulle doodgemaak. Later het hy nog baie ander gestuur; hulle het party geslaan en ander doodgemaak. 6Hy het nog net een oorgehad, sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 7Maar daardie boere het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood; dan sal die erfenis ons s'n wees.’ 8Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi.

9“Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd nou doen? Hy sal kom en die boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee. 10Julle het tog al in die Skrif gelees:

“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

11Dit is deur die Here gedoen

en is 'n wonder in ons oë.

12Hulle het toe na 'n plan gesoek om Hom te laat vang, want hulle het besef dat Hy met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Maar hulle was bang vir die mense en het Hom laat staan en weggegaan.

Die vraag oor die betaal van belasting

(Matt. 22:15-22; Luk. 20:20-26)

13Toe stuur hulle 'n paar van die Fariseërs en van die Herodiane na Jesus toe om Hom met 'n vraag in 'n strik te vang. 14Hulle kom sê toe vir Hom: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?”

15Jesus het egter geweet dat hulle huigel en Hy het vir hulle gesê: “Waarom stel julle vir My 'n strik? Bring vir My 'n muntstuk dat Ek sien.”

16Hulle bring toe vir Hom een en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

“Die keiser s'n,” antwoord hulle Hom.

17Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

En hulle was stom van verbasing oor Hom.

Die vraag oor die opstanding uit die dood

(Matt. 22:23-33; Luk. 20:27-40)

18Toe kom daar Sadduseërs na Jesus toe. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. 19Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat maar nie kinders het nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ 20Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie. 21Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so. 22Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe. 23Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

24Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? 25Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. 26En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ nie? 27Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

Die vraag oor die grootste gebod

(Matt. 22:34-40; Luk. 10:25-28)

28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.

Die vraag oor die seun van Dawid

(Matt. 22:41-46; Luk. 20:41-44)

35Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? 36Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê:

“ ‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’

37“Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”

Die groot menigte mense het graag na Hom geluister.

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes

(Matt. 23:1-36; Luk. 20:45-47)

38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die arm weduwee se gawe

(Luk. 21:1-4)

41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word

(Matt. 24:1-2; Luk. 21:5-6)

1Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”

2Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging

(Matt. 24:3-14; Luk. 21:7-19)

3Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: 4“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”

5Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 6Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.

7“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 8Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9“En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal 'n getuienis voor hulle wees. 10En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. 11Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. 12Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 13Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”

Die profetiese rede: die groot verdrukking

(Matt. 24:15-28; Luk. 21:20-24)

14“En wanneer julle die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie – wie dit lees, moet dit goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. 15Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; 16en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

17“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. 18Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, 19want in daardie tyd sal daar so 'n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. 20En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort.

21“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 22Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. 23Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.”

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt. 24:29-31; Luk. 21:25-28)

24“Maar in daardie tyd,

ná daardie verdrukking,

sal die son verduister word

en die maan sal nie skyn nie;

25die sterre sal uit die ruimte val

en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

26“Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. 27En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom

(Matt. 24:32-35; Luk. 21:29-33)

28“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 29So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 30Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 31Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms

(Matt. 24:36-44; Luk. 21:34-36)

32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

Jesus se dood word beplan

(Matt. 26:1-5; Luk. 22:1-2; Joh. 11:45-53)

1Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf

(Matt. 26:6-13; Joh. 12:1-8)

3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai

(Matt. 26:14-16; Luk. 22:3-6)

10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na 'n plan gesoek om Hom by 'n geskikte geleentheid te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei

(Matt. 26:17-19; Luk. 22:7-13)

12Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom 14en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ 15Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”

16Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.

Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai

(Matt. 26:20-25; Luk. 22:14,21-23; Joh. 13:18-30)

17Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. 18Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

19Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”

20Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. 21Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Die instelling van die nagmaal

(Matt. 26:26-29; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25)

22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt. 26:30-35; Luk. 22:31-34; Joh. 13:36-38)

26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:

“Ek sal die herder doodmaak,

en die skape sal uitmekaar gejaag word.

28“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”

29Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

30Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”

31Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”

En al die ander het dieselfde gesê.

Jesus in Getsemane

(Matt. 26:36-46; Luk. 22:39-46; Joh. 18:1-2)

32Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem

(Matt. 26:47-56; Luk. 22:47-53; Joh. 18:3-12)

43Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. 44Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”

45Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. 46Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.

47Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.

48Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? 49Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”

50Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

51'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, 52maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad

(Matt. 26:57-68; Luk. 22:54-55,63-71; Joh. 18:15-16,24)

53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.

54Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.

55Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om 'n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. 56Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.

57Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae 'n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” 59Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.

60Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

61Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.

Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.

62“Ek is,” het Jesus geantwoord,

“en julle sal die Seun van die mens sien

waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is,

en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.”

63Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? 64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”

Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”

65Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer 'n bietjie!”

Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus

(Matt. 26:69-75; Luk. 22:56-62; Joh. 18:17-18,25-27)

66Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. 67Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”

68Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het 'n haan gekraai.

69Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” 70Maar hy het dit weer ontken.

'n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook 'n Galileër.”

71Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”

72En onmiddellik het die haan 'n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan 'n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”

En hy het in trane uitgebars.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS