Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 50

DEUTERONOMIUM 21–25, MARKUS 11

Bybelteks(te)

'n Onbekende moordenaar

1“Wanneer iemand wat om die lewe gebring is, gekry word waar hy in die veld lê in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee, en niemand weet wie hom doodgemaak het nie, 2moet jou leiers en jou regters uitgaan en die afstand meet van hom af tot by die stede in die omgewing. 3Die leiers van die stad naaste aan die lyk moet dan 'n vers vat wat nog nooit in 'n juk getrek het nie 4en haar na 'n spruit toe bring wat loop en waar daar nie geploeg of gesaai is nie. Daar by die spruit moet hulle die vers se nek breek. 5Dan moet die Levitiese priesters wat deur die Here jou God uitgekies is om Hom te dien en in sy Naam die seën uit te spreek, nader kom en enige geskil of aanklag moet deur hulle uitspraak afgehandel word. 6Al die leiers van die stad naaste aan die lyk moet dan hulle hande was bo-oor die vers waarvan die nek gebreek is by die spruit, 7en sê: ‘Ons het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie. 8Here, U wat vir Israel verlos het, spreek tog u volk vry en moenie dat die skuld van bloed wat onskuldig vergiet is, op u volk Israel bly nie.’ Dan sal hulle vry wees van die skuld vir die dood van die man. 9So sal jy doen wat reg is in die oë van die Here en sal jy die skuld vir 'n onskuldige dood onder jou uit verwyder.”

Oor huweliksake

10“Wanneer jy gaan oorlog maak, en die Here jou God gee jou vyande in jou mag oor, en jy neem krygsgevangenes 11en jy sien 'n mooi vrou onder hulle en jy kry haar lief en jy wil met haar trou, 12moet jy haar in jou huis inbring. Dan moet sy haar hare afskeer, haar naels afsny, 13en haar klere wat sy as krygsgevangene gedra het, uittrek. Sy moet in jou huis woon en 'n maand lank oor haar ouers treur. Daarna kan jy met haar gemeenskap hê, en is jy haar man en sy jou vrou. 14As jy later nie meer lief is vir haar nie, moet jy haar laat gaan waarheen sy wil. Jy mag haar nie verkoop nie, jy mag haar ook nie as slavin gebruik nie, want jy het met haar gemeenskap gehad.

15“Wanneer 'n man twee vrouens het, een wat hy liefhet en een van wie hy nie hou nie, en albei het vir hom kinders in die wêreld gebring, en die oudste seun is die kind van die vrou van wie hy nie hou nie, 16mag hy nie die seun van die vrou wat hy liefhet, in sy testament as sy oudste beskou en hom bevoorreg bo die seun wat eintlik sy oudste is nie, die seun van die vrou van wie hy nie hou nie. 17Die man moet die seun van die vrou van wie hy nie hou nie, as oudste erken deur aan hom 'n dubbele deel van alles te gee. Hy is die eersteling van die man se manlike krag, en die reg van die eersteling kom hom toe.

18“Wanneer 'n man 'n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, 19moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. 20Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is 'n vraat en 'n suiplap.’ 21Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees.”

Wie opgehang word, is vervloek

22“Wanneer iemand tereggestel word vir 'n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan 'n paal op, 23mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek. Jy mag nie die land wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee is, verontreinig nie.”

DEUTERONOMIUM 21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Reëlings vir 'n ordelike gemeenskap

1“Jy mag jou nie blind hou wanneer jy 'n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. 2As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee. 3So moet jy ook maak met 'n donkie of 'n kledingstuk van jou volksgenoot of enigiets anders wat wegraak en jy kry dit. Jy mag nie onverskillig staan daarteenoor nie. 4Jy mag nie onverskillig staan teenoor 'n donkie of 'n bees van jou volksgenoot as jy dit sien val nie. Jy moet hom die dier help optel.

5“'n Vrou mag nie mansklere dra nie, en 'n man mag nie vrouensklere aantrek nie. Die Here jou God het 'n afsku van mense wat dit doen.

6“Wanneer jy afkom op 'n voëlnes in 'n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie. 7Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy 'n lang lewe hê.

8“Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.

9“Jy mag nie 'n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom.

10“Jy mag nie 'n bees en 'n donkie saam voor 'n ploeg inspan nie.

11“Jy mag nie 'n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.

12“Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.

13“Wanneer 'n man 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy 'n afkeer kry van haar nadat hy met haar gemeenskap gehad het 14en haar van slegte gedrag beskuldig en haar 'n slegte naam laat kry deurdat hy sê: ‘Ek het hierdie vrou getrou en met haar gemeenskap gehad, maar ek het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie.’ 15Dan moet haar pa en haar ma die tekens dat sy 'n maagd was, na die leiers van die stad toe bring in die stadspoort 16en dan moet haar pa vir hulle sê: ‘Ek het my dogter met hierdie man laat trou en nou haat hy haar. 17Hy beskuldig haar van slegte gedrag deurdat hy sê hy het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie. Maar hier is die tekens dat my dogter 'n maagd was.’ Dan moet haar pa haar nagklere vir die leiers van die stad wys. 18Hulle moet die man dan met 'n sweep slaan 19en hom met elf honderd en veertig gram silwer beboet. Hulle moet die geld vir haar pa gee omdat die man haar, 'n maagd van Israel, 'n slegte naam laat kry het. Sy sal ook die man se vrou bly. Hy mag nooit van haar skei nie. 20Maar as die man die waarheid gepraat het, en daar nie enige tekens dat sy 'n maagd was by haar gevind is nie, 21moet hulle haar by die deur van haar pa se huis laat uitkom en die mans van die stad moet haar daar met klippe doodgooi. Sy moet sterf omdat sy 'n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met 'n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

22“Wanneer 'n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met 'n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word. So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei.

23“Wanneer 'n man 'n verloofde meisie in die stad raakloop en met haar gemeenskap het, 24moet jy altwee na die stadspoort toe uitbring en met klippe doodgooi. Hulle moet sterf: die meisie omdat sy nie in die stad om hulp geroep het nie en die man omdat hy die verloofde van sy volksgenoot onteer het. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei. 25Maar as 'n man 'n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf. 26Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer 'n man iemand gryp en vermoor. 27Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie.

28“Wanneer 'n man 'n meisie wat nie verloof is nie, raakloop en haar gryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, 29moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, vyf honderd en sewentig gram silwer aan haar pa gee en met haar trou. Hy het haar onteer en daarom mag hy nooit van haar skei nie.

30“'n Seun mag nie met sy pa se vrou trou nie. 'n Seun mag nie gemeenskap hê met 'n vrou wat aan sy pa behoort nie.”

DEUTERONOMIUM 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wie nie lid van die gemeente mag word nie

1“Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie. 2Niemand wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap mag lid van die gemeente word nie, selfs nie so 'n persoon se tiende nageslag nie. 3Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie. 4Dit is omdat hulle jou nie van kos en water voorsien het toe julle uit Egipte getrek het nie en hulle vir Bileam seun van Beor uit Petor in Mesopotamië gehuur het om jou te vervloek.

5“Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in 'n seën verander, want die Here jou God het jou lief. 6Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie.

7“Jy mag egter nie 'n Edomiet wegstoot nie, want hy is jou bloedverwant; ook nie 'n Egiptenaar nie, want jy was 'n vreemdeling in sy land. 8Kinders uit hulle derde geslag mag lid word van die gemeente.”

Die kamp moet rein wees

9“Wanneer jy optrek teen jou vyande, moet jy oppas dat jy nie iets verkeerds doen nie. 10As daar iemand by jou is wat nie rein is nie op grond van iets wat in die nag met hom gebeur het, moet hy uit die kamp uit gaan. Hy mag nie in die kamp wees nie. 11Teen die aand moet hy hom was en na sononder mag hy in die kamp inkom. 12Jy moet 'n plek buite jou kamp hê waarheen jy kan uitgaan. 13By jou uitrusting moet daar 'n stok wees en as jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy 'n gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap. 14Die Here jou God gaan saam met jou in jou kamp om jou te bevry deur jou vyande in jou mag oor te gee, en daarom moet jou kamp rein wees. As die Here iets onbetaamliks by jou sien, sal Hy jou verlaat.”

Maatskaplike en godsdienstige reëlings

15“Jy mag nie 'n slaaf wat van sy eienaar af na jou toe weggeloop het, aan sy eienaar teruggee nie. 16Die slaaf mag by jou woon in een van jou stede wat hy kies, waar dit hom pas. Jy mag hom nie laat swaarkry nie.

17“Jy mag nie prostitute by die tempel aanhou nie, of dit nou vrouens of mans uit Israel is.

18“Wanneer jy 'n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van 'n prostituut, of dit nou dié van 'n man of 'n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het 'n afkeer van hierdie twee dinge.

19“Jy mag niks teen rente aan jou volksgenoot uitleen nie: nie geld of kos of enigiets wat 'n mens kan uitleen nie. 20Jy mag aan 'n nie-Israeliet iets teen rente uitleen, maar aan jou volksgenoot mag jy niks teen rente uitleen nie. Dan sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.

21“Wanneer jy 'n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees. 22Wanneer jy nie 'n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie, 23maar as jy vrywillig 'n gelofte teenoor die Here jou God aflê, moet jy versigtig wees met wat jy sê en moet jy die gelofte nakom.

24“Wanneer jy in jou buurman se wingerd ingaan, mag jy net soveel druiwe eet as jy wil om jou honger te stil, maar jy mag niks in jou sak sit nie. 25Wanneer jy in jou buurman se koringland ingaan, mag jy are pluk met jou hand, maar jy mag nie 'n sekel in sy koringland gebruik nie.”

DEUTERONOMIUM 23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oor skei en hertrou

1“Wanneer 'n man met 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur. 2Sy kan dan uit sy huis uit gaan en met 'n ander man trou. 3As haar tweede man haar ook later nie meer liefhet nie en 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur, of as haar tweede man sterf, 4mag haar eerste man wat haar weggestuur het, nie weer met haar trou nie. Sy is verontreinig, en as hy weer met haar trou, sal dit vir die Here iets afskuweliks wees. Jy mag nie die land wat die Here jou God vir jou as besitting sal gee, onder jou sonde laat ly nie.”

Neem jou medemens in ag

5“Wanneer 'n man pas getroud is, mag hy nie saam met die leër optrek om te gaan oorlog maak nie. Hy mag ook nie met enige verpligting belas word nie. 'n Jaar lank moet hy van alles vrygestel wees om sy vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.

6“Jy mag nie iemand se twee maalklippe as pand neem nie, selfs nie die boonste maalklip nie, want dan vat jy sy daaglikse brood as pand.

7“Wanneer dit ontdek word dat iemand sy broer, 'n mede-Israeliet, gesteel het en hom as slaaf gebruik of verkoop het, moet die dief sterf. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

8“Jy moet versigtig wees as melaatsheid jou tref. Jy moet versigtig wees en presies doen wat die Levitiese priesters jou voorhou. Ek het hulle alles beveel, en jy moet versigtig wees en dit doen. 9Jy moet onthou wat die Here jou God vir Mirjam aangedoen het toe julle uit Egipte weggetrek het.

10“Wanneer jy iets aan jou buurman leen, mag jy nie in sy huis ingaan om iets as pand te gaan vat nie. 11Jy moet buite staan en die man aan wie jy geleen het, moet vir jou die pand uitbring buite toe. 12As die man arm is, moet jy nie die pand ná slaaptyd hou nie. 13Jy moet die pand teruggee wanneer die son ondergaan sodat hy onder sy kledingstuk kan slaap. Dan sal hy jou seën, en die Here jou God sal jou optrede goedvind.

14“Jy mag nie 'n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al 'n volksgenoot is of 'n vreemdeling wat by jou woon in een van jou land se stede. 15Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees.

16“Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.

17“Jy mag nie die regte van 'n vreemdeling of van 'n weeskind van hulle af wegvat nie. Jy mag nie die klere van 'n weduwee as pand neem nie.

18“Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was, en dat die Here jou God jou daaruit bevry het. Daarom beveel ek jou om al hierdie dinge te doen.

19“Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet 'n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy aanpak. 20Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfboom af, mag jy nie agterna weer gaan afslaan nie. Wat agtergebly het, moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. 21Wanneer jy jou wingerd oes, mag jy nie agterna weer gaan oes nie. Wat agtergebly het, moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. 22Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was. Dit is waarom ek jou beveel om al hierdie dinge te doen.

DEUTERONOMIUM 24AFR83Maak oop in die Bybelleser

1“Dit kan gebeur dat twee mans in 'n hofsaak betrokke raak en dat die regters uitspraak lewer en die een onskuldig verklaar en die ander een skuldig. 2Wanneer die skuldige dan lyfstraf opgelê is, moet 'n regter hom op die grond laat lê, en hy moet in die teenwoordigheid van die regter soveel houe kry as hy verdien. 3Hy mag nie meer as veertig houe kry nie, want as hy meer as dit kry, word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer.

4“Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.”

Die verantwoordelikheid van 'n swaer

5“Wanneer broers saamwoon, en een van hulle sterf sonder 'n seun, mag sy weduwee nie met 'n buitestaander trou nie. Haar man se broer moet met haar trou en so sy verantwoordelikheid nakom teenoor sy broer. 6Haar eerste seun moet die naam van die afgestorwe broer dra sodat sy naam nie uit Israel uitsterf nie. 7As die broer nie met sy broer se weduwee wil trou nie, moet sy na die leiers in die stadspoort toe gaan en vir hulle sê: ‘My swaer weier om die naam van sy broer in Israel te laat voortleef. Hy weier om met my sy verantwoordelikheid na te kom teenoor sy broer.’

8“Die stadsleiers moet hom dan laat roep en met hom praat. As hy daarop staan en bly sê: ‘Ek wil nie met haar trou nie,’ 9moet sy skoonsuster na hom toe kom en in die teenwoordigheid van die stadsleiers moet sy sy skoen uittrek en hom in die gesig spoeg en vir hom sê: ‘So sal dit gaan met die man wat nie vir sy broer 'n huis, 'n nageslag, wil bou nie.’

10“Dan moet die man en sy huis onder die Israeliete bekend wees as Huis van die uitgetrekte Skoen.”

Tree reg en billik op

11“Wanneer twee mans baklei, en die een se vrou kom help haar man teen die een deur wie haar man geslaan word en sy gryp die ander man aan sy geslagsorgane, 12moet haar hand afgesny word. Jy mag geen genade betoon nie.

13“Jy mag nie met gewigte werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie.

14“Jy mag nie met inhoudsmate werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie.

15“Jy moet billik en regverdig afweeg en afmeet. Dan sal jy lank leef in die land wat deur die Here jou God aan jou gegee word.

16“Die Here jou God het 'n afsku van almal wat oneerlik is en ander bedrieg.”

Amalek moet uitgeroei word

17“Jy moet onthou wat Amalek jou aangedoen het toe julle uit Egipte getrek het. 18Hy het jou van agter af aangeval toe jy moeg en uitgeput was, en hy het almal wat nie kon byhou nie, om die lewe gebring sonder om hom aan God te steur. 19Wanneer die Here jou God jou die oorwinning laat behaal het oor al jou vyande rondom jou en jy rustig woon in die land wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit, moet jy die naam van Amalek van die aarde af uitwis. Jy mag nie vergeet om dit te doen nie.”

DEUTERONOMIUM 25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die intog van Jesus in Jerusalem

(Matt. 21:1-11; Luk. 19:28-40; Joh. 12:12-19)

1Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels 2en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 3En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.”

4Hulle het toe gegaan en 'n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. 5Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?”

6Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan.

7Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. 8Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. 9Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep:

“Prys Hom!

Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

10Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk

wat aan die kom is!

Prys Hom in die hoogste hemel!”

11Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

Jesus vervloek die vyeboom

(Matt. 21:18-19)

12Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. 13Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. 14Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”

Sy dissipels het dit gehoor.

Die reiniging van die tempel

(Matt. 21:12-17; Luk. 19:45-48; Joh. 2:13-22)

15Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. 16En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie.

17Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.”

18Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na 'n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.

19Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan.

Die vyeboom het verdroog

(Matt. 21:20-22)

20Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is. 21Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

22Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

25“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

Die vraag oor Jesus se gesag

(Matt. 21:23-27; Luk. 20:1-8)

27Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe 28en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”

29Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 30Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.”

31Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32Maar moet ons sê: ‘Van mense af’? ...” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik 'n profeet was. 33Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.”

Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS