Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 49

DEUTERONOMIUM 16–20, MARKUS 10

Bybelteks(te)

Die paasfees

(Vgl. Eks. 12:1-20)

1“Onthou die maand Abib en vier die paasfees tot eer van die Here jou God. Dit was 'n nag in die maand Abib dat die Here jou God jou uit Egipte laat trek het. 2Op die plek wat die Here sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy uit jou kleinvee of jou grootvee die paasoffer vir die Here jou God bring. 3Jy mag nie brood met suurdeeg in eet nie, maar sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet. Dit is brood wat herinner aan jou swaarkry, en jy moet jou lewe lank dink aan die dag waarop jy uit Egipte weg is: hoe jy haastig daar weg is. 4Sewe dae lank mag daar in jou hele gebied geen suurdeeg wees nie. Daar mag nie van die vleis wat jy op die eerste aand offer, tot die volgende môre toe oorbly nie. 5Jy mag nie die paasoffer bring in enige van die woonplekke wat die Here jou God vir jou gee nie. 6Jy mag dit net bring in die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. Daar moet jy die paasoffer bring in die aand, teen sononder, want julle het in die aand uit Egipte uit weggetrek. 7Braai en eet dit in die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug huis toe. 8Ses dae moet jy dan nog ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle tot eer van die Here jou God saamkom. Op hierdie dag mag jy geen werk doen nie.”

Die fees van die weke

(Vgl. Lev. 23:15-21)

9“Jy moet sewe weke bereken van die dag af dat jy jou graan begin oes. 10Vier die fees van die weke tot eer van die Here jou God. In die mate waarin die Here jou God jou met voorspoed geseën het, moet jy 'n vrywillige offer vir Hom bring. 11In die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy bly wees in die teenwoordigheid van die Here jou God, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete wat in jou omgewing woon, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees by jou. 12Jy moet altyd onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte. Onderhou al hierdie voorskrifte en leef daarvolgens.”

Die huttefees

(Vgl. Lev. 23:33-43)

13“Jy moet die huttefees sewe dae lank vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het. 14Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing. 15In die plek wat die Here jou God sal kies, moet jy sewe dae lank tot sy eer feesvier, omdat die Here jou God jou met 'n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het. Daarom moet jy bly wees.

16“Drie keer elke jaar moet al jou mans in die plek wat die Here jou God sal kies, in sy teenwoordigheid verskyn: op die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie. 17Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”

Jy moet alleen laat geld wat reg is

18“In elke dorp wat die Here jou God vir jou gee, moet jy regters en amptenare aanstel. Hulle moet die volk billik regeer. 19Jy moet die regspraak sy loop laat neem en vir niemand partydig wees nie. Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat van beter moet weet, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop. 20Jy moet alleen laat geld wat reg is. Dan sal jy bly lewe en die land wat die Here jou God vir jou gee, in besit neem.”

Moenie ander gode dien nie

21“Jy mag nie 'n gewyde paal inplant langs die altaar wat jy vir die Here jou God gebou het nie. 22Jy mag ook nie vir jou 'n klippilaar oprig nie, want die Here jou God haat sulke goed.

DEUTERONOMIUM 16AFR83Maak oop in die Bybelleser

1“Jy mag nie vir die Here jou God 'n bees of 'n skaap offer wat 'n liggaamsgebrek of 'n letsel het nie. So iets is afskuwelik vir die Here jou God.

2“Dit kan gebeur dat jy in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou sal gee, 'n man of 'n vrou kry wat die verbond verbreek en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God 3deur ander gode te dien en te vereer: die son of die maan of enige ander hemelliggaam. Die Here het nie hierdie soort diens beveel nie. 4Wanneer dit vir jou vertel word of wanneer jy dit hoor, moet jy noukeurig navraag doen daaroor en as dit waar is dat so iets afskuweliks in Israel gedoen is, 5moet jy die man of die vrou wat die verkeerde ding gedoen het, laat uitbring na die stadspoort toe en hy of sy moet daar met klippe doodgegooi word. 6Die terdoodveroordeling mag net plaasvind op die eenparige getuienis van twee of drie getuies, nie op dié van net een nie. 7Die getuies moet die vonnis begin voltrek, en daarna moet die hele volk dit help uitvoer. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.”

Hofuitsprake by die heiligdom

8“Dit kan gebeur dat 'n saak voor jou gebring word wat vir jou te moeilik is: oor bloedvergieting of oor 'n hofuitspraak of oor aanranding. Dan moet jy na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom sal uitkies. 9Gaan dan na die Levitiese priesters en die regter wat aan diens is, en vra raad by hulle. Hulle sal vir jou die regte uitspraak lewer. 10Handel volgens die uitspraak wat hulle vir jou lewer daar by die plek wat die Here sal kies. Gehoorsaam alles wat hulle jou daar leer, en lewe daarvolgens. 11Jy moet handel volgens die onderrig wat hulle gee, volgens die uitspraak wat hulle vir jou lewer. Jy mag nie 'n haarbreedte afwyk van wat hulle vir jou sê nie. 12Die man wat nie luister nie en so die regter en die priester wat diens lewer in die heiligdom van die Here jou God, met minagting behandel, moet doodgemaak word. Jy moet die soort verkeerde ding uit Israel uitroei. 13Die hele volk sal hiervan hoor en bang word om so moedswillig op te tree.”

Die koning en sy verantwoordelikhede

14“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, en jy dit in besit geneem het en daarin woon, sal jy sê: ‘Ek wil 'n koning oor my aanstel. Elke nasie in my omgewing het 'n koning.’ 15Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Jy mag nie 'n uitlander, iemand wat nie uit jou volk is nie, as koning aanstel nie. 16Hy mag nie baie perde aanhou nie en hy mag ook nie die volk na Egipte toe laat teruggaan om vir hulle baie perde aan te skaf nie. Die Here het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer daarheen teruggaan nie.’ 17Die koning mag ook nie baie vrouens hê nie, sodat hy nie aan die Here ontrou word nie. Hy mag ook nie sy silwer en goud te veel laat word nie.

18“Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom 'n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. 19Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe. 20Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en 'n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie. As hy gehoorsaam is, sal hy lank lewe in sy koninkryk, hy en sy seuns tussen sy volk Israel.”

DEUTERONOMIUM 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Voorregte van die priester

1“Die Levitiese priesters, die afstammelinge van Levi, sal nie tussen die Israeliete grond as besitting kry nie. Die hele Levistam sal die vuuroffers eet wat vir die Here gebring is, wat aan Hom behoort. 2Die priesters kry nie 'n eie grondgebied tussen hulle volksgenote nie, Levi ontvang van wat die Here self toekom. Dit is soos die Here vir hom beloof het. 3Die priesters mag soos volg by die volk aanspraak maak op offers wat gebring word: iemand wat 'n bees of 'n skaap kom offer, moet vir die priester die blad, die kakebene en die pens van die dier gee; 4jy moet vir die priester die beste deel gee van jou koringoes en jou wynoes, van jou olie-opbrengs en jou wolskeersel. 5Die Here jou God het die Levistam uit al jou stamme uitgekies om in sy diens te staan. Levi en sy nageslag moet vir altyd aan die Naam van die Here diens lewer. 6Wanneer 'n Leviet uit enige van die Israelitiese stede waar hy as vreemdeling woon, na die plek toe wil kom wat die Here sal kies, 7mag die Leviet aan die Naam van die Here sy God diens lewer soos al sy mede-Leviete wat daar in die teenwoordigheid van die Here diens doen. 8So 'n Leviet moet net soveel kos as die ander Leviete kry, ongeag wat hy as erfgoed besit.”

Afskuwelike praktyke

9“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie. 10Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar 11of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. 12Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf. 13Jy moet opreg wees voor die Here jou God. 14Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.”

'n Profeet soos Moses

15“Die Here jou God sal 'n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. 16Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer 'n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’

17“Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg. 18Ek sal 'n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. 19Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie. 20'n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van 'n profeet wat in die naam van ander gode praat.’ 21Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? 22moet jy weet: as 'n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”

DEUTERONOMIUM 18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Asielstede

(Vgl. Num. 35:9-28; Jos. 20:1-9)

1“Die Here jou God sal die nasies uitroei wie se land Hy aan jou sal gee. Hy sal hulle verdryf en jy sal in hulle stede en in hulle huise woon. 2In die land wat die Here jou God aan jou gee om te besit, moet jy drie stede uitsonder 3as stede waarheen iemand kan vlug as hy 'n ander doodgemaak het. Jy moet die land wat die Here jou God aan jou as besitting gee, in drie streke verdeel sodat die stede maklik bereikbaar is. 4Iemand mag na een van die stede toe vlug om te bly lewe as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. 5Wanneer iemand byvoorbeeld saam met sy buurman na 'n bos toe gaan om hout te kap en hy swaai die byl in sy hand om 'n boom te kap, en die byl skram weg van die boom af en tref die buurman sodat hy sterf, mag so 'n persoon na een van die drie stede toe vlug om te bly lewe. 6As die pad na so 'n stad toe te lank sou wees, sou dit kon gebeur dat 'n familielid wat in sy woede die ander se dood wil wreek, die man wat hom doodgemaak het, agtervolg en inhaal en doodmaak al is daar nie 'n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie: daar was mos nie voorheen vyandskap tussen hulle nie. 7Dit is waarom ek jou beveel om drie stede uit te sonder. 8-9Maar as die Here jou God die grondgebied uitbrei soos Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het en Hy gee die hele land wat Hy aan hulle beloof het aan jou, moet jy nog drie stede by die eerste drie voeg. Die Here sal jou gebied uitbrei omdat jy hierdie hele wet wat ek jou vandag gee, gehoorsaam deurdat jy die Here jou God liefhet en altyd volgens sy wil lewe. 10Daar mag nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee nie, want dan sal daar bloedskuld op jou rus.

11“Wanneer daar vyandskap is tussen 'n man en sy buurman, en hy lê sy buurman voor en pak hom en slaan hom dat hy sterf, en die man vlug dan na een van hierdie stede toe, 12moet die leiers van sy stad hom van daar af laat haal en hom oorgee in die mag van die familielid wat die ander se dood wil wreek, en die familielid mag hom doodmaak. 13Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan.”

Vaste bakens

14“Jy mag nie jou buurman se grenslyne verskuif nie. Dit is grenslyne wat voorheen deur die voorgeslag vasgestel is vir die eiendom wat jy sal besit in die land wat die Here jou God jou as besit sal gee.”

Oor getuies in 'n hofsaak

15“Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. 'n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.

16“Wanneer 'n kwaadwillige getuie iemand van ontrou aan die Here beskuldig, 17moet die twee mans wat in die saak betrokke is, voor die Here verskyn, voor die priesters en die regters wat aan diens is. 18Die regters moet die saak deeglik ondersoek en as dit blyk dat die persoon wat sy volksgenoot beskuldig het, 'n vals getuie is, 19moet julle hom aandoen wat hy sy volksgenoot wou aandoen. So moet hierdie soort kwaad tussen julle uitgeroei word. 20Die ander mense sal daarvan hoor en bang word en hierdie soort verkeerde ding sal nie weer tussen julle voorkom nie. 21Jy mag so 'n persoon nie genade betoon nie: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand en 'n voet vir 'n voet.”

DEUTERONOMIUM 19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Reëlings vir oorlog

1“Wanneer jy teen jou vyande gaan oorlog maak en jy merk hulle het perde en strydwaens en hulle is meer as jy, moet jy nie vir die vyande bang wees nie. Die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het, is by jou. 2Wanneer jy gereed staan om te veg, moet die priester nader kom en die volk toespreek. 3Hy moet vir hulle sê: ‘Luister, Israel! Julle staan nou gereed om teen julle vyande te veg. Moenie bewe nie, moenie bang wees nie, moenie vreesbevange word nie, moenie vir hulle skrik nie. 4Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’

5“Die leiers moet vir die volk sê: ‘Wie het 'n huis gebou en dit nog nie betrek nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander sy huis betrek nie. 6Wie het 'n wingerd geplant en nog nie van sy vrugte geëet nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander van sy wingerd eet nie. 7Wie het verloof geraak maar is nog nie getroud nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander met sy verloofde trou nie.’ 8Verder moet die leiers nog vir die volk sê: ‘Wie is bang? Wie bewe? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie sy volksgenote laat moed verloor soos hy nie.’

9“Wanneer die leiers met die volk gepraat het, moet daar leëraanvoerders aangestel word. 10Wanneer jy teen 'n stad optrek om daarteen te veg, moet jy 'n vredesaanbod maak. 11As die stad die vredesaanbod aanvaar en sy poorte vir jou oopgooi, moet al sy inwoners jou dwangarbeiders word en vir jou werk. 12Maar as die stad nie met jou vrede sluit nie en teen jou wil oorlog maak, moet jy dit beleër. 13Die Here jou God sal dit in jou mag oorgee. Dan moet jy al die manlike inwoners daarvan om die lewe bring, 14maar die vrouens en klein kindertjies, die vee en alles wat in die stad is, alles wat gebuit kan word, moet jy buitmaak sodat jy kan geniet wat jy by jou vyand buitgemaak het, wat die Here jou God vir jou gegee het. 15Dit moet jy doen met al die stede wat baie ver van jou af is, met die stede wat nie aan hierdie nasies hier by jou behoort nie. 16Uit die stede van hierdie volke wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee word, mag jy niks laat bly lewe nie. 17Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete om die lewe bring as 'n banoffer aan die Here jou God soos Hy jou beveel het. 18Hulle mag julle nie leer om al die afskuwelike afgodsbeelde te maak wat hulle vir hulle as gode gemaak het nie. Hulle mag julle nie teen die Here julle God laat sondig nie.

19“Wanneer jy 'n stad 'n lang ruk beleër terwyl jy daarteen oorlog maak om dit in te neem, moet jy nie sy bome verwoes en dit afkap nie, want jy moet die vrugte daarvan eet. Jy mag dit nie afkap nie, want die bome op die land is nie mense dat jy teen hulle moet veg nie. 20Net bome wat jy weet nie vrugte dra wat geëet kan word nie, mag jy beskadig. Jy kan hulle afkap om beleëringswerke te bou teen die stad wat met jou oorlog maak solank jy dit nog nie ingeneem het nie.”

DEUTERONOMIUM 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gesprek oor egskeiding

(Matt. 5:31-32; 19:1-9; Luk. 16:18)

1Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer.

2Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag 'n man van sy vrou skei?”

3Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”

4“Moses het toegelaat dat iemand 'n skeibrief opstel en skei,” het hulle geantwoord.

5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. 6Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ 7‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”

10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën die kindertjies

(Matt. 19:13-15; Luk. 18:15-17)

13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

Die ryk jongman

(Matt. 19:16-30; Luk. 18:18-30)

17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.

20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

22Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”

24Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”

27Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

28Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”

29Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, 30of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Jesus kondig die derde keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 20:17-19; Luk. 18:31-34)

32Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word.

Toe het Hy weer die twaalf opsy geneem en hulle begin vertel wat met Hom gaan gebeur: 33“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. 34Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.”

Die versoek van Jakobus en Johannes

(Matt. 20:20-28)

35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”

36“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.

37Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.

Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”

41Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Jesus genees die blinde Bartimeus

(Matt. 20:29-34; Luk. 18:35-43)

46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en 'n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar 'n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”

Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS