Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 5

Genesis 12–16, Johannes 8–9

Bybelteks(te)

Die roeping van Abram

1Die Here het vir Abram gesê:

“Trek uit jou land uit,

weg van jou mense en jou familie af

na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.

2Ek sal jou 'n groot nasie maak,

Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak,

en jy moet tot 'n seën wees.

3Ek sal seën wie jou seën,

en hom vervloek wat jou vervloek.

In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

4Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het. 5Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe.

Nadat hulle in Kanaän aangekom het, 6het Abram deur die land getrek tot by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêersboom. In daardie tyd het die Kanaäniete die land bewoon.

7Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”

Abram het daar 'n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het.

8Van daar af het Abram verder getrek na die bergwêreld toe, oos van Bet-El, waar hy tent opgeslaan het met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep. 9Toe het Abram kamp opgebreek en al gaande na die Suidland toe versit.

Abram in Egipte

10Daar was hongersnood in die land, 'n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar 'n heenkome te vind. 11Toe hy op die punt staan om Egipte binne te gaan, sê hy vir sy vrou Sarai: “Ek weet jy is 'n mooi vrou. 12Wanneer die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dis sy vrou,’ en hulle sal my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat bly lewe. 13Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word.”

14Toe Abram in Egipte aankom, het die Egiptenaars gesien hoe mooi sy vrou is. 15En toe die farao se amptenare haar sien, het hulle haar by hom aanbeveel, en sy is na die farao se paleis toe gevat. 16Hulle het aan Abram goed gedoen oor haar en vir hom kleinvee en beeste gegee; ook donkies, slawe en slavinne, donkiemerries en kamele.

17Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram. 18Toe roep die farao vir Abram en vra hom: “Wat het jy my aangedoen? Waarom het jy my nie gesê sy is jou vrou nie? 19Waarom het jy gesê sy is jou suster, sodat ek haar as my vrou gevat het? Hier is jou vrou dan. Vat haar en maak dat jy wegkom!”

20Toe het die farao aan sy amptenare bevele oor Abram uitgereik, en hulle het hom en sy vrou met al sy besittings uit die land uit gestuur.

Abram en Lot gaan uitmekaar

1Abram het uit Egipte na die Suidland toe getrek, hy en sy vrou met al sy besittings, en Lot saam met hom. 2Abram was baie ryk aan vee en silwer en goud. 3Hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek na Bet-El toe, na die plek waar sy tente aan die begin gestaan het, tussen Bet-El en Ai, 4die plek waar hy vroeër 'n altaar gebou het. Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep.

5Lot, wat saam met Abram getrek het, het self ook baie kleinvee en beeste en tente vir sy mense gehad. 6Die land kon nie in Abram en Lot saam se behoeftes voorsien sodat hulle bymekaar kon bly nie. Hulle besittings was te veel; hulle kon nie bymekaar bly nie. 7Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon. Daar het toe 'n getwis ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot s'n.

8Toe sê Abram vir Lot: “Daar behoort nie 'n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie. 9Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.”

10Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos 'n tuin van die Here, soos Egipte. Dit was naamlik nog voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het. 11Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit.

So het die twee van mekaar geskei: 12Abram het in Kanaän bly woon, en Lot het in die stede van die Jordaanstreek gewoon; tot by Sodom het hy gaan tent opslaan.

13Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here.

14Nadat Lot van Abram af weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste. 15Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag. 16Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word. 17Trek nou deur die land, deur sy lengte en sy breedte, want Ek gee dit vir jou.”

18Abram het sy tente versit en gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou.

Abram red vir Lot en ontmoet vir Melgisedek

1Dit was in dié tyd dat koning Amrafel van Sinar, koning Arjok van Ellasar, koning Kedorlaomer van Elam en koning Tidal van Gojim 2oorlog gemaak het teen koning Bera van Sodom, koning Birsa van Gomorra, koning Sinab van Adma, koning Semeber van Sebojim, en teen die koning van Bela, dit is Soar, 3en as bondgenote opgetrek het na die Siddimvlakte toe, dit is vandag die Soutsee. 4Twaalf jaar was die gebied onderhorig aan Kedorlaomer, maar in die dertiende jaar het dit gerebelleer. 5In die veertiende jaar het Kedorlaomer en die konings wat saam met hom was, gekom en die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte 6en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran in die woestyn.

7Kedorlaomer-hulle het toe omgedraai en by En-Mispat gekom, dit is Kades, en daar het hulle die hele gebied van die Amalekiete verower en ook nog die gebied van die Amoriete wat toe in Gaseson-Tamar gewoon het.

8Die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela, dit is Soar, het toe opgetrek en in die Siddimvlakte teenoor die ander konings stelling ingeneem om te veg, 9teenoor koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, koning Arjok van Ellasar, vyf konings teen vier.

10In die Siddimvlakte was daar oral asfaltgate, en toe die konings van Sodom en Gomorra gevlug het, het hulle daarin geval. Wie van hulle oorgebly het, het na die berge toe gevlug. 11Die vier konings het al die besittings van Sodom en Gomorra en ook al hulle kos buitgemaak en vertrek. 12Hulle het ook vir Lot, Abram se broerskind, en al sy besittings gevat en vertrek. Hy het daardie tyd in Sodom gewoon.

13Daar het egter iemand ontsnap en dié het alles gaan vertel vir Abram die Hebreër wat gewoon het by die groot bome van die Amoriet Mamre, 'n broer van Eskol en Aner. Hulle drie het 'n verdrag met Abram gesluit. 14Toe Abram hoor dat sy familielid weggevoer is, het hy sy volgelinge, drie honderd en agtien slawe wat by hom gebore is, hulle wapens laat vat en die konings agtervolg tot by Dan. 15Die nag het Abram en sy manne hulle van verskillende kante af aangeval en verslaan. Hy het hulle agtervolg tot by Goba, noord van Damaskus. 16Abram het al die besittings teruggekry. Hy het ook vir Lot, sy familielid, met al sy besittings teruggekry, ook die vrouens en al die ander mense.

17Toe Abram terugkom van sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom, het die koning van Sodom vir Abram tegemoet gegaan in die Sawevlakte, dit is die Koningsvlakte.

18Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring 19en hom geseën:

“Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste,

Skepper van hemel en aarde.

20Geloof sy God die Allerhoogste!

Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”

Toe het Abram vir Melgisedek 'n tiende van alles gegee.

21Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.”

22Maar Abram het hom geantwoord: “Ek het my hand opgelig en 'n eed afgelê voor die Here, voor God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, 23dat ek niks van jou sal vat nie, nie eers 'n garingdraad of 'n skoenveter nie, sodat jy nie kan sê: ‘Ek het vir Abram ryk gemaak’ nie. 24Afgesien van wat my manskappe geëet het, kan jy my buite rekening laat. Maar die manne wat saam met my gegaan het, Aner, Eskol en Mamre, hulle moet hulle deel kry.”

Die Here sluit 'n verbond met Abram

1Hierna het die woord van die Here in 'n gesig tot Abram gekom:

“Moenie bang wees nie, Abram,

Ek beskerm jou!

Jou beloning sal baie groot wees.”

2Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”

3Abram het verder gesê: “U het nie vir my 'n nageslag gegee nie. 'n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”

4Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”

5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

6Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.

7Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.”

8Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”

9Toe beveel die Here hom: “Bring vir My 'n vers, 'n bok en 'n skaapram, almal drie jaar oud, en 'n tortelduif en 'n jong duif.”

10Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.

12Teen sononder het 'n diep slaap Abram oorval; angs, 'n groot donkerte het hom oorweldig. 13Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. 15Jy sal in vrede sterf en op 'n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.”

17Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik 'n oond wat rook en 'n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur.

18Op daardie dag het die Here 'n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê:

“Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,

van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;

19die land van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete,

20die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete,

21die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

Abram, Sarai en Hagar

1Sarai het nog nie vir haar man Abram 'n kind in die wêreld gebring gehad nie. Sy het 'n Egiptiese slavin met die naam Hagar gehad. 2Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy 'n kind in die wêreld wat my eie kan word.”

En Abram het saamgestem met sy vrou.

3Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het. 4Hy het by Hagar gaan slaap, en sy het swanger geword. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag. 5Toe sê Sarai vir Abram: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur. Ek het my slavin vir jou gegee om met haar gemeenskap te hê, en noudat sy agterkom sy is swanger, minag sy my. Mag die Here hierdie saak tussen my en jou uitwys.”

6Maar Abram sê vir Sarai: “Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink.”

Sarai het haar slavin toe sleg behandel, en sy het weggeloop.

7Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by 'n fontein in die woestyn, die fontein langs die pad na Sur toe, 8en vir haar gevra: “Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?”

Toe antwoord sy: “Ek loop van my eienares Sarai af weg,” 9en die Engel van die Here sê vir haar: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag.”

10Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.”

11En toe sê die Engel van die Here ook nog vir haar:

“Kyk, jy is swanger;

jy sal 'n seun in die wêreld bring.

Jy moet hom Ismael noem,

want die Here het van jou swaarkry gehoor.

12Jou seun sal 'n man wees

so ontembaar soos 'n wildedonkie:

hy sal teen almal wees,

en almal sal teen hom wees.

Hy sal in vyandskap leef met sy bloedverwante.”

13Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

14Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein. Die fontein is tussen Kades en Bered.

15Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. 16Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het.

1maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan. 2Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer.

3Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. 4Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. 5Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”

6Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. 7Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.”

8Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. 9Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. 10Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”

11“Niemand nie, Here,” sê sy.

Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Die Vader getuig ook oor Jesus

12Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

13Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.”

14Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. 15Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. 16En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. 18Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.”

19Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?”

Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.”

20Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

Die Jode ken Jesus nie

21Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.”

22Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?”

23Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. 24Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.”

25Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?”

Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle? 26Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.”

27Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie.

28Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. 29Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.”

30Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.

God is nie hulle Vader nie

31Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

33Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?”

34Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 35'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. 36Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees. 37Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie. 38Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”

39Hulle het vir Hom gesê: “Ons vader is Abraham.”

Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. 40Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. 41Julle doen wat julle vader gedoen het.”

Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.”

42Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur. 43Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie! 44Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen. 45En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. 46Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? 47Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”

Jesus was voor Abraham al daar

48Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!”

49Jesus het geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. 50Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter. 51Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.”

52Die Jode sê toe vir Hom: “Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’ 53Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?”

54Maar Jesus antwoord: “As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’ 55en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte. 56Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”

57Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?”

58Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.”

59Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.

Jesus genees 'n man wat blind gebore is

1Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?”

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.

Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”

Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”

“Dit is ek!” het hy self gesê.

10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.

“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers

13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op 'n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”

Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat 'n sondaar is, sulke wondertekens doen?”

En daar was verdeeldheid onder hulle.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”

“Hy is 'n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban

24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is 'n sondaar.”

25Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is 'n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid

35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”

En hy het Hom aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op 'n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS