Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 6

Genesis 17–20, Johannes 10–11

Bybelteks(te)

GENESIS 17

Die besnydenis as verbondsteken

1Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:

“Ek is God die Almagtige.

Lewe naby My en wees opreg!

2Ek sal my verbond met jou sluit

en baie, baie mense uit jou laat voortkom.”

3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:

4“Dit is my verbond met jou:

jy sal die vader wees van 'n menigte nasies;

5jy sal nie meer Abram genoem word nie,

jou naam sal Abraham wees,

want Ek maak jou die vader van baie nasies.

6Ek sal jou baie vrugbaar maak,

Ek sal jou tot nasies maak,

en konings sal uit jou voortkom.

7“Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”

9Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van 'n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13'n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as 'n blywende verbond. 14Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”

15God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. 16Ek sal haar seën en vir jou 'n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”

17Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir 'n man van honderd 'n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, 'n kind in die wêreld bring?

18En Abraham het vir God gesê: “As Ismael maar net in u teenwoordigheid kan bly lewe!”

19Maar God het vir Abraham gesê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom hou as 'n blywende verbond, en ook met sy nageslag. 20Ek het gehoor wat jy oor Ismael gesê het. Kyk, Ek seën hom ook. Ek maak hom vrugbaar, en Ek sal sy nakomelinge baie maak. Uit hom sal daar twaalf heersers stam, en Ek sal hom 'n groot nasie laat word. 21Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor 'n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom.”

22Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy van Abraham af weggegaan.

23Op daardie selfde dag het Abraham sy seun Ismael gevat en al die slawe wat in sy besit gebore is, en ook dié wat hy met geld gekoop het, elke lid van die manlike geslag in sy huis, en hy het hulle besny, soos God vir hom gesê het. 24Abraham was nege en negentig toe hy besny is, 25en sy seun Ismael dertien. 26Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny. 27Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.

GENESIS 18

Abraham ontvang drie besoekers

1Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, 2kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig. 3Hy het gesê: “Menere, u sal my 'n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek eers 'n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek 'n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.”

Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!”

6Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.”

7Daarna het hy na die beeste toe gedraf en 'n mooi jong kalf gevat en vir 'n slaaf gegee om dit gou voor te berei. 8Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien.

9Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.”

10Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara 'n seun hê.”

Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant. 11Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring, 12en daarom het sy by haarself gelag en gedink: sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?

13Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik 'n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? 14Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.”

15Sara het geskrik en toe 'n leuen vertel. “Ek het nie gelag nie,” het sy gesê.

Maar die Here het gesê: “Nee, jy het gelag.”

Abraham pleit vir Sodom se mense

16Toe die mans opstaan om te vertrek, het Abraham 'n entjie saam met hulle gestap. Die mans het afgekyk in die rigting van Sodom, 17en toe dink die Here: sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen? 18Abraham sal tog 'n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word. 19Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.

20Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot! 21Ek wil gaan kyk sodat Ek kan weet of hulle ooreenkomstig die geroep wat tot by My gekom het, gehandel het of nie.”

22Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan.

23Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? 24Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie? 25U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”

26Toe sê die Here: “As Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar oor hulle.”

27Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. 28Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?”

Hierop antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar kry nie.”

29Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit nie doen nie.”

30Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog 'n keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.”

31Maar Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie verdelg nie.”

32Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.”

En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”

33Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.

GENESIS 19

Lot en sy mense word gered uit Sodom

1Die twee engele het Sodom teen die aand bereik terwyl Lot juis in die poort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, het hy hulle tegemoet gegaan en diep gebuig 2en gesê: “Welkom, Menere! Kom tog na my huis toe en oornag daar. Julle kan ook julle voete was. Dan kan julle môre vroeg julle reis voortsit.”

Maar hulle sê: “Nee, ons sal sommer op die plein oornag.”

3Lot het egter so by hulle aangehou dat hulle by hom ingedraai en in sy huis ingegaan het. Hy het vir hulle 'n maaltyd klaargemaak: hy het ongesuurde brood gebak, en hulle het geëet. 4Voor hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel. 5Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.”

6Toe het Lot na die mans van Sodom toe uitgegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het, 7het hy gesê: “Nee, vriende! Moenie so 'n verkeerde ding doen nie. 8Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met 'n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom.” 9Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel. Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as vir sy besoekers.”

Hulle het vir Lot teruggedruk en nader gekom om die deur oop te breek. 10Toe het die mans wat in sy huis was, vir Lot binnetoe getrek na hulle toe en die deur gesluit, 11en die mans buite by die deur, oud en jonk, laat blind word sodat hulle nie die deur kon kry nie.

12Die mans by Lot sê toe vir hom: “Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit! 13Ons gaan hierdie plek verdelg. Daar is 'n groot geroep by die Here oor die plek en sy mense, en Hy het ons gestuur om die plek te verdelg.”

14Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: “Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg,” maar hulle het gedink Lot maak 'n grap. 15Toe die dag begin breek, het die engele hom aangejaag en gesê: “Kom nou! Vat jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, anders sterf jy wanneer die stad sy straf kry.”

16Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm. 17Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.”

18Maar hy sê vir hulle: “Asseblief tog, Menere, 19u was al so goed vir my en u het my al so 'n groot guns bewys deur my lewe te spaar, maar ek sal nie berge toe kan vlug nie. Die ramp sal my inhaal voor ek daar is en ek sal omkom. 20Kyk, hier naby is 'n dorpie waarheen ek kan vlug. Ek wil daarheen vlug en so my lewe red. Dit is maar 'n ou klein dorpie.”

21Toe sê die engel vir hom: “Ook wat dit betref, staan ek jou versoek toe. Ek sal nie die dorp waarvan jy praat, verwoes nie. 22Vlug gou daarnatoe, want ek kan niks aan die ander stede doen voordat jy in die dorpie aangekom het nie.”

Dit is waarom hulle die dorpie Soar noem.

23Net toe die son opkom, het Lot in Soar aangekom. 24Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra. 25En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei. 26Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander.

27Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het. 28Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is.

29Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het. 30Lot het toe van Soar af weggegaan en met sy twee dogters in die berge gaan bly. Hy was bang om in Soar te bly en het toe met sy twee dogters in 'n grot gaan woon.

31Die oudste dogter het vir die jongste gesê: “Pa is oud. Hier rond sal ons nie op die gebruiklike manier mans kry nie. 32Kom ons maak vir Pa dronk en dan slaap ons by hom sodat ons by hom kinders kan hê.”

33Daardie nag het hulle hom dronk gemaak, en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie besef dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie. 34Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: “Ek het verlede nag by hom geslaap. Kom ons maak hom vannag weer dronk en dan gaan slaap jy by hom sodat ons elkeen 'n kind by hom kan hê.”

35Hulle het hom toe daardie nag weer dronk gemaak, en die jongste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie agtergekom dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie. 36So het die twee dogters van Lot by hulle pa swanger geword. 37Die oudste het 'n seun in die wêreld gebring en hom Moab genoem. Hy is die voorvader van die Moabiete. 38Die jongste dogter het ook 'n seun in die wêreld gebring en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die voorvader van die Ammoniete.

GENESIS 20

Abraham en Abimelek

1Abraham het van Mamre af weggetrek na die Suidland toe en hom tussen Kades en Sur gaan vestig. Toe hy op 'n keer in Gerar gewoon het, 2het hy voorgegee sy vrou Sara is sy suster. Koning Abimelek van Gerar het haar toe laat haal om met haar te trou.

3Een nag het God in 'n droom aan Abimelek verskyn en vir hom gesê: “Jy gaan sterf omdat jy met hierdie vrou wil trou. Sy is al getroud.”

4Abimelek het nog nie met haar geslagsgemeenskap gehad nie en hy het gesê: “Here, sal U selfs 'n onskuldige nasie uitroei? 5Abraham het dan self vir my gesê: ‘Sy is my suster.’ En sy het self gesê: ‘Hy is my broer.’ Ek het dit onskuldig en sonder slegte bedoelings gedoen.”

6Toe het God vir hom in 'n droom gesê: “Ja, Ek weet dat jy dit onskuldig gedoen het. Daarom het Ek jou daarvan weerhou om teen My te sondig en het Ek jou nie toegelaat om aan haar te raak nie. 7Gee nou die vrou terug aan haar man. Hy is 'n profeet. Hy sal vir jou bid dat jy kan bly lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, moet jy weet jy sal beslis sterf, jy en almal wat by jou is.”

8Die môre vroeg het Abimelek sy amptenare geroep en alles vir hulle openlik vertel, en hulle het baie bang geword. 9Hy het vir Abraham geroep en vir hom gesê: “Wat het jy ons aangedoen? Wat het ek aan jou gedoen wat verkeerd is dat jy hierdie groot ellende oor my en my koninkryk gebring het? Wat jy my aangedoen het, is onbehoorlik.”

10Verder het Abimelek vir hom gesê: “Wat het jou besiel om so iets aan te vang?”

11Toe het Abraham gesê: “Ek het gedink hier is niemand wat vir God dien nie en die mense sal my doodmaak oor my vrou. 12Sy is regtig my suster: sy is my pa se dogter, maar nie my ma s'n nie. Ek is met haar getroud. 13Toe God my uit my vaderland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: Jy kan wys dat jy my liefhet deur op elke plek waar ons kom, van my te sê: Hy is my broer.”

14Abimelek het toe kleinvee en grootvee, slawe en slavinne gevat en vir Abraham gegee en Sara ook aan haar man teruggegee. 15Toe sê Abimelek vir hom: “My land lê oop voor jou. Bly net waar jy wil.”

16Vir Sara het Abimelek gesê: “Ek gee aan jou broer duisend stukke silwer. Dit is om almal wat by jou is, te laat stilbly en om te wys alles is in orde.”

17Abraham het toe tot God gebid, en Hy het vir Abimelek gesond gemaak, ook sy vrou en sy slavinne, en toe kon hulle weer kinders hê. 18Dit was nadat die Here elke vrou in die huis van Abimelek daarvan weerhou het om kinders te hê. Die Here het dit gedoen oor wat gebeur het met Sara die vrou van Abraham.

JOHANNES 10

Die goeie herder

1“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van 'n ander kant af inklim, is 'n dief en 'n rower. 2Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; 3vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5Hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”

6Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.

7Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12'n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. 13Hy is 'n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.

14“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. 16Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.

17“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. 18Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

19Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde. 20Baie van hulle het gesê: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?”

21Ander het gesê: “Dit is nie die woorde van 'n besetene nie. 'n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”

Die Jode is nie van sy skape nie

22Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”

25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

31Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, 32maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”

33“Dis nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat 'n gewone mens is, jou as God voordoen.”

34Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? 35God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. 36Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. 38Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

39Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. 40Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. 41Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.”

42Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.

JOHANNES 11

Die dood van Lasarus

1'n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

4Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

5Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”

9Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in 'n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”

11Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”

13Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

16Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

Jesus by Marta en Maria

17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Jesus laat Lasarus uit die dood opstaan

33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”

Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Die Joodse Raad besluit om Jesus dood te maak

(Matt. 26:1-5; Mark. 14:1-2; Luk. 22:1-2)

45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

46Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. 47Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. 48As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”

49Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, 50en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

51Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. 52En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.

53Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. 54Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels 'n rukkie gebly.

55Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. 56Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?”

57Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS