Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 4

Genesis 8–11, Johannes 6–7

Bybelteks(te)

1Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek. 2Die fonteine van die groot waters en die vensters van die hemel is toegemaak, en die stortreën uit die hemel het opgehou. 3Die water het al hoe meer weggesak van die aarde af. Na honderd en vyftig dae het die water so gesak 4dat die ark op die sewentiende van die sewende maand op die Araratberge tot rus gekom het. 5Die water het aangehou sak en op die eerste van die tiende maand het die bergtoppe sigbaar geword. 6Veertig dae later het Noag die venster wat hy vir die ark ingesit het, oopgemaak 7en 'n kraai losgelaat, maar dit het heen en weer gevlieg totdat die water op die aarde opgedroog het.

8Noag het toe 'n duif losgelaat om te probeer vasstel of die water al van die aarde af verdwyn het. 9Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie 'n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit. 10Noag het toe nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark uit losgelaat. 11Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met 'n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. 12Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar dit het nie weer na hom toe teruggekom nie.

13Op die eerste dag van die eerste maand van die ses honderd en eerste jaar van Noag was die water op die aarde heeltemal weggedroog. Noag het die luik van die ark oopgemaak en uitgekyk. Die hele aarde was droog. 14Op die sewe en twintigste van die tweede maand was die aarde droog, 15en toe sê God vir Noag: 16“Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en hulle vrouens, 17en al die lewende wesens wat by jou is, van watter soort hulle ook al is: voëls, diere en alles wat kruip. Hulle moet saam met jou uitgaan. Hulle moet wemel op die aarde en vrugbaar wees en baie word op die aarde.”

18Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het uitgegaan, 19en ook al die diere, al die voëls en alles wat kruip, het uit die ark uitgegaan, almal volgens hulle soorte.

20Toe het Noag 'n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring. 21Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so 'n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie.

22“So lank as die aarde bly bestaan,

sal saaityd en oestyd nie ophou nie,

ook nie koue en hitte,

somer en winter,

dag en nag nie.”

God sluit 'n verbond met Noag

1God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde. 2Al die diere, al die voëls, al die diere wat kruip, en al die vis sal vir julle bang wees en vir julle skrik. Hulle word tot julle beskikking gestel. 3Alles wat roer en lewe, sal kos wees vir julle. Naas die groen plante gee Ek dit alles vir julle. 4Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie. 5Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van 'n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van 'n mens, en van 'n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens.

6“Wie die bloed van 'n mens vergiet,

deur 'n mens sal sy bloed vergiet word.

God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger.

7Maar júlle moet vrugbaar wees en baie word.

Vermeerder op die aarde en word baie!”

8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit 'n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer 'n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”

12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

18Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän. 19Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.

Noag plant 'n wingerd

20Noag was 'n boer, die eerste wat 'n wingerd geplant het. 21Hy het wyn gedrink en dronk geword. Toe het hy kaal in sy tent gelê. 22Gam, die pa van Kanaän, het gesien sy pa is kaal en het dit buite vir sy twee broers gaan vertel. 23Sem en Jafet het toe 'n kledingstuk van Noag gevat, dit oor hulle skouers gehou en agteruit geloop en hulle pa toegemaak. Hulle het anderpad gekyk, sodat hulle nie hul pa kaal sou sien nie.

24Toe Noag uit sy roes wakker word en verneem wat Gam, sy jongste, hom aangedoen het, 25sê hy:

“Vervloek is Kanaän!

'n Nikswerd slaaf sal hy wees,

in diens van sy broers.”

26Verder het hy gesê:

“Prys die Here, die God van Sem!

Kanaän moet Sem se slaaf wees.

27Mag God aan Jafet 'n ruim woonplek gee,

mag hy welkom wees in die tente van Sem.

Kanaän moet Jafet se slaaf wees.”

28Na die oorstroming het Noag nog drie honderd en vyftig jaar geleef. 29Noag was dus nege honderd en vyftig jaar toe hy gesterf het.

Die nageslag van Jafet, Gam en Sem

(Vgl. 1 Kron. 1:4-23)

1Hier volg besonderhede oor Noag se seuns, Sem, Gam en Jafet. Na die oorstroming is daar ook vir hulle kinders gebore.

2Die nageslag van Jafet:

Gomer, Magog, die Mediërs, die Grieke, Tubal, Mesek en Tiras. 3Die nageslag van Gomer was Askenas, Rifat en Togarma. 4Uit Griekeland het Elisa, Tarsis, die Kittiërs en die Rodaners voortgekom. 5Uit hulle het die mense wat nou die kusstreke bewoon, daarnatoe versprei, volgens hulle stamme en nasies, elkeen met sy eie taal.

6Die nageslag van Gam:

Kus, Egipte, Put en Kanaän. 7Die nageslag van Kus was Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Die nageslag van Rama was Skeba en Dedan. 8Uit Kus het Nimrod gekom, die eerste maghebber op die aarde. 9Hy was 'n dapper jagter, ook in die oë van die Here. Daarom word daar gesê: “'n Dapper jagter in die oë van die Here, soos Nimrod.”

10Nimrod se koninkryk het begin by Babel, Erek, Akkad en Kalne, almal in Sinar. 11Van hier af het hy na Assirië toe gegaan en Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou, 12asook Resen tussen Nineve en Kalag. Resen was 'n groot stad.

13Uit Egipte weer het gekom die Ludeërs, Anammers, Lehabeërs, Naftoagiete, 14Patrosane en die Kaslugiete uit wie die Filistyne kom, en die Kaftorane. 15Uit Kanaän het gekom Sidon wat as sy oudste seun geld, en verder Het, 16die Jebusiete, Amoriete, Girgasiete, 17Hewiete, Erekiete, Siniete, 18Arwadters, Semariërs en die mense van Hamat. Met verloop van tyd het die Kanaänitiese stamme versprei 19en het hulle grense gestrek van Sidon af tot by Gasa in die rigting van Gerar en tot by Lesa in die rigting van Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim.

20Hulle is almal die nageslag van Gam, met hulle eie stamme en tale in hulle eie lande en onder hulle eie nasies.

21Vir Sem is daar ook kinders gebore. Hy was die voorvader van al die Hebreërs. Sy oudste broer was Jafet.

22Die nageslag van Sem:

Elam, Assirië, Arpaksad, Lud en Aram. 23Die nageslag van Aram was Us, Gul, Geter en Mas. 24Uit Arpaksad het Selag gekom, en uit Selag Heber. 25Vir Heber is twee seuns gebore. Die naam van die een was Peleg, want in sy tyd is die land verdeel, en die naam van sy broer was Joktan. 26Uit Joktan het gekom Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag, 27Hadoram, Usal, Dikla, 28Obal, Abimael, Skeba, 29Ofir, Gawila en Jobab. Hulle almal het uit Joktan voortgekom. 30Hulle nedersettings het gestrek van Mesa af in die rigting van Sefar in die oostelike bergwêreld.

31Hulle is almal die nageslag van Sem, met hulle eie stamme en tale, in hulle eie lande en onder hulle eie nasies.

32Dit is die stamme van die seuns van Noag volgens hulle herkoms onder hulle eie nasies. Uit húlle het die nasies oor die aarde versprei ná die oorstroming.

Die toring van Babel

1Die hele wêreld het net een taal gepraat. 2Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by 'n vlakte in Sinar en daar gaan woon. 3Hulle het op 'n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”

Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons 'n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, 6en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. 9Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

Die nageslag van Sem

(Vgl. Gen. 10:22-29)

10Hier volg die familieregister van Sem. Toe Sem 100 was, het hy die vader geword van Arpaksad, twee jaar na die oorstroming. 11Sem het na die geboorte van Arpaksad nog 500 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 12Toe Arpaksad 35 was, het hy die vader geword van Selag. 13Arpaksad het na die geboorte van Selag nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 14Toe Selag 30 was, het hy die vader geword van Heber. 15Selag het na die geboorte van Heber nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 16Toe Heber 34 was, het hy die vader geword van Peleg. 17Heber het na die geboorte van Peleg nog 430 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 18Toe Peleg 30 was, het hy die vader geword van Reü. 19Peleg het na die geboorte van Reü nog 209 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 20Toe Reü 32 was, het hy die vader geword van Serug. 21Reü het na die geboorte van Serug nog 207 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 22Toe Serug 30 was, het hy die vader geword van Nahor. 23Serug het na die geboorte van Nahor nog 200 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 24Toe Nahor 29 was, het hy die vader geword van Tera. 25Nahor het na die geboorte van Tera nog 119 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 26Toe Tera 70 was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.

27Hier volg die familiegeskiedenis van Tera. Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran het die vader geword van Lot. 28Haran het in Ur van die Galdeërs, sy geboorteland, gesterf toe sy vader Tera nog geleef het. 29Abram het getrou en Nahor ook: Abram se vrou se naam was Sarai en dié van Nahor se vrou was Milka, 'n dogter van Haran wat nie net die vader van Milka was nie, maar ook van Jiska. 30Sarai was onvrugbaar; sy het nie kinders gehad nie.

31Tera het sy seun Abram geneem en ook sy kleinseun Lot seun van Haran, en sy skoondogter Sarai die vrou van sy seun Abram, en saam met hulle uit Ur van die Galdeërs weggetrek om na Kanaän toe te gaan. Maar hulle het net tot by Haran getrek en in dié stad gaan woon. 32Tera was twee honderd en vyf jaar oud toe hy in Haran gesterf het.

Die vermeerdering van die brood

(Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17)

1Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.

4Die paasfees van die Jode was naby.

5Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

8'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”

Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

Jesus loop op die see

(Matt. 14:22-33; Mark. 6:45-52)

16Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, 17in 'n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. 18Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar 'n sterk wind gewaai het. 19Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. 20Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

21Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

Die brood uit die hemel

22Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 24Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.

32Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”

35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. 36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie

41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Ongeloof en geloof onder die dissipels van Jesus

60Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

61Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? 62Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. 64Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”

Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

66Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. 67Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

70Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is 'n duiwel!”

71Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.

Die ongeloof van Jesus se broers

1Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. In Judea wou Hy dit nie doen nie, omdat die Jode daar Hom wou doodmaak. 2Maar die huttefees van die Jode was naby. 3Jesus se broers sê toe vir Hom: “Gaan 'n bietjie hiervandaan na Judea toe dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen. 4'n Mens wat oral bekend wil wees, doen nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.”

5Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

6Jesus sê toe vir hulle: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg. 7Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is. 8Gaan julle maar fees toe. Ek gaan nie na hierdie fees toe nie, omdat die tyd vir My nog nie reg is nie.”

9Dit het Hy vir hulle gesê, en Hy het daar in Galilea gebly.

Jesus leer die mense by die huttefees

10Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend. 11Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: “Waar is hy?”

12Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: “Hy is 'n goeie man.” Maar ander het gesê: “Nee, hy mislei die mense.” 13Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.

14Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. 15Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!”

16Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. 17As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat. 18Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie. 19Het Moses nie die wet vir julle gegee nie? En tog hou nie een van julle die wet nie. Waarom wil julle My dan doodmaak?”

20“Jy is van die duiwel besete!” het die mense uitgeroep. “Wie wil jou doodmaak?”

21Jesus het toe verder vir hulle gesê: “Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het. 22Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het – en eintlik kom dit nie eens van Moses af nie, maar van die aartsvaders – besny julle ook op 'n sabbatdag. 23As iemand op 'n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op 'n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het? 24Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”

Jesus is die Christus

25Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: “Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie? 26En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is? 27Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.”

28Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: “Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie. 29Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”

30Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. 31Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?”

Jesus sê dat Hy weggaan

32Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. 33Jesus sê toe: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. 34Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.”

35Toe sê die Jode vir mekaar: “Waarheen sou hy van plan wees om te gaan dat ons hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie? 36Wat bedoel hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?”

Strome lewende water

37Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.

39Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.

Meningsverskil oor Jesus

40Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.”

41Party het gesê: “Hy is die Christus.”

Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? 42Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.”

43Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom. 44Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie.

Die ongeloof van die Joodse leiers

45Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra:

“Waarom het julle hom nie gebring nie?”

46Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.”

47Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie? 48Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs? 49Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!”

50Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle: 51“Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.”

52Hulle sê toe vir hom: “Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.”

Die vrou wat op owerspel betrap is

53Hierna is hulle elkeen na sy huis toe,

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS