Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 48

DEUTERONOMIUM 11–15, MARKUS 9

Bybelteks(te)

Julle moet die Here liefhê en gehoorsaam

1“Julle moet die Here julle God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam: al sy voorskrifte en bepalings en gebooie. 2Vandag weet julle hoe die Here julle onderrig het, want julle, en nie julle kinders nie, het dit beleef en gesien: sy grootheid, sy magtige dade, sy wonderdade, 3sy tekens, alles wat Hy in Egipte gedoen het met die farao, koning van Egipte, en sy hele land. 4Julle het beleef wat Hy gedoen het met die leër van Egipte, sy perde en sy strydwaens wat die Here deur die water van die Rietsee laat verswelg het toe hulle julle agtervolg het. Die Here het hulle mag so gebreek dat hulle nou nog nie herstel het nie.

5“Julle het self beleef wat Hy vir julle gedoen het in die woestyn en totdat julle tot hier gekom het, 6wat Hy gedoen het met Datan en Abiram, seuns van Eliab seun van Ruben, toe die aarde oopgeskeur het en hulle en hulle familie en hulle eiendom, selfs al hulle vee ingesluk het voor die oë van al die Israeliete. 7Met julle eie oë het julle al hierdie groot dade gesien wat die Here gedoen het.

8“Julle moet alles gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat julle sterk kan optree en die land wat julle gaan verower, kan binnegaan en in besit neem. 9As julle gehoorsaam is, sal julle baie lank bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders en hulle nageslag te gee. Dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning. 10Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit 'n groentetuin is. 11Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater. 12Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.

13“As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel, 14sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes. 15Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet.

16“Pas op dat julle nie verlei word om ander gode te gaan dien en vereer nie, 17want dan sal die toorn van die Here teen julle ontvlam, en Hy sal dit nie laat reën nie, die aarde sal nie meer sy opbrengs lewer nie, en julle sal baie gou verdwyn uit die goeie land wat die Here aan julle gee. 18Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet 'n merk op julle voorkoppe wees.

19“Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 20Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. 21Dan sal julle en julle nageslag lank, ja, so lank as die hemel en die aarde sal bestaan, bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee.

22“As julle al hierdie gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang, 23sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die grondgebied van nasies wat groter en sterker is as julle, in besit neem. 24Elke plek waar julle kom, sal julle s'n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees. 25Niemand sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, 'n skrik en angs vir julle oor die land laat kom. 26Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor: 27die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee; 28die straf sal kom as julle ongehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God en die pad verlaat wat ek julle vandag aangewys het en ander gode aanhang waarvan julle nou nog nie eers weet nie. 29Wanneer die Here julle God julle bring in die land wat julle in besit gaan neem, moet julle die seën afkondig op Gerisimberg en die straf op Ebalberg. 30Die twee berge lê wes van die Jordaan, anderkant die pad uit die ooste, die pad uit die gebied van die Jordaanvallei, waar die Kanaäniete woon, regoor Gilgal, naby die waarsêersboom.

31“Julle staan op die punt om deur die Jordaan te trek om die land in besit te neem wat die Here julle God aan julle gee. Wanneer julle dit in besit geneem het en daar woon, 32moet julle al die voorskrifte en die bepalings wat ek julle vandag gegee het, gehoorsaam en daarvolgens lewe.”

DEUTERONOMIUM 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Net een plek van aanbidding

1“Hier volg voorskrifte en bepalings waaraan julle julle lewe lank gehoorsaam moet wees en waarvolgens julle hier op aarde moet lewe in die land wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het om in besit te neem.

2“Vernietig elke plek waar die nasies vir wie julle gaan verdryf, hulle gode gedien het: op hoë berge, op heuwels en onder elke groen boom. 3Breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, verbrand hulle gewyde pale, vernietig hulle afgodsbeelde en verwyder elke teken van hulle bestaan uit die land uit. 4Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop ander nasies hulle gode dien nie. 5Julle moet na die wil van God gaan vra op die plek wat die Here julle God sal kies uit al julle stamgebiede om sy Naam daar te vestig en daar te woon. Daarheen moet julle gaan 6en julle brandoffers en ander offers bring, ook julle tiendes en ander bydraes, julle gelofteoffers en vrywillige offers, die eerstelinge van julle groot- en kleinvee. 7Daar in die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle en julle families saam eet en bly wees oor alles wat julle reggekry het deurdat die Here julle God julle voorspoedig gemaak het. 8Moenie doen soos ons nou hier doen deurdat elkeen aanbid waar hy wil nie, 9want julle het nog nie gekom by die rusplek, die besitting wat die Here julle God vir julle sal gee nie. 10Maar julle sal deur die Jordaan trek en gaan woon in die land wat die Here julle God julle sal laat besit en daar sal julle rus hê van al julle vyande in die omgewing en daar sal julle veilig woon. 11Daar is die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te laat woon en daarheen moet julle al die offers bring soos ek julle beveel het: julle brandoffers en ander offers, julle tiendes en ander bydraes, en al die gelofteoffers wat julle aan die Here beloof het. 12Daar moet julle en julle kinders en julle slawe en slavinne daarvan geniet in die teenwoordigheid van die Here julle God, ook die Leviete wat by julle woon, want hulle het nie 'n deel van die land as besitting saam met julle gekry nie.

13“Moenie julle brandoffers sommer op enige plek offer wat vir julle goed lyk nie. 14Julle mag dit net offer op die plek wat die Here sal kies in die gebied van een van die stamme. Daar moet julle julle brandoffers offer en daar moet julle alles doen wat ek julle beveel het. 15Vir kos mag julle egter op enige plek waar julle woon 'n dier slag en die vleis eet wat die Here julle God vir julle gee deurdat Hy julle voorspoedig maak. Of 'n persoon rein of onrein is, hy mag daarvan eet, ook van 'n ribbok of 'n takbok. 16Julle mag egter nie die bloed eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.

17“In die plekke waar julle woon, mag julle ook nie die tiende van julle koring of wyn of olie eet nie, ook nie die eerstelinge van julle grootvee of kleinvee nie, en ook nie iets wat julle aan die Here beloof het of enige vrywillige offer of ander bydrae aan die Here nie. 18Dit mag julle net in die teenwoordigheid van die Here julle God eet op die plek wat Hy gekies het. Eet dit, saam met julle seuns en dogters, julle slawe en slavinne en die Leviete wat by julle woon. In die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle bly wees oor alles wat Hy julle laat regkry het. 19So lank as julle in julle land woon, mag julle nie die Leviet afskeep nie.

20“Wanneer die Here julle God julle grondgebied uitbrei, soos Hy julle beloof het, en julle besluit om vleis te eet omdat julle lus is daarvoor, mag julle dit in enige plek eet waar julle woon. 21Wanneer die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te vestig, ver van julle af is, kan julle van die grootvee of die kleinvee wat die Here vir julle gegee het, slag soos ek julle beveel het en julle kan dit na hartelus geniet in die plek waar julle woon, 22en soos in die geval van 'n ribbok of 'n takbok mag almal, rein en onrein, daarvan eet. 23Julle moet net sorg dat julle nie die bloed eet nie, want die lewe van 'n dier is in sy bloed, en julle mag nie die lewe saam met die vleis eet nie. 24Julle mag die bloed nie eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is. 25As julle dit nie eet nie, doen julle wat reg is in die oë van die Here, en dan sal dit goed gaan met julle en julle nageslag. 26Alle gewyde gawes wat julle by julle het en alles wat julle met 'n gelofte aan die Here beloof het, moet julle bring na die plek toe wat die Here sal kies. 27Julle moet julle brandoffers, die vleis en die bloed daarvan, op die altaar van die Here julle God neersit. Die bloed van julle ander offers moet julle teen die altaar van die Here julle God uitgooi en dan mag julle die vleis eet. 28Julle moet al die gebooie wat ek julle gegee het, gehoorsaam en dan sal dit vir altyd goed gaan met julle en julle nageslag, want dan doen julle wat goed en reg is in die oë van die Here julle God.

29“Die Here julle God sal die nasies verslaan na wie toe julle op pad is om hulle te verdryf. As julle hulle oorwin het en in hulle land woon, 30moet julle sorg dat julle nie, selfs nadat hulle deur julle verslaan is, deur hulle in 'n valstrik gelei word wanneer julle na hulle gode sou begin uitvra nie. Moenie sê: ‘Hoe vereer hierdie nasies hulle gode? Ek sou dit ook so wou doen’ nie. 31Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop hulle hulle gode dien nie, want wat hierdie nasies doen, is afskuwelik vir die Here: hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters vir hulle gode. Die Here haat dit alles.

32“Elke gebod wat ek julle beveel het, moet julle gehoorsaam en daarvolgens moet julle lewe; julle mag daar niks bysit en niks daarvan wegvat nie.”

DEUTERONOMIUM 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Moenie afgode dien nie

1“Wanneer 'n profeet of iemand wat drome uitlê by jou kom en vir jou vertel van 'n teken of 'n wonder, 2en die teken kom uit of die wonder vind plaas soos hy gesê het, en hy dan op grond daarvan vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode al het jy hulle nie vroeër geken nie, al het ons hulle nie vroeër gedien nie,’ 3moet jy nie na hom luister nie. Die Here jou God stel jou net op die proef om vas te stel of jy Hom liefhet met hart en siel. 4Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang. 5Daardie profeet of droomuitlêer moet doodgemaak word, want hy het jou aangehits om in opstand te kom teen die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het en jou bevry het uit die plek van slawerny. Daardie man wil jou laat optree in stryd met die wil van die Here jou God wat Hy aan jou geopenbaar het. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

6“Dit kan gebeur dat jou broer, jou ma se seun, of jou seun of jou dogter of jou eie vrou of jou boesemvriend jou in die geheim wil verlei en vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, 7gode van die volke in jou omgewing, gode wat naby is of ver, gode in die een uithoek van die land of in die ander uithoek. 8Dan mag jy nie voor hom swig en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon en wegsteek nie. 9Jy moet hom sonder meer doodmaak. Jy moet daarmee begin en dan moet die volk jou daarin bystaan. 10Jy moet hom met klippe doodgooi, want hy wou jou verlei om ontrou te word aan die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

11“Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so 'n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie.

12-13“Wanneer jy hoor dat kwaadstokers gekom het in een van die stede wat die Here jou God vir jou sal gee om in te woon, en hulle sy inwoners verlei het deur hulle aan te spoor om vreemde gode te dien waarvan julle nie geweet het nie, 14moet jy die saak deeglik ondersoek en haarfyn daarna uitvra. As die gerug waar is en die afskuwelike daad wel tussen julle plaasgevind het, 15moet jy die inwoners van daardie stad sonder meer doodmaak. Die stad met alles daarin, selfs sy vee, moet as banoffer vernietig word. 16Jy moet alles in die stad op die stadsplein bymekaarmaak en saam met die stad geheel en al verbrand as 'n offer aan die Here jou God. Die stad moet vir altyd 'n puinhoop bly. Dit mag nie weer herbou word nie. 17Niks van wat as banoffer bestem is, mag deur jou gevat word nie, sodat die toorn van die Here nie verder ontvlam nie en Hy jou genadig kan wees. Dan sal jy weer baie word soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het, 18want dan luister jy na die Here jou God en gehoorsaam jy al sy gebooie wat ek jou vandag gee, deurdat jy doen wat reg is in die oë van die Here jou God.”

DEUTERONOMIUM 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Rein en onrein kos

(Vgl. Lev. 11:1-47)

1“Julle is kinders van die Here julle God. Julle mag julle nie stukkend kerf of die hare voor op julle kop afskeer as julle oor 'n afgestorwene treur nie. 2Julle is 'n volk wat aan die Here julle God gewy is. Hy het julle uit al die volke op die aarde uitgekies om sy eiendomsvolk te wees.

3“Julle mag niks eet wat afstootlik is nie. 4Die diere waarvan julle mag eet, is: bees, skaap, bok, 5takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok, 6al dié wat volledig gesplete kloue het en herkou. 7Maar dié wat net herkou of net volledig gesplete kloue het, mag julle nie eet nie: die kameel, die haas, die dassie. Hulle herkou maar het nie gesplete kloue nie: hulle is vir julle onrein. 8Dit geld ook van die vark: hy het wel gesplete kloue maar hy herkou nie. Hy is vir julle onrein. Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie.

9“In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het. 10Maar julle mag nie dié eet wat nie vinne en skubbe het nie: hulle is vir julle onrein.

11“Julle mag alle rein voëls eet. 12Die volgende mag egter nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende; 13swartaasvoëls, valke en al die roofvoëlsoorte; 14al die kraaisoorte; 15volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls; 16uile, ibisse en flaminke; 17pelikane, swane en visvangers; 18ooievaars en al die reiersoorte; hoep-hoepe en vlermuise.

19“Alle insekte wat vlerke het, is vir julle onrein. Hulle mag nie geëet word nie. 20Julle mag net rein voëls eet.

21“Julle mag nie 'n dier wat gevrek het, eet nie. Gee dit vir die vreemdeling wat by julle bly, en hy kan dit eet, of verkoop dit aan 'n uitlander. Julle is 'n gewyde volk, julle behoort aan die Here julle God.

“Julle mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”

Die tiende

22“Jy moet elke jaar 'n tiende van die opbrengs van jou gesaaides, van wat op jou land groei, opsy sit: 23jy moet dit in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer. 24Maar as die Here jou God jou baie voorspoedig maak en die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig boonop nog ver van jou af is, sodat jy nie die tiende die hele ent pad kan dra nie, 25kan jy die tiende in geld omsit. Jy moet dan die geld vat en na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom gekies het. 26Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier, of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees. 27Moenie die Leviete wat in jou omgewing woon, vergeet nie, want hulle het nie 'n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry nie.

28“Om die drie jaar moet jy die volle tiende van daardie jaar se opbrengs in jou dorpe gaan wegpak. 29Dan kan die Leviete wat nie 'n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry het nie, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees in jou omgewing genoeg eet. As jy dit doen, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak.”

DEUTERONOMIUM 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om die sewe jaar moet jy skuld afskryf

(Vgl. Lev. 25:1-7)

1“Aan die einde van elke sewende jaar moet jy skuld afskryf. 2Dit moet so gedoen word: elkeen aan wie 'n mede-Israeliet iets skuld, moet dit vir hom afskryf. 'n Skuldeiser mag nie sy mede-Israeliet, sy broer, dwing om hom te betaal nie, want dit is die jaar waarin die Here afskrywing van skuld beveel. 3Jy mag wel 'n nie-Israeliet dwing om sy skuld te betaal, maar as 'n mede-Israeliet jou iets skuld, moet jy dit vir hom afskryf. 4-5As jy maar net luister na die Here jou God en gehoorsaam is aan al hierdie gebooie wat ek jou vandag gee en daarvolgens lewe, sal daar nie 'n arme onder jou wees nie, want die Here sal jou baie voorspoedig maak in die land wat Hy jou gee om as jou eie te besit. 6Die Here jou God sal jou voorspoedig maak soos Hy beloof het, en jy sal aan baie nasies kan uitleen sonder dat jy self hoef te leen. Jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.

7“As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n arme is, 'n mede-Israeliet, moet jy nie hard en suinig wees teenoor so 'n broer van jou wat arm is nie. 8Wees vrygewig teenoor hom en leen hom wat hy nodig het. 9Moenie sondige gedagtes herberg en dink dit is nie goed om jou broer wat arm is te help nie omdat die sewende jaar, die jaar van afskrywing, op hande is nie. Hy mag hom teen jou op die Here beroep, en jy sal skuldig staan. 10Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak. 11Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”

Oor slawe

(Vgl. Eks. 21:1-11)

12“Wanneer 'n mede-Israeliet, 'n Hebreër soos jy, 'n man of 'n vrou, aan jou verkoop word, en hy werk ses jaar vir jou, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat. 13Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie. 14Gee hom 'n behoorlike deel van jou kleinvee, van die graan op jou dorsvloer en van jou parskuip. Van alles waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het, moet jy vir hom gee. 15Jy moet onthou jy was self 'n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee.

16“Maar as dit sou gebeur dat jou slaaf vir jou sê: ‘Ek wil nie van u af weggaan nie, want ek het u en u familie lief,’ omdat hy dit goed by jou het, 17moet jy 'n els vat en dit deur sy oor steek teen die deur. Dan is hy vir altyd jou slaaf. Met 'n slavin moet jy dieselfde doen. 18Moenie dink 'n ramp het jou getref as jy jou slaaf vrylaat nie, want in die ses jaar het hy jou dubbel die loon van 'n huurling gespaar. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen.”

Elke eersteling moet aan die Here gewy word

19“Jy moet elke manlike eersteling wat daar onder jou grootvee en jou kleinvee gebore word, aan die Here jou God wy. Jy mag nie die eersteling van jou grootvee laat werk nie, en die eersteling van jou kleinvee mag jy nie skeer nie. 20Jy en jou familie moet dit elke jaar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy gekies het. 21Maar as die eersteling 'n liggaamsgebrek het, as hy lam of blind is of enige ander liggaamsgebrek het, mag jy hom nie as offer vir die Here jou God bring nie. 22Jy moet dit dan in jou woonplek eet en enigiemand, rein of onrein, mag daarvan eet asof dit 'n ribbok of 'n takbok is. 23Maar jy mag nie die bloed daarvan eet nie; gooi dit op die grond uit asof dit water is.”

DEUTERONOMIUM 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Die verheerliking op die berg

(Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36)

2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.

5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.

7Daar het toe 'n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar 'n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

Jesus se dood is naby

(Matt. 17:9-13)

9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. 10Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan.

11Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?”

12“Elia kom wel eers om alles weer reg te maak,” antwoord Hy hulle. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word. 13Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom, en die mense het met hom gemaak wat hulle wou, net soos daar oor hom geskrywe staan.”

Jesus maak 'n seun gesond

(Matt. 17:14-20; Luk. 9:37-43)

14Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle 'n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. 15Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. 16Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”

17Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van 'n gees besete is wat hom stom maak. 18En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”

19Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”

20Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. 21Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”

22“Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

23“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”

24“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

25Toe Jesus sien dat 'n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

26Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”

27Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.

28Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”

29Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 17:22-23; Luk. 9:43-45)

30Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. 31Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?

(Matt. 17:24; 18:1-5; Luk. 9:46-48)

33Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36Toe het Hy 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: 37“Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

“Wie nie téén ons is nie, is vír ons”

(Luk. 9:49-50; vgl. Matt. 12:30; Luk. 11:23)

38Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

39“Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat 'n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. 40Wie nie téén ons is nie, is vír ons.

41“Elkeen wat vir julle 'n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”

Aanleiding tot afvalligheid

(Matt. 18:6-9; Luk. 17:1-2)

42“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as 'n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.

43“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. 45En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word. 47En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. 48Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Sout en vrede

(Matt. 5:13; Luk. 14:34-35)

49“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.

50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal 'n mens dit weer sout maak?

“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS