Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 47

DEUTERONOMIUM 6–10, MARKUS 8

Bybelteks(te)

Jy moet die Here jou God liefhê

1“Dit is die wet, die voorskrifte en die bepalings, wat die Here julle God my beveel het om vir julle te leer, sodat julle daarvolgens kan lewe in die land wat julle in besit gaan neem.

2“So sal jy die Here jou God jou lewe lank kan dien en gehoorsaam wees aan sy voorskrifte en gebooie wat ek jou gegee het, jy en jou hele nageslag, en dan sal jy 'n lang lewe hê. 3As jy luister, Israel, en as jy gehoorsaam is en lewe volgens my gebooie, sal jy voorspoedig wees en uitermate baie word in die land wat oorloop van melk en heuning. Dit is wat die Here die God van jou voorvaders jou beloof het.

4“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. 5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.

6“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees. 9Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

10“Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie, 11huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy sal kos in oorvloed hê. 12Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie. 13Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam 'n eed aflê.

14“Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie, 15want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee.

16“Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie. 17Julle moet die gebooie van die Here julle God, sy verordeninge en sy voorskrifte, wat Hy jou gegee het, stiptelik gehoorsaam.

18“Doen wat reg is in die oë van die Here, sodat dit goed kan gaan met jou en dat jy die goeie land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het, kan ingaan en in besit neem, 19dat jy al jou vyande kan verdryf soos die Here belowe het.

20“Wanneer jou seun jou in die toekoms vra: Wat beteken die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God vir u gegee het? 21moet jy hom antwoord: Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry 22toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het en rampe oor Egipte laat kom het, oor die farao en sy hele huis. 23Maar vir ons het die Here daarvandaan laat wegtrek om ons in hierdie land te bring en dit vir ons te gee soos Hy aan ons voorvaders met 'n eed belowe het. 24Die Here het ons beveel om volgens al hierdie voorskrifte te lewe en om die Here ons God te dien, sodat dit altyd goed kan gaan met ons en sodat ons kan bly lewe soos dit nou die geval is. 25Ons sal die wil van die Here ons God doen as ons hierdie hele wet in sy teenwoordigheid gehoorsaam en daarvolgens lewe soos Hy ons beveel het.”

DEUTERONOMIUM 6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here het jou lief, Hy is by jou

1“Die Here jou God sal jou bring in die land waarheen jy op pad is en wat jy in besit sal neem. Hy sal baie nasies voor jou uit verdryf: Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Wanneer die Here jou God hierdie sewe nasies wat groter en sterker is as jy, 2in jou mag oorgee en jy hulle verslaan, moet jy hulle om die lewe bring as banoffer aan die Here jou God. Jy mag hulle nie jammer kry en 'n verbond met hulle sluit nie. 3Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie, 4want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg.

5“Maar wat jy met die nasies moet doen, is dit: breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, kap hulle gewyde pale in stukkies en verbrand hulle afgodsbeelde. 6Jy is 'n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.

7“Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. 8Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met 'n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.

9“Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam, 10maar Hy straf elkeen wat Hom haat, Hy bring hom om, Hy laat nie na om elkeen wat Hom haat, te straf nie. 11Daarom moet jy die gebod, die voorskrifte en die bepalings wat ek jou vandag gegee het, gehoorsaam deur daarvolgens te lewe.

12“As jy goed luister na hierdie bepalings en hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal die Here jou God sy verbond nakom en sy troue liefde aan jou betoon soos Hy aan jou voorvaders met 'n eed beloof het. 13Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak en jou 'n groot volk maak. Hy sal jou nageslag voorspoedig maak en Hy sal jou grond 'n ryk oes laat lewer: volop koring, wyn en olie. Hy sal jou grootvee en jou kleinvee vinnig laat aanteel. Dit alles sal Hy doen in die land wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om vir jou te gee. 14Dit sal met jou beter gaan as met al die volke. Nie een van jou mense of jou vee sal onvrugbaar wees nie. 15Die Here sal elke soort siekte van jou af weghou. Nie een van Egipte se dodelike siektes wat jy maar alte goed ken, sal Hy jou laat tref nie. Hy sal dit jou vyande laat tref. 16Jy moet al die volke wat deur die Here jou God in jou mag oorgegee word, uitroei. Moenie een van hulle spaar nie en moenie hulle gode dien nie: hulle is valstrikke vir jou.

17“Jy kan dalk dink: hierdie nasies is sterker as ek. Hoe sal ek hulle kan verdryf?

18“Moenie vir hulle bang wees nie. Dink net wat die Here jou God met die farao en die hele Egipte gedoen het. 19Jy het met jou eie oë gesien met watter groot plae en tekens en wonders, met watter magtige dade en wonderdade die Here jou God jou bevry het. Hy sal met al die volke vir wie jy bang is, maak soos met Egipte. 20Die Here jou God sal die nasies die skrik op die lyf jaag totdat ook dié wat oorgebly het en vir jou weggekruip het, uitgewis is. 21Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is 'n groot en magtige God. 22Hy sal daardie nasies die een na die ander verdryf. Jy sal hulle nie almal sommer dadelik kan uitwis nie, want dan sal die wilde diere vir jou te veel word. 23Die Here jou God sal die nasies in jou mag oorgee. Hy sal hulle in groot verwarring bring totdat hulle uiteindelik vernietig is. 24Hy sal hulle konings in jou mag gee, en jy sal hulle heeltemal van die aarde af wegvee. Niemand sal jou kan teenstaan nie, jy sal hulle uitdelg. 25Jy moet hulle afgodsbeelde verbrand. Moenie die silwer en goud wat aan die beelde is, begeer en vir jou vat nie. Jy kan daardeur in 'n valstrik trap: die afgodsbeelde is afskuwelike goed in die oë van die Here jou God. 26Moenie so iets afskuweliks in jou huis inbring nie, want dan is jy gedoem om vernietig te word. Jy moet dit verafsku en as afskuwelik beskou; dit moet vernietig word.”

DEUTERONOMIUM 7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Moenie die Here vergeet nie

1“Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het.

2“Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. 3Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. 4Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie. 5Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

6“Jy moet die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen. Jy moet Hom dien, 7want Hy sal jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterstrome, met fonteine en riviere wat in valleie en berge ontspring, 8'n land met koring en gars, wingerde, vyebome en granate, 'n land met volop olyfolie en heuning, 9'n land sonder armoede, waarin jy genoeg sal eet en niks sal kortkom nie, 'n land waarin daar volop yster in die klippe is en waar jy kan koper delf in die berge.

10“Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. 11Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte wat ek jou vandag gee nie. 12As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon, 13dat jou grootvee en jou kleinvee baie word, dat jou silwer en goud vermeerder en jou besittings al hoe meer word, 14en dat jy dan hoogmoedig word en die Here jou God vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 15Dit is Hy wat jou laat trek het deur hierdie groot en gevaarlike woestyn vol giftige slange en skerpioene, dit is Hy wat vir jou water uit die klipharde rots laat vloei het in hierdie dor land sonder water 16en wat jou in die woestyn manna laat eet het, iets wat jou voorvaders nie geken het nie. Hy het jou laat swaarkry om jou op die proef te stel en om agterna weer aan jou goed te doen. 17Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. 18Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog.

19“As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode aanhang en hulle dien en vereer, verklaar ek vandag dat jy beslis tot niet sal gaan. 20Omdat jy dan nie gehoorsaam is aan die woord van die Here jou God nie, sal jy net so omkom soos die nasies vir wie die Here laat omkom het.”

DEUTERONOMIUM 8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jy is 'n hardkoppige volk

1“Luister, Israel, jy gaan nou deur die Jordaanrivier trek om nasies te gaan verdryf wat groter en sterker is as jy en om groot stede wat met hoë mure versterk is, te gaan verower. 2Jy weet hoe 'n groot en sterk volk die Enakiete is. Jy het gehoor daar word gevra: ‘Wie kan die Enakiete teëstaan?’ 3Maar onthou: die Here jou God gaan voor jou uit deur die Jordaan. Hy is 'n verterende vuur. Hy sal die Enakiete oorweldig en aan jou onderwerp. Dan sal jy hulle kan verslaan en hulle gou uitwis soos die Here jou beloof het.

4“Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: ‘Die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is’ nie, want die Here het hierdie nasies verdryf omdat hulle so goddeloos is. 5Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf, en so sal Hy die belofte vervul wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob gemaak het. 6Jy moet goed onthou dat die Here jou God nie hierdie goeie land vir jou gee om in besit te neem omdat jy volmaak is nie. Jy is 'n hardkoppige volk.”

Die sondes van die volk

(Vgl. Eks. 32:1-35)

7“Moenie vergeet hoe julle die Here julle God kwaad gemaak het in die woestyn nie. Vandat julle uit Egipte weggetrek het totdat julle hier op hierdie plek aangekom het, was julle die hele tyd in opstand teen die Here. 8By Horeb het julle gemaak dat die toorn van die Here ontvlam, en Hy het so kwaad geword vir julle dat Hy julle wou uitroei. 9Ek het teen die berg uitgeklim om die plat klippe te gaan ontvang, die plat klippe waarop die Here die bepalings van sy verbond met julle geskryf het. Ek het veertig dae en veertig nagte lank daar gebly en niks geëet of gedrink nie. 10Die Here het vir my die twee plat klippe gegee waarop met sy eie vinger al die woorde geskryf was wat Hy op die berg uit die vuur uit met julle gepraat het, die dag met die vergadering. 11Dit was aan die einde van die veertig dae en die veertig nagte dat die Here die twee plat klippe, die plat klippe met die verbondsbepalings daarop, vir my gegee het.

12“Toe het die Here vir my gesê: ‘Gaan gou ondertoe, want jou volk wat jy uit Egipte laat trek het, het afvallig geword. Hulle het baie gou weggedraai van die koers af wat Ek vir hulle aangewys het, en hulle het vir hulle 'n afgodsbeeld gegiet.’

13“Die Here het verder vir my gesê: ‘Ek het gesien dat dit 'n hardkoppige volk is hierdie. 14Jy moet My nie probeer keer nie. Ek wil hulle uitwis en hulle naam van die aarde af wegvee. Dan sal Ek jou 'n sterk nasie maak, groter as hulle.’

15“Toe het ek omgedraai en terwyl die berg gebrand het, het ek afgegaan met die twee klippe van die verbond in my hande. 16Ek het gesien hoe julle teen die Here julle God gesondig het deurdat julle vir julle 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak het. Julle het baie gou weggedraai van die koers af wat die Here vir julle aangewys het. 17Ek het die twee plat klippe wat ek in my hande gehad het, flenters gegooi in julle teenwoordigheid. 18Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor die groot sonde wat julle gedoen het. Julle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart. 19Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister.

20“Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid. 21Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.

22“Julle het die Here ook nog by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.

23“Toe die Here julle van Kades-Barnea af weggestuur het, het Hy gesê: ‘Trek op en neem die land wat Ek vir julle gegee het, in besit.’ Maar julle het in opstand gekom teen die bevel van die Here julle God. Julle het nie op Hom vertrou nie en Hom nie gehoorsaam nie. 24Vandat ek julle leer ken het, was julle in opstand teen die Here.

25“Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig. 26Ek het tot Hom gebid: Here my God, moet tog nie u volk vernietig nie. Hy is u eiendom, U het hom gered toe U hom deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte laat wegtrek het. 27Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid en hulle sonde nie. 28Waarom moet die mense van die land waaruit U ons laat trek het, sê: ‘Omdat die Here nie die Israeliete kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle laat wegtrek om hulle in die woestyn om die lewe te bring?’ 29Hulle is tog u volk, u eiendom wat U deur u groot mag en met kragtige dade laat wegtrek het!”

DEUTERONOMIUM 9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die tien gebooie word weer opgeskryf

(Vgl. Eks. 34:1-10)

1“Destyds het die Here vir my gesê: ‘Kap vir jou twee plat klippe soos die voriges en klim die berg uit na My toe. Maak ook 'n ark van hout. 2Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. Dan moet jy die twee plat klippe in die ark sit.’

3“Ek het die ark van doringhout gemaak en ek het twee plat klippe soos die voriges gekap. Toe het ek teen die berg uitgeklim met die twee plat klippe in my hand. 4Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie geskryf wat Hy op die berg, die dag toe die volk bymekaargekom het, uit die vuur uit vir julle gegee het. Daarna het Hy die twee plat klippe vir my gegee. 5Toe het ek van die berg af gekom en soos die Here my beveel het, het ek die plat klippe in die ark gesit wat ek gemaak het. Hulle is nog daar.”

Die Leviete moet die ark dra

6“Die Israeliete het weggetrek van die putte van Bene-Jaäkan af na Moserot toe. Daar is Aäron oorlede, en daar is hy begrawe. Sy seun Eleasar het toe in sy plek priester geword. 7Van daar af het hulle na Gor-Gidgad toe getrek en van daar af na Jotbata toe, 'n waterryke gebied. 8Destyds het die Here die Levistam afgesonder om die verbondsark van die Here te dra, om in sy teenwoordigheid diens te doen en sy dienaars te wees, en om die volk in die Naam van die Here te seën. En so is dit vandag nog. 9Daarom het die Leviete nie 'n eie grondgebied tussen hulle volksgenote gekry nie, want Levi ontvang van wat die Here self toekom, soos die Here jou God hom beloof het.”

Die Here is God, dien Hom

10Moses het verder gesê: “Soos die eerste keer het ek veertig dae en nagte op die berg gebly. Ook hierdie keer het die Here na my geluister. Hy wou jou nie meer uitroei nie. 11Toe het Hy vir my gesê: ‘Jy moet die volk laat wegtrek en hulle lei sodat hulle die land kan binnegaan en in besit neem. Dit is die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee.’

12“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel. 13Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees. 14Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop. 15En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

16“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. 17Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

18“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. 19Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte. 20Jy moet die Here jou God eer, Hom dien en aanhang, en wanneer jy 'n eed aflê, moet jy dit in sy Naam doen. 21Jy moet Hom prys, want Hy is jou God en Hy het al hierdie magtige wonderdade wat jy met jou eie oë gesien het, vir jou gedoen. 22Toe jou voorvaders Egipte toe is, was hulle net sewentig; maar nou het die Here jou God jou so baie gemaak soos die sterre in die lug.”

DEUTERONOMIUM 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die tweede vermeerdering van die brood

(Matt. 15:32-39)

1In daardie selfde tyd was daar weer 'n keer 'n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: 2“Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. 3As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.”

4Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?”

5Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?”

“Sewe,” antwoord hulle.

6Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. 7Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. 8Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. 9Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur.

10Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan.

Die Fariseërs vra 'n wonderteken uit die hemel

(Matt. 16:1-4)

11Daar kom toe Fariseërs wat met Jesus begin redeneer. Om Hom op die proef te stel, wou hulle van Hom 'n wonderteken uit die hemel hê. 12Hy het diep gesug en gesê: “Waarom wil hierdie geslag 'n teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie 'n teken gegee word nie.”

13Hy het hulle daar laat staan, weer in die skuit geklim en na die oorkant van die see toe gegaan.

Die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodes

(Matt. 16:5-12)

14Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad. 15Jesus het hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”

16Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie. 17Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? 18Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle nie, 19toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie?”

“Twaalf,” sê hulle vir Hom.

20“En sewe brode vir die vier duisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou?”

“Sewe,” sê hulle vir Hom.

21Toe sê Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”

Jesus genees 'n blinde man in Betsaida

22Hulle het in Betsaida aangekom, en toe bring die mense 'n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak. 23Hy het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra: “Sien jy al iets?”

24Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.”

25Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien. 26Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie by die dorp aangaan nie.”

Die belydenis van Petrus

(Matt. 16:13-20; Luk. 9:18-21; Joh. 6:66-71)

27Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”

28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”

29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”

Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”

30Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 16:21-23; Luk. 9:22)

31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg

(Matt. 16:24-28; Luk. 9:23-27)

34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS