Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 46

DEUTERONOMIUM 5, MARKUS 3–7

Bybelteks(te)

1Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe. 2Die Here ons God het by Horeb 'n verbond met ons gesluit. 3Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe. 4Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat. 5Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het nie teen die berg uitgeklim nie.

“Die Here het gesê:

6“ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 7Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

8“ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 9Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 10maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

11“ ‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

12“ ‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. 13Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 14maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. 15Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.

16“ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.

17“ ‘Jy mag nie moord pleeg nie.

18“ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19“ ‘Jy mag nie steel nie.

20“ ‘Jy mag nie vals teen 'n ander getuig nie.

21“ ‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’

22“Die Here het by die berg al hierdie gebooie duidelik hoorbaar aan julle hele gemeente gegee, uit die vuur en die stikdonker wolk uit, en toe het Hy stilgebly. Daarna het Hy dit op twee plat klippe geskryf en dit vir my gegee.”

Die volk vra Móses moet liewer met hulle praat

(Vgl. Eks. 20:18-21)

23“Toe julle die stem uit die donkerte uit gehoor het terwyl die berg gebrand het, het al julle stamhoofde en leiers na my toe gekom 24en gesê: ‘Die Here ons God het ons sy mag en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur uit gehoor. Vandag het ons ondervind dat God met mense praat, en hulle bly lewe. 25Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf? 26Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe? 27Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’

28“Toe die Here hoor wat julle vir my sê, het Hy vir my gesê: Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het. Wat hulle gesê het, is goed. 29Mag hulle altyd soveel eerbied vir My hê en al my gebooie gehoorsaam sodat dit altyd goed kan gaan met hulle en hulle nageslag. 30Gaan sê vir hulle hulle moet teruggaan na hulle tente toe. 31Maar jy moet hier by My kom staan. Ek wil die hele wet vir jou gee, die voorskrifte en die bepalings wat jy vir hulle moet leer, en waarvolgens hulle moet lewe in die land wat Ek vir hulle gee om te besit. 32Julle moet nougeset doen wat die Here julle God julle beveel het. Julle moet nie in enige opsig daarvan afwyk nie. 33Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem.”

DEUTERONOMIUM 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die man met die gebreklike hand

(Matt. 12:9-14; Luk. 6:6-11)

1Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was 'n man met 'n gebreklike hand. 2Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla. 3Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Staan op hier tussen hulle!”

4Daarna vra Hy vir hulle: “Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

Hulle het egter niks gesê nie. 5Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!”

Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond.

6Die Fariseërs het uitgegaan en dadelik met die Herodiane 'n komplot teen Jesus gesmee om Hom om die lewe te bring.

'n Groot toeloop van mense na Jesus toe

(Matt. 4:24-25; 12:15-17; Luk. 6:17-19; 4:41)

7Jesus het toe met sy dissipels teruggegaan na die see toe. 'n Menigte mense het van Galilea af agter Hom aan gegaan. Ook van Judea af, 8en uit Jerusalem en van Idumea en van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon af, het daar baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen.

9Weens die gedrang het Hy vir sy dissipels gesê om vir Hom 'n skuitjie reg te hou sodat die mense Hom nie vertrap nie. 10Hy het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat die een of ander siekte gehad het, Hom oorval het om aan Hom te raak.

11As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!” 12Maar Hy het hulle baie uitdruklik belet om bekend te maak wie Hy is.

Die aanstelling van die twaalf apostels

(Matt. 10:1-4; Luk. 6:12-16)

13Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. 14Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. 15Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. 16Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, 17Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus – vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – 18Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, 19en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

Die lastering teen die Heilige Gees

(Matt. 12:22-32; Luk. 11:14-23; 12:10)

20Daarna het Jesus huis toe gegaan. 'n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om 'n stukkie te eet nie. 21Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”

22Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.”

23Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? 24As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; 25en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. 26As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde.

27“Bowendien kan niemand in 'n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

28“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. 29Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”

30Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van 'n onrein gees besete.”

Die moeder en die broers van Jesus

(Matt. 12:46-50; Luk. 8:19-21)

31Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 32'n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.”

33Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?”

34Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! 35Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Die gelykenis van die saaier

(Matt. 13:1-9; Luk. 8:4-8)

1Jesus het weer die mense langs die see begin leer. 'n Baie groot menigte het by Hom saamgedrom, sodat Hy op die see in 'n skuit gaan sit het. Die hele menigte was langs die see op die strand. 2Hy het hulle baie deur gelykenisse geleer. So het Hy onder andere gesê terwyl Hy hulle leer:

3“Luister hier! 'n Saaier het eendag gaan saai. 4Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 5'n Ander deel daarvan het op 'n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7'n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. 8Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.”

9Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

Die doel met die gelykenisse

(Matt. 13:10-17; Luk. 8:9-10)

10Toe hulle alleen was, het die mense wat saam met die twaalf by Hom was, Hom oor die gelykenisse uitgevra, 11en Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse, 12sodat

“hulle kyk en kyk en tog nie sien nie,

en hoor en hoor en tog nie verstaan nie,

dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie.

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

(Matt. 13:18-23; Luk. 8:11-15)

13Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan?

14“Die saaier saai die woord. 15Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is. 16Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. 17Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig. 18Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, 19maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 20Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”

Julle moet luister

(Matt. 13:12; Luk. 8:16-18)

21Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie? 22Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. 23As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”

24Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. 25Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”

Die gelykenis van die saad wat vanself groei

26Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land 27en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. 28Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. 29En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

Die gelykenis van die mosterdsaadjie

(Matt. 13:31-32; Luk. 13:18-19)

30Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? 31Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. 32Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.”

Die gebruik van gelykenisse

(Matt. 13:34-35)

33Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. 34Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

Jesus maak die storm stil

(Matt. 8:23-27; Luk. 8:22-25)

35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”

Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Die besetene van Gerasa

(Matt. 8:28-34; Luk. 8:26-39)

1Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. 2Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af 'n man met 'n onrein gees Hom tegemoet gekom.

3Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met 'n ketting vasbind nie, 4want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. 5Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe.

6Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval 7en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” 8want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”

9Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.”

10Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. 11Daar naby teen die berg het 'n groot trop varke geloop. 12Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!”

13Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip.

14Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. 15Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. 16Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. 17Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan.

18Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. 19Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.”

20Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing

(Matt. 9:18-26; Luk. 8:40-56)

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het 'n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Jesus word in Nasaret verwerp

(Matt. 13:53-58; 9:35; Luk. 4:16-30)

1Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. 2En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Die mense wou niks van Hom weet nie.

4Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”

5Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. 6Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.

Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.

Jesus stuur die twaalf uit

(Matt. 10:1,5-15; Luk. 9:1-6)

7Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. 8Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net 'n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. 9Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog 'n kledingstuk saamvat nie. 10Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in 'n plek kom en in 'n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. 11En as 'n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.”

12Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. 13Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Verskillende menings oor Jesus

(Matt. 14:1-2; Luk. 9:7-9)

14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.”

15En party het gesê: “Dit is Elia.”

Ander het gesê: “Hy is 'n profeet soos een van die ou profete.”

16Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”

Die dood van Johannes die Doper

(Matt. 14:3-12; Luk. 3:19-20)

17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21Op 'n dag het Herodias 'n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea 'n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23Daarby het hy dit herhaaldelik met 'n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”

Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in 'n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met 'n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in 'n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Die twaalf apostels kom terug

(Matt. 14:13-14; Luk. 9:10-11; Joh. 6:1-4)

30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.”

32Hulle het met 'n skuit na 'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Die eerste vermeerdering van die brood

(Matt. 14:15-21; Luk. 9:12-17; Joh. 6:5-14)

35Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. 36Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.”

37Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”

Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”

38Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”

Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.”

39Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. 40Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. 41Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. 42Al die mense het geëet en genoeg gekry. 43Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. 44Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.

Jesus loop op die see

(Matt. 14:22-33; Joh. 6:15-21)

45Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. 46Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid.

47Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. 48Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. 49Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, 50want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

51Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, 52want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret

(Matt. 14:34-36)

53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte

(Matt. 15:1-9)

1Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. 2Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

3Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. 4En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

5Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

6Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:

“Hierdie volk eer My met hulle mond,

maar hulle hart is ver van My af.

7Dit help niks dat hulle My probeer dien

deur leerstellings van mense

as gebooie van God voor te hou nie.

8“Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

9Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. 10Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 11Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: 'n offergawe vir God. 12En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Wat 'n mens onrein maak

(Matt. 15:10-20)

14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in 'n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dít maak hom onrein.”

17Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, 19omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”

Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit 'n mens kom, dít maak 'n mens onrein. 21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak 'n mens onrein.”

Die Siro-Fenisiese vrou

(Matt. 15:21-28)

24Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in 'n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25'n Vrou wie se dogtertjie van 'n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

29Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Jesus genees 'n doofstom man

(Vgl. Matt. 15:29-31)

31Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. 32Die mense bring toe 'n dowe man wat ook 'n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. 33Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. 34Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. 36Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. 37Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS