Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 45

DEUTERONOMIUM 1–4, MARKUS 1–2

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 1

Moses praat met die Israeliete in die woestynvlakte

1In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab. 2Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom. 3Op die eerste van die elfde maand van die veertigste jaar na die uittog uit Egipte het Moses vir die Israeliete alles gesê wat die Here hom oor hulle beveel het. 4Dit was nadat Moses vir Sihon en Og verslaan het. Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gewoon, en koning Og van Basan in Astarot by Edreï. 5Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het.

Hy het gesê: 6“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. 7Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat. 8Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met 'n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’

9“Toe julle van Horeb af weg is, het ek vir julle gesê: ‘Ek kan nie alleen al die verantwoordelikheid vir julle dra nie. 10Die Here julle God het julle baie laat word, en nou is julle net so baie soos die sterre aan die hemel. 11Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle 'n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het. 12Hoe kan ek alleen julle probleme oplos, die verantwoordelikheid vir julle dra en julle hofsake verhoor? 13Bring uit julle stamme verstandige manne, manne met insig, manne van aansien, sodat ek hulle as hoofde oor julle kan aanstel.’ 14Toe het julle vir my gesê: ‘Wat u wil doen, is reg,’ 15en ek het die leiers uit julle stamme aanvaar, verstandige manne, manne van aansien, en hulle aangestel as hoofde oor julle, leiers van duisend, van honderd, van vyftig en van tien: amptenare vir julle stamme. 16In dieselfde tyd het ek ook julle regters beveel: ‘Verhoor die sake wat daar tussen julle volksgenote kom en lewer regverdige uitsprake, of dit nou is tussen volksgenoot en volksgenoot of tussen volksgenoot en vreemdeling. 17Moenie partydig wees as julle 'n saak verhoor nie, luister na klein en groot. Moenie vir mense bang wees nie. Wie regspreek, is in diens van God. Sake wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring en ek sal hulle verhoor.’

18“Ek het julle destyds alles beveel wat julle moet doen.”

In die woestyn

(Vgl. Num. 13:1 – 14:45)

19“Ons het van Horeb af weggetrek en ons het deur daardie groot woestyn met al sy gevare getrek, daardie woestyn wat julle self gesien het. Ons het met die pad na die Bergwêreld van die Amoriete toe getrek soos die Here ons God ons beveel het, en ons het by Kades-Barnea uitgekom. 20Toe het ek vir julle gesê: ‘Ons het nou die Bergwêreld van die Amoriete bereik. Die Here ons God gee dit vir ons. 21Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie.’

22“Julle almal het toe na my toe gekom en gevra ons moet manne voor ons uit stuur dat hulle die land vir ons kan verken en ons kan kom inlig oor die pad wat ons moet vat en oor die stede waarheen ons op pad is. 23Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam. 24Hulle het die Bergwêreld ingegaan en by die Eskolvallei gekom en dit verken. 25Hulle het van die vrugte van die land na ons toe gebring en vir ons kom sê: ‘Die Here ons God gee ons 'n goeie land.’

26“Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God. 27Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei. 28Waarheen kan ons nou gaan? Ons broers het ons moed gebreek toe hulle gesê het: Daar woon 'n volk wat groter en sterker is as ons. Hulle het groot stede en sterk, hoë vestings. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar gesien.’

29“Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie. 30Die Here julle God gaan voor julle uit en Hy sal vir julle veg net soos Hy in Egipte voor julle eie oë alles vir julle gedoen het. 31Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos 'n man sy seun dra.’ 32Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God 33wat op die pad voor julle vooruit gegaan het om kampplekke vir julle uit te soek nie. Snags het Hy vir julle julle pad met vuur aangewys en bedags met 'n wolkkolom.

34“Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en het Hy 'n eed afgelê: 35‘Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie. 36Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien, en aan hom en sy nageslag sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, want hy het die Here getrou gevolg.’

37“Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het en gesê het: ‘Ook jý sal nie die land ingaan nie. 38Jou assistent, Josua seun van Nun, hý sal daar ingaan. Moedig hom aan, want dit is hý wat Israel die land in besit sal laat neem. 39Julle babatjies van wie julle gesê het hulle sal buitgemaak word, en julle kleuters wat nou nog niks weet nie, hulle sal die land ingaan. Ek gee dit vir hulle en hulle sal dit in besit neem. 40Julle moet nou omdraai en die woestyn in trek, al met die pad na die Rietsee toe.’

41“Toe het julle uitgeroep: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons wil optrek en gaan veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het julle wapens gegryp en gedink dis kinderspeletjies om die Bergwêreld te gaan verower.

42“Maar die Here het vir my gesê: ‘Sê vir hulle hulle moenie optrek om te gaan oorlog maak nie, want Ek is nie by hulle nie. Hulle sal nie hulle vyande verslaan nie.’ 43Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie en in opstand gekom teen die opdrag van die Here. Julle was moedswillig en het na die Bergwêreld toe getrek, 44maar die Amoriete wat in daardie gebied woon, het teen julle opgeruk en julle verjaag soos 'n swerm bye dit sou doen en julle van Seïr af tot by Gorma uitmekaar gejaag. 45Toe het dit julle berou dat julle dit gedoen het en julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister nie en Hom nie aan julle gesteur nie. 46So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het.”

DEUTERONOMIUM 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 2

Met 'n ompad na Kanaän toe

(Vgl. Num. 20:14-21; 21:10-20)

1“Later het ons die woestyn ingetrek, al met die Rietseepad soos die Here my beveel het. Dit het ons lank gevat om óm Seïrberg te trek. 2Toe het die Here vir my gesê: 3‘Julle het nou ver genoeg om hierdie berg getrek. Draai nou noord 4en sê vir die volk: Julle staan op die punt om deur die gebied te trek van julle broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Hulle is bang vir julle, maar julle moet julle bedwing. 5Moenie oorlog teen hulle maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir julle gee nie, nie eers 'n handbreedte nie, want Ek het Seïrberg vir Esau gegee as besitting. 6Die kos en water wat julle nodig het, moet julle by hulle koop.’

7“Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle gedoen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kortgekom nie.

8“Ons het toe verbygetrek by ons broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon, en ons het uit die Woestynpad weggedraai by Elat en Esjon-Geber en met die pad na die Moabwoestyn toe verbygetrek. 9Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie die Moabiete aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het Ar vir die nageslag van Lot gegee as besitting.’ ”

10Die Emiete het voorheen in die gebied gewoon. Hulle was 'n groot en sterk volk. Net soos die Enakiete was hulle groot mense. 11Die Moabiete het hulle Emiete genoem, maar net soos die Enakiete is hulle as Refaïete beskou. 12Die Goriete het vroeër in Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle verslaan en uitgeroei en in hulle gebied gaan woon soos die Israeliete later met hulle vyande gedoen het in die land wat die Here vir hulle as besitting gegee het.

13“Die Here het verder gesê: ‘Trek nou deur Seredspruit,’ en ons het deurgetrek. 14Vandat ons van Kades-Barnea af weg is tot ons deur Seredspruit getrek het, het ag en dertig jaar verloop. Teen daardie tyd was die weerbare manne uit die ouer geslag nie meer tussen ons nie, soos die Here destyds vir hulle met 'n eed aangekondig het. 15Sy hand was teen hulle en Hy het hulle almal laat omkom.

16“Toe al daardie weerbare manne onder die volk uitgesterf het, 17het die Here vir my gesê: 18Jy staan op die punt om deur die Moabiete se gebied by Ar te trek, 19en jy sal naby die grens van die Ammoniete kom. Moet hulle nie aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het dit vir die nageslag van Lot gegee as besitting.”

Die vorige inwoners is ook verdryf

20Die gebied is beskou as die land van die Refaïete, want hulle het vroeër hier gewoon. Die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem. 21Hulle was 'n groot en sterk volk, net sulke groot mense as die Enakiete. Die Here het die Samsummiete voor die Ammoniete uit verdryf, en die Ammoniete het hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon. 22Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Die Here het die Goriete voor hulle uit verdryf, en toe het die Edomiete hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon. Die Edomiete woon nou nog daar. 23Die Awwiete wat in dorpies tot by Gasa woon, is verdryf deur mense wat uit Kaftor gekom het en in die Awwiete se gebied gaan woon het.

Die Israeliete verslaan vir Sihon

(Vgl. Num. 21:21-31)

24“Die Here het vir my gesê: ‘Breek kamp af en trek deur die Arnonkloof. Ek gee die Amoriet, koning Sihon van Gesbon, en sy land in jou mag. Begin nou, neem sy land in besit, maak oorlog teen hom. 25Vandag bring Ek skrik en vrees vir jou oor al die volke op die aarde. Wanneer hulle hoor wat jy doen, sal hulle bewe en bang wees vir jou.’

26“Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon toe gestuur. Ek het 'n vredesvoorstel gemaak en laat weet: 27‘Laat my toe om met die pad deur jou land te trek. Ek sal al met die pad langs trek en nie links of regs uitdraai nie. 28Verkoop aan my die kos en water wat ek nodig het. Ek wil net deurtrek 29tot waar ek deur die Jordaanrivier gaan na die land toe wat die Here ons God vir ons gee. So het die Edomiete van Seïr en die Moabiete van Ar my ook laat doen.’

30“Maar koning Sihon van Gesbon het geweier om ons deur sy gebied te laat trek, want die Here jou God het hom onversetlik gemaak. Die Here het hom koppig gemaak om hom in jou mag oor te gee. Hy is nou nog in jou mag.

31“Die Here het verder vir my gesê: ‘Let op, Ek gee Sihon en sy land van nou af in jou mag oor. Begin nou, verower sy land.’

32“Toe Sihon en sy hele leër optrek om by Jahas teen ons te veg, 33het die Here ons God hulle in ons mag oorgegee, en ons het hom en sy seuns en sy hele volk verslaan. 34In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie. 35Ons het net die vee en ook wat daar te buit was in die stede wat deur ons verower is, vir ons gevat. 36Van Aroër op die Arnonoewer en die stad in die Arnonkloof af tot by Gilead was daar geen stad te sterk vir ons nie. Die Here ons God het hulle almal in ons mag oorgegee. 37Soos die Here ons God ons beveel het, het ons nie die land van die Ammoniete binnegegaan nie: dit is die gebied aan Jabbokspruit en die stede in die bergagtige gebied.”

DEUTERONOMIUM 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 3

Die Israeliete verslaan vir Og

(Vgl. Num. 21:33-35)

1“Ons het weggedraai met die pad na Basan toe, en koning Og van Basan het met sy hele leër teen ons opgeruk om by Edreï teen ons te veg. 2Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie, want Ek gee hom en sy hele leër en sy hele land in jou mag oor, en jy moet met hom maak soos jy gemaak het met koning Sihon van die Amoriete, wat in Gesbon gewoon het.’

3“Die Here ons God het toe vir koning Og van Basan en sy hele leër in ons mag oorgegee. Ons het hom verslaan en nie een van sy mense het weggekom nie. 4Ons het destyds ál sy stede verower. Daar is nie een van die sestig stede in die Argobstreek waar Og se ryk in Basan was, wat ons nie afgevat het van sy mense nie. 5Al hierdie stede was versterk met hoë mure en met poorte met sluitbalke. Daar was ook baie dorpe sonder mure, 6en ons het hulle almal heeltemal verwoes soos ons gemaak het met koning Sihon van Gesbon wie se stede ons met mans, vrouens, kinders en al uitgewis het. 7Ons het net die vee en wat daar in die stede te buit was, vir ons gevat.

8“Ons het destyds die gebied van die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan afgevat: die gebied van die Arnonrivier af tot by Hermonberg, 9die berg wat Sirjon genoem word deur die mense van Sidon, en Senir deur die Amoriete. 10Ons het ál die stede in die Hoogvlakte verower en die hele Gilead en Basan tot by Salka en Edreï, die stede en die ryk van Og in Basan.”

11Net koning Og van Basan het destyds nog van die Refaïete oorgebly. Sy bed was van yster. Dit was sowat vier meter lank en amper twee meter breed, en is nou nog te sien in Rabba van die Ammoniete.

Moses gee die verowerde gebied aan Ruben, Gad en die halwe Manassestam

(Vgl. Num. 32:1-42)

12“Ek het die gebied wat ons destyds verower het, van Aroër op die Arnonoewer af tot halfpad in die bergwêreld van Gilead en al die stede daarin, aan die stamme Ruben en Gad gegee. 13Die res van Gilead en die hele Basan, die vroeëre ryk van Og, het ek aan die halwe Manassestam gegee. Dit is die hele Argobgebied in Basan wat voorheen bekend was as die Refaïete se land. 14Jaïr uit die nageslag van Manasse het die Argobstreek gevat tot by die grens van Gesur en Maäkat. Basan is toe na Jaïr vernoem, en dit staan nou nog bekend as die tentdorpe van Jaïr. 15Ek het Gilead vir Makir gegee. 16Ek het die gebied van Gilead af tot in die middel van die Arnonbedding vir die stamme Ruben en Gad gegee. Hulle noordgrens was Jabbokspruit, die grens van die Ammoniete se land, 17en die wesgrens was die Jordaanvallei en die Jordaanrivier van Gennesaret af tot by die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, onderkant die Pisgahange net oos van die see.

18“Ek het destyds vir die drie stamme gesê: Die Here julle God het hierdie land vir julle gegee as julle besitting. Maar julle gewapende manne, elke weerbare man, moet die Jordaan oorsteek voor julle volksgenote uit. 19Net julle vrouens en kinders en vee, en ek weet julle het baie vee, mag agterbly in die stede wat ek vir julle gegee het. 20Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, 'n veilige woonplek gegee het, en ook húlle die land wat die Here julle God vir hulle sal gee, die land wes van die Jordaan, in besit geneem het.”

Josua sal die volk inlei, nie Moses nie

21“Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jou twee oë het nou alles gesien wat die Here julle God met daardie twee konings gedoen het. So sal die Here doen met al die koninkryke waarnatoe jy nou gaan deurtrek. 22Moenie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God sal vir julle veg.’

23“Dit was toe dat ek die Here gesmeek het: 24‘Here my God, U het begin om my u grootheid en u groot mag te laat ondervind. Watter god is daar, in die hemel of op die aarde, wat u magtige dade kan nadoen? 25Laat my tog nou deur die Jordaan gaan om hierdie mooi land te gaan bekyk, die mooi Bergwêreld en die Libanon.’ 26Maar deur julle toedoen het die Here destyds vir my kwaad geword en daarom het Hy nie nou my gebed verhoor nie. Hy het vir my gesê: ‘Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie. 27Klim eerder Pisgaberg uit en kyk na die weste en die noorde, die suide en die ooste. Kyk daarna, want jy sal nie hierdie Jordaan oorsteek nie. 28Gee vir Josua sy opdragte, praat hom moed in en gee hom raad, want hy moet voor hierdie volk uit deur die Jordaan trek en hy moet hulle die land wat jy sal sien, in besit laat neem.’ 29Daarom het ons in die laagte teenoor Bet-Peor gebly.”

DEUTERONOMIUM 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 4

Gehoorsaam die Here!

1“Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. 2Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het. 3Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg. 4Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal. 5Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem. 6Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’ 7Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? 8Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?

9“Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp. 10Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’

11“Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was 'n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. 12Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat. Julle het woorde gehoor maar niemand gesien nie. Daar was net 'n stem. 13Die Here het julle die bepalings van sy verbond meegedeel en julle beveel om hulle te gehoorsaam: die tien gebooie wat Hy op die twee plat klippe geskryf het. 14Die Here het my destyds beveel om julle die voorskrifte en die bepalings te leer sodat julle daarvolgens kan lewe in die land waarheen julle sal deurtrek om dit in besit te gaan neem. 15Pas op! Die lewe is vir julle op die spel. Die Here self het met julle op Horeb uit die vuur uit gepraat, al het julle dié dag niemand gesien nie. 16Moenie julle eie ondergang soek deur vir julle 'n afbeelding as afgodsbeeld te maak nie: nie van 'n man of 'n vrou nie, 17nie van enige dier op die aarde of van enige voël in die lug nie, 18nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie.

19“Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.

20“Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is. 21Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie. 22Ek sal in hierdie land sterf. Ek sal nie die Jordaan oorsteek nie, maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem. 23Wees versigtig om nie die verbond wat die Here julle God met julle gesluit het, te vergeet nie. Pas op om nie vir julle 'n afgodsbeeld te maak nie. Die Here jou God het jou dit verbied. 24Die Here jou God is 'n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.

25“Wanneer julle kinders en kleinkinders het en julle oud geword het in die land, moet julle nie julle eie ondergang soek deur 'n afgodsbeeld te maak nie, want dan doen julle wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en tart julle Hom. 26Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat julle dan baie gou en baie beslis sal verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem sodra julle deur die Jordaanrivier trek. Julle sal nie lank in die land bly woon nie, julle sal beslis uitgeroei word. 27Die Here sal julle verstrooi onder die volke, net 'n klein klompie van julle sal oorbly onder die nasies waarheen die Here julle sal lei. 28Dáár sal julle gode dien wat deur mense gemaak is: hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie. 29As julle die Here julle God dáár aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou.

30“Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam. 31Die Here julle God is 'n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met 'n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.

32“Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is. 33Het 'n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe? 34Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen. 35Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie 'n ander is nie. 36Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor. 37Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit 38om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog.

39“Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog 'n god nie. 40Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie wat ek julle vandag beveel, sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.”

Drie asielstede oos van die Jordaan

(Vgl. Num. 35:9-14)

41Toe het Moses drie stede oos van die Jordaan uitgesonder as stede 42waarheen iemand kon vlug as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. As hy dan na een van hierdie stede toe vlug, kon hy bly lewe. 43Die stede was: Beser in die Woestynhoogvlakte vir Ruben, Ramot in Gilead vir Gad, en Golan in Basan vir Manasse.

Die tien gebooie

(Vgl. Eks. 20:1-17)

44Dit is die wet wat Moses vir die Israeliete gegee het: 45-46die verordeninge en voorskrifte en bepalings wat Moses aan die oostekant van die Jordaan in die vlakte regoor Bet-Peor vir die Israeliete afgekondig het nadat hulle uit Egipte weggetrek het. Bet-Peor was geleë in die gebied van koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het en deur Moses en die Israeliete verslaan is nadat hulle uit Egipte weggetrek het. 47Hulle het Sihon se gebied en dié van koning Og van Basan in besit geneem. Sihon en Og was die twee Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan, 48en hulle gebied het gestrek van Aroër op die Arnonoewer af tot by Sionsberg, dit is Hermon, 49met insluiting van die oostekant van die Jordaanvallei tot by die see in die Jordaanvallei onderkant die Pisgahange.

DEUTERONOMIUM 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

MARKUS 1

1Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

Die optrede van Johannes die Doper

(Matt. 3:1-12; Luk. 3:1-18; Joh. 1:19-28)

2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.

Hy sal die pad vir jou regmaak.

3Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed,

maak die paaie vir Hom reguit.

4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop

(Matt. 3:13-17; Luk. 3:21-22; Joh. 1:29-34)

9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek

(Matt. 4:1-11; Luk. 4:1-13)

12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek

(Matt. 4:12-17; Luk. 4:14-15)

14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels

(Matt. 4:18-22; Luk. 5:1-11)

16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Die besetene in Kapernaum

(Luk. 4:31-37)

21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder

(Matt. 8:14-15; Luk. 4:38-39)

29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking

(Matt. 8:16-17; 4:23; Luk. 4:40-44)

32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Die genesing van 'n melaatse man

(Matt. 8:1-4; Luk. 5:12-16)

40Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

45Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in 'n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

MARKUS 2

Jesus genees 'n verlamde man

(Matt. 9:1-8; Luk. 5:17-26)

1Toe Jesus ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. 2Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat.

3Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. 4Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle 'n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. 5Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!”

6Maar sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en hulle afgevra: 7“Waarom sê hy so? Hy praat mos godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?”

8Jesus het dadelik geweet dat hulle by hulleself so redeneer. Hy sê toe vir hulle: “Wat redeneer julle by julleself hieroor? 9Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes word vergewe’, of om te sê: ‘Staan op, vat jou draagbaar en loop’? 10Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: 11“Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

12Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

Jesus roep vir Levi, die tollenaar

(Matt. 9:9-13; Luk. 5:27-32)

13Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. 14Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!”

Levi het opgestaan en Hom gevolg.

15Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. 16Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?”

17Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Die vastyd

(Matt. 9:14-17; Luk. 5:33-39)

18Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?”

19Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. 20Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas.

21“Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog 'n stuk van die oue uit, en die gat word net groter.

22“Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.”

Jesus is Here oor die sabbat

(Matt. 12:1-8; Luk. 6:1-5)

23Eenkeer toe Jesus op 'n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. 24Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?”

25Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? 26Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.”

27Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. 28Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS