Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 3

Genesis 4–7, Johannes 4–5

Bybelteks(te)

Kain en Abel

1Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: “Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!”

2Sy het weer 'n kind gekry, Abel, 'n broer vir Kain. Abel was 'n veeboer en Kain 'n saaiboer. 3Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land 'n offer aan die Here gebring. 4Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem, 5maar nie vir Kain en sy offer nie.

Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.

6Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? 7Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

8Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak.

9Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”

10Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. 11Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. 12Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal 'n doellose swerwer op aarde word!”

13Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. 14U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.”

15Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.”

Toe gee die Here vir Kain 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie. 16En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod, oos van Eden.

Die nageslag van Kain

17Kain het met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het swanger geword en vir Henog in die wêreld gebring. Kain het daarna 'n stad begin bou en hy het die stad na sy seun Henog vernoem. 18Vir Henog is 'n seun Irad gebore, en Irad was die vader van Megujael, en dié was die vader van Metusael, en dié was die vader van Lameg.

19Lameg was met twee vrouens getroud. Die een was Ada en die ander Silla. 20Ada het vir Jabal in die wêreld gebring. Hy was die stamvader van dié wat in tente by hulle kuddes woon. 21Die naam van sy broer was Jubal en hy was die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel. 22Silla weer het vir Tubal-Kain in die wêreld gebring, en hy was 'n smid, 'n vakman in koper en yster. Sy suster was Naäma. 23Lameg het vir sy vrouens gesê:

“Ada en Silla, luister na my!

Vrouens van Lameg, let op my woorde!

Ek maak 'n man dood as hy my wond,

'n seun as hy my seermaak.

24Kain sal sewe maal gewreek word,

Lameg sewe en sewentig maal!”

Die geboorte van Set

25Adam het weer met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het 'n seun in die wêreld gebring en hom Set genoem, “want,” het sy gesê, “God het vir my 'n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom vermoor het.”

26Ook vir Set is daar 'n seun gebore, en Set het hom Enos genoem.

In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep.

Die nageslag van Adam oor Set tot op Noag

1Hier volg die geslagsregister van Adam.

Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. 2Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem toe hulle geskep is.

3Toe Adam 130 was, het hy die vader geword van 'n seun, sy beeld, een soos hyself. Adam het hom Set genoem. 4Nadat Set vir hom gebore is, het Adam nog 800 jaar geleef en seuns en dogters gehad. 5Adam was dus 930 jaar toe hy gesterf het.

6Toe Set 105 was, het hy die vader geword van Enos. 7Set het na die geboorte van Enos nog 807 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 8Set was dus 912 jaar toe hy gesterf het.

9Toe Enos 90 was, het hy die vader geword van Kenan. 10Enos het na die geboorte van Kenan nog 815 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 11Enos was dus 905 jaar toe hy gesterf het.

12Toe Kenan 70 was, het hy die vader geword van Mahalalel. 13Kenan het na die geboorte van Mahalalel nog 840 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 14Kenan was dus 910 jaar toe hy gesterf het.

15Toe Mahalalel 65 was, het hy die vader geword van Jered. 16Mahalalel het na die geboorte van Jered nog 830 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 17Mahalalel was dus 895 jaar toe hy gesterf het.

18Toe Jered 162 was, het hy die vader geword van Henog. 19Jered het na die geboorte van Henog nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 20Jered was dus 962 jaar toe hy gesterf het.

21Toe Henog 65 was, het hy die vader geword van Metusalag. 22Henog het na die geboorte van Metusalag nog 300 jaar naby God geleef en het seuns en dogters gehad. 23Henog se ouderdom was dus 365 jaar. 24Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem.

25Toe Metusalag 187 was, het hy die vader geword van Lameg. 26Metusalag het na die geboorte van Lameg nog 782 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 27Metusalag was dus 969 jaar toe hy gesterf het.

28Toe Lameg 182 was, het hy die vader geword van 'n seun. 29Hy het die seun Noag genoem, “want,” het hy gesê, “hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.”

30Lameg het na die geboorte van Noag nog 595 jaar geleef en hy het seuns en dogters gehad. 31Lameg was dus 777 jaar toe hy gesterf het.

32Toe Noag 500 was, het hy die vader geword van Sem, Gam en Jafet.

Die reuse

1Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, 2het die hemelwesens gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle keuse. 3Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.”

4In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam.

Die sondvloed

5Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”

8Maar Noag is deur die Here begenadig.

9Hier volg die verhaal van Noag.

Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.

10Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.

11Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; 12Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot. 13Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.

14“Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. 15Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy hoogte dertien en 'n half meter. 16Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak.

17“Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom, 18maar met jou wil Ek 'n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. 19Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly. 20Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly. 21Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees.”

22Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.

1Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin moet in die ark ingaan. Ek het jou gesien en onder hierdie geslag bevind Ek jou regverdig. 2Van al die rein diere moet jy sewe pare, manlik en vroulik, saamvat en van al die onrein diere net een paar, manlik en vroulik. 3Ook uit die voëls moet jy sewe pare, mannetjies en wyfies, saamvat. Dit moet jy doen om al die soorte op die hele aarde aan die lewe te laat bly. 4Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.”

5Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het.

6Noag was ses honderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het. 7Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het in die ark ingegaan vir die vloedwaters. 8Die rein en die onrein diere, die voëls, en die diere wat kruip, 9het in pare, manlik en vroulik, na Noag toe in die ark gekom soos God vir Noag gesê het. 10Op die sewende dag het die vloedwaters oor die aarde gekom.

11Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak, 12sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.

13Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het. 14Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan. 15Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom. 16Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.

17Die oorstroming het oor die aarde gekom, veertig dae lank, en die water het al hoe meer geword. Dit het die ark opgelig en die ark het begin opstyg bokant die aarde. 18Maar die waters het nog meer en nog sterker geword op die aarde en die ark het op die waters begin dryf. 19Die waters op die aarde het nog meer en meer geword, sodat hulle al die hoë berge wat daar onder die hemel is, bedek het. 20Die water het amper sewe meter bokant die berge gestyg en dit bedek.

21Al wat op die aarde geleef het, het omgekom: diere wat kruip, voëls, mak diere, wilde diere, ja, alles wat op aarde wemel, ook al die mense; 22alles wat die lewensasem in die neus gehad het, alles wat op land geleef het, is dood. 23So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar. 24Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.

Jesus en die Samaritaanse vrou

1Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – 2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – 3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.

5Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.”

8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.

9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.”

En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’ 18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

Die Samaritane glo in Jesus

27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.

31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.”

32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”

33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”

34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ 38Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”

39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Die genesing van die regeringsamptenaar se seun

(Vgl. Matt. 8:5-13; Luk. 7:1-10)

43Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe gegaan. 44Hy het self verklaar dat 'n profeet nie in sy eie land geëer word nie, 45maar toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die paasfees. 46Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het.

In Kapernaum was daar 'n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. 47Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. 48Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.”

49En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.”

50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.”

Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. 51Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. 52Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.”

53Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.

54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.

Die genesing op die sabbatdag by Betesda

1Hierna was daar weer 'n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. 2By die Skaappoort in Jerusalem was daar 'n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, 3waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes. 5Onder hulle was daar 'n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. 6Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?”

7Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”

8Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”

9Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop.

Dit was 'n sabbatdag. 10Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is 'n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.”

11Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.”

12Hulle vra hom toe: “Wie is die man wat vir jou gesê het: Tel jou goed op en loop?”

13Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggegaan omdat daar 'n klomp mense op die plek was.

14Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

15Die man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jesus is wat hom gesond gemaak het. 16Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het. 17Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”

Die Seun maak lewend

18Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel. 19Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. 21Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. 22Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”

Die getuienis oor Jesus

30“Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

31“As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. 32Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is.

33“Julle het 'n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid. 34Nie dat Ek op die getuienis van 'n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word. 35Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle 'n rukkie in sy lig te verheug.

36“Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het. 37En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie. 38En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. 39Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. 40Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.

41“Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie, 42maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie. 43Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. 44Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? 45Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla. 46As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe. 47Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS