Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 39

NUMERI 20–23, 1 KORINTIËRS 5–6

Bybelteks(te)

Water uit die rots

1Die hele volk Israel het in die eerste maand in die Sinwoestyn aangekom en toe by Kades oorgebly. Mirjam is daar oorlede en is ook daar begrawe.

2-3Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is! 4Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe? 5Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring? Hierdie plek deug nie vir graan of vye, vir wingerde of granate nie, en daar is geen drinkwater nie.”

6Moses en Aäron het weggedraai van die volk af, en toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle op hulle knieë geval terwyl die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar word. 7Die Here sê toe vir Moses: 8“Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.”

9Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het 10en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”

11Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink.

12Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.”

13Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.

Edom weier deurtog aan Israel

(Vgl. Deut. 2:1-8)

14Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur met die versoek: “So sê u broer Israel: U is bewus van al die probleme waarmee ons te kampe gehad het. 15Ons voorvaders het na Egipte toe getrek en daar het ons baie lank gebly. Die Egiptenaars het ons voorvaders én vir ons sleg behandel. 16Ons het na die Here om hulp geroep en Hy het ons gebed verhoor, 'n engel gestuur en ons uit Egipte laat trek. Ons is nou in Kades, 'n stad aan die grens van u gebied. 17Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die lande of die wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal op die Koningspad bly en nie links of regs afdraai totdat ons deur u gebied is nie.”

18Die koning van Edom het egter geantwoord: “Jy mag nie deur my gebied trek nie, want dan trek ek jou met die swaard tegemoet.”

19Die Israeliete het weer vir hom laat weet: “Ons sal op die grootpad bly, en as ons, ons en ons vee, van u water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil net te voet deurtrek, verder niks nie.”

20Die koning van Edom het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Die Edomiete het toe met 'n groot, magtige leër teen die Israeliete opgetrek.

21So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai.

Die dood van Aäron

22Die hele volk Israel het van Kades af versit en by Horberg aangekom. 23By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê: 24“Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters. 25Vat vir Aäron en sy seun Eleasar saam en gaan na Horberg toe. 26Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek. Aäron sal daar sterwe.”

27Moses het gedoen wat die Here beveel het: voor die oë van die hele volk het hulle Horberg uitgeklim. 28Daar het Moses Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek, en Aäron is daar op die top van die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar afgekom van die berg af. 29Toe die hele volk Israel verneem dat Aäron dood is, het hulle almal oor hom getreur, dertig dae lank.

Die Kanaäniete word verslaan

1Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en 'n aantal van hulle gevange geneem. 2Israel het 'n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.”

3Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma genoem.

Die koperslang

4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak 'n beeld van 'n giftige slang en sit dit op 'n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. As iemand wat deur 'n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Die verdere reis na Moab toe

(Vgl. Deut. 2:8-23)

10Die Israeliete het weggetrek en by Obot kamp opgeslaan. 11Daarvandaan het hulle versit en kamp opgeslaan by Ije-Abarim in die woestyn regoor Moab, aan die oostekant. 12Hulle het daarvandaan weggetrek en kamp opgeslaan in die Seredvallei.

13Daarvandaan het hulle weer versit en kamp opgeslaan langs die Arnonrivier wat uit die gebied van die Amoriete deur die woestyn loop. Die Arnon is die grens tussen Moab en die Amoriete. 14Daarom lees ons in die Boek van die Oorloë van die Here:

“By Waheb in Sufa en by die spruite, by die Arnon,

15teen die hange langs die spruite

wat strek tot by die gebied van Ar

en grens aan die gebied van Moab.”

16Daarvandaan het Israel verder getrek tot by Beër. Dit is die Beër waar die Here vir Moses gesê het: “Laat die volk bymekaarkom en Ek sal vir hulle water uit die put gee.”

17Israel het toe hierdie lied gesing:

“Put, lewer jou water,

en ons sal daarvan sing!

18Put wat deur leiers gegrawe is,

wat deur vernames van die volk oopgemaak is

met septer en kierie.”

Van die woestyn af is die Israeliete na Mattana toe, 19van Mattana af na Nagaliël toe, van Nagaliël af na Bamot toe, 20en van Bamot af na die vallei in die gebied van Moab, naby die top van Pisgaberg wat afkyk op die droë wêreld.

Oorwinnings oor Sihon en Og

(Vgl. Deut. 2:24 – 3:11)

21Die Israeliete het boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe met die versoek: 22“Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie afdraai na die lande of die wingerde toe nie, en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal net met die Koningspad langs trek totdat ons deur u gebied is.”

23Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het al sy manskappe opgeroep en Israel in die woestyn tegemoet getrek. Toe Sihon by Jahas kom, het hy Israel aangeval. 24Israel het hom egter verslaan en sy land beset van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die Ammoniete, wie se grens goed versterk was.

25Die Israeliete het al die stede van die Amoriete verower en daarin gaan woon, ook in Gesbon en al sy buitedorpe.

26Gesbon was die stad van koning Sihon van die Amoriete. Sihon het teen 'n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele gebied tot aan die Arnon van hom afgevat. 27Daarom sê die digters:

“Kom na Gesbon toe, bou dit weer op,

herstel die stad van Sihon.

28Daar het 'n vuur uit Gesbon uit gegaan,

'n vlam uit die stad van Sihon,

en dit het Ar-Moab verteer

wat die Arnonhoogtes beheer.

29Dis klaar met jou, Moab,

jy gaan tot niet, volk van Kemos!

Hy moes sy seuns as vlugtelinge prysgee,

sy dogters as gevangenes aan koning Sihon van die Amoriete!

30Maar nou het ons op hulle losgetrek:

Gesbon se gebied is verwoes tot by Dibon,

ons het hulle uitgeroei tot by Nofag,

tot by Medeba.”

31So het Israel dan in die land van die Amoriete gaan woon. 32Moses het manne gestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het Jaser en sy buitedorpe ingeneem en die Amoritiese inwoners verdryf. 33Hulle het toe weggedraai en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het hulle tegemoet getrek met sy hele leërmag en hulle by Edreï aangeval.

34Die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee hom met sy hele leër en sy land in jou mag oor. Doen met hom soos jy gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.”

35Die Israeliete het vir Og saam met sy seuns en sy hele leër verslaan. Nie een van sy mense het oorgebly nie. Die Israeliete het ook sy land in besit geneem.

Balak roep Bileam se hulp in

1Daarna het die Israeliete verder getrek en kamp opgeslaan in die Moabsvlakte teenoor Jerigo, oos van die Jordaan. 2Balak seun van Sippor het gehoor van alles wat Israel aan die Amoriete gedoen het. 3Die Moabiete het baie groot geskrik vir die Israeliete, want hulle was baie.

Die Moabiete het bang geword vir die Israeliete 4en het vir die leiers van Midian gesê: “Hierdie horde gaan alles rondom ons opvreet soos beeste die gras in die veld opvreet.” Balak seun van Sippor was destyds koning van Moab 5en hy het boodskappers gestuur om vir Bileam seun van Beor te laat haal. Hy was in Petor aan die Eufraat in die land Ammau.

Balak het hom laat weet: “'n Volk wat uit Egipte kom, het hier by my kom intrek. Die aarde is tóé onder hulle. 6Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my, want hulle is te sterk vir my. Miskien sal ek hulle dan kan verslaan en uit die land verdryf. Ek weet: wie jy seën, is geseën, en wie jy vervloek, is vervloek.”

7Die leiers van Moab en Midian het die beloning wat aan 'n waarsêer betaal moet word, saamgevat na Bileam toe en Balak se versoek aan hom oorgedra. 8Bileam sê toe vir hulle: “Bly vannag oor, dan sê ek môre vir julle wat die Here vir my sal sê.”

Die amptenare van Moab het toe by Bileam oornag.

9God het aan Bileam verskyn en gevra: “Wie is die manne hier by jou?” 10en hy het geantwoord: “Koning Balak van Moab, seun van Sippor, het hulle na my toe gestuur met die boodskap: 11Hier is 'n volk wat uit Egipte getrek het, en die aarde is tóé onder hulle. Kom asseblief en vervloek hulle vir my. Miskien sal ek dan teen hulle kan veg en hulle verdryf!”

12Maar God het vir Bileam gesê: “Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie, want hulle is geseën.”

13Die volgende môre het Bileam vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe, want die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.”

14Die amptenare van Moab is toe terug na Balak toe en het vir hom gesê: “Bileam weier om met ons saam te kom.”

15Balak het toe ander amptenare gestuur, méér en hoër in rang as die voriges. 16Hulle het by Bileam gekom en vir hom gesê: “Balak seun van Sippor sê: Moenie dat iets jou keer om na my toe te kom nie. 17Ek sal jou baie goed beloon en alles doen wat jy vir my sê. Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my.”

18Maar Bileam het vir die amptenare van Balak gesê: “Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, mag ek niks doen, klein of groot, teen die opdrag van die Here my God in nie. 19Maar bly julle ook 'n nag oor dat ek kan uitvind of die Here weer met my wil praat.”

20Daardie nag verskyn God toe aan Bileam en sê vir hom: “Die manne het nou gekom om jou te kom haal. Gaan saam met hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.”

21Bileam het toe die oggend sy donkie opgesaal en met die amptenare van Moab saamgegaan.

Die Engel van die Here

22God het kwaad geword toe Bileam gaan, en die Engel van die Here het vir Bileam in die pad voorgestaan om hom te keer. Bileam het op sy donkie gery, en twee van sy amptenare was by hom. 23Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand, het die donkie uit die pad gedraai en die veld in geloop. Toe Bileam die donkie slaan om hom in die pad terug te bring, 24gaan staan die Engel van die Here in 'n smal pad tussen die wingerde, met 'n muur aan weerskante. 25Toe die donkie die Engel van die Here gewaar, skuur die donkie teen die muur langs en druk Bileam se voet daarteen vas. Bileam slaan hom toe weer. 26Toe gaan die Engel van die Here verder en gaan staan in 'n nou plek waar daar nie kans was om na enige kant toe uit te draai nie. 27Die donkie het die Engel van die Here gesien en het onder Bileam gaan lê. Bileam het so kwaad geword dat hy die donkie met 'n stok geslaan het. 28Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?”

29Bileam antwoord toe: “Jy hou my vir die gek. As ek 'n swaard by my gehad het, het ek jou doodgemaak.”

30Toe sê die donkie vir Bileam: “Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?” en Bileam antwoord: “Nee!”

31Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.

32Die Engel van die Here vra hom toe: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op 'n gevaarlike pad. 33Die donkie het My gesien en drie keer vir My uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou al doodgemaak en hom laat leef.”

34Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek was verkeerd, ek het nie geweet dat U my in die pad voorstaan nie. As U nie wil hê ek moet voortgaan nie, draai ek om.”

35Toe sê die Engel van die Here vir Bileam: “Gaan saam met die manne, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”

Bileam is toe saam met Balak se amptenare.

Bileam kom by Balak aan

36Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy hom tegemoet gegaan by Ar-Moab aan die oewer van die Arnon, op die grens. 37Balak vra toe vir Bileam: “Ek het jou dringend laat roep, en waarom het jy toe nie na my toe gekom nie? Dink jy ek kan jou nie goed betaal nie?”

38Bileam het vir Balak geantwoord: “Ek het mos nou gekom. Maar laat ek net dit sê: Ek kan net sê wat God vir my voorsê.”

39Bileam is toe saam met Balak, en hulle het by Kirjat-Gusot aangekom. 40Balak het beeste en skape geslag en dit vir Bileam en die amptenare wat saam met hom was, laat bring. 41Die volgende môre het Balak vir Bileam teen Bamot-Baäl laat uitklim. Daarvandaan kon Bileam die volk Israel van die kant af sien.

Bileam se eerste uitspraak

1Bileam het vir Balak gesê: “Bou hier vir my sewe altare en maak sewe bulle en sewe ramme gereed vir offers.”

2Balak het gedoen wat Bileam gesê het, en hy en Bileam het toe op elkeen van die altare 'n bul en 'n ram geoffer. 3Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer terwyl ek eenkant toe gaan. Miskien sal die Here Hom aan my openbaar, en wat Hy ook al aan my bekend maak, sal ek vir jou sê.”

Bileam het na 'n kaal hoogte toe gestap, 4en daar het God Hom aan Bileam geopenbaar.

Bileam het toe gesê: “Ek het sewe altare laat bou en op elke altaar 'n bul en 'n ram geoffer.”

5Die Here het vir Bileam gesê wat hy moet sê en hom beveel: “Gaan na Balak toe terug en sê dit vir hom.”

6Bileam het by Balak gekom waar hy en al die amptenare van Moab by die brandoffer staan.

7Toe kom Bileam met hierdie uitspraak:

“Uit Aram het Balak my laat kom,

die koning van Moab het my laat kom

uit die berge in die ooste.

‘Kom,’ het hy gesê, ‘vervloek Jakob vir my;

kom, kondig 'n ramp aan oor Israel.’

8Maar hoe kan ek hóm vervloek

vir wie God nie vervloek nie,

hoe kan ek 'n ramp oor hóm aankondig

as die Here dit nie aangekondig het nie?

9“Hier van die hoë rotse af sien ek vir Israel,

van die hoogtes af kyk ek na hom!

Ek sien 'n volk wat op sy eie woon

en hom van die nasies afsonder.

10Wie kan die stof tel, wie vir Jakob,

wie kan selfs een kwart van Israel se getal bereken?

Mag ek ook eendag as opregte sterwe,

mag my einde soos hierdie volk s'n wees.”

11Toe sê Balak vir Bileam: “Wat het jy my nou aangedoen? Ek laat jou kom om my vyande te vervloek, en jy kom seën hulle!”

12Bileam het geantwoord: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het.”

Bileam se tweede uitspraak

13Toe sê Balak vir Bileam: “Kom saam met my na 'n ander plek toe. Van daar af sal jy net 'n deel van hulle kan sien, nie almal nie. Vervloek hulle vir my van daar af!”

14Balak vat hom toe na 'n uitkykpos op die top van Pisgaberg. Daar bou hy sewe altare en offer op elke altaar 'n bul en 'n ram.

15Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer, terwyl ek eenkant toe gaan om van God 'n openbaring te vra.”

16Die Here het Hom aan Bileam geopenbaar, hom gesê wat om te sê en hom beveel: “Gaan na Balak toe terug en sê dit vir hom.”

17Bileam het toe by Balak gekom waar hy en die amptenare van Moab by die brandoffer staan. Balak vra hom toe: “Wat het die Here gesê?”

18Toe kom Bileam met hierdie uitspraak:

“Kom luister, Balak,

hoor wat ek sê, seun van Sippor.

19God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie,

'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.

Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,

iets belowe en dit nie uitvoer nie?

20Ek het die opdrag om te seën:

Hý het geseën, en ék kan niks daaraan verander nie.

21Jy sal nie vind dat 'n ramp vir Jakob tref nie,

jy sal Israel nie sien swaarkry nie:

die Here hulle God is by hulle;

oor Hom, hulle koning, jubel hulle.

22God het hulle uit Egipte laat trek,

sy krag is vir hulle soos die horings van 'n buffel.

23Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie,

geen waarsêery iets teen Israel nie.

Nou word daar oor Jakob, oor Israel gesê:

‘Wat het God nie alles gedoen nie!’

24Dit is 'n volk wat soos 'n leeumannetjie opstaan,

wat hom uitrek soos 'n leeu,

en nie weer gaan lê voordat hy sy prooi verskeur het

en sy slagoffers se bloed gedrink het nie.”

25Toe sê Balak vir Bileam: “As jy hulle nie kan vervloek nie, moet jy hulle ook nie seën nie!”

26Bileam het geantwoord: “Ek het jou mos gesê ek sal net doen wat die Here vir my sê.”

Bileam se derde uitspraak

27Toe sê Balak vir Bileam: “Kom ek vat jou na 'n ander plek toe. Miskien vind God dit tog goed dat jy die volk daarvandaan vir my vervloek.”

28Balak vat toe vir Bileam na die top van Peor toe wat afkyk op die droë wêreld. 29Bileam het vir hom gesê: “Bou hier vir my sewe altare en maak vir my sewe bulle en sewe ramme gereed vir offers.”

30Balak het gedoen wat Bileam gesê het en op elke altaar 'n bul en 'n ram geoffer.

Verregaande onsedelikheid en oproep om tug toe te pas

1'n Mens hoor werklik van onsedelikheid onder julle, en dan nogal onsedelikheid van so 'n aard as wat selfs onder die heidene nie voorkom nie, naamlik dat 'n man en sy stiefma as man en vrou saamleef. 2En dan verbeel julle julle nog julle is beter as ander. Moes julle nie liewer daaroor getreur het nie? So sou julle die man wat so iets gedoen het, uit julle kring verwyder het. 3-4Wat my betref, al was ek nie persoonlik by julle nie, was ek tog in die gees daar. Asof ek werklik daar was, het ek oor die man wat so iets gedoen het, reeds in die Naam van ons Here Jesus tot 'n besluit gekom. Julle daar, en ek in die gees teenwoordig, saam met die krag van ons Here Jesus, het vergader om hierdie man aan die Satan oor te gee. 5So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom.

6Julle selfverheffing is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? 7Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

9In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. 10Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. 11Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

12-13Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

1 KORINTIËRS 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hofsake tussen gelowiges

1Gaan iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? 2Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake? 3Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge. 4As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien? 5Ek sê dit om julle skaam te maak. Is daar dan nie 'n enkele verstandige mens onder julle wat 'n saak tussen gelowiges kan besleg nie? 6Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige regters?

7Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? 8In plaas daarvan pleeg julle onreg en doen ander te kort, en dit doen julle aan medegelowiges.

9Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Verheerlik God in julle liggame

12Daar is mense wat sê:

“Alles is my geoorloof.”

Ja, maar nie alles is heilsaam nie.

“Alles is my geoorloof,” sê hulle.

Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets

laat verslaaf nie.

13Hulle sê ook:

“Kos is vir die maag,

en die maag vir kos.”

Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. 'n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.

15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou 'n deel van Christus neem en dit 'n deel van 'n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met 'n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” 17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.

18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

1 KORINTIËRS 6AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS