Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 38

NUMERI 16–19, 1 KORINTIËRS 3–4

Bybelteks(te)

Opstand van Korag, Datan en Abiram

1Korag seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saam met die Rubeniete Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On seun van Pelet 2teen Moses in opstand gekom. Saam met hulle was twee honderd en vyftig Israelitiese mans, leiers van die gemeenskap wat deur die volksvergadering aangewys is, manne van aansien. 3Hulle het as 'n groep teen Moses en Aäron saamgekom en vir hulle gesê: “Dit is nou genoeg. Die hele gemeente, elke lid daarvan, is gewyd, en die Here is by hulle. Waarom verhef julle julle dan bo die gemeente van die Here?”

4Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. 5Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom. 6Korag, jy en almal by jou moet dít doen: vat môre vir julle vuurpanne, 7sit vuur daarin, plaas wierook daarop en bring dit altaar toe. Die man vir wie die Here verkies, is die gewyde. Julle Leviete matig julle te veel aan!”

8Verder het Moses vir Korag-hulle gesê: “Luister, Leviete! 9Is julle nie daarmee tevrede dat die God van Israel júlle uit die gemeente van Israel afgesonder het om in die heiligdom diens te doen en om die dienswerk in die tabernakel van die Here te verrig in belang van die gemeente vir wie julle bedien nie? 10Hy het jóú, Korag, en al jou Levitiese ampsgenote saam met jou laat diens doen in die heiligdom, maar nou wil julle ook nog die priesterskap inpalm! 11Dat julle julle teen Aäron verset, is niks nie, maar jy en jou hele bende het 'n komplot teen die Here gesmee.”

12Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie. 13Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel! 14Bowendien het jy ons nie gebring na 'n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!”

15Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie 'n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.”

16Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron. 17Elkeen moet wierook in 'n vuurpan sit en dit na die altaar toe bring, elkeen van die twee honderd en vyftig man met sy eie vuurpan, en ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.” 18Almal het toe hulle vuurpanne gevat, vuur daarin gesit en wierook daarop geplaas, en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron.

19Net toe Korag die hele gemeente teenoor Moses-hulle by die ingang van die tent van ontmoeting laat saamkom, word die magtige teenwoordigheid van die Here vir die hele gemeente sigbaar. 20Die Here sê toe vir Moses en Aäron: 21“Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.”

22Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?”

23Toe sê die Here vir Moses: 24“Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!”

25Daarna het Moses na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het hom gevolg. 26Hy sê toe vir die gemeente: “Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie.”

27Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan. 28Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie. 29As hierdie manne 'n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie! 30Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.”

31Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop 32en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings. 33Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn.

34Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in! 35Toe het die Here 'n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer.

Die vuurpanne

36Daarna het die Here vir Moses beveel: 37“Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy. 38Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.”

39Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek. 40Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie 'n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so 'n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.

41Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!”

42Toe die gemeente teen Moses en Aäron bymekaarkom en na die tent van ontmoeting toe draai, het die wolk die tent bedek en het die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar geword. 43Moses en Aäron het toe na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gegaan, 44en die Here het vir Moses gesê: 45“Gee pad tussen die gemeente uit dat Ek hulle in 'n oogwink kan verdelg.”

Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid.

46Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n vuurpan, sit vuur van die altaar af daarin en plaas wierook daarop en gaan gou na die gemeente toe en doen vir hulle versoening. Die toorn van die Here het reeds ontvlam en Hy het hulle met 'n plaag begin straf.”

47Aäron het gedoen soos Moses gesê het en tussen die gemeente in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder die volk begin woed, maar Aäron het die wierook geoffer en vir die volk versoening gedoen. 48Hy het gaan staan tussen dié wat al dood was en dié wat nog geleef het, en die plaag het opgehou. 49Daar het veertien duisend sewe honderd deur die plaag omgekom, afgesien van dié wat deur Korag se toedoen gesterf het. 50Aäron is toe terug na Moses toe by die ingang van die tent van ontmoeting. Die plaag was verby.

Aäron se kierie

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Vra vir die Israeliete twaalf kieries, een vir die leier van elkeen van die twaalf stamme. Skryf die naam van elke leier op sy kierie. 3Op Levi se kierie moet jy Aäron se naam skryf. Daar moet net een kierie vir elke stam wees. 4Sit die kieries dan voor die getuienis in die tent van ontmoeting, waar Ek julle ontmoet. 5Die kierie van die man wat Ek uitkies, sal bot, en so sal Ek 'n einde maak aan die Israeliete se aanhoudende verset teen julle.”

6Moses het toe met die Israeliete gepraat, en hulle leiers het vir hom twaalf kieries gegee, een vir die leier van elkeen van die twaalf stamme. Aäron se kierie was ook onder hulle. 7Moses het toe die kieries neergesit in die tent met die getuienis, in die teenwoordigheid van die Here.

8Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra. 9Moses het toe al die kieries wat in die heiligdom was, na Israel toe uitgebring, en hulle het dit gesien, en elke leier het sy eie kierie gevat. 10Die Here sê toe vir Moses: “Sit Aäron se kierie terug voor die getuienis, en bêre dit as teken vir die opstandiges. So moet jy 'n einde maak aan hulle verset teen My, sodat hulle nie sterwe nie.”

11Moses het gedoen presies soos die Here hom beveel het. 12Die Israeliete het toe vir Moses gesê: “Dit is klaar met ons! Ons gaan tot niet, ons gaan almal tot niet! 13Elkeen wat maar net naby die tabernakel van die Here kom, sal sterwe. Is dit dan heeltemal klaar met ons?”

Die ampspligte van priesters en Leviete

1Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns, en jou stam saam met jou, word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die heiligdom, maar net jy en jou seuns word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die priesteramp wat deur julle beklee word. 2Jy moet jou Levitiese ampsgenote uit jou stam na jou toe laat kom dat hulle by jou kan aansluit en jou kan help. Jy en jou seuns moet die ampspligte by die tent met die getuienis verrig. 3Die Leviete is tot jou beskikking vir al die diens by die tent. Hulle mag egter nie die offergereedskap hanteer om op die altaar te offer nie, want dan sal hulle en julle sterf. 4Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie. 5Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie. 6Ek het julle Levitiese ampsgenote uit die Israeliete afgesonder as my geskenk aan julle. Hulle behoort aan My vir die werk by die tent van ontmoeting. 7Maar net jý en jou seuns mag as priesters diens doen en al die werk by die altaar en agter die voorhangsel verrig. Dat julle die priesterskap mag beklee, is 'n geskenk van My aan julle. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.”

Voorsiening in die onderhoud van priesters en Leviete

8Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om toesig te hou oor die offergawes wat vir My gebring word. Ek gee aan jou en jou seuns 'n deel van al die gewyde gawes wat deur die Israeliete gebring word. Dit is 'n vaste instelling. 9Die deel van die besondere gewyde gawes wat nie verbrand word nie, kom jou toe. Dit geld van al die offergawes wat die Israeliete vir My bring as besondere gewyde gawes, of dit graanoffers, sondeoffers of skuldoffers is. Dit behoort aan jou en jou seuns. 10Wanneer jy dit eet, moet jy onthou dat dit besondere gewyde gawes is. Elke manspersoon uit jou familie mag dit eet. Dit moet ook vir jóú gewyde gawes wees.

11“Verder behoort elke offergawe wat die Israeliete as beweegoffer bring, aan jou. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters. Dit is 'n vaste instelling. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

12“Ek gee ook aan jou die beste van al die olie, die wyn en die koring wat deur die Israeliete uit hulle eerste opbrengs vir die Here gebring word. 13Die eerste van alles wat hulle land oplewer en wat hulle vir die Here bring, is joune. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet. 14Alles wat in Israel as banoffer aan die Here gewy word, is joune. 15Elke eersgeborene van mens of dier wat vir die Here gebring word, is joune. Maar elke eersgebore seun en elke eersteling van 'n onrein dier moet jy loskoop. 16Wat die loskoping betref, jy moet hulle loskoop as hulle 'n maand oud is, elkeen teen die vasgestelde prys van vyf en vyftig gram silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom. 17Maar die eerstelinge van beeste, skape en bokke moet jy nie loskoop nie, hulle is aan My gewy. Jy moet hulle bloed teen die altaar sprinkel en hulle vet as 'n vuuroffer verbrand, 'n offer wat vir My, die Here, aanvaarbaar is. 18Die vleis van hierdie offerdiere is joune net soos die bors en die regterboud van die beweegoffer joune is. 19Aan jou, jou seuns en jou dogters gee Ek al die gewyde gawes wat deur die Israeliete vir My as offergawes gebring word. Dit is 'n vaste instelling. Dit is my onverbreekbare verbond met jou en jou nageslag.”

20Die Here het vir Aäron gesê: “Jy ontvang nie 'n deel van die Israeliete se land as besitting nie, jy kry nie 'n deel saam met hulle nie. Jou deel en jou besitting onder die Israeliete ontvang jy uit wat My toekom.

21“Vir die dienswerk wat die Leviete in die tent van ontmoeting verrig, gee Ek aan hulle as hulle besitting al die tiendes wat die Israeliete as offergawes bring. 22Die Israeliete mag nie weer naby die tent van ontmoeting diens probeer doen nie, want dan sondig hulle en sal hulle sterwe. 23Die Leviete moet die diens by die tent van ontmoeting behartig, en húlle is aanspreeklik vir hulle eie oortredinge. Dit is 'n vaste instelling, ook vir julle nageslag. Die Leviete kry nie 'n deel van die land saam met die Israeliete nie. 24Ek gee aan die Leviete as hulle besitting die tiendes wat die Israeliete as offergawe aan die Here bring. Dit is waarom Ek vir hulle gesê het dat hulle nie 'n deel van die land saam met die Israeliete kry nie.”

25Die Here het verder vir Moses gesê: 26“Sê vir die Leviete: As julle die tiende wat Ek vir julle as besitting gee, van die Israeliete ontvang, moet julle 'n tiende daarvan as 'n offergawe aan die Here bring. 27Julle offergawe sal beskou word asof dit koring is wat van die dorsvloer af kom en asof dit uit die volle opbrengs van die parskuip kom. 28So moet ook julle van al die tiendes wat julle van die Israeliete ontvang, 'n offergawe aan die Here bring. Wat die Here daarvan toekom as offergawe, moet julle aan die priester Aäron gee. 29Van alles wat aan julle gegee word, moet julle die beste en die mees gewyde deel as offergawe aan die Here bring. 30Jy moet vir die Leviete sê: As julle die beste daarvan as offergawe bring, sal dit vir julle beskou word as julle deel van die opbrengs van die dorsvloer en die parskuip. 31Julle en julle gesinne mag op enige plek daarvan eet. Dit is die beloning vir julle dienswerk by die tent van ontmoeting. 32Deur die beste daarvan te bring, sal julle nie in hierdie saak oortree nie. Maar julle mag nie die gewyde gawes van die Israeliete ontwy nie, want dan sal julle sterwe.”

Die reinigingswater

1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Ek gee ook hierdie voorskrif vir julle: Sê vir die Israeliete hulle moet vir jou 'n rooi koei bring. Die koei moet sonder liggaamsgebrek of letsel wees en sy mag ook nie in 'n juk getrek het nie. 3Gee haar vir die priester Eleasar, en hy moet haar buitekant die kamp laat uitbring en voor hom laat slag. 4Hy moet dan van die koei se bloed op sy vinger neem en dit sewe keer in die rigting van die ingang van die tent van ontmoeting sprinkel. 5Die koei moet dan in Eleasar se teenwoordigheid verbrand word. Hulle moet haar vel, vleis en bloed saam met haar pensmis verbrand. 6Die priester moet sederhout, hisop en bloedrooi wolstof op die koei gooi wat verbrand word. 7Dan moet hy sy klere was en hom bad. Daarna mag hy in die kamp kom, maar hy sal die res van die dag onrein wees. 8Die persoon wat die koei verbrand, moet self ook sy klere was en hom bad, en hy sal ook die res van die dag onrein wees. 9'n Rein persoon moet die as van die koei bymekaarmaak en dit buitekant die kamp op 'n rein plek bêre. Die as is tot beskikking van die gemeente van Israel om in reinigingswater te gebruik. Die koei is 'n sondeoffer. 10Die man wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was en hy sal die res van die dag onrein wees.

“Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete en vir die vreemdelinge wat by hulle woon.

11“Iemand wat aan die lyk van 'n mens raak, sal sewe dae lank onrein wees. 12Hy moet hom op die derde en die sewende dag met die reinigingswater reinig, dan sal hy rein wees. As hy hom nie op die derde en die sewende dag reinig nie, bly hy onrein. 13Elkeen wat aan die lyk van 'n mens raak en homself nie reinig nie, verontreinig die tabernakel van die Here. So 'n persoon moet van Israel afgesny word. Omdat die reinigingswater nie op hom gesprinkel is nie, is hy onrein, en bly sy onreinheid op hom.

14“Wanneer iemand in 'n tent sterf, is dít die voorskrif: Elkeen wat in die tent kom, en alles wat daarin is, sal sewe dae lank onrein wees. 15Ook elke gebruiksvoorwerp wat nie met 'n deksel toegemaak is nie, sal onrein wees. 16Enigiemand wat in die veld aan 'n persoon raak wat doodgemaak is, of aan iemand wat gewoon gesterf het, of aan 'n mensbeen of aan 'n graf, sal sewe dae lank onrein wees.

17“Wanneer 'n persoon op hierdie manier onrein geword het, moet iemand van die as vat van die sondeoffer wat verbrand is, dit in 'n pot sit en vars water daaroor gooi. 18Dan moet iemand wat rein is, 'n hisoptakkie in die water doop en die water sprinkel oor die tent, oor al die gebruiksvoorwerpe en oor die mense wat by was. Dieselfde moet gebeur met iemand wat aan doodsbene geraak het of aan die lyk van iemand wat doodgemaak is of aan iemand wat gewoon gesterf het of aan 'n graf. 19'n Rein persoon moet op die derde en die sewende dag die water oor die onreine sprinkel, en op die sewende dag moet die onreine homself reinig. Daarna moet hy sy klere was en hom bad, dan sal hy teen die aand rein wees. 20As iemand onrein is en hy hom nie reinig nie, moet hy van die gemeente afgesny word. Hy het die heiligdom van die Here ontwy, die reinigingswater is nie oor hom gesprinkel nie en daarom bly hy onrein.

21“Dit is vir julle 'n vaste instelling.

“Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet self ook sy klere was, en enigeen wat aan die reinigingswater raak, sal die res van die dag onrein wees. 22Enigiets waaraan 'n onrein persoon raak, sal onrein wees, en enigiemand wat aan hom raak, sal die res van die dag onrein wees.”

Die oorsaak van die verdeeldheid

1Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. 2Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 3want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? 4As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. 8Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Die gelowiges as die gebou van God

Julle is ook die gebou van God. 10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. 12Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

16Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

18Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, 19want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:

“Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne,”

20en op 'n ander plek:

“Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks.”

21Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle: 22of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, 23maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.

1 KORINTIËRS 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die bediening van die apostels

1So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. 2Van 'n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. 3Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. 4Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. 5Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, 'n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.

6In hierdie uiteensetting, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik om julle te leer wat die gesegde beteken: “Hou jou binne die perke wat God gestel het.” Dan sal niemand hom belangriker as 'n ander beskou oor sy leermeester nie. 7Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? 8Julle het mos klaar alles wat julle begeer! Julle is al klaar ryk! Julle regeer al klaar soos konings! Ons nog nie. As julle tog maar werklik konings was, sodat ons saam met julle kon regeer.

9Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense.

10Ons is dwaas ter wille van Christus, julle is verstandig in Christus;

ons is swak, julle is sterk;

julle geniet aansien, ons word verag.

11Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors,

ons is armoedig aangetrek en word mishandel.

Ons swerf rond

12en werk hard met ons eie hande.

Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense;

ons word vervolg, en ons verdra dit;

13ons word beledig, en ons bly vriendelik.

Ons het die uitvaagsels van die wêreld,

die skuim van die samelewing geword,

en dit is nou nog so.

14Hierdie dinge skryf ek nie om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys, 15want al sou julle ook duisende leermeesters in Christus hê, baie vaders het julle nie. Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader. 16Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld! 17Om hierdie rede het ek Timoteus, my geliefde en getroue seun in die Here, na julle toe gestuur. Hy sal julle herinner aan my lewe en leer in Christus Jesus, waarin ek ook oral in elke gemeente onderrig gee.

18Party van julle het gedink ek kom nie weer na julle toe nie en het hulle toe begin aanmatig. 19Maar binnekort sal ek na julle toe kom, as die Here wil, en dan sal ek self die verwaandes leer ken, nie volgens hulle praatjies nie, maar volgens wat hulle kan doen. 20Die koninkryk van God is immers nie 'n saak van praatjies nie, maar van krag. 21Wat verkies julle? Moet ek met 'n slaanding na julle toe kom, of in liefde en in 'n gees van vriendelikheid?

1 KORINTIËRS 4AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS