Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 40

NUMERI 24–27, 1 KORINTIËRS 7–8

Bybelteks(te)

1Bileam het nou al geweet dat die Here vir Israel wil seën, en daarom het hy nie soos die vorige kere 'n voorteken gaan soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai 2en toe hy opkyk en die stamme van Israel langs mekaar sien woon, het die Gees van God oor hom gekom, 3en toe kom Bileam met hierdie uitspraak:

“Die openbaring aan Bileam seun van Beor,

die openbaring aan 'n man wie se oë geopen is,

4die openbaring aan een wat die woorde van God hoor,

wat sien wat die Almagtige hom laat sien,

wat in gebed neerval, en sy oë word geopen:

5Hoe mooi is jou tente, Jakob,

jou wonings, Israel!

6Hulle lyk soos uitgestrekte valleie,

soos tuine aan 'n rivier,

soos aalwyne wat deur die Here geplant is,

soos sederbome by die water.

7Israel se waterkruike loop oor,

hy saai waar oorvloed water is.

Sy koning is sterker as Agag

en sy koninkryk groei steeds.

8God het hulle uit Egipte laat trek,

sy krag is vir hulle soos die horings van 'n buffel.

Israel vernietig die nasies wat hom teëstaan,

hy breek hulle bene stukkend,

hy deurboor hulle met pyle.

9Hy buig sy knieë en gaan lê soos 'n leeu,

soos 'n leeumannetjie; wie sal hom opjaag?

Geseën is hulle wat jou seën,

vervloek is hulle wat jou vervloek.”

10Balak was toe baie kwaad vir Bileam. Hy het sy hande afwerend voor hom gehou en vir Bileam gesê: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, en jy het hulle nou al drie keer geseën. 11Maak dat jy wegkom na jou eie plek toe. Ek het belowe om jou goed te betaal, maar die Here het gekeer dat jy betaal word.”

12Bileam sê toe vir Balak: “Ek het mos al vir die boodskappers wat jy na my toe gestuur het, gesê: 13‘Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer of goud, mag ek niks doen, goed of kwaad, teen die opdrag van die Here in nie. Ek kan net sê wat die Here vir my voorsê.’ 14Ek gaan terug na my mense toe, maar ek wil eers vir jou sê wat hierdie volk in die toekoms aan jou volk sal doen.”

Bileam se vierde uitspraak

15Bileam het toe met hierdie uitspraak gekom:

“Die openbaring aan Bileam seun van Beor,

die openbaring aan 'n man wie se oë geopen is,

16die openbaring aan een wat die woorde van God hoor,

wat sy kennis ontvang het van die Allerhoogste,

wat in gebed neerval, en sy oë word geopen:

17Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie,

ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie,

daar kom 'n ster uit Jakob,

daar staan 'n heerser in Israel op.

Hy verpletter die voorkop van Moab,

hy vernietig al die opstandiges.

18Edom sal verower word,

Seïr, die vyand van Israel, sal ingeneem word,

maar Israel sal al sterker word.

19Een uit Jakob sal heers

en hy sal dié vernietig

wat uit Edom se hoofstad wegvlug.”

Ander uitsprake van Bileam

20Bileam het ook vir Amalek gesien en met hierdie uitspraak gekom:

“Amalek is die eerste onder die nasies,

maar ondergang wag hom in.”

21Bileam het ook die Keniete gesien en met hierdie uitspraak gekom:

“Jou woonplek is stewig,

jou nes is op 'n rots gebou,

22maar tog sal Kain uitgewis word,

die Assiriërs sal jou as gevangene wegvoer.”

23Bileam het ook met hierdie uitspraak gekom:

“Wie kan in die lewe bly as God dit nie so bepaal nie?

24Daar kom skepe van die Kittiërs se kuste af,

hulle verslaan die Assiriërs en die Hebreërs,

maar hulle sal self ook vernietig word.”

25Daarna het Bileam huis toe teruggegaan, en ook Balak het sy koers gekry.

Afgodsdiens by Sittim

1Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad. 2Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid. 3So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam 4en Hy het vir Moses gesê: “Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie.”

5Moses het toe vir die stamhoofde van Israel gesê: “Julle moet elkeen julle eie manne wat vir Baäl-Peor aangehang het, doodmaak.”

6Onder dit alles het 'n Israelitiese man tog nog 'n Midianitiese vrou tussen sy familie in gebring. Hy het dit gedoen voor die oë van Moses en die hele gemeente van Israel wat by die ingang van die tent van ontmoeting gestaan en huil het. 7Toe Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, sien wat die man doen, het hy uit die gemeente opgestaan, 'n spies gevat 8en die man na die vrouetent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur die man tot in die onderlyf van die vrou. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot 'n einde gekom; 9daar het vier en twintig duisend deur die ramp gesterf.

10Die Here het toe vir Moses gesê: 11“Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.

12“Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek 'n verbond met hom sluit wat hom vir altyd ten goede sal kom. 13Hierdie verbond verseker vir hom en vir sy nageslag 'n blywende priesterskap omdat hy vir die eer van sy God opgekom het en vir die Israeliete versoening gedoen het.”

14Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, was Simri seun van Salu, 'n vooraanstaande man uit die stam Simeon. 15Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, was Kosbi dogter van Sur, 'n stamhoof van Midian.

16Die Here het vir Moses gesê: 17“Julle moet die Midianiete as julle vyande beskou en hulle doodmaak 18omdat hulle vyandig opgetree het teen julle. Hulle het julle verlei deur julle in die strik te laat trap van Baäl-Peor en van hulle landgenoot Kosbi, 'n Midianitiese stamhoof se dogter wat doodgemaak is toe die ramp julle oor Peor getref het.”

Tweede sensusopname

1Ná die ramp het die Here vir Moses en vir Eleasar seun van die priester Aäron gesê: 2“Neem 'n sensus op van die hele volk Israel, van elke Israeliet van twintig jaar en ouer wat vir militêre diens geskik is. Julle moet dit familiegewys doen.”

3Moses en die priester Eleasar het toe in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan die opname gemaak 4van almal van twintig jaar en ouer soos die Here vir Moses beveel het.

Hier volg die opgawe van die Israelitiese families wat uit Egipte gekom het:

5Ruben, oudste seun van Israel: die Rubenfamilies was dié van Ganok, 6Gesron en Karmi. 7Die Rubenfamilies was altesaam 43 730 man.

8Pallu se seun was Eliab, 9en sy seuns was Nemuel, Datan en Abiram. Dit was dié Datan en Abiram wat as leiers deur die vergadering verkies was, maar teen Moses en Aäron in opstand gekom het toe die bende van Korag teen die Here in opstand gekom het. 10Die grond het oopgeskeur en hulle ingesluk saam met Korag wie se bende omgekom het toe die vuur twee honderd en vyftig man verteer het. Dit was 'n waarskuwing vir Israel. 11Die seuns van Korag het egter nie gesterf nie.

12Die Simeonfamilies was dié van Jemuel, Jamin, Jakin, 13Serag en Saul. 14Die Simeonfamilies was altesaam 22 200 man.

15Die Gadfamilies was dié van Sifjon, Gaggi, Suni, 16Osni, Eri, 17Arod en Areli. 18Die Gadfamilies was altesaam 40 500 man.

19Er en Onan was seuns van Juda, maar hulle is vroeër al in Kanaän oorlede. 20Die Judafamilies was dié van Sela, Peres en Serag. 21Die Peresfamilies was dié van Gesron en Gamul. 22Die Judafamilies was altesaam 76 500 man.

23Die Issaskarfamilies was dié van Tola, Puwwa, 24Jasub en Simron. 25Die Issaskarfamilies was altesaam 64 300 man.

26Die Sebulonfamilies was dié van Sered, Elon en Jagleël. 27Die Sebulonfamilies was altesaam 60 500 man.

28Die Joseffamilies was dié van Manasse en Efraim. 29Makir, voorvader van Gilead, was uit die Manassefamilie. 30Die Gileadfamilie was dié van Iëser, Gelek, 31Asriël, Sekem, 32Semida, Gefer 33en Selofgad. Selofgad seun van Gefer het nie seuns gehad nie, net dogters. Sy dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. 34Die Manassefamilies was altesaam 52 700 man. 35Die Efraimfamilies was dié van Sutelag, Beker en Tagan. 36Eran was uit die Sutelagfamilie. 37Die Efraimfamilies was altesaam 32 500 man. Dit was al die Joseffamilies.

38Die Benjaminfamilies was dié van Bela, Asbel, Agiram, 39Sefufam en Gufam. 40Die Belafamilies was dié van Ard en Naäman. 41Die Benjaminfamilies was altesaam 45 600 man.

42Die Danfamilie was dié van Sugam en sy nageslag. Dit was die enigste Danfamilie. 43Die Sugamfamilie was altesaam 64 400 man.

44Die Aserfamilies was dié van Jimna, Jiswi en Beria. 45Die Beriafamilies was dié van Geber en Malkiël. 46Aser het ook 'n dogter gehad, Serag. 47Die Aserfamilies was altesaam 53 400 man.

48Die Naftalifamilies was dié van Jagseël, Guni, 49Jeser en Sillem. 50Die Naftalifamilies was altesaam 45 400 man.

51Die Israeliete was altesaam 601 730 man.

52Daarna het die Here vir Moses gesê: 53“Verdeel nou die land tussen die families en gee aan elkeen 'n eiendom volgens sy grootte: 54aan 'n groot familie 'n groot eiendom en aan 'n klein familie 'n kleiner eiendom. Elkeen moet sy eiendom ontvang ooreenkomstig sy getal. 55Die land moet verdeel word deur te loot. Elke stam moet 'n eiendom ontvang. 56Bepaal vir elkeen sy eiendom deur loting tussen die groter en die kleiner stamme.”

57Die Levifamilies wat getel is, was dié van Gerson, Kehat en Merari 58en ook dié van Libni, Hebron, Magli, Musi en Korag. Kehat was die voorvader van Amram, 59en Amram se vrou was Jogebed, ook uit die nageslag van Levi. Sy is in Egipte gebore en haar en Amram se kinders was Aäron en Moses en hulle suster Mirjam. 60Aäron was die vader van Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. 61Nadab en Abihu is dood toe hulle ongeoorloofde vuur na die altaar toe gebring het.

62Die Leviete van 'n maand en ouer was altesaam 23 000 man. Hulle is nie saam met die ander Israeliete getel nie, want hulle het nie self eiendom onder die Israeliete gekry nie.

63Al hierdie mense is getel deur Moses en die priester Eleasar in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan. 64Onder hulle was daar egter niemand van die Israeliete wat deur Moses en die priester Aäron in die Sinaiwoestyn getel is nie. 65Die Here het destyds vir daardie Israeliete gesê dat hulle beslis in die woestyn sou sterf. Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.

Die dogters van Selofgad

1Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom. Hulle het aan die Manassestam behoort. Selofgad was 'n seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, seun van Josef. Die dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

2Hulle het voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan en gesê: 3“Ons pa is in die woestyn dood. Hy was nie een van Korag se bende wat teen die Here saamgesweer het nie. Hy het deur sy eie sondes gesterf en geen seuns gehad nie. 4Waarom moet ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons grond tussen dié van sy familie.”

5Moses het hulle saak voor die Here gebring, 6en die Here het vir hom gesê: 7“Selofgad se dogters het gelyk. Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond tussen dié van hulle pa se familie gee. Gee vir hulle die grond wat hulle pa sou gekry het.

8“Sê vir die Israeliete: As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy grond aan sy dogter gee. 9As hy ook nie 'n dogter het nie, gee sy grond vir sy broers. 10As hy nie broers het nie, gee dit vir sy ooms aan vaderskant. 11En as sy pa nie broers gehad het nie, moet julle sy grond vir die naaste bloedverwant uit sy familie gee, dat dié dit kan besit.”

Dit moet vir die Israeliete 'n bindende voorskrif bly soos die Here vir Moses beveel het.

Josua aangewys as Moses se opvolger

12Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen Abarimberg uit en bekyk die land wat Ek aan die Israeliete gee. 13Nadat jy dit bekyk het, sal jy sterwe net soos jou broer Aäron, 14want toe die volk by Meriba in die Sinwoestyn teen My in opstand gekom het, het julle julle teen my bevel verset en My, die Heilige, nie voor die volk gehoorsaam nie.”

Dit het gebeur by die Meribawaters by Kades in die Sinwoestyn.

15Moses sê toe vir die Here: 16“Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel 17wat vir hulle 'n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

18Toe sê die Here vir Moses: “Neem vir Josua seun van Nun, 'n man op wie my Gees is, en lê hom die hande op. 19Laat hom voor die priester Eleasar en voor die hele volk staan en sê vir hom in hulle teenwoordigheid wat sy taak is. 20Dra van jou gesag aan hom oor sodat die hele volk Israel hom kan gehoorsaam. 21Maar hy moet altyd die priester Eleasar raadpleeg dat dié vir hom met die urim die beslissing van die Here vra. Alleen op Eleasar se bevel sal Josua en die hele volk Israel vir oorlog optrek en van die oorlog af terugkom.”

22Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het Josua voor die priester en die hele volk laat staan, 23hom die hande opgelê en vir hom gesê wat sy taak is soos die Here deur Moses beveel het.

Raad oor die huwelik

1Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het.

Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe, 2maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. 3Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. 4Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. 5Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.

6Dit sê ek as 'n tegemoetkoming, nie as 'n bevel nie. 7Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders.

8Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. 9Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.

10Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. 11As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie.

12Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. 13En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. 14Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. 15As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe. 16Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?

17Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor. 18As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand 'n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. 19Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou. 20In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. 21As jy 'n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik. 22'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus. 23Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie. 24Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

Die ongetroudes en weduwees

25Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is: 27as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie. 28Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar. 29Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; 30en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. 31Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan. 32Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. 33Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, 34en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag.

35Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here.

36As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. 37Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy 'n goeie ding. 38Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter.

39'n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met 'n gelowige is. 40Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

1 KORINTIËRS 7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is

1En nou julle vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is.

Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. 2As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat 'n mens behoort te hê nie. 3Maar as iemand God liefhet, ken God hom.

4Wat nou betref die eet van vleis wat aan 'n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. 5En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, 6is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

7Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit 'n offer aan 'n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. 8Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. 9Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, 'n aanleiding tot sonde word nie. 10As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? 11Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het. 12Deur so teen die broers te sondig en 'n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. 13Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

1 KORINTIËRS 8AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS