Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 37

NUMERI 11–15, 1 KORINTIËRS 1–2

Bybelteks(te)

NUMERI 11

Tabera: vuur brand onder die volk

1Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het 'n deel van die kamp verbrand. 2Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 3Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.

Die volk kla oor kos en word gestraf. Die Gees kom op sewentig leiers

4Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het 'n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! 5Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. 6Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!”

7Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom. 8Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval.

10Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. 11Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? 12Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser met 'n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het’? 13Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’ 14Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. 15As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

16Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan. 17Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie. 18Vir die volk moet jy sê: Reinig julle vir môreoggend, dan sal julle vleis eet. Die Here het gehoor hoe julle kla en sê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!’ Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet! 19Julle sal nie net een dag of twee of vyf of tien of twintig dae eet nie, 20maar 'n hele maand lank, totdat julle daarvan naar word en daarvan walg, omdat julle die Here wat by julle is, getart het, en Hom verwyt het met die woorde: Waarom is ons tog uit Egipte weg?”

21Moses het toe gesê: “Hier is ek tussen ses honderd duisend mense, almal te voet, en U sê U sal vir hulle vleis gee, sodat hulle 'n hele maand lank daarvan kan eet! 22Sal daar genoeg skape en beeste vir hulle geslag kan word? Sal hulle genoeg hê as al die vis in die see vir hulle gevang word?”

23Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”

24Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. 25Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en 'n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.

26Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.

27'n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”

28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”

29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

30Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan.

31Die Here het toe 'n wind gestuur en dit het kwartels van die see se kant af aangebring en hulle rondom die kamp laat val, omtrent 'n dagreis ver na alle kante toe en omtrent 'n meter diep op die grond. 32Die volk het daardie hele dag en die hele nag en ook die volgende dag uitgegaan en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het minstens 'n ton vleis bymekaargemaak en dit rondom die kamp oopgegooi. 33Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring. 34Hulle het dié plek Kibrot-Taäwa genoem, omdat hulle die gulsige mense daar begrawe het. 35Van Kibrot-Taäwa af het die volk na Gaserot toe weggetrek en daar gebly.

NUMERI 12

Mirjam se straf

1Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het, want hy het met 'n Kussitiese vrou getrou. 2“Het die Here dan net deur Moses gepraat,” wou hulle ook nog weet, “en nie ook deur ons nie?”

Die Here het dit gehoor.

3Moses was 'n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.

4Die Here het onmiddellik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle aldrie na die tent van ontmoeting toe!” En hulle drie het gegaan. 5Die Here het toe in 'n wolk afgekom, by die ingang van die tent gaan staan en Aäron en Mirjam nader geroep. Toe hulle twee nader kom, 6het die Here gesê:

“Luister na wat Ek sê:

As daar 'n profeet van die Here onder julle is,

maak Ek My aan hom bekend deur visioene

en praat Ek met hom in drome.

7Maar met my dienaar Moses is dit anders.

Hy is die betroubaarste in my diens.

8Met hóm praat Ek direk en persoonlik,

nie in raaisels nie.

Hy sien selfs die gestalte van die Here.

Waarom was julle dan nie bang

om só met my dienaar Moses te praat nie?”

9Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en Hy het van hulle af weggegaan. 10Toe die wolk van die tent af optrek, staan Mirjam daar melaats soos sneeu. Toe Aäron na Mirjam toe draai, is sy melaats. 11Hy het vir Moses gesê: “Asseblief, Meneer, moet tog nie die sonde wat ons in dwaasheid begaan het, teen ons hou nie. 12Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind waarvan die liggaam by geboorte al halfpad verteer is nie.”

13Toe het Moses die Here aangeroep en gesê: “Maak haar tog gesond, o God!”

14Die Here het vir Moses geantwoord: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou dit nie vir sewe dae lank vir haar 'n skande gewees het nie? Laat sy dan nou sewe dae lank uit die kamp uitgesluit word, en daarna kan sy terugkom.”

15Hulle het Mirjam toe sewe dae lank uit die kamp uitgesluit, en die volk het nie verder getrek voordat sy teruggekom het nie. 16Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan.

NUMERI 13

Kanaän word verken

(Vgl. Deut. 1:19-25)

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.”

3Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete.

4Hulle was

    Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben,
    5Safat, seun van Gori uit die stam Simeon,
    6Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda,
    7Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar,
    8Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim,
    9Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin,
    10Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon,
    11Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, 'n Josefstam,
    12Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan,
    13Setur, seun van Migael uit die stam Aser,
    14Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en
    15Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.

16Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee.

17Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. 18Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, 19of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, 20of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.”

Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe.

21Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat. 22Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou.

23Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye. 24As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem. 25Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.

'n Meerderheids- en minderheidsverslag

26Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. 27Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. 28Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. 29Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”

30Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”

31Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

32Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. 33Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

NUMERI 14

'n Opstand en sy gevolge

(Vgl. Deut. 1:26-46)

1Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”

4Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!”

5Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. 6Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, 7en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. 8As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. 9Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

10Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.

Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword. 11Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het? 12Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou 'n volk maak, groter en sterker as hulle!”

13-14Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Egiptenaars sal dit hoor en dit vir die inwoners van hierdie land vertel. Dit is tog U wat hierdie volk deur u mag uit Egipte laat wegtrek het, en die inwoners van hierdie land het reeds gehoor dat U, Here, onder hierdie volk is, dat U duidelik waarneembaar verskyn het, dat u wolk oor hulle is, en dat U bedags in 'n wolkkolom en snags in 'n vuurkolom voor hulle uit gaan. 15As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u dade gehoor het, sê: 16‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’

17“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: 18‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’ 19Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”

20Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het. 21Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid, 22nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, 23sal die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. 24Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

25“Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.”

26Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 27“Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset. 28Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het. 29In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het. 30Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. 31En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry. 32Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê. 33Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê. 34Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’ 35Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.”

36Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei, 37almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur 'n plaag wat deur die Here gestuur is. 38Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe.

39Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil. 40Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”

41Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie. 42Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word, 43want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”

44Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie. 45Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

NUMERI 15

Bykomende offers

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom wat Ek vir julle as woonplek gee, 3en julle vir My, die Here, van julle beeste of kleinvee 'n vuuroffer wil aanbied wat vir My aanvaarbaar is, 'n brandoffer of 'n ander diereoffer om 'n gelofte te betaal of as vrywillige offer, of by julle feestye, 4dan moet die een wat sy offer bring, vir My ook 'n graanoffer bring van een en 'n half kilogram meel, gemeng met een liter olie.

5“Saam met elke lam wat as brandoffer of ander diereoffer gebring word, moet jy 'n liter wyn as drankoffer aanbied.

6“Vir 'n ram moet jy 'n graanoffer aanbied van drie kilogram meel, gemeng met een en 'n derde liter olie, 7en daarby een en 'n derde liter wyn as drankoffer. Jy moet dit bring dat dit vir My, die Here, aanvaarbaar is.

8“As jy 'n jong bul as brandoffer of ander diereoffer aanbied om 'n gelofte te betaal of as ander maaltydoffer aan My, 9moet jy by die bul vier en 'n half kilogram meel, gemeng met twee liter olie, as graanoffer bring. 10Bring ook ongeveer twee liter wyn as drankoffer.

“So sal dit 'n vuuroffer wees wat deur My, die Here, aanvaar word. 11Elke bul, elke ram of lam van skape of bokke moet so aangebied word. 12Julle moet so maak met elke dier wat julle as vuuroffer aanbied. 13Elke landsburger wat 'n vuuroffer wil aanbied, wat deur My, die Here, aanvaar word, moet dit op dieselfde manier doen. 14'n Vreemdeling wat by julle woon, of iemand wat reeds vir geslagte onder julle is, moet ook 'n vuuroffer aanbied wat deur My aanvaar word. Hy moet presies dieselfde doen as julle. 15Daar moet in die gemeente dieselfde voorskrif wees vir julle en vir die vreemdeling wat by julle woon. Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag dat die vreemdeling net soos julle moet wees voor die Here. 16Een en dieselfde wet en bepaling moet op julle en op die vreemdeling wat by julle woon, van toepassing wees.”

17Die Here het ook vir Moses gesê: 18“Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring, 19en julle eet van die land se brood, moet julle 'n offergawe vir My bring. 20Offer 'n ringbrood van julle eerste growwe meel, en bied dit aan as 'n offergawe van julle dorsvloer af. So moet julle dit offer. 21Al julle geslagte moet altyd weer 'n offergawe van die eerste growwe meel aan My gee.”

Onopsetlike sonde

22“Dit kan gebeur dat julle onopsetlik sondig en nie handel volgens al die gebooie wat Ek, die Here, aan Moses gegee het nie, 23dat julle nie handel volgens alles wat Ek julle deur Moses beveel het van die dag af waarop Ek dit gegee het en verder in julle nageslagte nie. 24As dit onopsetlik gedoen is sonder dat die gemeente daarvan bewus was, moet die hele gemeente 'n jong bul as brandoffer berei wat deur My, die Here, aanvaar word. Hulle moet dit berei saam met die voorgeskrewe graan- en drankoffer, en 'n bokram as sondeoffer. 25Die priester moet vir die hele gemeente van Israel versoening doen, en hulle sal vergewe word, want dit was onopsetlik, en hulle het vir hulle onopsetlike sonde hulle vuuroffer en hulle sondeoffer vir My gebring. 26Die hele gemeente van Israel en die vreemdeling wat by hulle woon, sal vergewe word, want hulle het onopsetlik gesondig. 27As een persoon onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as sondeoffer bring. 28Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word. 29Een en dieselfde wet geld vir elkeen wat onopsetlik gesondig het, of hy 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling wat by julle woon.

30“Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word. 31Omdat hy die woord van die Here verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra.”

'n Sabbatskender word gestraf

32Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbat hout bymekaarmaak. 33Die mense wat hom gekry het terwyl hy besig was om hout bymekaar te maak, het hom na Moses, Aäron en die hele gemeente toe gebring. 34Hulle het hom aangehou, want dit was nie duidelik wat hulle met hom moes doen nie.

35Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.”

36Hulle het hom toe uitgebring buite die kamp en hom met klippe doodgegooi. So het hy dan gesterf, soos die Here vir Moses beveel het.

Klossies en gebooie

37Die Here het verder vir Moses gesê: 38“Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk. Dit geld ook vir hulle nageslag. Hulle moet 'n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk. 39As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. 40Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees. 41Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here julle God.”

1 KORINTIËRS 1

1Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om 'n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging

4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Verdeeldheid in die gemeente

10Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. 15Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God

18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:

“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,

en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:

“Dié wat wil roem,

moet in die Here roem.”

1 KORINTIËRS 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KORINTIËRS 2

Paulus se prediking

1Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. 2Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. 3Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. 4Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. 5Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.

Die openbaring deur die Gees van God

6Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan 'n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan. 7Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. 8Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie. 9Maar soos daar geskrywe staan:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”

en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,

dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

10Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. 11Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. 12Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. 13Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.

So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. 14Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. 15Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. 16Daar staan geskrywe:

“Wie ken die gedagtes van die Here?

Wie sal Hom raad gee?”

Maar ons, ons het die Gees van Christus.

1 KORINTIËRS 2AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS