Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 36

Numeri 6–10, Judas

Bybelteks(te)

Voorskrifte vir die nasireër

1Die Here het aan Moses opdrag gegee 2om met die Israeliete te praat en vir hulle te sê:

“Wanneer iemand, 'n man of 'n vrou, 'n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy, 3moet hy hom weerhou van wyn en bier. Hy mag geen druiwe-asyn of ander asyn drink nie, geen druiwesap nie en ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. 4Die hele tydperk van sy wyding mag hy hoegenaamd niks eet wat die wingerdstok voortbring nie, selfs nie druiwepitte of -doppe nie.

5“Vir die volle duur van sy nasireërgelofte mag hy nie sy hare of sy baard skeer nie. Hy is iemand wat vir die Here afgesonder is, en hy moet sy hare vrylik laat groei totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is.

6“Gedurende die tyd van sy wyding aan die Here mag hy nie naby 'n lyk kom nie. 7Selfs as sy pa of ma, broer of suster sterf, mag hy hom nie verontreinig deur aan hulle te raak nie, want sy hare is die teken van sy wyding aan God. 8Solank sy nasireërgelofte van krag is, is hy afgesonder vir die Here. 9Maar as hy hom verontreinig deur aan iemand te raak wat onverwags in sy omgewing te sterwe kom, moet hy sy hare afskeer op die dag waarop hy rein verklaar word; op die sewende dag moet hy sy hare afskeer. 10Op die agste dag moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring, by die ingang van die tent van ontmoeting. 11Die priester moet dan een duif as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer voorberei, en daarmee vir die nasireër versoening doen vir die oortreding wat hy onbewus begaan het deur aan die lyk te raak. Op dieselfde dag moet hy begin om sy hare te laat groei. 12Hy moet hom opnuut as nasireër aan die Here wy en 'n jaaroud lam as skuldoffer bring. Die vorige dae moet nie gereken word nie, omdat hy sy nasireërskap verontreinig het.

13“Die voorskrif vir die nasireër wanneer die tyd van sy wyding verby is, is soos volg: Hy moet na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan 14en sy offergawe aan die Here bring. Dit moet bestaan uit 'n jaaroud lam as brandoffer, 'n jaaroud ooilam as sondeoffer en 'n ram as maaltydoffer, aldrie sonder liggaamsgebrek; 15verder 'n mandjie ongesuurde brood van fynmeel, ringbrood met olie geknie, en ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, met die bybehorende graanoffer en drankoffers. 16Die priester moet die lammers aan die Here offer as die nasireër se sondeoffer en brandoffer. 17Die priester moet die ram, saam met die ongesuurde brood in die mandjie, as maaltydoffer vir die Here aanbied, en ook die nasireër se graan- en drankoffer offer. 18By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare, die teken van sy wyding, afskeer en dit vat en in die vuur saam met die maaltydoffer verbrand.

19“Nadat die nasireër sy hare afgeskeer het, moet die priester die gekookte blad van die ram vat en dit, saam met 'n ongesuurde ringbrood uit die mandjie en 'n ongesuurde roosterkoek, op die nasireër se hande sit 20en dit as 'n beweegoffer aan die Here wy. Hierdie gawes is gewy en kom die priester toe, saam met die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is. Daarna is die persoon vry om wyn te drink.

21“Dit is dan die voorskrif vir 'n nasireër wat met die oog op sy nasireërskap 'n offer aan die Here beloof het, afgesien van wat hy nog vrywillig wil bring. Hy moet noukeurig handel volgens die gelofte wat hy afgelê het. Dit is die voorskrif vir die nasireër.”

Die priesterlike seën

22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën:

24“Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

25die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

26die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

27“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”

Offergawes van die twaalf stamleiers

1Nadat Moses klaar was met die oprigting van die tabernakel het hy die tent met al sy toebehore en ook die altaar met al sy gereedskap gesalf en aan die diens van die Here gewy. 2Die leiers van Israel, die familiehoofde en stamleiers wat die sensus opgeneem het, het offergawes gebring. 3Hulle het as offergawes ses tentwaens en twaalf osse gebring, 'n wa namens elke twee leiers, en 'n os namens elkeen afsonderlik. Hulle het dit na die tabernakel toe gebring.

4Die Here sê toe vir Moses: 5“Vat hulle offergawes en gebruik dit in die diens van die tent van ontmoeting; gee dit aan die Leviete vir die werk wat elkeen van hulle moet verrig.”

6Moses het die waens en osse ontvang en aan die Leviete gegee: 7-8twee waens en vier osse aan die Gersongroep, vier waens en ag osse aan die Merarigroep. Hulle het dit ontvang vir hulle onderskeie take, onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron. 9Moses het nie waens en osse aan die Kehatgroep gegee nie, want hulle moes die gewyde voorwerpe op hulle skouers dra. 10Die dag toe die altaar vir gebruik gesalf is, het die leiers hulle offergawes vir die inwyding na die altaar toe gebring.

11Die Here het vir Moses gesê: “Op elke agtereenvolgende dag moet een van die leiers sy offergawes vir die inwyding van die altaar bring.”

12-83Op die eerste dag het Nagson, seun van Amminadab uit die stam Juda, sy offergawe gebring; op die tweede dag Netanel, seun van Suar leier van Issaskar; op die derde dag Eliab, seun van Gelon leier van Sebulon; op die vierde dag Elisur, seun van Sedeür leier van Ruben; op die vyfde dag Selumiël, seun van Suri-Saddai leier van Simeon; op die sesde dag Eljasaf, seun van Reüel leier van Gad; op die sewende dag Elisama, seun van Ammihud leier van Efraim; op die agste dag Gamliël, seun van Pedasur leier van Manasse; op die negende dag Abidan, seun van Gidoni leier van Benjamin; op die tiende dag Agiëser, seun van Ammi-Saddai leier van Dan; op die elfde dag Pagiël, seun van Okran leier van Aser, en op die twaalfde dag Agira, seun van Enan leier van Naftali.

Elke leier het die volgende offergawes gebring: een silwerskottel met 'n gewig van een en 'n half kilogram, een silwerkom van ag honderd gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue pannetjie van honderd en vyftien gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as maaltydoffers.

84Die offergawes wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme en twaalf goue pannetjies. 85Elke skottel het een en 'n half kilogram geweeg en elke kom ag honderd gram. Die silwer van al die gereedskap het ag en twintig kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. 86Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen honderd en vyftien gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Al die goud van die pannetjies was byna een en 'n half kilogram. 87Daar was twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer saam met hulle graanoffers en twaalf bokramme as sondeoffer. 88Al die vee vir die maaltydoffers was vier en twintig bulle, sestig ramme, sestig bokramme en sestig jaaroud lammers. Dit was die offergawes vir die inwyding van die altaar nadat dit gesalf is.

89Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

Versorging van die kandelaar

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met Aäron en sê vir hom: As jy die lampies van die kandelaar vassit, moet hulle al sewe na die voorkant toe lig gee.”

3Aäron het toe so gemaak soos die Here vir Moses beveel het, en die lampies aan die voorkant van die kandelaar vasgesit. 4Die kandelaar is so gemaak: van die voetstuk af tot by die kroonblare is dit van geslae goud. Aäron het dit gemaak volgens die model wat die Here vir Moses gewys het.

Reiniging en wyding van die Leviete

5Die Here het vir Moses gesê: 6“Sonder die Leviete van die res van die Israeliete af en reinig hulle. 7Jy moet hulle soos volg reinig: sprinkel reinigingswater oor hulle en laat hulle hulle hele liggaam kaalskeer en hulle klere was. So moet hulle hulleself reinig. 8Dan moet hulle 'n jong bul vat, met die graanoffer van meel met olie gemeng wat daarby hoort; 'n tweede jong bul moet jy as sondeoffer vat. 9Jy moet die Leviete dan nader bring voor die tent van ontmoeting en die hele gemeente van Israel daar bymekaar laat kom. 10Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê. 11Aäron moet dan die Leviete as 'n beweegoffer van die Israeliete aan My wy sodat hulle die werk in my diens kan verrig.

12“Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die twee bulle sit. Die een bul moet as sondeoffer en die ander as brandoffer vir My, die Here, berei word, om vir die Leviete versoening te doen. 13Jy moet die Leviete in diens van Aäron en sy seuns stel en as 'n beweegoffer aan My wy. 14Jy moet hulle van die res van die Israeliete afsonder dat hulle aan My kan behoort. 15Nadat jy die Leviete gereinig en as beweegoffer aan My gewy het, moet hulle die diens in die tent van ontmoeting gaan behartig. 16Van alle Israeliete behoort die Leviete in 'n besondere sin aan My, want Ek het hulle in die plek van al Israel se eersgebore seuns as my besondere eiendom vir My opgeëis. 17Toe Ek al die eersgeborenes in Egipte getref het, het Ek die eersgeborenes van mens en dier in Israel vir My afgesonder. 18Die Leviete het Ek toe in die plek van Israel se eersgebore seuns geneem. 19Uit al die Israeliete gee Ek die Leviete nou as 'n gawe aan Aäron en sy seuns om namens die Israeliete die diens in die tent van ontmoeting te behartig en om vir hulle versoening te doen sodat geen ramp die Israeliete sal tref as hulle te naby aan die heiligdom kom nie.”

20Moses, Aäron en die hele gemeente van Israel het toe met die Leviete presies gemaak soos die Here vir Moses in verband met hulle beveel het. So het die Israeliete met hulle gedoen. 21Die Leviete het hulleself gereinig en hulle klere gewas, en Aäron het hulle as 'n beweegoffer aan die Here gewy. Aäron het ook vir hulle sondes versoening gedoen en hulle so gereinig. 22Die Leviete het toe onder toesig van Aäron en sy seuns hulle ampswerk in die tent van ontmoeting gaan verrig, soos die Here vir Moses aangaande hulle beveel het. So het die Israeliete met die Leviete gedoen.

Die Leviete se dienstyd

23Die Here het vir Moses gesê: 24“Wat die Leviete betref, hulle moet vyf en twintig jaar of ouer wees voordat hulle hulle ampsplig in die tent van ontmoeting kan kom vervul. 25As 'n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie. 26Hy mag sy mede-Leviete nog met hulle ampswerk in die tent van ontmoeting behulpsaam wees, maar self mag hy die diens nie behartig nie.

“So moet jy die ampspligte van die Leviete reël.”

Die tweede paasfees

1Die Here het met Moses gepraat. Dit was in die Sinaiwoestyn, die eerste maand van die tweede jaar ná die uittog uit Egipte. Hy het vir hom gesê: 2-3“Op die vasgestelde tyd, teen sonsondergang, op die veertiende dag van hierdie maand, moet die Israeliete die paasfees vier. Julle moet dit doen op die vasgestelde tyd volgens die voorskrifte en bepalings wat daarvoor geld.”

4Moses het die Israeliete toe opdrag gegee om die paasfees te vier. 5Hulle het dit gedoen in die Sinaiwoestyn teen sonsondergang op die veertiende dag van die eerste maand, presies soos die Here vir Moses beveel het. So het die Israeliete gedoen.

6Maar daar was persone wat die paasfees nie op daardie dag kon vier nie omdat hulle aan 'n lyk geraak het en dus onrein was. Hierdie manne het dieselfde dag nog na Moses en Aäron toe gekom en vir hulle gesê: 7“Ons is onrein, want ons het aan 'n lyk geraak, maar waarom word ons daarvan weerhou om op die bestemde tyd saam met die ander Israeliete 'n offergawe aan die Here te bring?”

8Moses het toe vir hulle gesê: “Wag tot ek verneem het wat die Here oor julle beveel.”

9Die Here het toe vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: 10As een van julle of julle nakomelinge deur 'n lyk onrein is, of op 'n ver reis is, mag hy nogtans die paasfees vir die Here vier. 11Maar dan moet hulle dit in die tweede maand, op die veertiende van die maand, teen sonsondergang vier. Hulle moet die paaslam eet saam met die ongesuurde brood en bitter kruie. 12Hulle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie en hulle mag ook geen been van die lam breek nie. Hulle moet die paasfees stiptelik volgens al sy voorskrifte vier. 13Maar as 'n persoon rein is en nie op reis is nie en nogtans in gebreke bly om die paasfees op die gewone tyd te vier, moet hy van sy volksgenote afgesny word omdat hy nagelaat het om 'n offergawe op die bestemde tyd aan die Here te bring. Dié man moet die gevolge van sy sonde dra.

14“As 'n vreemdeling wat by julle woon, die paasfees vir die Here wil vier, moet hy dit volgens die bestaande voorskrifte en bepalings doen. Een en dieselfde voorskrif geld vir julle almal: vir die vreemdeling en vir die landsburger.”

Die wolk bo die tabernakel

15Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe. 16So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur. 17Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan. 18Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly. 19Wanneer die wolk 'n geruime tyd op die tabernakel gerus het, het die Israeliete die diens van die Here waargeneem en nie weggetrek nie. 20Soms het die wolk net 'n paar dae op die tabernakel gerus. Wat die geval ook al was, op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sý bevel het hulle weggetrek. 21Soms was die wolk net van die aand af tot die volgende môre toe daar, en as dit dan in die môre optrek, het die volk weggetrek. Of dit bedags of snags was, as die wolk optrek, het hulle weggetrek. 22As die wolk 'n paar dae of 'n maand of 'n jaar of langer op die tabernakel rus, het die Israeliete in die kamp gebly en nie weggetrek nie, maar sodra dit optrek, het hulle weggetrek. 23Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sy bevel het hulle weggetrek. Hulle het die diens van die Here onderhou soos die Here deur middel van Moses beveel het.

Die silwertrompette

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Maak nou twee trompette van geslae silwer, en gebruik dit om die vergadering bymekaar te roep en om die kamp te laat opbreek. 3Wanneer julle op albei blaas, moet die hele vergadering by jou bymekaarkom by die ingang van die tent van ontmoeting. 4Maar as net op een geblaas word, moet net die leiers, die familiehoofde van Israel, by jou bymekaarkom. 5As julle die eerste keer hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant kampeer, vertrek. 6As julle 'n tweede keer hard blaas, moet die stamme aan die suidekant vertrek. As daar hard geblaas word, sal hulle weet om te vertrek. 7Om die vergadering bymekaar te roep, moet julle die trompette blaas, maar julle moet nie hard blaas nie. 8Aäron se seuns, die priesters, moet die trompette blaas. Dit moet vir julle en julle nageslag 'n vaste instelling wees. 9As julle in julle land wil gaan veg teen 'n vyand wat julle verdruk, moet julle hard op die trompette blaas. Ek, die Here julle God, sal dan op julle ag slaan en julle van julle vyande red. 10Ook op 'n dag van vreugde of op julle vasgestelde feestye of aan die begin van julle nuwemaansfeeste moet julle by julle brandoffers en maaltydoffers op die trompette blaas. Dit sal My, julle God, aan julle herinner. Ek is die Here julle God.”

Die Israeliete trek verder

11In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af. 12Die Israeliete het hulle reis toe van die Sinaiwoestyn af verder voortgesit, totdat die wolk in die Paranwoestyn gaan staan het. 13Hulle het begin trek op bevel van die Here deur Moses. 14Die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Juda het eerste vertrek. Nagson seun van Amminadab was hier in bevel. 15Netanel seun van Suar was in bevel van die afdeling van die stam Issaskar, 16en Eliab seun van Gelon was oor die afdeling van die stam Sebulon.

17Daarna is die tabernakel afgebreek, en het die Gersongroep en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek.

18Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Ruben. Elisur seun van Sedeür was in bevel van hierdie afdeling. 19Selumiël seun van Suri-Saddai was in bevel van die afdeling van die stam Simeon, 20en Eljasaf seun van Reüel was oor die afdeling van die stam Gad.

21Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die gewyde voorwerpe gedra. Die tabernakel moes opgerig wees teen die tyd dat hulle daar aankom.

22Ná hulle het die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Efraim vertrek. Elisama seun van Ammihud was in bevel van hierdie afdeling. 23Gamliël seun van Pedasur was in bevel van die afdeling van die stam Manasse, 24en Abidan seun van Gidoni oor die afdeling van die stam Benjamin.

25Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Dan wat die agterhoede van al die afdelings gevorm het. Agiëser seun van Ammi-Saddai was in bevel van hierdie afdeling. 26Pagiël seun van Okran was in bevel van die afdeling van die stam Aser, 27en Agira seun van Enan oor die afdeling van die stam Naftali.

28Dit was die volgorde waarin die afdelings van Israel op hulle reis vertrek het.

29Moses het vir Gobab seun van sy skoonpa Reüel, die Midianiet, gesê: “Ons trek na die land waarvan die Here gesê het: ‘Ek sal dit aan julle gee.’ Kom saam met ons. Ons sal jou goed behandel, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.” 30Maar Gobab het vir Moses gesê: “Ek sal nie saam gaan nie, ek sal teruggaan na my eie land en familie toe.”

31Moses het toe by hom aangedring: “Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan, en jy moet ons gids wees. 32As jy met ons saam kom, sal ons die goeie dinge wat die Here aan ons gee, met jou deel.”

33Die Israeliete het van die berg van die Here af weggetrek, drie dagreise ver. Die verbondsark van die Here het gedurende die drie dae voor hulle uit getrek om vir hulle 'n plek te vind waar hulle kon oorbly. 34Die wolk van die Here was bedags oor hulle as hulle van die kampplek af wegtrek.

35Elke keer wanneer die ark vertrek, het Moses gesê:

“Trek op, Here,

verstrooi u vyande!

Laat hulle wat vir U haat,

voor U wegvlug!”

36En wanneer die ark neergesit word, sê Moses:

“Kom terug, Here,

na die ontelbare menigtes van Israel toe.”

1Van Judas, 'n dienaar van Jesus Christus en 'n broer van Jakobus.

Aan dié vir wie God die Vader geroep het, wat Hy liefhet en deur Jesus Christus bewaar.

2Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word!

Die dwaalleraars en hulle straf

(Vgl. 2 Pet. 2:1-17)

3Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. 4Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.

5Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. 6Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. 7En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.

8En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens. 9Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.”

10Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang. 11Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop, vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg, soos Korag het hulle in opstand gekom, en dit was hulle ondergang. 12Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. 13Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. Hulle is sterre wat uit hulle baan geslinger is. God hou vir hulle plek gereed in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly.

14Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele 15en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.”

16Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek.

Vermaning en aansporing

17Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. 18Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.”

19Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie. 20Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. 21Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.

22Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. 23Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

Lof aan God

24Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, 25aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS