Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 35

Numeri 1–5, 3 Johannes

Bybelteks(te)

Israel word vir militêre diens getel

1Die Here het met Moses gepraat in die tent van ontmoeting in die Sinaiwoestyn. Dit was op die eerste dag van die tweede maand, in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het. 2-3Die Here het gesê: “Jy en Aäron moet al die Israeliete man vir man tel volgens afkoms en familie; skryf die name op van elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elkeen in Israel wat vir militêre diens geskik is en wat in leërafdelings ingedeel is. 4Julle moet hierin bygestaan word deur persone wat hoofde is van hulle families, een uit elke stam. 5En dit is die name van die manne wat vir julle moet bystaan:

    “uit die stam Ruben: Elisur seun van Sedeür;
    6uit Simeon: Selumiël seun van Suri-Saddai;
    7uit Juda: Nagson seun van Amminadab;
    8uit Issaskar: Netanel seun van Suar;
    9uit Sebulon: Eliab seun van Gelon;
    10uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Elisama seun van Ammihud, en uit Manasse: Gamliël seun van Pedasur;
    11uit die stam Benjamin: Abidan seun van Gidoni;
    12uit Dan: Agiëser seun van Ammi-Saddai;
    13uit Aser: Pagiël seun van Okran;
    14uit Gad: Eljasaf seun van Reüel;
    15uit Naftali: Agira seun van Enan.”

16Hulle was die manne wat uit die vergadering aangewys is, leiers van die stamme van hulle voorvaders en stamhoofde van Israel.

17Moses en Aäron het hierdie manne wie se name genoem is, laat kom. 18Op die eerste dag van die tweede maand het hulle toe die hele volk bymekaargeroep. Daarna het elke weerbare man sy afkoms volgens stam en familie opgegee, almal van twintig jaar en ouer. 19Moses het hulle in die Sinaiwoestyn getel, soos die Here hom beveel het.

20-43Die manlike afstammelinge van die onderskeie stamvaders was:

van Ruben die oudste seun van Israel 46 500
van Simeon 59 300
van Gad 45 650
van Juda 74 600
van Issaskar 54 400
van Sebulon 57 400
van Josef se seuns:
Efraim 40 500
Manasse 32 200
van Benjamin 35 400
van Dan 62 700
van Aser 41 500
van Naftali 53 400

Dit was in die geval van elke stam die getal weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens afkoms en familie.

44-46Dit was dan die getal van die manne wat deur Moses, Aäron en die twaalf Israelitiese stamhoofde getel is. Altesaam was die getelde Israeliete 603 550. Dit was die weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens families.

47Die Leviete is nie as afsonderlike stam bygetel nie. 48Die Here het naamlik vir Moses gesê: 49“Die stam Levi moet jy nie tel nie en hulle getal moet jy nie by dié van die Israeliete voeg nie. 50Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore. Hulle moet die tabernakel en sy gereedskap dra; net húlle moet daarmee werk; en hulle moet hulle tente rondom die tabernakel opslaan. 51As die tabernakel verskuif moet word, moet die Leviete dit uitmekaarhaal; en as dit opgeslaan moet word, moet hulle dit opslaan. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om te help, moet doodgemaak word.

52“Die ander stamme van Israel moet hulle tente opslaan, elke stam op sy eie staanplek, rondom sy eie vaandel, ingedeel by sy eie leërafdeling, 53maar die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel met die getuienis opslaan, sodat my toorn nie oor die Israeliete kom nie. So moet die Leviete dan vir die tabernakel met die getuienis sorg.”

54Die Israeliete het alles presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

Die kamporde

1Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: 2“Die Israeliete moet kamp opslaan, elkeen by sy vaandel, by sy familieteken. Hulle moet die kamp rondom die tent van ontmoeting opslaan, so 'n entjie daarvandaan.

3“Aan die ooste, sonop se kant, moet die stam Juda kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Nagson seun van Amminadab is die leier van die stam. 4Die getal van Juda se weerbare manne is 74 600. 5Die stam Issaskar moet langs Juda kamp opslaan. Netanel seun van Suar is sy leier. 6Die getal van sy weerbare manne is 54 400. 7Daarna volg die stam Sebulon met Eliab seun van Gelon as leier. 8Die getal van sy weerbare manne is 57 400. 9Die hele kamp onder leiding van Juda, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 186 400 weerbare manne.

“Hierdie drie stamme moet altyd eerste versit.

10“Aan die suidekant moet die stam Ruben kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Elisur seun van Sedeür is die leier van die stam. 11Die getal van Ruben se weerbare manne is 46 500. 12Die stam Simeon moet langs Ruben kamp opslaan. Selumiël seun van Suri-Saddai is die leier van die stam. 13Die getal van sy weerbare manne is 59 300. 14Daarna volg die stam Gad met Eljasaf seun van Reüel as leier. 15Die getal van sy weerbare manne is 45 650. 16Die hele kamp onder leiding van Ruben, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 151 450 weerbare manne.

“Hierdie stamme moet altyd tweede versit.

17“Die kamp van die Leviete met die tent van ontmoeting moet altyd in die middel van die ander kampe bly wanneer hulle trek. In dieselfde orde waarin die stamme kamp opslaan, moet hulle ook die kamp opbreek, elkeen op sy eie plek en by sy eie vaandel.

18“Aan die westekant moet die stam Efraim kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Elisama seun van Ammihud is die leier van die stam. 19Die getal van die weerbare manne is 40 500. 20Die stam Manasse moet langs Efraim wees. Gamliël seun van Pedasur is sy leier. 21Die getal van sy weerbare manne is 32 200. 22Daarna volg die stam Benjamin met Abidan seun van Gidoni as leier. 23Die getal van sy weerbare manne is 35 400. 24Die hele kamp onder leiding van Efraim, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 108 100 weerbare manne.

“Hierdie stamme moet altyd derde versit.

25“Aan die noordekant moet die stam Dan kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Agiëser seun van Ammi-Saddai is die leier van hierdie stam. 26Die getal van Dan se weerbare manne is 62 700. 27Die stam Aser moet langs Dan kamp opslaan. Pagiël seun van Okran is leier van die stam. 28Die getal van Aser se weerbare manne is 41 500. 29Daarna volg die stam Naftali met Agira seun van Enan as leier. 30Die getal van sy weerbare manne is 53 400. 31Die hele kamp onder leiding van Dan is altesaam 157 600 weerbare manne.

“Hierdie stamme moet met hulle vaandels die laaste versit.”

32Dit was dan die groottotaal van al die Israeliete, getel volgens families. Al die geteldes van die kampe, ingedeel in leërafdelings, was 603 550 man. 33Die Leviete is nie onder die getal van Israel bygereken nie, soos die Here vir Moses beveel het. 34Die Israeliete het presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het kamp opgeslaan, elkeen by sy eie vaandel, en elke keer weer weggetrek, elke stam ingedeel volgens sy familiegroepe.

Die stam Levi

1Toe die Here destyds met Moses op Sinaiberg gepraat het, het Aäron en Moses reeds afstammelinge gehad. 2Die name van die seuns van Aäron was Nadab, die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar. 3Dit was die name van Aäron se seuns, gesalfde priesters, vir wie Moses in die priesteramp aangestel het. 4Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat sterwe omdat hulle in die Sinaiwoestyn ongeoorloofde vuur voor Hom neergesit het. Hulle het geen seuns gehad nie. Eleasar en Itamar het toe die priesterdiens verrig onder die toesig van Aäron, hulle pa.

5Die Here het verder vir Moses gesê: 6“Stel die stam Levi tot beskikking van die priester Aäron, dat hulle hom kan help. 7Hulle moet vir Aäron in die gemeente diensbeurte waarneem in die tent van ontmoeting deur die werk wat hulle in die tabernakel doen. 8Hulle moet sorg vir al die toebehore van die tent van ontmoeting; hulle moet die diensbeurte vir die volk Israel waarneem deur die werk wat hulle in die tabernakel doen. 9Jy moet die Leviete tot beskikking van Aäron en sy seuns stel; uit die volk Israel is hulle die mense wat volkome aan Aäron se diens gewy is. 10Net aan Aäron en sy seuns is dit opgedra om die priesterdiens te verrig; 'n onbevoegde persoon wat nader kom om dit te doen, moet doodgemaak word.”

11Die Here het weer met Moses gepraat en gesê: 12“Kyk, Ek het die Leviete uit die volk vir My geneem in die plek van al Israel se eersgeborenes; hulle behoort aan My. 13Al die eersgeborenes is Myne: die dag toe Ek al die eersgeborenes van die Egiptenaars omgebring het, het Ek dié van Israel, van mens en dier, vir My opgeëis; hulle behoort aan My. Ek is die Here.”

14Die Here het in die Sinaiwoestyn vir Moses gesê: 15“Tel die Leviete volgens hulle afkoms en families, almal van 'n maand en ouer wat manlik is.”

16Moses het hulle getel presies soos die Here hom beveel het.

17Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari. 18Die Gersongroep was Libni en Simi. 19Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. 20Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was die afstammelinge van Levi volgens familieverband. 21Die afstammelinge van Gerson was die familiegroepe Libni en Simi. Hulle was die Gersoniete. 22Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam sewe duisend vyf honderd.

23Die Gersongroep het aan die westekant agter die tabernakel kamp opgeslaan 24met Eljasaf seun van Lael as leier. 25Die taak van die Gersoniete by die tent van ontmoeting was die versorging van die tabernakel: die tent met sy dekseile, die gordyn by die deur van die tent van ontmoeting, 26die gordyn van die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was, al die toue, met alles wat dié diens insluit.

27Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Hulle was die Kehatiete. 28Hulle manlike persone van 'n maand en ouer was altesaam ag duisend ses honderd. Hulle taak was om die heiligdom te versorg. 29Die Kehatgroep het aan die suidekant van die tabernakel kamp opgeslaan 30met Elisafan seun van Ussiël as leier. 31Hulle taak was die versorging van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit. 32Eleasar seun van die priester Aäron was die leier van die familiehoofde van Levi, en as sodanig opsigter oor almal wat in die heiligdom diens doen.

33Merari was die hoof van die familiegroepe Magli en Musi. Hulle was die Merariërs. 34Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam ses duisend twee honderd. 35Suriël seun van Abigajil was leier van die Merarigroep wat aan die noordekant van die tabernakel kamp opgeslaan het. 36Die Merarigroep was verantwoordelik vir die versorging van die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit; 37ook van die style rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.

38Moses, Aäron en Aäron se seuns het aan die oostekant voor die tabernakel, voor die tent van ontmoeting, kamp opgeslaan. Aäron en sy seuns het die diens van die tabernakel in belang van Israel waargeneem. 'n Onbevoegde persoon wat nader gekom het om te help, moes doodgemaak word.

39Die manlike Leviete van 'n maand en ouer wat deur Moses en Aäron op bevel van die Here volgens families getel is, was altesaam twee en twintig duisend.

Die Leviete word geneem in die plek van die eersgeborenes

40Die Here het ook vir Moses gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die Israeliete van 'n maand en ouer, en maak 'n lys van hulle name. 41In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel, en ook die Leviete se vee in die plek van al die eerstelinge onder die vee van die Israeliete. Ek is die Here.”

42Moses het toe volgens die bevel van die Here al die eersgeborenes van die Israeliete getel. 43Die manlike eersgeborenes van 'n maand en ouer wie se name opgeskryf is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig.

44Die Here het verder vir Moses gesê: 45“Stel die Leviete beskikbaar vir my diens in die plek van al Israel se eersgeborenes; neem ook die Leviete se vee in die plek van die Israeliete s'n. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here. 46Die twee honderd drie en sewentig eersgeborenes uit die Israeliete wat daar meer is as Leviete, moet losgekoop word. 47Jy moet vyf silwerstukke per kop invorder; bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit elf gram per silwerstuk. 48Die geld vir hierdie groter getal eersgeborenes van die Israeliete moet jy as losprys aan Aäron en sy seuns gee.”

49Moses het toe die loskoopgeld ingevorder vir dié eersgeborenes wat daar meer was as dié wat reeds met Leviete losgekoop is. 50Hierdie geld het hy geneem van die eersgebore Israeliete, vyftien en 'n half kilogram silwer. 51Dit het Moses in opdrag van die Here aan Aäron en sy seuns gegee, soos die Here hom beveel het.

Die ampsplig van die Kehatgroep

1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2-3“Tel die Leviete tussen dertig en vyftig jaar, almal wat van Kehat afstam. Doen dit volgens afstamming van familie. Dit moet almal insluit wat vir diens geskik is, wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. 4Die ampsplig van die Kehatgroep in die tent van ontmoeting het te doen met die besondere gewyde voorwerpe.

5“Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom.

“Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. 6Hulle moet 'n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met 'n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek.

7“'n Blou doek moet ook oor die offerbroodtafel gegooi word, en daarop moet hulle die skottels, bakke, komme en drankofferkanne sit; ook die offerbrood moet daarop gesit word. Dit moet altyd daar wees. 8Hulle moet 'n bloedrooi doek oor die offerbroodtafel gooi en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

9“Hulle moet die kandelaar met sy lampe, pithouers, bakkies en al die oliekanne in 'n blou doek toedraai. 10Die kandelaar met al sy toebehore moet hulle op 'n seil van gebreide vel neersit en dit op 'n draagbaar sit. 11Hulle moet 'n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit dan met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

12“Hulle moet al die gereedskap neem wat vir die diens in die heiligdom nodig is, en dit op 'n blou doek sit. Dan moet hulle dit met 'n seil van gebreide vel toemaak en so op die draagbaar neersit. 13Hulle moet die as van die altaar afvee en dan 'n pers doek oor die altaar gooi. 14Al die gereedskap wat hulle vir die diens by die altaar gebruik, moet hulle op die doek neersit: al die vuurpanne, vurke, skoppe en komme, kortom, al die altaargereedskap, en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

15“Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word.

16“Eleasar seun van die priester Aäron moet toesig hou oor die olie vir die kandelaar, die geurige wierook, die gereelde graanoffer en die salfolie. Hy moet toesig hou oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor die heiligdom met sy gereedskap.”

17Die Here het ook nog vir Moses en Aäron gesê: 18“Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie. 19Wanneer hulle kom om die gewyde voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns vir hulle presies aandui wat elkeen van hulle moet doen en dra, sodat hulle kan bly lewe en nie met die dood gestraf word nie. 20Die Kehatiete mag selfs nie 'n oomblik na die heiligdom kom kyk nie, want dan sal hulle sterwe.”

Die ampsplig van die Gersongroep

21Die Here het vir Moses gesê: 22“Jy moet ook die afstammelinge van Gerson tel. Doen dit volgens familie en afstamming. 23Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. 24Die ampsplig van die Gersongroep is om drawerk te doen: 25hulle moet die tentdoeke van die tabernakel, die tent van ontmoeting, dra, sy seil en die seil van gebreide vel wat daarbo-oor is, die gordyn by die ingang van die tent van ontmoeting 26en die gordyn by die ingang van die voorhof, asook die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, die toue en al die nodige gereedskap. Vir al hierdie dinge is hulle verantwoordelik. 27Al die ampspligte van die Gersongroep, alles wat hulle moet dra en doen, moet onder toesig van Aäron en sy seuns verrig word. Hulle moet toesien dat die Gersongroep al hulle opdragte uitvoer. 28Dit is dan die ampspligte van die Gersongroep in verband met die tent van ontmoeting. Hulle werk staan onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

Die ampsplig van die Merarigroep

29“Jy moet ook die afstammelinge van Merari tel. Doen dit volgens afstamming en familie. 30Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. 31Hulle diens in verband met die tent van ontmoeting sal wees om die volgende te dra: die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel; 32ook die style rondom die voorhof met hulle voetstukke, penne en toue, al die gereedskap en toebehore. Julle moet 'n lys name opstel van persone wat vir die dra van bepaalde voorwerpe verantwoordelik is. 33Dit is al die verpligtinge van die Merarigroep in verband met die tent van ontmoeting. Dit moet verrig word onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

Die groottotaal Leviete

34-45Moses, Aäron en die volksleiers het die drie Levitiese families Kehat, Gerson en Merari getel. Hulle het dit gedoen volgens afstamming en familie soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het al die manlike persone van tussen dertig en vyftig jaar opgeskryf, almal wat geskik was vir diens en wat die werk in die tent van ontmoeting kon verrig. Die getalle was soos volg: Kehat twee duisend sewe honderd en vyftig, Gerson twee duisend ses honderd en dertig, Merari drie duisend twee honderd.

46-48Die groottotaal Leviete van tussen dertig en vyftig jaar, almal wat geskik was om te dien in die tent van ontmoeting en om die drawerk te doen, was ag duisend vyf honderd en tagtig. Moses, Aäron en die leiers van Israel het hulle volgens afkoms en familie getel. 49Op die bevel wat die Here deur Moses gegee het, is hulle getel en is aan elkeen sy besondere taak en verantwoordelikheid toegewys. Hulle is getel soos die Here vir Moses beveel het.

Die onreines word uit die kamp uit gestuur

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om elkeen uit die kamp uit te stuur wat 'n ernstige velsiekte het of aan 'n geslagsiekte ly, of wat verontreinig is deur aan 'n lyk te raak. 3Dit geld mans sowel as vrouens. Julle moet hulle buitekant die kamp uit stuur, sodat hulle nie die kamp waarin Ek onder hulle woon, verontreinig nie.”

4Die Israeliete het toe so gemaak: hulle het die onreines uit die kamp uit gestuur, presies soos die Here vir Moses gesê het.

Wanneer iemand 'n medemens benadeel

5Die Here het aan Moses opdrag gegee 6om vir die Israeliete te sê: “Wanneer iemand, man of vrou, 'n medemens benadeel en dus ontrou teenoor die Here is, is hy skuldig 7en moet hy sy sonde bely. Hy moet die volle bedrag van die skade plus 'n vyfde daarvan teruggee aan die persoon wat hy benadeel het. 8As die benadeelde na sy dood geen familielid het aan wie die skuld betaal kan word nie, kom die bedrag die Here toe en moet dit aan 'n priester gegee word. Afgesien hiervan moet die skuldige nog die ram voorsien waarmee die priester vir die skuldige versoening moet doen.”

Offergawes en gewyde gawes

9“Die offergawes wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens van die Here, behoort aan die priester. 10Die gewyde gawes wat iemand bring, bly sy eie, maar wat die priester toekom, moet aan hom gegee word.”

Agterdog teen 'n vrou

11Die Here het aan Moses opdrag gegee 12-15om vir die Israeliete te sê: “As 'n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en 'n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir 'n geval van agterdog, 'n offer wat moet aantoon of daar oortree is. 16Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan. 17Die priester moet 'n erdebak met gewyde water vol maak en van die tabernakelvloer se stof daarin gooi. 18Dan moet hy die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan, haar hare losmaak en haar die voorgeskrewe offer, wat 'n offer vir die agterdog is, gee om vas te hou. Die priester moet die erdebak met water wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, self vashou. 19Hy moet die vrou onder eed plaas en vir haar sê: As iemand anders nie met jou gemeenskap gehad het nie en jy as getroude vrou jouself nie met 'n ander man verontreinig het nie, mag jou onskuld dan bewys word deur hierdie water wat bittere smart en 'n vloek oor jou kan bring. 20Maar as jy, as getroude vrou, ontrou was en jouself verontreinig het deurdat jy met iemand anders behalwe jou eie man gemeenskap gehad het, 21-22mag die Here dan gee dat jou eie mense jou sal vervloek en verwens. Mag Hy jou vrugbaarheid laat vergaan en jou buik laat opswel. Mag hierdie water wat die vloek veroorsaak, in jou maag kom om jou buik te laat opswel en jou vrugbaarheid te laat vergaan.

“Dit alles moet die priester sê vir die vrou wat staan onder 'n eed dat 'n vloek haar kan tref as sy skuldig is. Dan moet sy sê: ‘Amen, amen.’

23“Die priester moet hierdie vervloekinge neerskrywe en die letters uitwis in die water wat bittere smart sou kan veroorsaak. 24Hy moet die vrou van die water laat drink wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, sodat die water wat 'n vloek van bittere smart veroorsaak, in haar kan ingaan. 25Daarna moet die priester uit haar hand die offer vat wat vir die agterdog bedoel is, dit in teenwoordigheid van die Here beweeg en dit na die altaar toe bring. 26Die priester moet ook 'n handjievol van die graanoffer as simbool van haar hele offer vat en op die altaar verbrand, en daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink. 27Die water wat hy haar laat drink, sal, as sy haar verontreinig en troubreuk teenoor haar man gepleeg het, in haar ingaan en die vloek meebring wat bittere smart sal veroorsaak, en dit sal haar buik laat opswel. Haar vrugbaarheid sal vergaan en haar mense sal haar vervloek. 28Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie en getrou was, sal haar onskuld bewys word en sal sy kinders kan kry.

29“Dit is dan die voorskrif vir gevalle van agterdog. As 'n vrou ontrou word aan haar man en haarself verontreinig, 30of as 'n man agterdogtig begin raak en sy vrou verdink, moet die priester die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan en met haar handel presies volgens al die bepalings van hierdie voorskrif. 31Die man sal onskuldig wees, maar die vrou sal vir haar oortreding moet boet.”

1Van die oudste.

Aan Gaius, my vriend, wat ek waarlik liefhet.

2Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan. 3Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe. 4Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.

Hulp aan dié wat vir Christus verkondig

5Liewe Gaius, jy handel reg in wat jy vir jou medegelowiges doen, en dit nog terwyl jy hulle nie eens geken het nie. 6Hulle het hier voor die gemeente vertel van jou liefde. Help hulle asseblief vir hulle verdere reis op 'n wyse soos God dit verwag, 7want hulle is op reis om Christus te verkondig, en hulle ontvang niks van die heidene nie. 8Dit is dus óns plig om sulke mense te onderhou, sodat ons daardeur ons deel kan bydra tot die verspreiding van die waarheid.

Pas op vir Diotrefes

9Ek het 'n briefie aan julle gemeente geskrywe, maar Diotrefes, wat danig daarop gesteld is dat hy hulle voorganger is, aanvaar nie ons gesag nie. 10Daarom sal ek die dinge wat hy doen, ter sprake bring as ek daarheen kom: hy versprei slegte en vals gerugte oor ons; en asof dit nie genoeg is nie, ontvang hy self ook nie die medegelowiges nie, en dié wat dit wil doen, belet hy en ban hy uit die gemeente.

11Liewe Gaius, moenie die verkeerde voorbeeld volg nie, volg die goeie. Wie goed doen, behoort aan God; wie verkeerd doen, het nie vir God gesien nie. 12Van Demetrius getuig almal net wat goed is, en ook die waarheid bevestig dit. Ons getuig dit ook, en jy weet dat ons getuienis waar is.

Slot

13Ek moes vir jou nog baie dinge sê, maar ek wil dit nie skriftelik doen nie. 14Ek hoop egter om jou binnekort te sien; dan kan ons persoonlik praat.

15Ek wens jou vrede toe. Die vriende hier stuur vir jou groete. Dra my groete oor aan die vriende daar, aan elkeen persoonlik.

3 JOHANNES 1AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS