Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 34

1 Johannes 1–5, 2 Johannes

Bybelteks(te)

Die Woord wat die Lewe is

1Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

God is lig

5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

1 JOHANNES 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het Jesus as ons voorspraak by die Vader

1Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

3As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. 4Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Die nuwe gebod

7Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die boodskap wat julle gehoor het. 8Tog is dit ook 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds. 9As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis. 10Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie. 11Maar wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het.

Moenie die wêreld liefhê nie

12Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus.

13Ek skrywe vir julle, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was.

Ek skrywe vir julle, jongmense, omdat julle die Bose oorwin het.

14Ek het vir julle geskrywe, kinders, omdat julle die Vader ken.

Ek het vir julle geskrywe, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was.

Ek het vir julle geskrywe, jongmense, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.

15Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 17En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.

Die antichriste

18Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is. 19Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie.

20Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid. 21Ek skrywe nie vir julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie, maar juis omdat julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die waarheid voortkom nie.

22Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. 23Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader. 24Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. 25En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.

26Dit het ek aan julle geskrywe oor die mense wat vir julle wil mislei. 27Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.

Kinders van God

28En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie. 29Aangesien julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdig lewe, 'n kind van God is.

1 JOHANNES 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

9Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

Liefde vir mekaar

11Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. 12Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg.

13Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. 14Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. 15Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. 16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

'n Goeie gewete voor God

18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 19Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. 20As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.

21Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; 22en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. 23En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. 24Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.

1 JOHANNES 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die vals profete

1Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. 2Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.

4Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. 5Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. 6Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei.

God is liefde

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

1 JOHANNES 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Liefde en geloof

1Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die getuienis oor Jesus Christus

6Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. 7Daar is dus drie wat getuig: 8die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. 9Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Die doel van die brief

13Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Voorbidding

14En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. 15En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

16As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. 17Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.

Ons ken die ware God

18Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. 19Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. 20En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. 21Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.

1 JOHANNES 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Van die oudste.

Aan die uitverkore vrou en aan haar kinders. Ek het julle waarlik lief, en nie ek alleen nie, maar ook almal wat die waarheid ken, 2omdat die waarheid in ons bly en ewig by ons sal wees.

3Die genade, barmhartigheid en vrede wat van God die Vader kom en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, sal by ons wees wat in die waarheid en die liefde is.

Waarheid en liefde

4Ek was baie bly toe ek van jou kinders teëgekom het wat in ooreenstemming met die waarheid lewe, volgens die gebod wat ons van die Vader ontvang het. 5En nou het ek 'n versoek, geagte vrou. Dit is nie iets nuuts wat ek vir julle voorskrywe nie, maar 'n gebod wat ons van die begin af gehad het: Ons moet mekaar liefhê. 6En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe. Soos julle van die begin af gehoor het, is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe.

7Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”, “die antichris”, bedoel. 8Julle moet toesien dat julle nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang. 9Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun.

10As daar iemand na julle toe kom wat 'n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, 11want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Slot

12Daar is nog baie dinge om vir julle te sê. Ek wil dit egter nie skriftelik doen nie, maar hoop om na julle toe te kom en persoonlik met julle te praat, sodat ons blydskap volkome kan wees.

13Die kinders van jou uitverkore suster stuur vir jou groete.

2 JOHANNES 1AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS