Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 2

Genesis 1–3, Johannes 1–3

Bybelteks(te)

God se skeppingswerk

1In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”

En daar was lig.

4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

6Toe het God gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

7So het dit gebeur.

God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. 8God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

9Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.”

So het dit gebeur.

10God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaargekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed.

11Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.”

So het dit gebeur.

12Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 13Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

14Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. 15Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.”

So het dit gebeur.

16God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. 17God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, 18om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed.

19Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.

20Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”

21God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed.

22Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.”

23Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

24Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.”

So het dit gebeur.

25God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

26Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

29Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.”

So het dit gebeur.

31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

1Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

4Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

Die mens in die tuin

Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie. 6Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.

8Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. 14Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God 'n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe.

23Toe sê die mens:

“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.

Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;

sy is uit die man geneem.”

24Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

25Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

1Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

11Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”

12Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”

13Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”

14En die Here God sê vir die slang:

“Omdat jy dit gedoen het,

is jy vervloek onder al die diere.

Op jou maag sal jy seil

en stof sal jy eet, jou lewe lank.

15Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou,

tussen jou nageslag en haar nageslag.

Haar nageslag sal jou kop vermorsel

en jy sal hom in die hakskeen byt.”

16Vir die vrou het die Here God gesê:

“Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe:

met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker,

en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

“is die aarde deur jou toedoen vervloek;

met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak,

jou lewe lank;

18die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit,

en jy sal veldplante eet;

19net deur harde werk sal jy kan eet,

totdat jy terugkeer na die aarde toe,

want daaruit is jy geneem.

Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

20Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense. 21Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.

22Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”

23Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. 24Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Die getuienis van Johannes die Doper

(Matt. 3:1-12; Mark. 1:2-8; Luk. 3:15-17)

19Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”

Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”

21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?”

“Nee, ek is nie,” sê hy.

“Is jy dan die Profeet?”

“Nee!” het hy geantwoord.

22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”

23Hy antwoord toe:

“Ek is die een wat in die woestyn roep:

Maak die pad vir die Here reguit.”

Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”

26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Die Lam van God

29Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar 'n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ 31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

32Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die eerste dissipels

35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

Filippus en Natanael

43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”

44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.

45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.

47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.”

48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”

Die bruilof in Kana

1Op die derde dag was daar 'n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.

3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”

4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”

5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”

6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”

Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”

Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “'n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

Die reiniging van die tempel

(Matt. 21:12-13; Mark. 11:15-17; Luk. 19:45-46)

13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies 'n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader 'n besigheidsplek maak nie.”

17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”

18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”

19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Jesus ken die mens

23Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. 24Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van 'n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.

Jesus en Nikodemus

1Daar was 'n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was 'n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan 'n mens gebore word as hy al 'n ou man is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Johannes die Doper getuig van Jesus

22Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het 'n rukkie daar gebly en mense gedoop. 23Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. 24Johannes was nog nie in die tronk gesit nie.

25Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en 'n Jood 'n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. 26Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.”

27Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. 28Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’ 29Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. 30Hy moet meer word en ek minder.

31“Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32Wat Hy gesien en gehoor het, dít getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie. 33Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is. 34God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. 35Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 36Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS