Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 28

LEVITIKUS 9–12, HEBREËRS 5–6

Bybelteks(te)

Die priesters begin met hulle dienswerk

1Toe die week verby was, het Moses vir Aäron, sy seuns en die leiers van Israel laat roep. 2Hy sê toe vir Aäron: “Vat 'n bulkalf en 'n ram, altwee sonder liggaamsgebrek, en offer die kalf as 'n sondeoffer en die ram as 'n brandoffer aan die Here. 3Sê dan vir die Israeliete hulle moet 'n bokram bring as sondeoffer en 'n bulkalf en 'n lam as brandoffer, almal 'n jaar oud en sonder liggaamsgebrek. 4Hulle moet ook 'n bul en 'n ram bring as 'n maaltydoffer aan die Here, sowel as 'n graanoffer wat met olie aangemaak is, want die Here wil Hom vandag aan julle openbaar.”

5Hulle het alles wat Moses beveel het, na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gebring en die hele gemeente het saamgekom en in die teenwoordigheid van die Here kom staan. 6Toe sê Moses: “Ons sal nou doen wat die Here beveel het. Dan sal die magtige teenwoordigheid van die Here aan julle geopenbaar word.”

7Moses sê toe vir Aäron: “Kom nader na die altaar toe en offer die sondeoffer en die brandoffer wat vir jouself bedoel is, en doen versoening vir jouself en jou mense. Bring daarna die offer van die volk en doen versoening vir hulle soos die Here beveel het.”

8Aäron het nader gegaan na die altaar toe en die kalf geslag wat bedoel was as sondeoffer vir homself. 9Sy seuns het die bloed vir hom na die altaar toe gebring en hy het sy vinger in die bloed gesteek en daarvan aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die fondament van die altaar uitgegooi. 10Die vet, die niere en die punt van die lewer van die sondeofferdier het hy op die altaar verbrand soos die Here vir Moses beveel het. 11Die vleis en die vel is egter buite die kamp verbrand. 12Daarna het hy die ram geslag wat vir homself bedoel was as brandoffer. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel. 13Hulle het ook die stukke en die kop van die brandofferdier vir hom aangegee, en hy het dit op die altaar aan die brand gesteek. 14Hy het die binnegoed en die pote gewas en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand.

15Daarna het Aäron die offer van die volk na die altaar toe gebring. Hy het die bokram wat as sondeoffer vir die volk bedoel was, gevat, hom geslag en geoffer op dieselfde manier as die vorige sondeoffer. 16Hy het ook die brandoffer van die volk na die altaar toe gebring en dit volgens die voorskrif geoffer. 17Toe het hy die graanoffer nadergebring en 'n handvol daarvan op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die daaglikse brandoffer. 18Die bul en die ram wat bedoel was as maaltydoffers van die volk, het hy ook geslag. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom aangegee en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel. 19Sy seuns het die vetdele van die bul en die ram, naamlik die vetstert, die niervet, die niere en die punt van die lewer, 20op die borsstukke gepak en dit alles vir Aäron aangegee. Hy het die vetdele op die altaar verbrand, 21maar die borsstukke en die regterboud het hy as beweegoffer aan die Here aangebied soos Moses hom beveel het.

22Nadat Aäron die sondeoffer, die brandoffer en die maaltydoffers gebring het, het hy sy hande na die volk toe uitgesteek en hulle geseën. Hy het van die altaar afgeklim 23en saam met Moses in die tent van ontmoeting ingegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die magtige teenwoordigheid van die Here is toe aan die hele volk geopenbaar: 24vuur wat van die Here gekom het, het die oorblyfsels van die brandoffer en die vetstukke op die altaar weggebrand. Toe die volk dit sien, was daar uitroepe van blydskap en het almal op hulle knieë geval.

Die dood van Nadab en Abihu

1Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was. 2'n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here. 3Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Aäron was sprakeloos. 4Moses het daarna vir Misael en Elisafan, seuns van Aäron se oom Ussiël, geroep en vir hulle gesê: “Gaan nader en vat julle familielede weg voor die heiligdom en dra hulle uit die kamp uit.”

5Hulle het toe nader gegaan en die dooies in hulle ampsklere uitgedra na 'n plek buite die kamp soos Moses gesê het. 6Moses het Aäron en sy twee seuns Eleasar en Itamar beveel: “Moenie rou deur julle hare onversorg te laat en julle klere te skeur nie. As julle rou, sal julle sterwe, en sal die Here toornig wees op die hele gemeente. Maar julle volksgenote, al die Israeliete, mag rou oor hierdie vuurdood wat van die Here gekom het. 7Julle mag ook glad nie van die ingang van die tent van ontmoeting af weggaan nie. As julle dit doen, sal julle sterwe, want die salfolie van die Here het julle aan Hom gewy.”

Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.

Voorskrifte vir die priesters

8Die Here het vir Aäron gesê: 9“Jy en jou seuns mag geen wyn of bier drink wanneer julle moet gaan diens doen in die tent van ontmoeting nie, want dan sal julle sterwe. Dit is 'n vaste voorskrif, ook vir julle nageslag. 10Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd is en wat nie gewyd is nie, tussen wat onrein is en wat rein is. 11Julle moet al die voorskrifte wat die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer.”

12Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog gelewe het, Eleasar en Itamar, gesê: “Vat die graanoffer wat oorgebly het nadat die vuuroffer aan die Here gebring is, en eet dit by die altaar. Daar mag nie suurdeeg by kom nie. Omdat dit 'n besondere gewyde gawe is, 13moet julle dit op 'n gewyde plek eet. Volgens die bevel wat ek ontvang het, is dit julle deel uit die vuuroffer wat aan die Here gebring word. 14Maar die borsstuk van die beweegoffer en die boud uit die offergawe mag julle en julle familie op enige rein plek eet, want dit is die deel wat julle en julle familie toekom uit die maaltydoffers van die Israeliete. 15Die Israeliete moet die boud uit die offergawe en die borsstuk wat as beweegoffer vir die Here aangebied is, bring wanneer hulle die vetdele bring wat vir die vuuroffer bedoel is. Hulle moet dit as beweegoffers aan die Here aanbied. Daarna kry julle dit. Die Here het beveel dat dit 'n vaste voorskrif moet wees.”

16Toe Moses op 'n keer navraag doen oor die sondeofferbok en hy uitvind dat dit verbrand is, was hy kwaad vir Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron wat nog gelewe het. Hy vra toe: 17“Waarom het julle nie die sondeoffer op 'n gewyde plek geëet nie? Dit is 'n besondere gewyde gawe en die Here het dit aan julle gegee om die sonde van die gemeente weg te neem; dit is bedoel om vir hulle by die Here versoening te doen. 18Omdat die bloed nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die sondeoffer in die heiligdom geëet het soos ek julle beveel het.”

19Aäron antwoord toe daarop: “Die mense hét vandag hulle sondeoffer en brandoffer aan die Here gebring, en tog het hierdie ramp my getref! Sou dit dan enige verskil gemaak het as ek die sondeoffer geëet het?” 20Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.

LEVITIKUS 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Rein en onrein kos

(Vgl. Deut. 14:3-21)

1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Van al die diere wat op land hou, mag julle 3net dié eet wat volledig gesplete kloue het en herkou. 4Maar dié wat net herkou of net gesplete kloue het, mag julle nie eet nie. Dit geld vir die kameel, want, alhoewel die dier herkou, het hy nie gesplete kloue nie. Julle moet hom dus as onrein beskou. 5Dit geld ook vir die dassie 6en vir die haas. 7'n Vark het weer volledig gesplete kloue, maar hy herkou nie. Hy is vir julle dus 'n onrein dier. 8Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie: hulle is vir julle onrein.

9“In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het. Dit geld vir soutwaterdiere en varswaterdiere. 10Maar enige ding wat in die water lewe en nie vinne en skubbe het nie, is vir julle verbode. 11Hulle is vir julle verbode en julle mag glad nie van dié diere eet of selfs raak aan een wat dood is nie. 12Alle waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, is dus vir julle verbode.

13“In die geval van diere met vlerke is die volgende soorte verbode en hulle mag dus nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende; 14aasvoëls en valksoorte; 15al die kraaisoorte; 16volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls; 17uile, visvangers, ibisse, 18flaminke, pelikane, swane, 19ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise.

20“Alle insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode. 21Julle mag egter dié eet waarvan die pote so is dat hulle kan spring. 22Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke. 23Alle ander insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.

24“Sommige diere se karkasse maak iemand wat net daaraan raak, onrein vir die res van die dag. 25As iemand die karkas van so 'n dier gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is vir die res van die dag onrein. 26Dit is alle mak diere waarvan die pote nie volledig gesplete is nie en wat nie ook herkou nie. Dit is onrein diere, en elkeen wat aan die karkas van so 'n dier raak, is onrein. 27Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein. As iemand aan die karkas van so 'n dier raak, is hy onrein vir die res van die dag. 28As hy so 'n karkas gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is nog vir die res van die dag onrein.

29“Die volgende diertjies wat volop voorkom in die veld, moet julle as onrein beskou: molle, muise en al die akkedissoorte 30soos geitjies, sandakkedisse, boomakkedisse, gewone akkedisse en ook verkleurmannetjies. 31Dit is onrein diertjies en elkeen wat aan so 'n diertjie raak as hy dood is, is die res van die dag onrein. 32Enigiets waarop so 'n dooie diertjie val, is ook onrein. Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, lap, leer of growwe linne, enige gewone gebruiksartikel. Dit moet in water gedruk word, maar is nog vir die res van die dag onrein. Eers daarna is dit rein. 33As een van die diertjies in 'n kleipot val, is alles wat in die pot is, onrein. Die pot moet dan gebreek word, 34want enige kos waarby water uit so 'n pot gegooi is, is onrein, en enige vloeistof uit so 'n pot is onrein. 35Enigiets waarop een so 'n dooie diertjie val, is onrein. 'n Kleioond of kleikookplek moet in so 'n geval afgebreek word; dit het onrein geword, en julle moet dit as onrein beskou. 36'n Fontein of opgaardam is wel nie onrein as so 'n dooie diertjie daarin val nie, maar iemand wat aan die diertjie raak, is onrein. 37As so 'n dooie diertjie op saad val wat gesaai gaan word, word die saad nie onrein nie. 38As dit egter gebeur wanneer die saad in water lê om te week, is dit onrein.

39“As enige dier wat julle wel mag eet, vrek, is iemand wat aan die karkas raak, die res van die dag onrein. 40As iemand van die dooie dier se vleis eet of die karkas dra, moet hy sy klere was, maar self is hy die res van die dag onrein.

41“Alle klein diertjies wat volop voorkom in die veld, is vir julle verbode: 42of hulle nou seil of op vier pote loop of baie pote het, julle mag nie een van hulle eet nie, want dit is verbode. 43Julle moet julle nie besoedel met een van dié diere dat julle onrein word nie. 44Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie. 45Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.

46“Dit is dan die reëling wat betrekking het op diere en voëls en op alles wat in water lewe en wat op die grond beweeg. 47Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.”

LEVITIKUS 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Reiniging na swangerskap

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Wanneer 'n vrou 'n seun in die wêreld bring, is sy onrein, soos wanneer sy menstrueer, 'n week lank. 3Op die agste dag moet die seuntjie besny word. 4Daarna moet sy nog drie en dertig dae wag om seker te wees dat die bloedvloeiing opklaar. Voordat dié tydperk om is, mag sy aan niks raak wat gewyd is nie en ook nie in die heiligdom ingaan nie. 5As sy 'n dogter in die wêreld bring, is sy onrein soos wanneer sy menstrueer, maar twee weke lank. Dan moet sy nog ses en sestig dae wag om seker te wees dat daar geen bloedvloeiing meer is nie. 6As sy in die geval van 'n seun of dogter die bepaalde aantal dae gewag het, moet sy 'n jaaroud lam as brandoffer en 'n tortelduif of enige ander duif as sondeoffer neem na die priester toe wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting. 7Hy moet dit dan aan die Here offer en vir haar versoening doen. Dan sal sy rein wees van die bloedvloeiing wat sy gehad het. Hierdie wet is van toepassing op enige vrou wat 'n kind in die wêreld bring, of dit nou 'n seun is of 'n dogter. 8As sy nie 'n lam kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee ander duiwe bring, die een as brandoffer en die ander as sondeoffer, sodat die priester vir haar versoening kan doen en sy rein kan wees.”

LEVITIKUS 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Elke hoëpriester is 'n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:

“Jy is my Seun,

van vandag af is Ek jou Vader.”

6En op 'n ander plek sê Hy:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Waarskuwing teen afvalligheid

11In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. 12Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. 13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

1Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit 'n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, 2die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie. 3Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.

4Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting. 7Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

9Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. 10God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. 11Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Die sekerheid van die belofte van God

13Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met 'n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met 'n eed by Homself bevestig 14en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou 'n baie groot nageslag gee.” 15En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is. 16Mense lê 'n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van 'n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met 'n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, 'n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS