Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 27

LEVITIKUS 5–8, HEBREËRS 3–4

Bybelteks(te)

Die skuldoffer

1“Wanneer iemand hoor of te wete kom dat 'n vervloeking uitgespreek is en hy verswyg dit, sondig hy. Hy was 'n getuie daarvan, en daarom rus daar skuld op hom.

2“Iemand raak dalk aan iets onreins, aan die onrein dooie liggaam van 'n wilde dier of 'n mak dier of 'n insek, en hy is nie bewus daarvan nie; dan is hy onrein en is hy skuldig; 3of iemand raak aan iets onreins van 'n mens, iets wat hom onrein maak, en hy is nie bewus daarvan nie, is hy skuldig; 4of iemand lê 'n onbesonne eed af, ten goede of ten kwade, hoe 'n mens ook al onbesonne dinge kan sê in 'n eed, en hy is nie bewus dat dit onbesonne is nie, is hy skuldig. In enige van hierdie gevalle is hy skuldig. 5Wanneer hy in enige van dié gevalle te wete kom dat hy skuldig geword het, bely hy dat hy gesondig het 6en bring hy vir die Here 'n skuldoffer oor die sonde wat hy gedoen het. Dit kan 'n skaapooi of 'n bokooi wees wat hy as sondeoffer bring. Die priester doen versoening vir die persoon oor sy sonde.

7“As 'n stuk kleinvee bo die vermoë van die persoon is, bring hy as skuldoffer vir sy sonde twee tortelduiwe of twee ander duiwe vir die Here, een as sondeoffer en een as brandoffer. 8Hy bring hulle na die priester toe, en die priester bied eers dié een aan wat as sondeoffer bedoel is. Die priester knyp die duif se nek teen die kop af, maar verwyder nie die kop nie. 9Hy sprinkel van die bloed van die sondeoffer teen die kante van die altaar, en die bloed wat oorbly, druk hy teen die fondament van die altaar uit. Dit is die sondeoffer. 10Die tweede duif word as brandoffer gebring op die voorgeskrewe wyse. So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het, en word sy sonde vergewe.

11“As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is 'n sondeoffer. 12Hy neem die meel na die priester toe, en die priester vat 'n handvol daarvan as simbool vir die hele offer en verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. Dit is die sondeoffer. 13So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het in enige van die genoemde gevalle, en so word sy sonde vergewe. Soos by die graanoffer, kom die meel wat oorbly die priester toe.”

14Die Here het vir Moses gesê: 15“Wanneer iemand sonder opset troueloos handel en teen die heilige dinge van die Here sondig, bring hy vir die Here as skuldoffer 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop. Die waarde van die ram as skuldoffer word in silwer bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom. 16As die waarde te min is, betaal die persoon in wat hy nog aan die heiligdom verskuldig is, en voeg nog een vyfde by en gee dit aan die priester. Die priester doen vir die persoon versoening met die ram as skuldoffer, en sy sonde word hom vergewe.

17“As iemand sondig en teen een van die gebooie van die Here oortree, is hy skuldig al was hy nie bewus daarvan nie. Sy skuld rus op hom. 18Hy bring as skuldoffer 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde, en die priester doen vir die persoon versoening vir die onopsetlike sonde wat hy gedoen het en waarvan hy nie bewus was nie, en sy sonde word hom vergewe. 19Dit is die skuldoffer, die skuldoffer wat hy aan die Here bring.”

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Dit kan gebeur dat iemand sondig en troueloos handel teen die Here deurdat hy sy volksgenoot bedrieg met iets wat in sy bewaring gegee of aan hom geleen is, of sy volksgenoot beroof of hom te kort doen. 3Of hy kry dalk iets wat weggeraak het, maar ontken dit en lê 'n vals eed af oor enige saak waarin 'n mens in dié opsig sou kon sondig. 4As hy so gesondig en hom skuldig gemaak het, moet hy teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het of wat in sy bewaring gegee was of wat weggeraak het en deur hom gevind is, 5of wat ook al waaroor hy 'n vals eed afgelê het. Op die dag dat sy skuld bekend word, moet hy alles terugbetaal aan die persoon aan wie dit toekom, en hy moet nog 'n vyfde bysit. 6As skuldoffer bring hy vir die Here 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde, 7en die priester doen voor die Here versoening vir die skuldige, en sy sonde word hom vergewe, hoe hy hom ook al skuldig gemaak het.”

Reëlings oor die brandoffer

8Die Here het vir Moses gesê: 9“Gee aan Aäron en sy seuns die volgende opdrag: Die reëling oor die brandoffer is soos volg, die brandoffer naamlik wat die hele nag deur tot die môre toe op die vuurmaakplek op die altaar is terwyl die vuur aan die brand gehou word: 10die priester trek sy linnekleed en linnebroek aan, en tel die vet op wat uitgebraai het toe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en sit dit langs die altaar. 11Hy trek sy klere uit en trek ander klere aan en bring die vet buite die kamp na 'n rein plek toe. 12Die vuur op die altaar word aan die brand gehou; dit mag nie doodgaan nie. Die priester pak elke môre hout op die vuur, lê die brandoffer daarop en verbrand op die altaar die vet van die maaltydoffers. 13Die vuur moet aanhou brand op die altaar; dit mag nie doodgaan nie.”

Reëlings oor die graanoffer

14“Die reëlings oor die graanoffer is soos volg: een van Aäron se seuns bied dit vir die Here aan voor die altaar. 15Hy vat daaruit 'n handvol meel en olie en al die wierook bo-op die graanoffer en verbrand dit op die altaar. Die simbool van die hele offer word aanvaar deur die Here. 16Aäron en sy seuns eet die oorblywende deel. Daar kom nie suurdeeg by nie. Hulle eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting. 17Dit word gebak, maar nie met suurdeeg nie. Dit is hulle deel wat Ek hulle uit my vuuroffer gee. Dit is 'n besondere gewyde gawe, net soos die sondeoffer en die skuldoffer. 18Enige van die manlike nasate van Aäron mag daarvan eet. Dit is 'n vaste instelling vir julle nageslag met betrekking tot die vuuroffers van die Here. Elkeen wat daaraan raak, moet 'n gewyde wees.”

Die hoëpriester se offer by sy salwing

19Die Here het vir Moses gesê: 20“Aäron en elkeen wat hom opvolg, moet op die dag van sy salwing die volgende offergawe vir die Here aanbied: twee kilogram meel as graanoffer, die helfte in die môre en die helfte in die aand. Dit is 'n blywende voorskrif. 21Die offergawe word met olie aangemaak op 'n bakplaat en die mengsel word as graanoffer in stukkies aangebied. Dit is aanvaarbaar vir die Here. 22Die gesalfde priester wat uit die seuns van Aäron in sy plek gekom het, doen dit. Dit is 'n vaste instelling vir die Here. Die offer word heeltemal verbrand. 23Elke graanoffer van dié priester word heeltemal verbrand. Dit word nie geëet nie.”

Reëlings oor die sondeoffer

24Die Here het vir Moses gesê: 25“Sê vir Aäron en sy seuns: Die reëling vir die sondeoffer is soos volg: die sondeofferdier word in die teenwoordigheid van die Here geslag op dieselfde plek as die brandofferdier. Dit is 'n besondere gewyde gawe. 26Die priester wat die sondeoffer hanteer, eet dit. Hy eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting. 27Elkeen wat aan die vleis raak, moet 'n gewyde wees. As daar van die bloed op iemand se klere spat, moet die deel waarop die bloed gespat het, in die gewyde plek gewas word. 28Die kleipot waarin die vleis gekook is, word gebreek, en as dit in 'n bronspot gekook is, moet die pot geskuur en met water afgespoel word. 29Enige manlike persoon onder die priesters eet van die sondeoffer. Dit is 'n besondere gewyde gawe. 30'n Sondeofferdier waarvan bloed in die tent van ontmoeting gebring word om daarmee in die heiligdom versoening te doen, word egter nie geëet nie. Dit word verbrand.”

Reëlings oor die skuldoffer

1“Die skuldoffer is 'n besondere gewyde gawe. Die reëlings daaroor is soos volg: 2die skuldofferdier word geslag op dieselfde plek as die brandoffer en sy bloed word rondom teen die altaar gesprinkel. 3Al die vet word aangebied: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, 4die twee niertjies met die vet oor hulle teen die kruis en die lewerpunt wat saam met die niertjies verwyder word. 5Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is 'n vuuroffer vir die Here. Dit is die skuldoffer. 6Enige manlike persoon onder die priesters mag die skuldoffer eet. Dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit word op die gewyde plek geëet. 7Die aanwysings vir die skuldoffer is dieselfde as dié vir die sondeoffer. Dit kom die priester toe wat daarmee vir iemand versoening doen.”

Die priester se aandeel aan die brandoffer en die graanoffer

8“Waar 'n priester vir iemand 'n brandoffer aanbied, kom die vel van die offerdier die priester toe wat die offer aanbied.

9“Elke graanoffer wat in 'n oond gebak is, en dié wat in 'n bakpan of op 'n bakplaat gaargemaak is, kom die priester toe wat die offer aanbied.

10“Elke graanoffer wat met olie aangemaak is, en ook dié sonder olie, kom egter die seuns van Aäron toe, sonder voorkeur.”

Reëlings oor die maaltydoffer

11“Die reëlings oor die maaltydoffers wat vir die Here aangebied word, is soos volg: 12as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie. 13Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek. 14Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood.

15“Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende môre nie.

16“As iemand 'n offer aanbied om 'n gelofte na te kom of as hy 'n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word, 17maar wat op die derde dag nog oor is, moet verbrand word. 18As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig.

19“Vleis wat geraak het aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie; dit moet verbrand word.

“Iemand wat rein is, mag offervleis eet, 20maar die persoon wat terwyl hy onrein is, eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet van sy volksgenote afgesny word. 21As iemand aan iets onreins van 'n mens of van 'n dier raak, aan enigiets wat afstootlik en onrein is, en so iemand eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet dié persoon van sy volksgenote afgesny word.”

Verbod op die eet van vet en bloed

22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie. 24Die vet van 'n dooie dier of van 'n dier wat deur roofdiere gevang is, mag wel gebruik word, maar dit mag glad nie geëet word nie. 25Iemand wat die vet eet van 'n dier wat as vuuroffer vir die Here aangebied is, moet van sy volksgenote afgesny word.

26“Julle mag, waar julle ook al woon, geen bloed eet nie, nie van voëls of van diere nie. 27Iemand wat enige bloed eet, moet van sy volksgenote afgesny word.”

Die priesters se aandeel aan die maaltydoffers

28Die Here het vir Moses gesê: 29“Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand vir die Here 'n maaltydoffer aanbied, moet hy self uit sy maaltydoffer 'n offer aan die Here bring. 30Hy moet dit met sy eie hand as vuuroffer vir die Here bring. Hy moet die vuuroffer, die vet van die bors, saam met die bors bring en dit in die teenwoordigheid van die Here heen en weer beweeg as 'n beweegoffer. 31Die priester verbrand dan die vet op die altaar, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe.

32“Julle moet die regterboud van die maaltydofferdier as 'n offergawe aan die priester gee. 33Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed en die vet van die maaltydoffers hanteer, het aanspraak op die regterboud as sy aandeel.

34“Die Here het die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is, uit die maaltydoffers van Israel gevat en dit aan die priester Aäron en sy seuns gegee. Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete.

35“Dit is die aandeel van Aäron en sy seuns aan die vuuroffers van die Here, van die dag af dat hulle as priesters vir die Here gewy is. 36Die dag toe hulle gesalf is, het die Here beveel dat hulle dié gawes van die Israeliete moet ontvang. Dit is 'n vaste instelling, ook vir hulle nageslag.”

37Dit is dan die reëlings vir die brandoffer, die graanoffer, die sondeoffer, die skuldoffer, die offers by die priesterwyding en die maaltydoffers. 38So het die Here aan Moses opdrag gegee by Sinaiberg in die Sinaiwoestyn die dag toe Hy die Israeliete beveel het om vir Hom offers te bring.

Die priesterwyding

(Vgl. Eks. 29:1-37)

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Laat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van ontmoeting toe kom. Bring die klere, die salfolie, die bul vir die sondeoffer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood, 3en laat die hele gemeente ook by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaarkom.”

4Moses het die bevel van die Here uitgevoer, en toe die gemeente bymekaar was voor die tent van ontmoeting, 5het Moses vir hulle gesê: “Ek sal nou daartoe oorgaan om te doen wat die Here my beveel het.”

6Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom na die altaar toe en hulle gewas. 7Daarna het hy die priesterklere vir Aäron aangetrek en die serp vir hom omgebind. Hy het die mantel vir hom omgehang en die skouerkleed vir hom aangetrek deur dit met die band wat daaraan was, om sy lyf vas te maak. 8Hy het ook die borssak daaraan vasgebind en die urim en tummim in die borssak gesit. 9Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as 'n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het.

10Moses het toe met die salfolie die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf. So het hy dit vir die diens van die Here gewy. 11Hy het naamlik sewe maal van die olie teen die altaar gesprinkel en die altaar met al sy gereedskap en ook die waskom en sy staander gesalf om dit te wy. 12Hy het ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi om hom te salf en aan die diens van die Here te wy.

13Toe het Moses die seuns van Aäron by die altaar laat plek inneem, die priesterklere vir hulle aangetrek, hulle serpe omgebind en hulle kopdoeke vasgemaak. Hy het dit gedoen soos die Here hom beveel het.

14Hierna het hy die bul vir die sondeoffer na die altaar toe gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit. 15Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word. 16Hierna het Moses al die vet wat aan die binnegoed sit en die punt van die lewer saam met die twee niere en die niervet op die altaar verbrand. 17Die res van die bul, die vel, die vleis en die pensmis is buite die kamp verbrand soos die Here vir Moses beveel het.

18Toe is die ram vir die brandoffer nadergebring na die altaar toe. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit. 19Moses het hom geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi. 20Hy het die ram opgesny. Hy het die kop, die opgesnyde dele, die binnevet, en 21nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het.

22Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit. 23Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer. 24Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi. 25Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit. 26Hy het 'n ongesuurde ringbrood, 'n ringbrood wat met olie geknie is, en 'n roosterkoek uitgehaal uit die mandjie met ongesuurde brood wat by die altaar gestaan het, en dit by die vet en die regterboud gesit. 27Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit as 'n beweegoffer vir die Here aan te bied. 28Moses het dit toe by hulle geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Die offer waarmee die priesters gewy is, was 'n offer wat deur die Here aanvaar is. Dit was 'n vuuroffer wat vir die Here aangebied is. 29Moses het die bors as 'n beweegoffer vir die Here aangebied. Dit was die deel van die offerram vir die priesterwyding wat Moses, volgens die bevel van die Here, gekry het.

30Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed wat op die altaar was, oor Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. So het Moses vir Aäron en sy seuns en hulle klere aan die Here gewy.

31Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat gebruik is by die priesterwyding, want die bevel aan my was: ‘Aäron en sy seuns moet dit eet.’ 32As daar iets oorbly van die vleis of die brood, moet dit verbrand word. 33Julle mag 'n week lank nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, nie voordat die sewe dae van die wydingseremonies verby is nie. 34Die dinge wat vandag gedoen is op bevel van die Here, was bedoel om julle sonde te versoen. 35Daarom moet julle 'n week lank dag en nag by die ingang van die tent van ontmoeting bly en die bevel van die Here uitvoer, anders sal julle sterwe. Dit is die bevel wat ek van die Here ontvang het.”

36Aäron en sy seuns het toe alles wat die Here deur Moses beveel het, gedoen.

Jesus is meer as Moses

1Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. 2Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God. 3Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat 'n huis bou, meer eer waardig is as die huis. 4Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. 5Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

Die gevaar van afval deur ongeloof

7Luister daarom na wat die Heilige Gees sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor,

8moet julle nie hardkoppig wees nie,

soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

9Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart,

hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

10Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê:

‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor,

hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

11Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:

In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

12Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar solank daar nog 'n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. 14Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. 15Daarom word daar gesê:

“Vandag as julle sy stem hoor,

moet julle nie hardkoppig wees nie,

soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

16Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank 'n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? 18Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy 'n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? 19Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

Die belofte van rus vir dié wat glo

1Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. 3Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het:

“Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:

In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, 4want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” 5terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” 6Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan. 7God het immers weer 'n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor,

moet julle nie hardkoppig wees nie.”

8As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van 'n ander dag gepraat het nie. 9Daar wag dus nog steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.

Die woord as swaard

12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Jesus die groot Hoëpriester

14Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS