Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 26

LEVITIKUS 1–4, HEBREËRS 1–2

Bybelteks(te)

Die brandoffer

1Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê: 2“Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here 'n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.

3“As dit 'n brandoffer uit die beeste is, bied die man 'n bul aan sonder liggaamsgebrek. Hy bied dit aan by die ingang van die tent van ontmoeting sodat dit vir die Here aanneemlik sal wees. 4Daarna sit hy sy hand op die offerdier se kop sodat dit aanvaar sal word as versoening vir hom. 5Dan slag hy die bul daar in die teenwoordigheid van die Here, en die Aäronitiese priesters bring die bloed en sprinkel dit rondom teen die altaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 6Die man slag die offerdier af en sny dit in stukke op. 7Die Aäronitiese priesters maak dan vuur op die altaar en sit hout op die vuur. 8Dan sit hulle die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur. 9Die man was die binnegoed en die pote af, en 'n priester verbrand alles op die altaar. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

10“As dit 'n offer uit die kleinvee is, 'n brandoffer uit die skape of bokke, bied die man 'n ram aan sonder liggaamsgebrek. 11Hy slag die dier daar in die teenwoordigheid van die Here, aan die noordekant van die altaar, en die Aäronitiese priesters sprinkel die bloed rondom teen die altaar. 12Dan sny die man die offerdier in stukke op, en die priesters sit die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur. 13Die man was die binnegoed en die pote af, en die priester bring alles op die altaar en verbrand dit. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

14“As dit 'n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy 'n tortelduif of 'n ander duif aan. 15Die priester bring dit op die altaar, knyp die kop af en verbrand dit op die altaar. Die bloed word eers teen die kante van die altaar uitgedruk; 16dan verwyder die priester die krop en die vere en gooi dit langs die altaar aan die oostekant op die plek vir die as, 17en nadat hy die duif tussen die vlerke oopgeskeur het sonder om dit heeltemal middeldeur te skeur, verbrand hy dit in die vuur op die altaar. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

Die graanoffer

1“Wanneer iemand vir die Here 'n graanoffer wil aanbied, kan hy meel aanbied. Hy gooi daar olie oor en sit wierook bo-op. 2Dan bring hy dit na die Aäronitiese priesters toe, vat 'n handvol van die meel en die olie, en al die wierook, en die priester verbrand dit op die altaar as simbool van die hele offer. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 3Die oorblywende deel van die graanoffer is vir Aäron en sy seuns. Dit is 'n besondere gewyde gawe, 'n deel van die vuuroffer wat vir die Here gebring is.

4“Wanneer jy 'n graanoffer uit die oond aanbied, moet dit van fynmeel wees. Dit kan ongesuurde ringbrood wees, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek, met olie gesmeer. 5As jou graanoffer op 'n bakplaat gebak word, moet dit van fynmeel wees, geknie met olie en sonder suurdeeg. 6Jy breek dit in stukke en gooi olie daaroor. Dit is die graanoffer. 7As jou graanoffer in 'n bakpan gebak word, maak jy die fynmeel met olie aan.

8“Jy bring dan die graanoffer wat jy op een van dié maniere vir die Here klaargemaak het, na die priester toe, en hy bring dit na die altaar toe. 9Die priester vat die deel wat as simbool vir die hele offer dien en verbrand dit op die altaar. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 10Die oorblywende deel van die graanoffer is vir Aäron en sy seuns. Dit is 'n besondere gewyde gawe, 'n deel van die vuuroffer wat vir die Here gebring is.

11“Geen graanoffer wat vir die Here aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning verbrand as 'n vuuroffer vir die Here nie. 12Julle mag dit as eerstelingoffer vir die Here aanbied, maar op die altaar mag dit nie kom as 'n offer wat deur die Here aanvaar word nie. 13Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God; moenie dat dit in jou graanoffers ontbreek nie. Bied sout aan op al jou graanoffers.

14“Wanneer jy vir die Here 'n graanoffer uit die eerste opbrengs van die oes aanbied, kan dit gebraaide koring of stampkoring wees. Jy bied dit aan as die graanoffer uit die eerste opbrengs van jou oes, 15en jy gooi olie daarop en sit wierook bo-op. Dit is die graanoffer. 16Die priester verbrand dié deel van die stampkoring en die olie wat as simbool vir die hele offer dien, saam met al die wierook. Dit is 'n vuuroffer vir die Here.”

Die maaltydoffer

1“As iemand 'n maaltydoffer wil bring en hy wil dit aanbied uit sy beeste, kan hy vir die Here 'n bul of 'n koei aanbied, maar sonder liggaamsgebrek. 2Die man sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit by die ingang van die tent van ontmoeting. Die Aäronitiese priesters sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar. 3Dan bied hy uit die maaltydoffer vir die Here 'n vuuroffer aan, bestaande uit die vet wat die binnegoed bedek, die vet aan die binnegoed self, 4die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word. 5Die Aäroniete verbrand dit op die altaar, bo-op die brandoffer op die vuur. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

6“As iemand vir die Here 'n maaltydoffer uit sy kleinvee wil aanbied, kan dit 'n ram of 'n ooi wees, maar sonder liggaamsgebrek.

7“As die man 'n skaap as offer aanbied, bring hy dit in die teenwoordigheid van die Here, 8sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die Aäronitiese priesters sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar. 9Dan bied die man uit die maaltydoffer vir die Here 'n vuuroffer aan, bestaande uit die vet, naamlik die hele vetstert, teen die stuitjie afgesny, die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self, 10die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word. 11Die priester verbrand dit dan op die altaar. Dit is voedsel, dit is 'n vuuroffer vir die Here.

12“As die offer 'n bok is, bring die man dit in die teenwoordigheid van die Here, 13sit sy hand op die dier se kop en slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die Aäroniete sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar. 14Dan bied die man uit sy offer vir die Here 'n vuuroffer aan, bestaande uit die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self, 15die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word. 16Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is voedsel, dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. Al die vet is die Here s'n.

17“Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag, waar julle ook al woon: julle mag geen vet of bloed eet nie.”

Die sondeoffer

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand onopsetlik teen enige van die gebooie van die Here sondig en iets doen wat hy nie mag doen nie, moet soos volg gehandel word:

3“As die gesalfde priester sondig en so die volk skuldig maak, bied hy vir die sonde wat hy gedoen het, 'n bul sonder liggaamsgebrek as sondeoffer aan die Here aan. 4Hy bring die bul by die ingang van die tent van ontmoeting, sit sy hand op die bul se kop en slag dit daar in die teenwoordigheid van die Here. 5Dan vat die gesalfde priester van die bul se bloed, bring dit na die tent van ontmoeting toe, 6steek sy vinger in die bloed en sprinkel van die bloed sewe maal in die teenwoordigheid van die Here op die voorkant van die voorhangsel in die heiligdom. 7Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting. Die res van die bul se bloed gooi hy alles uit teen die fondament van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 8Hy verwyder ook al die vet van die sondeofferbul, die vet wat die binnegoed bedek, dié aan die binnegoed self, 9die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word, 10net soos dit verwyder word by die maaltydofferbul. Die priester verbrand die vet dan op die brandofferaltaar. 11Die vel van die bul, al die vleis saam met die kop en pote, die binnegoed wat oor is, en die pensmis, 12die hele bul, word dan buitekant die kamp gebring na 'n rein plek toe, die plek waar die as weggegooi word, en daar op 'n houtvuur verbrand. Dit word op die ashoop verbrand.

13“As die hele volk Israel onopsetlik sondig, en 'n misdaad teen die Here begaan sonder dat hulle weet dat hulle 'n gebod van die Here oortree, 14en dit word agterna bekend dat hulle gesondig het, moet die volk 'n bul as sondeoffer aanbied. Hulle bring die bul voor die tent van ontmoeting, 15en dan sit die leiers van die volk daar in die teenwoordigheid van die Here hulle hande op die bul se kop en slag dit daar. 16Die gesalfde priester neem van die bloed na die tent van ontmoeting toe, 17steek sy vinger in die bloed en sprinkel van die bloed sewe maal in die teenwoordigheid van die Here op die voorkant van die voorhangsel. 18Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting staan. Die res van die bloed gooi hy alles uit teen die fondament van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 19Hy verwyder ook al die vet van die dier en verbrand dit op die altaar. 20Verder doen hy met die bul presies wat gedoen word met die sondeoffer. So doen die priester versoening vir die volk en word hulle sonde vergewe. 21Hy bring dan die bul buitekant die kamp en verbrand dit net soos die bul wat voorheen genoem is. Dit is die sondeoffer van die volk.

22“As 'n gesagsdraer sondig en 'n misdaad teen die Here begaan deurdat hy sonder opset 'n gebod van die Here sy God oortree, 23en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy 'n bokram sonder liggaamsgebrek as offer. 24Hy sit sy hand op die bok se kop en slag dit in die teenwoordigheid van die Here op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. Dit is die sondeoffer. 25Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. 26Hy verbrand dan al die vet op die altaar soos in die geval van die vet van die maaltydoffer. So doen die priester versoening vir die gesagsdraer en word sy sonde vergewe.

27“As een van die burgers van die land sonder opset sondig en 'n misdaad teen die Here begaan deurdat hy 'n gebod van die Here oortree, 28en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy 'n bokooi sonder liggaamsgebrek as offer vir die sonde wat hy begaan het. 29Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. 30Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. 31Al die vet word verwyder soos in die geval van die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar. Die offer word deur die Here aanvaar. So doen die priester versoening vir die burger en word sy sonde vergewe.

32“As hy 'n skaap as sondeoffer bring, bring hy 'n ooi sonder liggaamsgebrek. 33Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit as 'n sondeoffer op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. 34Die priester vat dan met sy vinger van die offerdier se bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. 35Al die vet word verwyder soos in die geval van die skaap vir die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. So doen die priester versoening vir die sonde wat die burger gedoen het, en word sy sonde vergewe.”

Die uitnemende grootheid van die Seun van God

1In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê:

“Jy is my Seun,

van vandag af is Ek jou Vader,”

en ook:

“Ek sal sy Vader wees,

en Hy sal my Seun wees”?

6En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy:

“Al die engele van God moet Hom aanbid.”

7Van die engele sê Hy:

“Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.”

8Maar van die Seun sê Hy:

“U troon, o God, staan vir ewig vas,

met u koninklike septer laat U reg geskied.

9U het die reg lief en U haat die onreg.

Daarom het God, u God,

U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.”

10En verder:

“U, Here, het in die begin die aarde gevestig,

en ook die hemel is die werk van u hande.

11Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan;

soos 'n kledingstuk sal alles verslyt;

12soos klere sal U dit oprol;

ja, soos 'n kledingstuk sal dit vervang word.

Maar U, U bly dieselfde,

en u jare het geen einde nie.”

13Van watter engel het Hy ooit gesê:

“Sit aan my regterhand,

totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”?

14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Die groot saligheid vereis groot verantwoordelikheid

1Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. 2As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is, 3hoe sal ons dan ontkom as ons so 'n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. 4Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.

Die Leidsman tot die saligheid

5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:

“Wat is 'n mens dat U aan hom dink,

'n mensekind dat U na hom omsien?

7U het hom 'n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon;

8U het alles aan hom onderwerp.”

By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:

“Ek sal u Naam aan my broers bekend maak,

in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.”

13Ook sê Hy:

“Ek sal altyd op Hom vertrou.”

En verder:

“Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.”

14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS