Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 225

Psalms 128–129 & 131–134

Bybelteks(te)

Die vrug van jou arbeid sal jy geniet

1'n Pelgrimslied.

Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien

en sy wil doen.

2Die vrug van jou arbeid sal jy geniet,

gelukkig en voorspoedig sal jy wees.

3Jou vrou is in jou huis soos 'n vrugbare wingerdstok,

jou seuns is rondom jou tafel soos jong olyfboompies!

4Kyk, so word die man geseën wat die Here dien.

5Mag die Here jou seën uit Sion,

dat jy die voorspoed van Jerusalem kan aanskou

al die dae van jou lewe,

6en dat jy jou kindskinders mag sien.

Mag daar vir Israel vrede wees!

Die Here het die bande losgesny

1'n Pelgrimslied.

Hulle het my van jongs af swaar verdruk,

dit moet Israel sê,

2hulle het my van jongs af swaar verdruk,

maar hulle kon my nie onderkry nie.

3Hulle het van my rug 'n ploegland gemaak

en daar lang vore op getrek.

4Die Here is regverdig,

Hy het die bande losgesny

waarmee die goddeloses my gebind het.

5Mag almal wat vir Sion haat, self tot niet gaan,

6mag hulle wees soos gras op 'n dak:

dit verdroog nog voor dit behoorlik uitgespruit het

7en daar is niks om af te sny

en in bondels weg te dra nie.

8Niemand wat daar verbygaan, sal die groet:

“Die Here het julle geseën,

ons seën julle in die Naam van die Here,”

kan uitspreek nie.

Ek het rus gevind

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.

Selfverheffing en hoogmoed

is daar nie by my nie, Here.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

2Ek het rus en kalmte gevind.

Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,

so het ek tevredenheid gevind.

3Wag op die Here, Israel,

nou en vir altyd.

Die Here het 'n eed teenoor Dawid afgelê

1'n Pelgrimslied.

Dink tog aan Dawid, Here,

aan alles wat hy deurgemaak het,

2aan die eed wat hy teenoor die Here afgelê het,

sy gelofte aan die magtige God van Jakob:

3“Ek sal nie in my slaapkamer ingaan nie

en nie op die bed wat vir my reggemaak is, gaan lê nie,

4ek sal my geen slaap gun nie,

en sal nie eens insluimer nie,

5totdat ek 'n plek vir die Here gereed gemaak het,

'n woning vir die magtige God van Jakob!”

6Ons het van die verbondsark gehoor in Efrata,

ons het dit gevind in die Jaärsveld.

7Kom ons gaan sy woning binne,

kom ons buig daar in aanbidding voor Hom.

8Kom na u rusplek toe, Here,

U en die ark, die teken van u mag.

9Gee aan u priesters die oorwinning,

laat u troue dienaars juig.

10Ter wille van u dienaar Dawid,

moet tog nie u gesalfde verstoot nie.

11Die Here het 'n eed teenoor Dawid afgelê,

en dit staan vas, Hy sal daarvan nie afwyk nie:

“Ek sal een van jou eie seuns in jou plek laat koning word.

12As jou nakomelinge hulle aan my verbond hou

en aan die verordeninge wat Ek hulle leer,

sal ook hulle seuns vir altyd op jou troon heers.”

13Ja, die Here het Sion gekies

en dit vir Hom as woning begeer:

14“Dit is my rusplek vir altyd;

hier wil Ek woon, dit is my begeerte.

15Ek sal Sion ryklik seën met wat hy nodig het,

aan sy armes voedsel in oorvloed skenk.

16Ek sal aan sy priesters die oorwinning gee

en my troue dienaars sal juig.

17Daar sal Ek die heerskappy vir Dawid vestig,

vir my gesalfde 'n nageslag op die troon verseker.

18Sy vyande sal Ek magteloos laat toekyk,

maar sý kroon sal bly skitter.”

As broers eensgesind saam woon

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.

Hoe goed, hoe mooi is dit

as broers eensgesind saam woon!

2Dit is soos reukolie

wat van die kop af in die baard afloop,

die baard van Aäron,

af tot by die soom van sy klere.

3Dit is soos die dou van Hermonberg

wat op die berge by Sion val.

Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën:

'n lang, lang lewe.

Kom, prys die Here!

1'n Pelgrimslied.

Kom, prys die Here,

julle almal wat Hom dien,

julle wat in die nag in die tempel van die Here staan!

2Hef julle hande in gebed op na die heiligdom

en prys die Here!

3Mag die Here jou seën uit Sion,

Hy wat hemel en aarde gemaak het.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS