Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 224

Psalms 124–126, 147

Bybelteks(te)

As die Here ons nie gehelp het nie

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.

As die Here ons nie gehelp het nie,

dit moet Israel bely,

2as die Here ons nie gehelp het

toe mense ons aangeval het nie,

3dan het hulle ons lewendig verslind

toe hulle woede teen ons ontvlam het;

4dan het die waters ons weggespoel

en die vloed ons oorweldig;

5dan het die skuimende waters ons oorweldig.

6Aan die Here kom die lof toe:

Hy het nie toegelaat dat ons hulle prooi word nie.

7Ons is bevry soos 'n voël uit die wip van 'n voëlvanger;

die wip het gebreek en ons was vry!

8Ons hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

Die Here beskerm sy volk

1'n Pelgrimslied.

Dié wat op die Here vertrou,

is soos Sionsberg

wat nie wankel nie

en altyd vas bly staan.

2Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm,

so beskerm die Here sy volk,

nou en vir altyd.

3Oor die grondgebied van die regverdiges

sal 'n goddelose nie die mag kry nie,

sodat die regverdiges nie in misdaad verval nie.

4Here, doen goed aan dié wat goed is,

die opregtes van hart!

5Maar dié wat die verkeerde pad loop,

mag die Here hulle vernietig

saam met dié wat onreg doen.

Mag daar vir Israel vrede wees!

Verander tog ons lot, Here!

1'n Pelgrimslied.

Toe die Here die lot van Sion verander het,

was dit vir ons soos 'n droom.

2Ons het gelag en gesing.

Onder die nasies het hulle gesê:

“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”

3Die Here hét groot dinge aan ons gedoen;

ons was bly.

4Verander tog ook nou ons lot, Here,

soos U droë spruite in die Suidland

in waterstrome verander.

5Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.

6Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,

hy kom juigend terug

terwyl hy sy gerwe dra.

Ons Here is groot en magtig

1Prys die Here!

Dit is goed om tot lof van ons God te sing,

dit is 'n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.

2Dit is die Here wat Jerusalem weer opbou,

wat die verstrooides van Israel bymekaarbring.

3Hy genees die gebrokenes van hart

en verbind hulle wonde.

4Hy besluit oor die getal van die sterre

en gee elkeen 'n naam.

5Ons Here is groot en magtig,

sy kennis is onbegrens.

6Die Here laat die hulpeloses weer opstaan,

maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.

7Sing vir die Here 'n danklied,

sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier.

8Hy oordek die hemel met wolke,

Hy voorsien reën vir die aarde

en laat gras op die bergland uitspruit.

9Hy gee aan die diere hulle weiding

en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu.

10Die Here het niks aan die krag van 'n perd

of die liggaamskrag van 'n soldaat nie,

11maar Hy stel prys op dié wat Hom dien,

dié wat hulle hoop vestig op sy trou.

12Loof die Here, Jerusalem,

prys jou God, Sion!

13Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak,

jou inwoners geseën,

14Hy het in jou grondgebied vrede gegee,

jou met die beste graan gevoed.

15As Hy die aarde 'n bevel gee,

word dit vinnig uitgevoer.

16Hy gee sneeu so wit soos wol,

Hy strooi ryp uit soos as,

17Hy laat dit haelstene reën.

Wie is bestand teen die koue wat Hy stuur?

18Maar op sy bevel smelt alles weer;

as Hy die warm wind laat waai, dan loop die waters.

19Hy maak sy woord aan Jakob bekend,

sy voorskrifte en bepalings aan Israel.

20Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie;

hulle ken sy bepalings nie.

Prys die Here!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS