Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 226

Psalms 135–137

Bybelteks(te)

Alles wat die Here wil, doen Hy

1Prys die Here,

prys die Naam van die Here,

prys Hom, dienaars van die Here,

2julle wat in die tempel van die Here staan,

in die voorhowe van die tempel van ons God!

3Prys die Here, want die Here is goed,

sing tot eer van sy lieflike Naam.

4Die Here het Jakob vir Hom gekies,

Israel as die volk wat Syne is.

5Ek weet, die Here is groot,

ons Here is verhewe bo al die gode.

6Alles wat die Here wil, doen Hy,

in die hemel en op aarde,

in die see, in al die oseane.

7Hy laat die wolke opkom oor die horison,

Hy maak die weerligstrale vir die reën

en bring die wind te voorskyn.

8Hy het die eerstelinge in Egipte getref,

mense sowel as diere;

9Hy het oor jou, Egipte, groot en skrikwekkende dinge gebring,

oor die farao en al sy amptenare;

10Hy het baie nasies verslaan

en magtige konings laat sneuwel:

11koning Sihon van die Amoriete,

koning Og van Basan,

en al die konings in Kanaän.

12Hy het hulle land as geskenk aan Israel gegee,

as geskenk aan sy volk.

13Here, U is altyd daar,

U is daar van geslag tot geslag.

14Die Here behartig die regsaak van sy volk:

Hy ontferm Hom oor sy dienaars.

15Wat die nasies het, is afgode, van silwer en goud,

die werk van mensehande;

16'n mond het hulle, maar praat kan hulle nie,

oë het hulle, maar sien kan hulle nie;

17ore het hulle, maar hoor kan hulle nie,

hulle haal nie asem nie.

18Wie hulle maak en op hulle vertrou,

sal net soos hulle word.

19Huis van Israel, loof die Here,

huis van Aäron, loof die Here,

20huis van Levi, loof die Here,

julle wat die Here dien, loof die Here!

21Aan die Here kom die lof uit Sion toe,

aan Hom wat in Jerusalem woon!

Prys die Here!

Aan sy liefde is daar geen einde nie

1Loof die Here, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

2Loof die oppermagtige God.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

3Loof die magtigste van alle maghebbers.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

4Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

5Hy het die hemel met soveel insig gemaak.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

6Hy het die aarde op die waters gevestig.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

7Hy het die groot hemelligte gemaak,

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

8die son om te heers oor die dag,

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

9die maan en die sterre om te heers oor die nag.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

10Hy het die Egiptenaars getref met die dood van hulle eersgeborenes

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

11en Israel onder hulle uit gelei

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

12met sy groot mag en krag.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

13Hy het die Rietsee in twee gekloof

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

14en Israel daar deur laat trek,

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

15maar die farao met sy leërmag in die Rietsee gestort.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

16Hy het sy volk deur die woestyn laat trek.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

17Hy het groot konings oorwin,

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

18magtige konings laat sneuwel:

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

19koning Sihon van die Amoriete,

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

20koning Og van Basan.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

21Hy het hulle land as geskenk gegee,

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

22as geskenk aan Israel, sy dienaar.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

23Hy het aan ons gedink in ons vernedering

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

24en ons uit die mag van ons teëstanders bevry.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

25Hy gee voedsel aan al wat lewe.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

26Loof die God van die hemel!

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

As ek jou sou vergeet, Jerusalem

1By die riviere van Babel,

daar het ons gesit, en ons trane het gevloei

as ons aan Sion dink.

2Aan die wilgerbome in daardie land

het ons ons liere opgehang

3toe dié wat vir ons gevange weggevoer het,

ons gevra het om 'n lied te sing,

toe dié wat vir ons leed aangedoen het,

van ons vrolikheid wou hê:

“Sing vir ons 'n lied oor Sion!”

4Hoe kan ons die lied van die Here sing

in 'n vreemde land?

5As ek jou sou vergeet, Jerusalem,

mag my regterhand dan verlam raak.

6Mag my tong aan my verhemelte vaskleef

as ek aan jou nie dink nie,

as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie.

7Onthou die Edomiete, Here,

die dag toe Jerusalem ingeneem is,

hoe hulle aangehou het met sê:

“Breek af, breek af die stad

tot op sy fondamente!”

8Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker.

Gelukkig is die man wat jou terugbetaal

vir wat jy ons aangedoen het!

9Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp

en teen 'n klip verbrysel.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS