Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 223

Psalms 46, 118, 120

Bybelteks(te)

God is vir ons 'n toevlug

1Vir die koorleier. Van die Koragiete. Op die wysie van “Jong Vroue”. 'n Lied.

2God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

3Daarom is ons nie bang nie,

al gee die aarde pad,

al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

4al druis en skuim die waters van die see,

al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela

5Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,

in die heilige woning van die Allerhoogste.

6God is daar; die stad sal nie wankel nie.

God sal hom help nog voor die môre kom.

7Nasies kan raas en koninkryke wankel,

maar as God sy stem laat hoor,

smelt die aarde weg.

8Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

9Kom kyk wat die Here gedoen het,

watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:

10die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,

pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,

oorlogswaens verbrand Hy met vuur.

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

Die Here doen kragtige dade

1Loof die Here, want Hy is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie!

2Israel moet getuig:

“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

3Die huis van Aäron moet getuig:

“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

4Dié wat die Here dien, moet getuig:

“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

5In my nood het ek na die Here geroep,

die Here het my gebed verhoor en my bevry.

6Die Here is by my, ek ken geen vrees nie;

wat kan 'n mens aan my doen?

7Die Here is by my, Hy help my:

ek sal neerkyk op dié wat my haat.

8Om by die Here te skuil,

is beter as om op mense te vertrou.

9Om by die Here te skuil,

is beter as om op hoë mense te vertrou.

10Nasies het van alle kante af op my afgestorm.

In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.

11Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm.

In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.

12Hulle het soos bye om my gepak,

maar hulle het verdwyn soos doringtakke in 'n vuur.

In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.

13My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk,

maar die Here het my gehelp.

14Die Here is my krag en my beskerming.

Dit is Hy wat my gered het!

15Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:

“Die Here doen kragtige dade,

16die Here triomfeer,

die Here doen kragtige dade!”

17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe

en van die dade van die Here getuig.

18Die Here het my swaar gekasty,

maar my nie aan die dood oorgegee nie.

19Maak die tempelpoort vir my oop:

ek wil ingaan en die Here loof.

20Dit is die poort na die Here toe;

regverdiges mag daardeur ingaan.

21Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor

en my gered het.

22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

23Dit is deur die Here gedoen

en is 'n wonder in ons oë!

24Dit is die dag wat die Here gemaak het;

laat ons daaroor juig en bly wees.

25Red tog, Here,

gee tog voorspoed, Here!

26Prys hom wat in die Naam van die Here kom!

Ons seën julle uit die huis van die Here.

27Die Here is God; Hy skenk ons die lewe.

Begin die fees! Wuif met takke!

Gaan tot by die horings van die altaar.

28U is my God, U wil ek loof;

my God, u grootheid wil ek besing.

29Loof die Here, want Hy is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie.

Ek het vrede begeer

1'n Pelgrimslied.

In my nood het ek na die Here geroep

en Hy het my gebed verhoor.

2Red my uit die mag van leuenaars, Here,

uit die mag van bedrieërs.

3Wat sal God aan jou doen, jou bedrieër?

Hoe sal Hy teen jou optree?

4Hy sal jou tref met die skerp pyle van 'n krygsman,

met gloeiende kole.

5Hoe ellendig was dit toe ek as vreemdeling in Mesek gewoon het

en tussen die inwoners van Kedar gebly het!

6Te lank moes ek woon by mense wat vrede haat.

7Ek het vrede begeer,

maar sodra ek iets gesê het, was hulle op oorlog uit!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS