Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 222

Psalms 112–117

Bybelteks(te)

Die regverdige sal nooit wankel nie

1Prys die Here!

Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien,

wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.

2Sy nageslag is 'n sterk krag in die land,

die geslag van die opregte word geseën:

3daar is oorvloed en rykdom in sy huis.

Wat hy doen, is reg en blywend:

4hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes,

hy is genadig, barmhartig en regverdig.

5Dit is 'n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen

en in al sy sake reg optree.

6Die regverdige sal nooit wankel nie,

hy sal altyd onthou word.

7Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,

hy is gerus, hy vertrou op die Here.

8Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie:

hy sal die neerlaag van sy vyande aanskou.

9Hy gee mildelik vir die armes.

Wat hy doen, is reg en blywend.

Hy geniet hoë aansien.

10Die goddelose sien dit en raak ontsteld,

hy kners op sy tande van magteloosheid.

Van die begeertes van die goddelose kom daar niks.

Prys die Here!

1Prys die Here!

Prys, dienaars van die Here,

prys die Naam van die Here!

2Die Naam van die Here moet geloof word,

nou en vir altyd.

3Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan,

moet die Naam van die Here geprys word!

4Hoog bo al die nasies heers die Here,

sy mag strek selfs oor die hemele.

5-6Wie in die hemel of op die aarde

is soos die Here ons God,

wat hoog woon en hier onder alles sien?

7Die geringe help Hy op uit die stof,

die arme laat Hy van die ashoop af opstaan

8om hom by vernames te laat sit,

by die vernames van sy volk.

9Aan die kinderlose skenk Hy 'n huisgesin,

sy word 'n gelukkige moeder van kinders.

Prys die Here!

Die aarde moet bewe as die Here verskyn

1Toe Israel uit Egipte getrek het,

toe die nageslag van Jakob getrek het,

weg van die volk met die onverstaanbare taal af,

2het Juda sy gewyde besit geword

en Israel sy magsgebied.

3Die see het dit gesien en op die vlug geslaan,

die Jordaan het teruggedraai,

4die berge het rondgespring soos ramme,

die rante soos lammers.

5Wat is dit met jou, see, dat jy op die vlug slaan,

wat is dit, Jordaan, dat jy terugdraai,

6berge, dat julle soos ramme rondspring,

en julle, rante, soos lammers?

7Bewe, aarde, as die Here verskyn,

as die God van Jakob verskyn,

8Hy wat rots in waterkuile verander,

harde klip in fonteine.

Aan u Naam kom die eer toe

1Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie,

maar aan u Naam kom die eer toe,

want dit is U wat liefde en trou bewys.

2Waarom sou die heidene kan sê:

“Waar is hulle God nou?”

3En dit terwyl ons God in die hemel is!

Alles wat Hy wil, doen Hy.

4Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud,

die werk van mensehande.

5'n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie,

oë het hulle, maar sien kan hulle nie;

6ore het hulle, maar hoor kan hulle nie;

'n neus het hulle, maar ruik kan hulle nie.

7Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie,

hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie.

Daar kom geen geluid uit hulle keel nie.

8Wie hulle maak en op hulle vertrou,

sal net soos hulle word.

9Israel, vertrou op die Here!

Hy help en beskerm jou.

10Huis van Aäron, vertrou op die Here!

Hy help en beskerm jou.

11Julle wat die Here dien, vertrou op die Here!

Hy help en beskerm julle.

12Die Here dink aan ons: Hy seën,

Hy seën die huis van Israel,

Hy seën die huis van Aäron,

13Hy seën dié wat Hom dien,

klein en groot.

14Mag die Here julle talryk maak,

julle én julle kinders.

15Mag die Here julle seën,

Hy wat hemel en aarde gemaak het.

16Die hemel is net vir die Here,

maar die aarde het Hy aan die mense gegee.

17Nie die dooies prys die Here nie,

nie dié wat die graf in is nie,

18maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd!

Prys die Here!

Ek het die Here lief

1Ek het die Here lief,

want Hy verhoor my smeekgebede.

2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

3Bande van die dood het my omsluit,

doodsangs het my aangegryp,

ek het benoud en bekommerd geword.

4Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:

“Here, red my tog!”

5Die Here is genadig en regverdig,

ons God ontferm Hom oor ons.

6Die Here beskerm die hulpeloses:

ek was magteloos, maar Hy het my gered.

7Ek moet nou tot rus kom,

die Here het goed aan my gedoen:

8U het my van die dood gered,

U het 'n einde gemaak aan my trane,

U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.

9Ek kon voor die Here bly wandel

in die land van die lewendes.

10Ek het in U bly glo,

selfs toe ek gedink het dit is klaar met my

11en toe ek in my vertwyfeling besef het:

ek kan op geen mens staatmaak nie.

12Hoe sal ek die Here vergoed

vir al sy weldade aan my?

13Met 'n drankoffer sal ek van sy redding getuig

en die Naam van die Here aanroep.

14My geloftes aan die Here sal ek betaal

in die teenwoordigheid van sy hele volk.

15Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.

16Ek is u dienaar, Here,

van my geboorte af is ek al u dienaar:

U het my vrygemaak.

17Ek wil U loof met 'n dankoffer,

ek wil die Naam van die Here aanroep.

18My geloftes aan die Here sal ek betaal

in die teenwoordigheid van sy hele volk,

19in die voorhowe van die huis van die Here,

binne-in jou, Jerusalem!

Prys die Here!

Sy liefde vir ons is sterk

1Prys die Here, alle nasies,

loof Hom, alle volke,

2want sy liefde vir ons is sterk,

aan die trou van die Here is daar geen einde nie!

Prys die Here!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS