Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 22

Eksodus 33–38

Bybelteks(te)

Die Here wil nie saam met sy volk trek nie

1Toe het die Here vir Moses gesê: “Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het. Trek na die land toe wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit aan julle nageslag gee.’ 2Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. 3Julle is so 'n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.”

4Toe die volk van hierdie harde uitspraak verneem, het hulle getreur en geen juwele gedra nie. 5Daarop het die Here vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle is 'n moedswillige volk. As Ek net 'n oomblikkie saam met julle trek, sal Ek julle verdelg. Sit al julle juwele weg. Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen.”

6Vandat hulle van Horebberg af verder getrek het, het die Israeliete nie meer juwele gedra nie.

Die tent van ontmoeting

7Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. 8Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. 9Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat.

10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. 11Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

12Op 'n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ 13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Die tien gebooie word weer opgeskryf. Verskillende ander wette

(Vgl. Deut. 10:1-5)

1Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee plat klippe net soos die voriges. Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. 2Maak môreoggend klaar en klim die oggend nog Sinaiberg uit. Wag vir My daar op die top van die berg.

3“Niemand mag saam met jou opklim nie. Nêrens op die berg mag daar selfs iemand gesien word nie. Die kleinvee en beeste mag ook nie naby die berg wei nie.”

4Moses het toe twee plat klippe soos die voriges gekap. Nadat hy vroeg die oggend opgestaan het, het hy net soos die Here hom beveel het, Sinaiberg uitgeklim met die twee plat klippe in sy hand.

5Die Here het in 'n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. 6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

8Moses het toe vinnig gebuig in eerbied 9en gesê: “As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom.”

10Toe het die Here gesê: “Ek sluit nou 'n verbond met julle. Voor jou hele volk gaan Ek magtige dade doen wat nog nooit tevore op die hele aarde onder enige nasie gedoen is nie. Die hele volk by wie jy is, sal sien wat Ek, die Here, doen. Wat Ek vir jou gaan doen, sal hulle met ontsag vervul.

11“Wat Ek julle nou hier gaan beveel, moet julle gehoorsaam. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit verdryf. 12Moenie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land waarheen julle gaan nie. Hulle sal julle tot 'n val bring.

13“Nee, vernietig hulle altare, breek hulle klippilare af en kap hulle gewyde pale stukkend. 14Julle mag nie 'n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis.’

15“Julle mag nie 'n verdrag met die inwoners van die land sluit nie. Wanneer hulle onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode en vir hulle gode offers bring, sal die mense julle uitnooi na hulle offermaaltye toe, en julle sal daaraan deel hê. 16Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.

17“Julle mag nie afgodsbeelde maak nie.

18“Julle moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek julle beveel het, moet julle sewe dae ongesuurde brood eet, van die vasgestelde dag van die maand Abib af, want dit is die dag waarop julle uit Egipte weggetrek het.

19“Elke eersgebore seun behoort aan My; so ook al die manlike eerstelinge van julle beeste en skape. 20Julle moet elke donkie se eerste hingsvulletjie loskoop met 'n skaap. As julle dit nie doen nie, moet julle die vul se nek breek. Alle eersgebore seuns moet ook losgekoop word.

“Niemand mag sonder 'n offer voor My verskyn nie.

21“Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus.

22“Jy moet die fees van die weke vier; dit is die fees aan die begin van die koringoes.

“Dan is daar nog die fees van die insameling aan die einde van die jaar.

23“Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here, verskyn, voor My, die Here die God van Israel.

24“Ek sal nasies voor jou uit verdryf en vir jou 'n land gee. Drie keer per jaar moet jy voor My, die Here jou God, verskyn. Dan sal Ek sorg dat niemand jou land begeer nie.

25“As jy vir die offer slag, moet jy sorg dat die offerbloed weggehou word van iets wat suurdeeg in het.

“Die paasoffer mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.

26“Die keur van die eerste produkte van jou lande moet jy na my huis toe bring, die huis van die Here jou God.

“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”

27Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.”

28Moses was veertig dae en nagte by die Here. In dié tyd het Moses geen kos geëet of water gedrink nie. Hy het die verbondsbepalings, die tien gebooie, op die plat klippe geskryf. 29Toe hy van Sinaiberg af gaan met die twee plat klippe in sy hand, die klippe waarop die getuienis was, was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. 30Toe Aäron en die Israeliete opmerk dat sy gesig blink, was hulle bang om naby hom te kom. 31Eers toe Moses hulle nader roep, het Aäron en al die leiers van die volk na hom toe gekom, en hy het met hulle gepraat. 32Daarna het al die Israeliete nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het. 33Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy sy gesig met 'n doek toegemaak. 34Wanneer Moses na die Here toe gaan om met Hom te praat, verwyder hy die doek tot na sy terugkoms. Wanneer hy van die Here af terugkom, sê hy vir die Israeliete wat die Here hom beveel het. 35Wanneer die Israeliete sy gesig sien blink, trek Moses die doek oor sy gesig totdat hy weer met die Here gaan praat.

Bepalings oor die sabbat

1Moses het die hele gemeente van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Dit is die gebod wat die Here julle beveel het om te gehoorsaam:

2“Ses dae moet julle julle werk doen, maar die sewende dag moet vir julle 'n gewyde dag wees. Dit is 'n rusdag tot eer van die Here. Elkeen wat op dié dag werk, moet doodgemaak word. 3Julle mag op die sabbat geen vuur in enige van julle wonings maak nie.”

Offergawes om 'n heiligdom op te rig

(Vgl. Eks. 25:1-9)

4Moses het ook vir die hele gemeente Israel gesê: “Dit is die opdrag van die Here: 5Julle moet uit julle besittings 'n offergawe vir die Here gee. Elkeen wat vrywillig 'n offergawe vir die Here wil gee, moet dit bring: goud, silwer, brons, 6blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, 7rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of doringhout, 8olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook, 9oniks en ander edelstene waarmee die skouerkleed en borssak van die hoëpriester versier kan word.”

Die toebehore vir die tent van ontmoeting

(Vgl. Eks. 39:32-43)

10“Elke vakman onder julle moet kom help dat alles gemaak word wat die Here beveel het: 11die tabernakel met die tent daaroor, die kramme, die rame, die dwarslatte, die style met hulle voetstukke; 12die ark met sy draaghoute, die deksel en die voorhangsel, 13die tafel met sy draaghoute en al sy toebehore en die offerbrood; 14die kandelaar met sy toebehore, die lampe met hulle olie, 15die wierookaltaar met sy draaghoute, die salfolie, die geurige wierook en die afskorting vir die deur van die tabernakel; 16die brandofferaltaar met al sy toebehore, sy bronstraliewerk waaraan die draaghoute vas kom, die waskom met sy voetstuk, 17die gordyne van die voorhof, die style met hulle voetstukke, die afskorting vir die deur van die voorhof; 18die penne van die tabernakel, die penne van die voorhof met hulle toue; 19die geborduurde klere om in die heiligdom mee te dien, die gewyde klere vir die priester Aäron en vir sy seuns om daarin as priesters diens te doen.”

20Daarna het die hele gemeente weggegaan van Moses af, 21en elkeen wat daarna gevoel het, het vrywillig 'n offergawe vir die Here gebring vir die werk aan die tent van ontmoeting, vir al die ander dienste en vir die gewyde klere. 22Manne en vroue het gekom en vrywillig borsspelde, oorbelle en ringe, halssnoere en allerhande goue voorwerpe gebring. Almal wat tevore goud as spesiale bydrae aan die Here belowe het, het dit gebring. 23Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle en gebreide velle besit het, het dit gebring. 24Elkeen wat 'n bydrae in silwer en brons wou maak, het dit as offergawe vir die Here gebring. Elkeen wat doringhout gehad het, geskik vir allerhande soorte houtwerk, het dit gebring.

25Elke vrou wat netjies kon weef, het gebring wat sy geweef het: blou, pers en bloedrooi wolstof en linne. 26Elke begaafde vrou wat graag wou, het die bokhaar gespin. 27Al die leiers het oniks en ander edelstene gebring om dit op die skouerkleed en op die borssak te monteer; 28ook speserye en olie vir die lampe, vir die salfolie en vir die geurige wierook. 29Elke Israelitiese man en vrou wat vrywillig iets wou bring vir die werk wat die Here vir Moses beveel het om te doen, het dit vir die Here gebring.

Die vakmanne om die tent van ontmoeting te bou

(Vgl. Eks. 31:1-11)

30Moses het vir die Israeliete gesê: “Kyk, die Here het vir Besaleël uitgekies vir die werk. Hy is 'n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda. 31Die Here het hom toegerus met sy Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: 32ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, 33edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. 34Die Here het vir hom en vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, die begaafdheid gegee om ander as vakmanne op te lei. 35Die Here het aan hulle die vaardigheid gegee om al die werk van 'n vakman te verrig: om te ontwerp, om blou, pers en bloedrooi wolstof en linne te borduur, en om te weef. Hierdie manne kan enige werk doen en ontwerpe maak.

1“Besaleël, Oholiab en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid en verstand gegee het om te weet hoe om al die werk aan die heiligdom uit te voer, moet die werk doen soos die Here beveel het.”

Die volk gee meer as wat nodig is

2Moses het toe vir Besaleël en Oholiab geroep en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid gegee het, almal wat aangebied het om die werk te doen. 3Hulle het van Moses al die offergawes ontvang wat deur die Israeliete gebring is om die heiligdom op te rig.

Die volk het elke oggend nog vrywillige offers na Moses toe gebring. 4Toe het al die vakmanne wat die werk aan die heiligdom moes doen, elkeen van sy afdeling van die werk af, 5vir Moses kom sê: “Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het.”

6Toe het Moses in die kamp rond laat weet dat die mense nie meer iets as offergawe vir die heiligdom moet gee nie, en eers toe het die volk opgehou bring. 7Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor.

Die tabernakel

(Vgl. Eks. 26:1-37)

8Die begaafde vakmanne het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het tien stukke materiaal van goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof gebruik en gerubs daarop uitgeborduur.

9Die lengte van elke stuk materiaal was veertien meter en die breedte twee meter, almal was presies ewe groot.

10Die stukke materiaal is vyf-vyf aanmekaar gewerk. 11Daar is toe blou lissies vasgewerk aan die een kant van die een strook materiaal en so ook aan die een kant van die ander strook, 12vyftig vir die een en vyftig vir die ander strook. Die lissies was presies reg teenoor mekaar. 13Hulle het vyftig goue hakies gemaak om die twee stelle doeke aanmekaar te hou sodat die tabernakel een geheel kon wees.

14Daar is 'n tent van bokhaarmateriaal gemaak om oor die tabernakel te sit. Elf stukke bokhaarmateriaal is gebruik 15en elke stuk materiaal was vyftien meter lank en twee meter breed. Die elf stukke was almal presies ewe groot. 16Hulle het eers vyf stukke aanmekaar gewerk en toe die ses ander stukke. 17Hulle het daarna vyftig lissies gemaak vir die een kant van die een strook en so ook vyftig vir die een kant van die ander strook. 18Hulle het vyftig bronshakies gemaak om die tent aanmekaar te hou sodat dit een geheel kon wees.

19Hulle het verder ook 'n seil van rooigekleurde ramsvelle gemaak en 'n seil van gebreide vel daarbo-oor gespan. 20Hulle het rame van doringhout vir die tabernakel gemaak om dit regop te hou. 21Elke raam was vyf meter lank en 'n driekwart meter breed. 22Daar was twee tappe vir elke raam om die rame aanmekaar te voeg. Al die rame vir die tabernakel is so gemaak. 23Hulle het twintig rame gebruik vir die raamwerk aan die suidekant, die regterkant van die tabernakel. 24Die mense het verder ook veertig silwervoetstukke gemaak en onder die twintig rame gesit, twee voetstukke onder elke raam, een by elke tap. Onder elke raam was dus twee voetstukke, by sy twee tappe.

25Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, het hulle ook twintig rame gemaak. 26Vir hulle was daar veertig silwervoetstukke, twee voetstukke vir elke raam. 27Hulle het vir die agterkant, die westekant van die tabernakel, ses rame gemaak. 28Hulle het verder nog twee rame gemaak vir die hoeke aan die agterkant van die tabernakel. 29Hierdie rame was versterk van onder tot bo, tot by die boonste ring. Dit was die hoekrame. 30Daar was dus ag rame met hulle sestien silwervoetstukke, twee voetstukke vir elke raam.

31Hulle het dwarslatte van doringhout gemaak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel 32en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. 33Daar was 'n middelste dwarslat wat in die middel van die rame dwarsdeur geloop het van die een kant af tot by die ander kant.

34Die rame is met goud oorgetrek en vir hulle is goue ringe gemaak om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte is ook met goud oorgetrek.

35Hulle het 'n voorhangsel gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Gerubs is daarop uitgeborduur. 36Hulle het toe, om die voorhangsel op te hang, vier doringhoutstyle gemaak en dit met goud oorgetrek. Daar was goue kramme aan die style, en hulle het ook vier silwervoetstukke daarvoor gegiet.

37Hulle het 'n afskorting vir die deur van die tent gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was borduurwerk. 38Vir hierdie afskorting het hulle vyf style gemaak met kramme daaraan. Die bokante van die style was met goud oorgetrek, so ook die gordynstokke. Die vyf voetstukke was van brons.

Die ark

(Vgl. Eks. 25:10-22)

1Besaleël het die ark van doringhout gemaak: een en 'n kwart meter lank, 'n driekwart meter breed en net so hoog. 2Hy het dit binne en buite met suiwer goud oorgetrek en 'n goue lys rondom vasgesit. 3Hy het vier goue ringe gegiet wat aan die onderste vier hoeke vasgesit is, sodat daar twee ringe aan elke kant was. 4Hy het draaghoute van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. 5Die draaghoute is deur die ringe aan weerskante van die ark gesteek om die ark daarmee te dra.

6Daarna het hy die deksel van suiwer goud gemaak, een en 'n kwart meter lank en 'n driekwart meter breed. 7Hy het twee gerubs van geslae goud gemaak, een links en een regs op die deksel. 8Hy het die gerubs aan weerskante van die deksel so gemaak dat hulle 'n eenheid met die deksel gevorm het. 9Hulle vlerke was uitgesprei oor die deksel, sodat hulle dit bedek het. Die gerubs se gesigte was na mekaar toe en hulle het afgekyk op die deksel.

Die tafel vir die offerbrood

(Vgl. Eks. 25:23-30)

10Besaleël het 'n tafel van doringhout gemaak. Sy lengte was een meter, sy breedte 'n half meter en sy hoogte 'n driekwart meter. 11Hy het dit met suiwer goud oorgetrek en 'n goue lys rondom vasgesit.

12Hy het 'n band, sewe sentimeter breed, rondom die tafel gesit en daarrondom 'n goue lys vasgesit. 13Hy het vier goue ringe vir die tafel gegiet en dit aan die vier hoeke vasgesit, regoor die vier pote. 14Die ringe was naby die band sodat die draaghoute deur hulle gesteek kon word om die tafel mee te dra. 15Hy het die draaghoute waarmee die tafel gedra moes word, van doringhout gemaak en hulle met goud oorgetrek. 16Hy het die toebehore vir die tafel van suiwer goud gemaak: skottels, panne, kanne en komme om die drankoffer mee uit te giet.

Die kandelaar

(Vgl. Eks. 25:31-40)

17Hy het ook 'n kandelaar van suiwer goud gemaak. Die kandelaar se voetstuk, stam, blomkelke, knoppe en kroonblare is van geslae goud gemaak sodat dit alles een geheel was. 18Daar was ses arms aan die stam, drie aan elke kant. 19Daar was drie blomkelke in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare aan elke arm van die kandelaar. So was dit vir die ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak.

20Vir die kandelaar se hoofstam was daar vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare. 21Onder elke paar arms van die kandelaar was daar 'n knop. 22Die knoppe en die arms was alles een stuk, een stuk suiwer geslae goud.

23Besaleël het sewe lampies gemaak vir die kandelaar. Die pithouers en bakkies van die kandelaar is van suiwer goud gemaak. 24Al hierdie voorwerpe is uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak.

Die wierookaltaar

(Vgl. Eks. 30:1-5)

25Besaleël het 'n wierookaltaar van doringhout gemaak. Dit was 'n half meter in die vierkant en een meter hoog. Die altaar en sy horings was 'n eenheid. 26Hy het die bokant, die sye rondom en die horings met suiwer goud oorgetrek. Besaleël het 'n goue lys rondom die altaar vasgesit. 27Verder het hy twee goue ringe vir elke kant gemaak en dit aan weerskante, teenoor mekaar, onderaan die lys vasgesit om die draaghoute waarmee die altaar gedra moes word, daardeur te steek. 28Hy het die draaghoute van doringhout gemaak en hulle met goud oorgetrek. 29Hy het ook die gewyde salfolie en die geurige, rein wierook gemeng soos 'n bekwame vakman dit doen.

Die brandofferaltaar

(Vgl. Eks. 27:1-8)

1Besaleël het 'n brandofferaltaar van doringhout gemaak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog. 2Aan die vier hoeke het hy horings gemaak en dit het 'n eenheid met die altaar gevorm. Hy het die altaar met brons oorgetrek. 3Hy het al die gereedskap vir die altaar van brons gemaak: potte, skoppe, komme, vurke en vuurpanne. 4Hy het 'n bronstraliewerk om die altaar gemaak en dit onder die rand van die altaar vasgesit, sodat dit halfpad teen die altaar afloop. 5Hy het vier ringe gegiet vir die vier kante van die bronsrooster om die draaghoute deur hulle te steek. 6Hy het draaghoute van doringhout gemaak en met brons oorgetrek. 7Die draaghoute is deur die ringe gesteek aan weerskante van die altaar om dit mee te dra. Die altaar is van plank gemaak, in die vorm van 'n kas.

Die bronswaskom

(Vgl. Eks. 30:17)

8Besaleël het 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk gemaak van bronsspieëls wat gekom het van die vroue wat by die deur van die tent van ontmoeting werk.

Die voorhof

(Vgl. Eks. 27:9-19)

9Hy het ook 'n voorhof gemaak. Aan die suidekant, die regterkant daarvan, was gordyne van goed geweefde linne, vyftig meter breed. 10Om die gordyne te hang, was daar twintig style met twintig bronsvoetstukke, en ook kramme aan die style, en silwergordynstokke. 11Ook aan die noordekant was daar gordyne, vyftig meter breed, twintig style met kramme, en silwergordynstokke en twintig bronsvoetstukke. 12Aan die westekant was daar ook gordyne, vyf en twintig meter breed, tien style met kramme, en silwergordynstokke, en tien voetstukke.

13Die voorkant, die oostekant, was vyf en twintig meter breed en 14die gordyne was elkeen sewe en 'n half meter breed met drie style en drie voetstukke. 15Aan weerskante van die deur van die voorhof was die gordyne sewe en 'n half meter breed, met drie style en drie voetstukke. 16Al die gordyne rondom die voorhof was van goed geweefde linne. 17Die voetstukke vir die style was van brons, hulle kramme en gordynstokke van silwer. Hulle kopstukke was met silwer oorgetrek. Al die style van die voorhof het silwergordynstokke gehad. 18Die afskorting in die ingang van die voorhof was tien meter breed en net soos die gordyne van die voorhof was dit twee en 'n half meter hoog. Dit was van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne, netjiese borduurwerk. 19Daar was ook nog vier style met bronsvoetstukke, en silwerkramme. Die style se kopstukke was met silwer oorgetrek, en die gordynstokke was van silwer. 20Al die penne rondom die tabernakel en rondom die voorhof was van brons.

Die gebruikte materiaal

21Hier volg die hoeveelhede van die materiaal wat gebruik is om die tabernakel waarin die getuienis was, op te rig. Dit is in opdrag van Moses bereken deur die Leviete wat gewerk het onder leiding van Itamar seun van die priester Aäron. 22Onder leiding van Besaleël seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda, is alles gedoen wat die Here vir Moses beveel het. 23Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, het hom gehelp. Oholiab was 'n vakman en 'n ontwerper en 'n wewer van blou, pers en bloedrooi wolstof en van linne.

24Die hoeveelheid goud wat uit die spesiale bydrae ingekom het, en wat gebruik is vir al die werk aan die heiligdom, bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom, was duisend en twee kilogram.

25Die silwer afkomstig van die volk wat vroeër getel is, bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom, was drie duisend vier honderd sewe en veertig kilogram. 26Volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit ongeveer ses gram per kop vir elkeen van twintig jaar en ouer wat vroeër getel is: daar was toe ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man. 27Daar is drie duisend vier honderd sewe en twintig kilogram silwer gebruik vir die giet van die voetstukke vir die style van die heiligdom en sy afskortings. Uit die drie duisend vier honderd sewe en twintig kilogram is honderd voetstukke gegiet, vier en dertig en 'n kwart kilogram per voetstuk. 28Daar is twintig kilogram silwer gebruik vir die kramme en gordynstokke van die style, asook vir die oortrek van die kopstukke.

29Die brons wat deur die spesiale bydrae ingebring is, was twee duisend vier honderd ses en twintig kilogram. 30Hiervan is gemaak die voetstukke vir die style van die deur van die tent van ontmoeting, die bronsaltaar met sy bronstraliewerk, al die gereedskap van die altaar, 31die voetstukke rondom die voorhof, die voetstukke van die ingang van die voorhof, al die penne van die tabernakel en al die penne rondom die voorhof.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS