Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 21

Eksodus 26–32

Bybelteks(te)

Die tabernakel

(Vgl. Eks. 36:8-38)

1“Jy moet 'n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur. 2Elke stuk materiaal moet veertien meter lank en twee meter breed wees, almal moet presies ewe groot wees. 3Werk die stukke materiaal vyf-vyf aanmekaar vas. 4Jy moet dan blou lissies vaswerk aan die een kant van die een strook materiaal en so ook aan die een kant van die ander strook, 5vyftig vir die een en vyftig vir die ander. Die lissies moet presies regoor mekaar wees. 6Jy moet ook nog vyftig goue hakies maak om die twee stroke materiaal aanmekaar vas te maak sodat die tabernakel een geheel kan wees.

7“Jy moet 'n tent van bokhaarmateriaal maak om oor die tabernakel te sit. Jy moet elf stukke bokhaarmateriaal gebruik, 8en elkeen moet vyftien meter lank en twee meter breed wees. Hulle moet almal presies ewe groot wees.

9“Jy moet eers vyf stukke aanmekaar werk en dan weer die ses ander stukke. Vou die sesde stuk dubbel aan die voorkant van die tent. 10Jy moet vyftig lissies vaswerk aan die een kant van die een strook en so ook vyftig aan die een kant van die ander strook. 11Jy moet vyftig bronshakies maak en die hakies deur die lissies haak om die stroke aanmekaar vas te maak sodat die tent een stuk is. 12Die deel van die een strook materiaal wat oorskiet, moet by die agterkant van die tabernakel oorhang. 13Die vyftig sentimeter wat weerskante in die lengte van die stroke oorskiet, moet dus weerskante van die sye van die tabernakel 'n oorhang wees om dit toe te maak.

14“Jy moet verder 'n seil van rooigekleurde ramsvelle vir die tent maak en 'n seil van gebreide vel daarbo-oor span.

15“Jy moet rame van doringhout maak vir die tabernakel om dit regop te hou. 16Elke raam moet vyf meter lank en 'n driekwart meter breed wees. 17Daar moet twee tappe vir elke raam wees om die rame aanmekaar te kan voeg. So moet jy al die rame vir die tabernakel maak.

18“Maak twintig rame vir die raamwerk aan die suidekant, die regterkant van die tabernakel. 19Verder moet jy veertig silwervoetstukke maak om onder die twintig rame te sit, twee voetstukke onder elke raam by sy twee tappe.

20“Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, moet daar ook twintig rame wees. 21Vir hulle moet daar ook veertig silwervoetstukke wees, twee voetstukke onder elke raam. 22Jy moet ses rame maak vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. 23Jy moet ook nog twee rame maak vir die hoeke aan die agterkant van die tabernakel. 24Hierdie rame moet van onder tot bo, tot by die boonste ring, versterk word. Hulle is die hoekrame. 25Daar moet dus ag rame wees met hulle sestien voetstukke, twee voetstukke vir elke raam.

26“Jy moet dwarslatte van doringhout maak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel 27en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. 28Die middelste dwarslat moet in die middel van die rame dwarsdeur loop van die een kant af tot by die ander kant.

29“Trek die rame met goud oor en maak vir hulle goue ringe om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte moet ook met goud oorgetrek word. 30Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is.

31“Jy moet 'n voorhangsel maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur. 32Hang dit aan vier doringhoutstyle wat met goud oorgetrek is en wat op vier silwervoetstukke staan. Daar moet goue kramme aan die style wees 33en jy moet die voorhangsel, met hakies aan die binnekant, ophang. Sit dan die ark met die getuienis daarin, agter die voorhangsel. Die voorhangsel moet vir julle die Heilige van die Allerheiligste skei. 34Jy moet die deksel op die ark met die getuienis sit, in die Allerheiligste.

35“Sit die tafel voor die voorhangsel, aan die noordekant van die tabernakel, en die kandelaar aan die suidekant, regoor die tafel.

36“Jy moet vir die ingang van die tent 'n afskorting maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Dit moet borduurwerk wees. 37Maak vir die afskorting vyf doringhoutstyle en trek dit oor met goud. Jy moet goue kramme maak vir die style en vyf bronsvoetstukke daarvoor giet.”

Die brandofferaltaar

(Vgl. Eks. 38:1-7)

1“Jy moet 'n altaar van doringhout maak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog. 2Jy moet horings maak aan sy vier hoeke en dit moet 'n eenheid met die altaar vorm. Jy moet die altaar met brons oortrek. 3Maak potte om die as te verwyder, ook skoppe, komme, vurke en vuurpanne. Jy moet al hierdie toebehore van brons maak.

4“Jy moet 'n bronstraliewerk om die altaar sit en 'n bronsring aan elke boonste hoek van die traliewerk vassit. 5Sit die traliewerk onder die rand van die altaar vas, sodat dit halfpad teen die altaar afloop. 6Jy moet draaghoute van doringhout vir die altaar maak en dit met brons oortrek. 7Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word. Die draaghoute moet weerskante van die altaar wees om dit te kan dra. 8Jy moet die altaar van plank maak, in die vorm van 'n kas. Maak dit presies soos dit vir jou op die berg gewys is.”

Die voorhof

(Vgl. Eks. 38:9-20)

9“Jy moet ook 'n voorhof vir die tabernakel maak. Aan die suidekant, die regterkant, moet daar gordyne van goed geweefde linne wees, vyftig meter breed. 10Om die gordyne te hang, moet daar twintig style met twintig bronsvoetstukke wees en ook kramme aan die style, en silwergordynstokke.

11“Ook aan die noordekant moet die gordyne vyftig meter breed wees. Daar moet twintig style en twintig bronsvoetstukke wees, kramme aan die style, en silwergordynstokke.

12“In die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet die gordyne vyf en twintig meter breed wees met tien style en tien voetstukke.

13“Die breedte van die voorhof aan die voorkant, die oostekant, moet ook vyf en twintig meter wees. 14Die gordyne aan die een kant hiervan moet sewe en 'n half meter breed wees, dit moet drie style en drie voetstukke hê, 15en aan die ander kant moet die gordyne ook sewe en 'n half meter breed wees met drie style en drie voetstukke. 16In die ingang van die voorhof moet daar 'n afskorting van tien meter wees. Dit moet van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne wees, netjiese borduurwerk. Om dit te hang, moet daar ook nog vier style en vier voetstukke wees. 17Vir die style van die voorhof moet daar heeltemal rondom silwergordynstokke wees, en ook silwerkramme en bronsvoetstukke. 18Die lengte van die voorhof moet vyftig meter wees, sy breedte vyf en twintig en sy hoogte twee en 'n half. Dit moet van goed geweefde linne wees en sy voetstukke van brons.

19“Al die toebehore van die tabernakel en al sy tentpenne, sowel as dié vir die voorhof, moet van brons wees.”

Die sorg vir die lampe

(Vgl. Lev. 24:1-4)

20“Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand. 21In die tent van ontmoeting, net buite die voorhangsel wat voor die getuienis hang, moet Aäron en sy seuns die lampe van die aand af tot die môre toe voor My laat brand. Dit is 'n voorskrif wat vir altyd geld vir die hele Israel.”

Die priesters se klere

(Vgl. Eks. 39:1-31)

1“Jy moet jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar na jou toe laat kom uit die volk Israel uit en hulle aanstel om My as priesters te dien.

2“Maak vir jou broer Aäron gewyde klere wat waardig en mooi is. 3Jy moet al die knap manne vir wie Ek met vakmanskap bedeel het, aansê om vir Aäron klere te maak sodat hy gewy kan word om 'n priester in my diens te wees. 4Hulle moet die volgende kledingstukke maak: 'n borssak, 'n skouerkleed, 'n mantel, geweefde priesterklere, 'n tulband en 'n serp. Dit is die gewyde klere wat vir jou broer Aäron en sy seuns gemaak moet word sodat hulle priesters kan wees in my diens. 5Die vakmanne moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne gebruik 6om die skouerkleed te maak. Die blou, pers en bloedrooi wolstof en die goed geweefde linne moet met die gouddraad geborduur word.

7“Die skouerkleed moet aan die punte twee bande hê om dit oor die skouer aanmekaar vas te maak. 8Dit moet ook 'n gordel hê van dieselfde gehalte en daarvoor moet ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik word.

9“Vat twee oniksstene en graveer die name van die seuns van Israel 10volgens ouderdom daarop, ses op die een en ses op die ander. 11Jy moet 'n bekwame vakman wat graveerwerk op seëlringe kan doen, aansê om die name van die seuns van Israel op die twee stene te graveer, en monteer dit in goud.

12“Werk die twee stene vas op die skouerbande van die skouerkleed dat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. So sal Aäron hulle name op sy twee skouers dra voor My, die Here, om My aan hulle te herinner. 13Jy moet goue monterings maak 14en van suiwer goud ook twee kettinkies, gedraai soos tou. Sit hierdie gedraaide kettinkies aan die monterings vas.

15“Maak 'n borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis. Dit moet netjies geborduur wees soos die skouerkleed, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. 16Die borssak moet dubbel gevou wees, vyf en twintig sentimeter in die vierkant. 17Jy moet hierop vier rye edelstene monteer. Die eerste ry moet bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag; 18die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis; 19die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis, 20en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering moet van goud wees. 21Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme moet daarop gegraveer word soos op 'n seëlring. 22Jy moet van suiwer goud vir die borssak ook kettinkies maak, gedraai soos tou.

23“Jy moet ook nog twee goue ringe maak vir die borssak en dit vassit aan die twee boonste hoeke daarvan. 24Maak die twee goue kettinkies vas aan die twee ringe wat aan die hoeke van die borssak is. 25Maak dan die ander punte van die twee kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed. 26Jy moet nog twee goue ringe maak en dit vaswerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant, die kant waar dit teen die skouerkleed is. 27Dan moet jy twee ander goue ringe maak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vassit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel. 28Die ringe van die borssak moet met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak word, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. 29Wanneer Aäron in die heiligdom ingaan, moet hy die name van die stamme van Israel op die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner. 30Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. Hulle moet op Aäron se bors wees as hy ingaan na My toe. Aäron moet gedurig die borssak vir regsake met die name van die stamme van Israel daarop, op sy bors dra as hy voor My, die Here, verskyn.

31“Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef. 32In sy middel moet daar 'n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos 'n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie. 33Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin, 34afwisselend 'n goue klokkie en 'n granaatjie rondom die hele soom van die mantel. 35Aäron moet dit dra as hy diens doen. Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.

36“Jy moet 'n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op 'n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy.

37“Jy moet dit met 'n blou toutjie aan die tulband vasmaak. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees. 38Dit moet op Aäron se voorkop wees as teken dat hy aanspreeklik is vir elke ontwyding van die offers deur Israel. Die blom moet gedurig op Aäron se voorkop wees as teken dat Ek, die Here, die Israeliete goedgesind is.

39“Jy moet vir Aäron die priesterklere van linne weef en jy moet vir hom 'n tulband van linne en 'n geborduurde serp maak. 40Vir elkeen van sy seuns moet jy 'n stel priesterklere en 'n serp maak. Jy moet vir hulle kopdoeke maak wat waardig en mooi is.

41“Laat jou broer Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle, wy hulle en reinig hulle om vir My as priesters diens te doen. 42Jy moet vir hulle linnebroeke maak om hulle naaktheid te bedek. Die broeke moet van die heupe af tot by die bobene strek. 43Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van ontmoeting ingaan of as hulle na die altaar toe kom om diens in die heiligdom te doen, want anders sal hulle 'n oortreding begaan en sterf. Dit is 'n vaste voorskrif vir hulle en ook vir dié wat ná hulle kom.”

Die wyding van Aäron en sy seuns as priesters

(Vgl. Lev. 8:1-36)

1“Jy moet vir Aäron en sy seuns soos volg wy om My te dien as priesters: vat 'n bul en twee ramme, almal sonder liggaamsgebrek, 2brood sonder suurdeeg, ringbrood sonder suurdeeg, geknie met olie, en roosterkoeke sonder suurdeeg, met olie gesmeer. Jy moet dit van koringmeel maak.

3“Sit dit in 'n mandjie en bring die mandjie, die bul en die twee ramme na die heiligdom toe. 4Laat Aäron en sy seuns na die deur van die tent van ontmoeting toe kom, en was hulle met water.

5“Vat die klere en trek vir Aäron die priesterklere, die skouerkleed, die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, en die borssak aan. Maak die skouerkleed vas met die gordel. 6Bind die tulband om sy kop en sit die gewyde priesterkroon op die tulband. 7Vat olie en salf hom deur dit op sy kop uit te giet.

8“Net so moet jy sy seuns laat naderkom en vir hulle ook priesterklere laat aantrek. 9Bind die serpe om Aäron en sy seuns en bind die kopdoeke vir hulle vas. Die priesterskap moet vir hulle 'n blywende amp wees.

“Jy moet vir Aäron en sy seuns soos volg wy: 10bring die bul tot voor die tent van ontmoeting. Dan moet Aäron en sy seuns hulle hande op die bul se kop sit. 11Slag dan die bul by die deur van die tent van ontmoeting in my teenwoordigheid. 12Vat van die bul se bloed en smeer dit met jou vingers aan die horings van die altaar. Gooi dan die bloed aan die voet van die altaar uit. 13Vat al die vet wat oor die binnegoed is, die punt van die lewer, die twee niere en die niervet en verbrand dit op die altaar. 14Jy moet die bul se vleis, vel en pensmis buite die kamp verbrand. Dit is 'n sondeoffer.

15“Vat dan die een ram en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit. 16Slag die ram, vat sy bloed en sprinkel dit oral op die altaar. 17Sny die ram op in stukke, was sy binnegoed en pootjies en sit dit neer by die stukke vleis en die kop. 18Verbrand dan die hele ram op die altaar. Dit is 'n brandoffer vir My, die Here, 'n vuuroffer wat Ek met graagte aanvaar.

19“Vat die ander ram en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit. 20Slag die ram en vat van sy bloed en smeer dit aan die regteroorlelle van Aäron en sy seuns, ook aan hulle regterduime en regtergroottone. Sprinkel dan die bloed oral op die altaar. 21Vat van die bloed op die altaar en van die salfolie en sprinkel dit op Aäron en sy klere, en op sy seuns en hulle klere. Dan sal hy en sy klere, en sy seuns en hulle klere gewy wees. 22Vat die ram waarmee Aäron en sy seuns gewy word, se vet, die vetstert, die vet wat oor die binnegoed is, die punt van die lewer, die twee niertjies, die niervet en die regterboud, 23asook 'n ringbrood, 'n oliekoek en 'n roosterkoek uit die mandjie wat jy na die heiligdom toe gebring het, 24en sit dit alles op Aäron en sy seuns se hande dat hulle dit heen en weer beweeg as 'n beweegoffer vir My, die Here. 25Vat dit dan uit hulle hande en verbrand dit op die altaar as 'n brandoffer, 'n vuuroffer wat Ek met graagte aanvaar. 26Vat die bors van die ram wat gebruik is vir Aäron se wyding, en beweeg dit heen en weer as beweegoffer voor My. Daarna kan jy dit vir jou vat. 27Die ram waarmee Aäron en sy seuns gewy is, se bors wat as beweegoffer beweeg is, en die boud wat as offergawe aangebied is, moet opsy gesit word vir Aäron en sy seuns. 28Dit is 'n blywende reëling vir die Israeliete dat Aäron en sy seuns hierdie deel kry. Dit is 'n offergawe en sal altyd 'n offergawe van die Israeliete wees. Hulle offergawe vir die Here moet uit hulle maaltydoffers geneem word.

29“Die gewyde klere van Aäron moet na sy dood gebruik word om sy opvolgers daarin te salf en as priesters te wy. 30Aäron se seun wat hom as priester opvolg en in die tent van ontmoeting ingaan om in die heiligdom diens te doen, moet die klere sewe dae aanhou.

31“Vat die ram wat vir die wyding gebruik is, en kook die res van sy vleis in 'n plek wat gewy is 32sodat Aäron en sy seuns die vleis by die deur van die tent van ontmoeting kan eet saam met die brood in die mandjie. 33Hulle moet die offer eet waarmee vir hulle versoening gedoen is by hulle wyding en reiniging. 'n Persoon wat nie priester is nie, mag nie daarvan eet nie, want dit is gewyd. 34As daar die volgende môre gewyde vleis en brood oor is, moet jy dit verbrand. Dit mag dan nie meer geëet word nie, want dit is gewyd. 35Jy moet met Aäron en sy seuns doen presies soos Ek jou beveel het. Jy moet hulle sewe dae lank as priesters wy. 36Elke dag moet jy 'n bul as sondeoffer offer. Jy moet die altaar deur jou versoeningsoffer reinig en dit salf om dit te wy. 37Sewe dae lank moet jy 'n versoeningsoffer op die altaar bring en dit wy. Dan sal die altaar besonder gewyd wees en alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees.”

Die daaglikse offers

(Vgl. Num. 28:1-8)

38“Jy moet die volgende op die altaar offer: elke dag twee jaaroud lammers, 39een in die môre en een in die aand. 40Saam met die eerste lam moet jy een en 'n half kilogram fynmeel offer, gemeng met een liter suiwer olie en een liter wyn. 41Die tweede lam moet jy teen die aand offer met dieselfde offer van meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit moet 'n vuuroffer wees wat Ek met graagte aanvaar.

42“Julle nakomelinge moet altyd 'n brandoffer vir My bring by die deur van die tent van ontmoeting. Dit is waar Ek julle sal ontmoet en met jou sal praat. 43Dáár sal Ek die Israeliete ontmoet en daar sal hulle geheilig word deur my magtige teenwoordigheid. 44Ek sal die tent van ontmoeting en die altaar heilig en ook vir Aäron en sy seuns om My as priesters te dien. 45Ek sal tussen die Israeliete woon en hulle God wees. 46So sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle God is wat hulle uit Egipte bevry het om tussen hulle te woon. Ek is die Here hulle God!”

Die wierookaltaar

(Vgl. Eks. 37:25-28)

1“Jy moet 'n altaar van doringhout maak om daarop wierook te brand. 2Dit moet 'n half meter in die vierkant wees en 'n meter hoog. Sy horings moet 'n eenheid daarmee vorm. 3Jy moet die bokant, die sye rondom, en die horings met suiwer goud oortrek en 'n goue lys rondom die altaar vassit. 4Jy moet twee goue ringe vir elke kant maak en dit aan weerskante teenoor mekaar, onderaan die lys vassit om die draaghoute waarmee jy die altaar moet dra, daardeur te steek. 5Jy moet die draaghoute van doringhout maak en hulle met goud oortrek. 6Sit die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet. 7Elke oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand. 8Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word.

9“Julle mag nie ongeoorloofde wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie, en nie 'n drankoffer daarop uitgiet nie.

10“Aäron moet een keer per jaar op die horings van die altaar versoening doen met die bloed van die sondeoffer. Ook julle nageslag moet een keer per jaar op die horings versoening doen. Die altaar is op 'n besondere manier gewy aan My, die Here.”

Die versoeningsoffer tydens 'n sensus

11Die Here het verder vir Moses gesê: 12“Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wanneer hy getel word, 'n versoeningsoffer vir sy lewe aan My, die Here, offer. Dan sal hy nie deur 'n ramp getref word wanneer hy getel word nie.

13“Elkeen wat kom om getel te word, moet met silwer betaal, ses gram volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die ses gram is 'n offergawe vir My, die Here. 14Elkeen van twintig jaar en ouer wat kom om getel te word, moet die offergawe vir My bring.

15“Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. 16Jy moet die versoeningsgeld by die Israeliete insamel en dit aan die priesters gee vir die diens in die tent van ontmoeting. Die versoeningsgeld sal My, die Here, laat dink aan die Israeliete en sal hulle lewens loskoop.”

Die bronswaskom

(Vgl. Eks. 38:8)

17Die Here het vir Moses gesê: 18“Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. 19Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. 20Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, 21moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.”

Die salfolie

22Die Here het vir Moses gesê: 23-24“Gebruik die standaardmaat van die heiligdom en meet die volgende speserye af: vyf honderd dele vloeibare mirre, die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig dele geurige kalmoes, vyf honderd dele kassie, en vier liter olyfolie. 25Maak daarvan gewyde salfolie, goed gemeng soos wanneer 'n vakman parfuum maak. Dit is die gewyde salfolie.

26“Jy moet die tent van ontmoeting en die ark waarin die getuienis is, daarmee salf, 27en verder ook nog die tafel met al sy toebehore, die kandelaar met al sy toebehore, die wierookaltaar, 28die brandofferaltaar met al sy toebehore, en ook die waskom met sy voetstuk. 29Jy moet dit wy en dan sal dit besonder gewyd wees. Alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees.

30“Jy moet ook vir Aäron en sy seuns salf en hulle so wy om as priesters vir My diens te doen. 31Sê vir die Israeliete: Dit is die gewyde salfolie wat deur al julle geslagte heen aan My sal behoort. 32Dit mag nie sommer op enige mens uitgegiet word nie. Hierdie mengsel mag julle vir geen ander doel gebruik nie. Dit is gewy en dit moet vir julle gewyd wees. 33Iemand wat so 'n mengsel maak en aan 'n onbevoegde persoon gee, moet van sy volk afgesny word.”

Die wierookoffer

34Die Here het verder vir Moses gesê: “Vat die volgende geurige speserye in gelyke hoeveelhede: hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. 35Berei dit as wierookoffer. Meng dit soos 'n vakman dit doen. Dit moet gesout wees, rein en gewyd. 36Vryf dit fyn tot 'n poeier en sit daarvan neer voor die getuienis in die tent van ontmoeting waar Ek jou sal ontmoet. Die wierookoffer moet vir julle besonder gewyd wees. 37Wat die wierook betref wat jy voorberei, niemand van julle mag dit volgens dieselfde voorskrif vir homself voorberei nie. Dit moet gewyd wees vir julle, aan My, die Here, gewy. 38Enigiemand wat so 'n mengsel voorberei om aan te ruik, moet van sy volk afgesny word.”

Vakmanne om die tent van ontmoeting te bou

(Vgl. Eks. 35:30 – 36:1)

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. Hy is 'n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda. 3Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: 4ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, 5edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. 6Ek het vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, aangestel om saam met hom te werk. Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het: 7die tent van ontmoeting, die ark met die getuienis daarin en die deksel daaroor, al die toebehore van die tent, 8die tafel met sy toebehore, die kandelaar van suiwer goud met sy toebehore, die wierookaltaar, 9die brandofferaltaar met al sy toebehore, die waskom met sy voetstuk, 10die geborduurde klere wat gewy is vir die priester Aäron en sy seuns om daarin as priesters diens te doen, 11die salfolie en die geurige wierook vir die heiligdom. Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het.”

Die rusdag

12Die Here het vir Moses gesê: 13“Jy moet vir die Israeliete sê: Onderhou my sabbatte. Dit is van geslag tot geslag 'n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het. 14Onderhou dus die sabbat. Dit moet vir julle 'n gewyde dag wees. Hy wat dit ontwy, moet doodgemaak word. Wie op dié dag werk, moet van sy volk afgesny word. 15Ses dae kan daar gewerk word, maar die sewende dag is 'n rusdag, 'n sabbat wat gewy is aan My, die Here. Elkeen wat op die sabbatdag werk, moet doodgemaak word.

16“Die Israeliete moet die sabbat onderhou. Ook op hulle nageslag lê die verbond 'n blywende verpligting om die sabbat te onderhou. 17Dit sal vir altyd 'n teken wees tussen My en die Israeliete. In ses dae het Ek, die Here, die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Ek nie gewerk nie, maar gerus.”

18Nadat die Here op Sinaiberg met Moses gepraat het, het Hy die twee plat klippe met die getuienis daarop aan Moses gegee. Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het.

Die goue kalf

1Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak.

Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit 'n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot 'n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met 'n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf, 16en dit was die werk van God. Dit was 'n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

17Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”

18Maar Moses het gesê:

“Dit klink nie na oorwinning nie,

dit klink nie na neerlaag nie,

wat ek hoor, klink na feesviering.”

19Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. 20Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

21Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

22Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. 23Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ 24Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”

25Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het, 26het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”

Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

27Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.”

28Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring.

29Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”

30Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

31Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak. 32Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”

33Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. 34Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.”

35Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS