Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 23

Eksodus 39–40, 1 Petrus 1–5

Bybelteks(te)

Die priesters se klere

(Vgl. Eks. 28:1-31)

1Van die blou, pers en bloedrooi wolstof het Besaleël en sy helpers die geborduurde klere gemaak wat in die diens van die heiligdom gebruik is. Soos die Here vir Moses beveel het, het hulle vir Aäron ampsklere gemaak en dit gewy. 2Die skouerkleed is gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. 3Hulle het bladgoud gemaak en dit in drade opgesny en ingeborduur in die blou, die pers en die bloedrooi wolstof en in die goed geweefde linne. Dit was die werk van 'n vakman. 4Hulle het vir die skouerkleed twee bande gemaak om dit aan die punte oor die skouer aanmekaar vas te maak. 5Die gordel wat oor die skouerkleed gekom het, was van dieselfde gehalte en daarvoor het hulle ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik, soos die Here vir Moses beveel het.

6Hulle het oniks verwerk en gemonteer in goud. Die name van die seuns van Israel is daarop gegraveer, soos 'n vakman dit op 'n seëlring doen. 7Die stene is op die skouerbande van die skouerkleed vasgewerk sodat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. Dit alles is gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

8Hulle het ook 'n borssak uitgeborduur soos die skouerkleed, die werk van 'n vakman, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. 9Die borssak is dubbel gevou, vyf en twintig sentimeter in die vierkant. 10Hierop het hulle vier rye edelstene gemonteer. Die eerste ry het bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag; 11die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis; 12die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis, 13en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering was van goud. 14Daar was twaalf stene, een vir elke naam van die twaalf stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme is daarop gegraveer soos op 'n seëlring.

15Hulle het toe van suiwer goud vir die borssak kettinkies gemaak, gedraai soos tou. 16Hulle het ook twee goue monterings en twee goue ringe gemaak. Die twee ringe is agter aan die twee boonste hoeke van die borssak vasgewerk 17en aan elkeen van hierdie ringe aan die hoeke van die borssak is 'n goue kettinkie vasgemaak. 18Die ander twee punte van die kettinkies is aan die twee monterings aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed vasgemaak. 19Hulle het nog twee goue ringe gemaak en dit vasgewerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant waar dit teen die skouerkleed is. 20Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vasgesit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel. 21Die ringe van die borssak is met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. Dit alles is gedoen volgens die voorskrif van die Here aan Moses.

22Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, is as een stuk blou wolstof geweef. 23In sy middel was daar 'n opening omgeboor, sterk soos 'n pantserhemp dat dit nie kan skeur nie. 24Vir die some van die mantel het hulle granaatjies gemaak van goed geweefde blou, pers en bloedrooi wolstof. 25Dan het hulle ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies rondom die hele soom van die mantel vasgewerk, 26een klokkie tussen elke twee granaatjies. Die mantel was vir diens bestem soos die Here dit vir Moses beveel het.

27Hulle het ook priesterklere van linne geweef vir Aäron en sy seuns, 28asook 'n tulband en mooi kopdoeke van linne, en linnebroeke van goed geweefde linne. 29Hulle het ook 'n serp gemaak van goed geweefde linne, blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was weefwerk, soos die Here vir Moses beveel het. 30Hulle het 'n blom van suiwer goud vir die gewyde tulband gemaak en daarop, soos op 'n seëlring, gegraveer: Aan Die Here Gewy. 31Dit is met 'n blou toutjie aan die voorkant van die tulband vasgemaak, soos die Here vir Moses beveel het.

Die tabernakel en sy toebehore is voltooi

(Vgl. Eks. 35:10-19)

32Uiteindelik was al die werk vir die tabernakel, die tent van ontmoeting, klaar. Die Israeliete het alles gemaak presies net soos die Here vir Moses beveel het. 33Hulle het die tabernakel, die tent met al sy toebehore, na Moses toe gebring: die kramme, die rame, die dwarslatte, die style met hulle voetstukke; 34die seil van rooigekleurde ramsvel, die seil van gebreide vel, die voorhangsel, 35die ark met die getuienis, die draaghoute, die deksel, 36die tafel met sy draaghoute en al sy toebehore, die offerbrood; 37die gewyde kandelaar met sy ry lampe en toebehore en olie vir die lampe, 38die goue altaar, die salfolie, die geurige wierook en die afskorting vir die tentdeur; 39die bronsaltaar met al sy toebehore, die bronstraliewerk waaraan die draaghoute vas was, die waskom met sy voetstuk, 40die gordyne van die voorhof, hulle style met hulle voetstukke, die afskorting vir die deur van die voorhof met sy toue en penne, en al die ander toebehore vir die diens in die tabernakel, die tent van ontmoeting; 41die geborduurde klere om in die heiligdom mee te dien, die gewyde klere vir die priester Aäron en vir sy seuns om daarin as priesters diens te doen.

42Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses beveel het. 43Moses het al die werk geïnspekteer en gesien dat dit gemaak is soos die Here beveel het. Toe het Moses die vakmanne gelukgewens en bedank.

Die tabernakel word opgeslaan en gewy

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Op die eerste dag van die eerste maand moet jy die tabernakel, die tent van ontmoeting, opslaan. 3Jy moet die ark met die getuienis neersit in die tent en die ark afskort met die voorhangsel.

4“Dan moet jy die tafel inbring en sy toebehore daarop regsit. Jy moet ook die kandelaar inbring en sy lampe opsteek. 5Die goue wierookaltaar moet jy neersit voor die ark met die getuienis en dan die voorhangsel in die deur van die tabernakel hang. 6Jy moet die brandofferaltaar neersit voor die ingang van die tabernakel, die tent van ontmoeting. 7Die waskom moet jy neersit tussen die tent van ontmoeting en die altaar, en jy moet water daarin gooi. 8Jy moet die voorhof opslaan en die afskorting in die ingang van die voorhof hang. 9Vat dan salfolie en salf die tabernakel en alles wat daarin is. Wy die tabernakel en al die toebehore. Dan sal dit gewyd wees.

10“Salf die brandofferaltaar en al sy toebehore. Jy moet die altaar ook wy: dit moet 'n gewyde altaar wees.

11“Salf die waskom en sy voetstuk en wy dit ook.

12“Laat Aäron en sy seuns na die deur van die tent van ontmoeting toe kom en was hulle met water. 13Laat Aäron dan die gewyde klere aantrek; salf en wy hom sodat hy vir My as priester kan diens doen. 14Laat sy seuns ook naderkom en laat hulle ook hulle priesterklere aantrek. 15Jy moet hulle salf soos jy hulle pa gesalf het sodat ook húlle vir My as priesters kan diens doen. Hulle salwing dui aan dat hulle en hulle nageslag vir altyd as priesters sal moet diens doen.”

16Moses het alles gedoen presies net soos die Here hom beveel het. 17Op die eerste dag van die eerste maand van die tweede jaar na die uittog is die tabernakel opgerig. 18Moses het dit soos volg gedoen: hy het die voetstukke neergesit, die rame regop gesit, die dwarslatte vasgesit en die style regop gesit. 19Hy het die tent oor die tabernakel gesit en die seil daarbo-oor gespan, soos die Here hom beveel het.

20Hy het die getuienis gevat en dit in die ark gesit. Hy het die draaghoute van die ark ingesteek en die deksel bo-op die ark neergesit. 21Daarna het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel opgehang om die ark met die getuienis af te skort, soos die Here hom beveel het.

22Hy het die tafel in die tent van ontmoeting neergesit, aan die noordekant van die tabernakel, buite die voorhangsel. 23Hy het offerbrood daarop neergesit voor die Here, soos die Here hom beveel het. 24Hy het die kandelaar in die tent van ontmoeting neergesit, regoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.

25Toe het hy die lampe opgesteek voor die Here, soos die Here hom beveel het. 26Hy het die goue altaar in die tent van ontmoeting neergesit, voor die voorhangsel. 27Toe het hy geurige wierook daarop aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

28Hy het 'n afskorting in die deur van die tabernakel gehang. 29Hy het die brandofferaltaar neergesit by die deur van die tabernakel, die tent van ontmoeting, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

30Hy het die waskom neergesit tussen die tent van ontmoeting en die brandofferaltaar, en waswater daarin gegooi. 31Moses, Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daarin gewas. 32Elke keer as hulle by die tent van ontmoeting kom en na die altaar toe gaan, het hulle eers gewas, soos die Here vir Moses beveel het. 33Daarna het hy die voorhof rondom die tabernakel en die altaar opgerig en die afskorting voor die ingang van die voorhof gehang. So het Moses sy werk afgehandel.

Die magtige teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel

34'n Wolk het die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. 35Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.

36Later het dit so gegaan: wanneer die wolk van die tabernakel af voor die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit. 37As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het. 38Die wolk van die Here was bedags 'n wolk oor die tabernakel en snags het dit 'n vuur daarbo-oor geword.

So het die hele Israel dit ervaar elke keer as hulle versit.

1Van Petrus, 'n apostel van Jesus Christus.

Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. 2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Die lewende hoop en die egte geloof

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8-9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Die verlossing reeds deur die profete aangekondig

10In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

Oproep om heilig te lewe

13Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. 14As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Losgekoop met die kosbare bloed van Christus

17Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

Weergebore deur die lewende en ewige woord van God

22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. 24Die Skrif sê:

“Die mens is soos gras,

en al sy prag soos 'n veldblom;

die gras verdor en die blom val af,

25maar die woord van die Here,

dít bly vir ewig.”

En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

Die volk van God, gebou op die kosbare hoeksteen

1Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. 2Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 3Julle het immers ondervind dat die Here goed is.

4Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 5Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6Daarom staan daar in die Skrif:

“Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek.

Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”

7Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde:

“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”

8en:

“'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.”

Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.

9Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

Gedra julle altyd goed

11Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. 12Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.

13Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is 14of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. 15Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.

16Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien.

17Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.

Christus die voorbeeld vir dié wat ly

(Vgl. Ef. 6:5-8; Kol. 3:22-25)

18Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. 19Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. 20As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. 21Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.

22“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.”

23Toe Hy beledig is,

het Hy nie terug beledig nie,

toe Hy gely het,

het Hy nie gedreig nie,

maar alles oorgelaat

aan Hom wat regverdig oordeel.

24Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

25Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe.

Die gedrag van man en vrou teenoor mekaar

(Vgl. Ef. 5:22-32; Kol. 3:18-19)

1-2Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.

3Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde. 5In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. 6Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters.

7Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

Hoe elkeen hom moet gedra

8Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. 9Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.

10Daar staan geskrywe:

“As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.

11Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!

12Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.”

Dit is 'n voorreg om te ly vir wat goed is

13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net 'n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar 'n bede tot God om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Wie gely het, het met die sonde afgereken

1Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: 2vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God. 3In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. 4Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle. 5Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. 6Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.

Dien mekaar met julle gawes

7Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.

Om as Christen te ly

12Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. 15As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy 'n moordenaar is of 'n dief of 'n misdadiger of 'n kwaadstoker nie. 16Maar wanneer iemand ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

17Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18“As 'n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van 'n goddelose en 'n sondaar?”

19Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.

Die ouderlinge moet toesig hou

1As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: 2Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur 'n voorbeeld vir die kudde te wees. 4En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.

Wees nederig

5En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

6Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee

8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

10God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Mededeling en groete

12Silvanus, wat na my mening 'n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas!

13Die gemeente in Babilon, 'n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete.

14Groet mekaar met 'n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS