Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 218

Opvang Dag (Psalms 2, 93, 97–99, 110)

Bybelteks(te)

Julle moet die Here met ontsag dien

1Waarom is daar onrus onder die volke,

waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs?

2Die konings van die aarde is in opstand,

die leiers span saam teen die Here

en teen sy gesalfde en sê:

3“Kom ons maak ons vry

en gooi hulle juk af!”

4Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit,

die Here spot met hulle.

5Hy spreek hulle aan in sy toorn,

in sy gramskap jaag Hy hulle op loop:

6“Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg.”

7Ek wil vertel wat die Here aangekondig het.

Hy het vir my gesê:

“Jy is my seun,

van vandag af is Ek jou Vader.

8Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom,

die hele aarde as jou besitting.

9Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter,

hulle flenters slaan soos 'n kleipot.”

10Wees dan nou verstandig, konings,

wees gewaarsku, regeerders van die aarde!

11Julle moet die Here met ontsag dien,

Hom met vrees en bewing toejuig

12en Hom onderdanig wees,

sodat Hy nie toornig word

en julle op die pad omkom nie,

want sy toorn ontvlam gou.

Dit gaan goed met almal

wat by Hom skuiling soek.

U is van altyd af daar

1Die Here is Koning,

Hy beklee Hom met majesteit.

Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag.

Die wêreld staan vas, dit wankel nie,

2en vas staan u troon van ouds af:

U is van altyd af daar.

3Riviere het gedruis, Here,

riviere het gedruis,

riviere het gedreun,

4maar hoog bo die geraas van baie waters,

hoog bo die golwe van die see,

troon die Here in sy koninklike mag.

5U verordeninge staan baie vas.

Heiligheid versier u huis, Here,

tot in lengte van dae.

Vir die regverdiges het daar lig gekom

1Die Here regeer, die aarde moet juig,

al die baie eilande moet bly wees!

2Die Here is omgewe van donker wolke;

sy troon is gebou op reg en geregtigheid.

3'n Vuur trek voor Hom uit

en verteer sy vyande aan alle kante.

4Sy weerligstrale verlig die wêreld;

die aarde sien dit en bewe.

5Berge smelt soos was voor die Here,

voor die Here van die aarde.

6Die hemel getuig dat Hy regverdig is

en al die volke sien sy magtige verskyning.

7Almal wat beelde dien,

wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter,

want al hulle gode moet voor die Here buig.

8Sion is bly, die stede van Juda juig

wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.

9U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,

hoog verhewe bo alle gode.

10Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!

Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,

Hy red hulle uit die greep van die goddelose.

11Vir die regverdiges het daar lig gekom,

blydskap vir die opregtes.

12Wees bly in die Here, regverdiges,

prys sy heilige Naam.

Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here

1'n Psalm.

Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here,

want Hy het magtige dade gedoen,

deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.

2Die Here het sy oorwinning bekend gemaak,

aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.

3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;

die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.

4Juig tot eer van die Here, almal op aarde,

wees vrolik, juig en sing!

5Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier,

speel op die lier en sing.

6Blaas die trompet en die ramshoring,

jubel tot eer van die Here, die Koning.

7Die see en alles daarin moet druis,

die aarde en alles daarop moet juig,

8die riviere moet hande klap,

die berge moet saam juig

9voor die Here,

want Hy kom om oor die aarde te heers;

Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,

oor die volke met billikheid.

Die Here ons God is heilig

1Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag.

Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van ontsag.

2Groot is die Here, Hy wat in Sion is,

hoog verhewe bo al die volke.

3Hulle moet u groot en gevreesde Naam prys:

“U is heilig!”

4U is die magtige Koning,

U het die reg lief;

wat reg is, het U tot stand gebring.

U het reg en geregtigheid in Jakob gevestig.

5Prys die Here ons God.

Kom buig in aanbidding voor Hom:

Hy is heilig!

6Moses en Aäron was onder sy priesters,

Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het.

Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor.

7In 'n wolkkolom het God met hulle gepraat,

en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,

die opdragte wat Hy hulle gegee het.

8Here ons God, U het hulle gebede verhoor.

U was vir hulle 'n vergewende God,

maar Een wat ook hulle sondes gestraf het.

9Prys die Here ons God,

buig voor Hom op sy heilige berg,

want die Here ons God is heilig.

Kom sit aan my regterhand

1Van Dawid. 'n Psalm.

Die Here het vir my heer die koning gesê:

“Kom sit aan my regterhand,

en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

2As die Here die septer, simbool van u mag,

uit Sion aan u oorhandig,

heers dan oor u vyande!

3U volk is gereed

vir die dag waarop u u magte monster.

U jongmanne is u krag

as hulle teen dagbreek aantree,

geklee vir die heilige stryd.

4Die Here het 'n eed afgelê

en Hy sal dit nie herroep nie:

“Jy sal altyd priester wees

in die priesterorde van Melgisedek.”

5Die Here gee u die oorwinning,

Hy verdelg konings die dag as Hy sy toorn laat losbreek.

6Hy straf die nasies,

Hy verdelg hulle leiers,

Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke.

7Die koning drink water uit die stroom langs die pad,

hy sal die oorwinning behaal.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS