Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 217

Psalms 87–89 & 91–92

Bybelteks(te)

Die Here het die stad Sion lief

1Van die Koragiete. 'n Psalm. 'n Lied.

Die fondament van Sion is die heilige berg.

2Die Here het vir Sion lief

meer as enige ander plek in Jakob.

3Daar word groot dinge van jou gesê, stad van God: Sela

4“Ek reken onder dié wat my ken ook die mense van Egipte en Babel,

selfs dié van Filistea, Tirus en Kus.

Hulle het almal kinders van Sion geword.”

5Daarom word van Sion gesê:

“Daar is hulle man vir man gebore;

die Allerhoogste hou Sion in stand.”

6As die Here die name van die volke aanteken, sal Hy by elkeen skrywe:

“Hierdie een is ook 'n kind van Sion.” Sela

7Met sang en dans sal almal Sion prys.

Laat my gebed nie tevergeefs wees nie

1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.

2Here my God wat my altyd help,

ek roep elke dag om hulp,

elke nag bid ek tot U.

3Laat my gebed nie tevergeefs wees nie,

hoor my geroep.

4Die swaarkry het vir my te veel geword:

ek vat al aan die doderyk,

5ek staan al met die een voet in die graf,

ek het geen krag meer nie.

6Dit is asof ek al tussen die dooies is,

tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê,

dié aan wie U nie meer dink nie

en van wie U u hand teruggetrek het.

7U het my onder in die put laat beland,

in diepe duisternis.

8U gramskap rus swaar op my,

U laat al u golwe oor my breek. Sela

9U laat my bekendes ver van my af staan

en maak my vir hulle iets afskuweliks;

ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.

10My oë is al dof van ellende;

die hele dag deur roep ek na U, Here,

en steek ek my hande in gebed na U uit.

11Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur?

Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela

12Word daar in die graf vertel van u troue liefde?

Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?

13Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood,

u redding in die land van vergetelheid?

14Ek roep na U om hulp, Here,

vroeg in die môre al bid ek tot U.

15Waarom verstoot U my, Here,

waarom trek U U van my af terug?

16Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af.

Dit is 'n swaar las waarmee U my teister.

Ek weet geen raad meer nie.

17U toorn rus op my,

U tref my met skrik en vernietig my.

18Dit bedreig my heeldag soos vloedwater,

dit sak op my toe van alle kante af.

19U laat my vriende en my bure ver van my af staan,

die duisternis van die dood is my geselskap.

Die hemel loof u wondermag

1'n Gedig van Etan die Esragiet.

2Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade,

sy trou verkondig aan komende geslagte.

3Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit,

dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.”

4U het gesê: “Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene,

Ek het 'n eed gesweer vir my dienaar Dawid:

5Ek sal vir jou 'n nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.” Sela

6Die hemel loof u wondermag, Here,

die hemelinge loof u trou.

7Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word?

Wie onder die hemelwesens is soos die Here?

8Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering 'n heilige ontsag.

Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom.

9Here, almagtige God, wie is soos U?

U krag is groot, Here, u trou is oral!

10U heers oor die onstuimige see:

as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.

11U het die monster Rahab verbrysel, hy is verslaan.

Deur u groot mag het U u vyande uitmekaargejaag.

12Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde,

die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak.

13Die noorde en die suide, U het dit geskep;

Tabor en Hermonberg roem u Naam.

14U het 'n magtige arm,

sterk is u hand, kragtig u regterhand.

15U troon is gebou op geregtigheid en reg,

liefde en trou staan in u diens.

16Dit gaan goed met die volk

wat kan jubel tot u eer,

wat in u lig lewe, Here.

17Hulle besing u Naam die hele dag,

hulle prys u reddingsdade;

18U is die krag waarin hulle roem.

Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet.

19Ons koning behoort aan die Here,

ja, ons beskermer behoort aan die Heilige van Israel.

20U het 'n openbaring gegee,

oor u troue dienaar het U gesê:

“Ek het aan 'n held my bystand geskenk,

aan 'n dapper jong man uit die volk 'n ereplek gegee.

21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,

hom met my heilige olie tot koning gesalf.

22My mag sal hom ondersteun,

my krag sal hom sterk maak.

23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,

gewetenlose mense sal hom nie verdruk nie.

24Ek sal sy teëstanders voor hom verpletter

en dié wat hom haat, verslaan.

25My trou en liefde sal by hom wees:

deur My sal hy oorwin.

26Ek sal sy heerskappy uitbrei tot oor die see,

sy gesag tot oorkant die riviere.

27Hy sal My aanroep met die woorde: ‘U is my Vader,

my God, die rots wat my redding is.’

28Ek stel hom eerste,

die magtigste koning op aarde.

29Vir altyd handhaaf Ek my trou teenoor hom;

my verbond met hom staan vas.

30Ek sal vir hom altyd nakomelinge verseker

sodat sy troon vas sal staan so lank daar 'n hemel is.

31As sy nakomelinge nie handel volgens my woord nie

en nie lewe volgens my bepalings nie,

32as hulle my voorskrifte verontagsaam

en my gebooie nie nakom nie,

33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf

en hulle oor hulle sonde met swaar slae tref.

34Maar my liefde sal Ek van hom nie terughou nie,

my trou nie verbreek nie.

35Ek sal my verbond nie versaak nie,

nie een van my beloftes terugtrek nie.

36Ek, die Heilige, het 'n eed afgelê,

en my woord aan Dawid sal Ek nie verbreek nie:

37daar sal altyd nakomelinge van hom wees,

sodat sy troon so blywend soos die son sal wees.

38Soos die maan sal dit altyd daar wees.

Solank die hemel daar is, sal dit vas bly staan.” Sela

39Maar nou het U in u toorn

tog u gesalfde verstoot en verwerp.

40U het die verbond met u dienaar nie in ag geneem nie,

sy kroon tot in die grond vertrap.

41U het al sy stadsmure afgebreek,

sy vestings in puin gelê.

42Almal wat daarlangs kom, beroof hom;

die buurvolke behandel hom met minagting.

43U het sy teëstanders laat seëvier,

al sy vyande laat juig.

44U het hom voor die vyand laat vlug,

hy kon nie staande bly in die oorlog nie.

45Aan sy koninklike luister het U 'n end gemaak,

sy troon teen die grond gegooi.

46U het sy jeugdige krag gebreek

en hom diep verneder. Sela

47Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?

Sal die vuur van u gramskap dan bly brand?

48Dink tog daaraan hoe kort die lewe is,

hoe min daar in die lewe is

vir al die mense wat deur U geskep is.

49Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie,

wat homself kan red uit die mag van die doderyk? Sela

50Waar is u liefde van vroeër, Here,

wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?

51Dink, Here, aan die smaad wat my aangedoen is,

aan alles wat ek moes verduur van baie volke.

52Die mense van wie hierdie smaad kom, is u vyande, Here,

dit is u gesalfde vir wie hulle smaad waar hy ook gaan.

53Aan die Here kom die lof toe vir altyd. Amen, ja, amen.

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind

1Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind

en die beskerming van die Almagtige geniet,

2hy sê vir die Here:

“U is my toevlug en my veilige vesting,

my God op wie ek vertrou.”

3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou

en jou bewaar van dodelike siekte.

4Hy beskut jou onder sy vleuels

en is vir jou 'n veilige skuilplek.

Sy trou beskerm jou aan alle kante.

5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag

of vir aanvalle oordag,

6vir pes wat in die donker toeslaan

of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.

7Al val daar duisende langs jou,

tienduisende by jou,

vir jou sal niks tref nie.

8Met jou eie oë sal jy sien

hoe die goddelose gestraf word.

9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,

die Allerhoogste as jou beskermer,

10sal geen onheil jou tref

en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

11Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

12Op hulle hande sal hulle jou dra,

sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

13Jy sal oor leeus en adders loop,

leeus en slange sal jy doodtrap.

14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,”

sê die Here,

“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;

in sy nood sal Ek by hom wees,

Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.

16'n Baie lang lewe sal Ek hom gee

en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Groots is alles wat U doen, Here

1'n Psalm. 'n Lied vir die sabbatdag.

2Dit is goed om die Here te loof,

om u Naam te besing, Allerhoogste,

3om elke môre van u liefde te getuig,

en elke aand van u trou,

4om dit te doen met snaarinstrumente,

met harp en lier.

5U groot dade, Here, het my baie bly gemaak,

ek wil juig oor wat U gedoen het.

6Groots is alles wat U doen, Here,

ondeurgrondelik u gedagtes.

7Wie dit nie besef nie, is 'n dom mens,

wie dit nie insien nie, is sonder verstand.

8Al is die goddelose voorspoedig,

al floreer almal wat onreg doen,

hulle sal vir goed uitgewis word.

9U regeer vir ewig, Here,

10en dit staan vas:

u vyande sal uitgedelg word, Here,

almal wat onreg doen, sal vernietig word.

11Maar vir my gee U krag soos dié van 'n buffel,

U laat my 'n oorwinningsfees vier.

12Ek kyk op my teëstanders neer,

ek luister sonder vrees na die mense

wat niks ontsien nie,

wat in opstand teen my is.

13Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome,

soos hoë seders op die Libanon.

14Hulle vind hulle krag in die huis van die Here

en groei op in die tempel van ons God.

15Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag.

Hulle sal fris en lewenskragtig wees.

16So sal blyk dat die Here regverdig is,

dat daar by Hom geen onreg is nie.

Hy is my rots.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS