Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 216

2 KORINTIËRS 8–13

Bybelteks(te)

Die Christelike vrygewigheid

1Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. 2Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. 3Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. 4Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. 5Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.

6Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi. 7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.

8Ek gee nie 'n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:

“Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met 'n bietjie,

nie te min nie.”

Die sending van Titus

16Ons dank God dat Hy Titus net so ywerig gemaak het om julle te help as wat ons is.

17Hy het nie net ons versoek verwelkom nie, maar in sy groot ywer ook uit eie beweging na julle toe vertrek. 18Saam met hom stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy bevordering van die evangelie. 19Afgesien daarvan is die broer ook deur die gemeentes gekies om met ons saam te reis as ons die liefdeswerk uitvoer wat ons onderneem het. Ons doen dit tot eer van die Here en as teken van ons hulpvaardigheid. 20Op hierdie manier voorkom ons dat enigiemand ons dalk sou verdink in verband met so 'n groot som geld wat ons moet wegbring. 21Ons is daarop gesteld om korrek op te tree, nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.

22Saam met hulle stuur ons ook ons ander broer. Ons het hom baie keer en op baie maniere op die proef gestel en gevind dat hy ywerig is om te help. Nou is hy nog yweriger omdat hy baie vertroue in julle het. 23Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes en 'n eer vir Christus. 24Bewys aan hulle julle liefde sodat al die gemeentes dit kan sien en kan weet dat ons tereg op julle trots is.

2 KORINTIËRS 8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hulpverlening aan die gelowiges

1Eintlik is dit oorbodig dat ek aan julle skrywe oor die hulpverlening aan die gelowiges in Judea. 2Ek weet dat julle graag wil help, en ek het al by die Masedoniërs met lof oor julle gepraat. “Agaje,” het ek gesê, “is al 'n jaar lank reg om te help.” Julle ywer het ook die meeste ander aangespoor. 3Nou stuur ek hierdie broers sodat ons woorde van lof oor julle in hierdie aangeleentheid nie leë woorde sal wees nie. Ons wil hê dat, soos ons die ander vertel het, julle klaar reg sal wees om te help. 4Anders, as daar Masedoniërs saam met my kom en hulle sien julle is nog nie gereed nie, sal ons ons skaam oor ons vertroue in julle – om nie eens te praat van julle eie skaamkry nie. 5Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer wat julle vroeër beloof het, vooraf in orde bring. Dan sal dit daar gereed wees as 'n werklike offer van dankbaarheid, en nie as iets wat afgepers is nie.

6Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. 7Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. 8En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. 9Daar staan ook geskrywe:

“Hy deel uit en gee aan die armes;

hy bly altyd vrygewig.”

10God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer. 11Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, 12want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee. 13Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. 14Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was. 15Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.

2 KORINTIËRS 9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus verdedig sy apostoliese gesag

1Ek, Paulus, doen 'n persoonlike beroep op julle – ek, wat mos “gedwee” is as ek by julle is, maar “manhaftig” teenoor julle as ek van julle af weg is. In die Naam van Christus, wat nederig en vriendelik is, vra ek julle: 2Moet my nie dwing om streng te wees as ek kom nie. Ek is seker ek kan my veroorloof om streng op te tree teenoor dié wat ons daarvan beskuldig dat ons uit menslike oorwegings handel. 3Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. 4Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. 6Ons is ook gereed om met elke ongehoorsaamheid af te reken sodra julle eie gehoorsaamheid volkome is.

7Julle kyk net na een kant van die saak. As iemand dan so vas oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy onthou: ons behoort net soos hy ook aan Christus. 8Al het ek my miskien 'n bietjie te veel beroem op daardie bevoegdhede wat die Here my gegee het, sal ek nie beskaamd daarvan afkom nie. Die Here het aan ons die bevoegdheid gegee om julle op te bou, nie om julle af te breek nie. 9Daarom wil ek nie die skyn wek dat ek julle met my briewe probeer bang maak nie.

10Daar word mos gesê: “Sy briewe is wel ernstig en streng, maar as hy self by ons is, is hy mak en beteken sy woorde niks.” 11Die man wat so praat, moet weet dat daar geen verskil is tussen wat ons in briewe skrywe as ons van julle af weg is, en wat ons doen as ons by julle is nie.

12Ons waag dit natuurlik nie om ons op een lyn te stel of te vergelyk met sekere mense wat so 'n danige dunk van hulleself het nie. Hulle is dom: hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself met hulleself. 13Maar wat ons betref, ons sal met ons roem nie buite die perke gaan nie. Ons bly binne die perke van die werkkring wat God aan ons toegemeet het. Julle val ook binne daardie perke. 14Dus het ons nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het immers vroeër al tot by julle gekom met die evangelie van Christus. 15Deur op julle te roem, gaan ons dus nie die perke te buite nie, want dit is nie ander mense se werk waarop ons roem nie. Ons hoop dat julle geloof sal toeneem en dat ons dan onder julle nog meer sal hê om op te roem, steeds binne die perke van ons werkkring. 16Dan sal ons die evangelie ook in streke anderkant julle kan verkondig sonder om te roem op werk wat tot stand gebring is in die werkkring van iemand anders.

17Maar die Skrif sê: “Hy wat roem, moet in die Here roem.” 18Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.

2 KORINTIËRS 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus en die vals apostels

1Nou wil ek hê julle moet 'n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar!

2Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. 3Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. 4Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het. 5Ek reken dat ek niks agterstaan by julle danige apostels nie. 6Al is ons miskien nie sulke gladde sprekers nie, in die kennis staan ons nie agter nie. Dit het ons julle tog by elke geleentheid en in alle opsigte laat sien.

7Sonder vergoeding het ek die evangelie van God aan julle verkondig. Ek het my verneder sodat julle opgehef kon word. Was dit miskien verkeerd van my? 8Om julle te bedien, het ek van ander gemeentes vergoeding aangeneem en hulle as 't ware so beroof. 9Toe ek by julle was en geld kortgekom het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ruim in my behoeftes voorsien. Ek het gesorg en sal ook verder sorg dat ek in geen opsig vir julle 'n las word nie. 10Hierop is ek trots, en so seker as die waarheid van Christus in my is, sal niemand in die hele Agaje my dit ontneem nie. 11Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet ek het julle lief.

12Soos ek nou maak, sal ek voortgaan om te maak. Daarmee sal ek vir dié mense wat 'n aanleiding soek om te roem dat hulle net sulke apostels soos ons is, elke aanleiding daartoe ontneem. 13Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. 14En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig. 15Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.

Paulus se ontberings as apostel

16Ek herhaal: Niemand moet dink dat ek 'n dwaas is nie. Of anders, beskou my maar as 'n dwaas en laat my ook 'n bietjie grootpraat. 17Wat ek nou sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie aangeleentheid praat ek werklik soos 'n dwaas, in die oortuiging dat ek grond het om te roem. 18Aangesien daar baie is wat op suiwer menslike gronde grootpraat, sal ek ook grootpraat. 19Julle wat so verstandig is, verdra mos geredelik die dwaas. 20Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap. 21Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was!

Nou praat ek soos 'n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem. 22Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook. 23Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring.

26Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. 29As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.

30As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede. 31Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid!

32Toe ek in Damaskus was, het die verteenwoordiger van koning Aretas die stad laat bewaak om my te vang. 33Maar deur 'n venster in die muur is ek in 'n mandjie laat afsak en het ek aan sy hande ontkom.

2 KORINTIËRS 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gesigte en openbarings

1Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 2Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3-4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat 'n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Paulus se besorgdheid oor die gemeente

11Ek het nou soos 'n dwaas opgetree. Julle het my daartoe verplig. Eintlik is dit julle wat in my guns moes gepraat het, want al is ek niks, staan ek niks agter by daardie danige apostels nie. 12Die dinge wat 'n apostel kenmerk, het ek met groot geduld by julle verrig: tekens en wonders en kragtige dade. 13Waarin is julle swakker behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik nie vir julle tot 'n geldelike las was nie? Vergewe my hierdie onreg!

14Dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en ek sal nie vir julle 'n las wees nie: ek soek nie julle geld nie, maar vir julle. Dit is immers nie die kinders wat vir die ouers sorg nie, maar die ouers vir die kinders. 15Ek sou graag alles wil gee vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle soveel meer liefhet as wat die ander julle het, het julle my dan minder lief as vir hulle?

16Goed, ek was dus nie vir julle 'n oorlas nie. Maar julle kan dink ek was slim en ek het julle uitoorlê. 17Het ek myself dan miskien ten koste van julle geldelik bevoordeel deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het? 18Ek het vir Titus gevra om na julle toe te gaan en die ander broer saamgestuur. Het Titus homself dan geldelik bevoordeel ten koste van julle? Handel hy en ek nie in dieselfde gees nie, en loop ons nie in dieselfde spore nie?

19Julle dink seker lankal dat ons ons by julle probeer verdedig? Nee, ons praat in verantwoordelikheid aan God en in verbondenheid met Christus. Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou. 20Ek is bang dat, wanneer ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek dit graag wil hê nie, en dat julle my ook nie sal vind soos julle dit graag wil hê nie. Ek is bang vir twis, naywer, onbeheerstheid, selfsug, kwaadpratery, nuusdraery, verwaandheid en wanordelikheid. 21Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al 'n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie.

2 KORINTIËRS 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Slotvermanings en groete

1Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif. 2Aan dié wat vroeër gesondig het en aan al die ander het ek voorheen toe ek by julle was, gesê, en ek sê dit nou weer vooruit terwyl ek nie by julle is nie: As ek nou weer na julle toe kom, sal ek niks en niemand ontsien nie. 3Julle soek mos 'n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle, 4want al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien.

5Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. 6Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het. 7Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie. 8Ons vermag niks teen die waarheid van God nie, maar wel alles vir die waarheid. 9Ons is dus bly as ons swak is, as julle maar sterk is. Ons bid ook vir julle geestelike volwassenheid. 10Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek nog van julle af weg is, want wanneer ek kom, wil ek nie met die gesag wat die Here aan my gegee het, streng teen julle optree nie. Met dié gesag moet ek opbou, nie afbreek nie.

11Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!

12Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete.

13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

2 KORINTIËRS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS