Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 215

2 KORINTIËRS 1–7

Bybelteks(te)

1Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje.

2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging na 'n moeilike tyd

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. 7En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.

8Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. 10Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. 11Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.

Die verandering van Paulus se reisplan

12Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God. 13In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan. 14Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal julle dan net so trots op ons wees soos ons op julle.

15Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer 'n bewys van genade kon ontvang. 16Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe.

17Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê? 18So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, 19want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, 20die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. 21God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.

23Ek roep God tot getuie en staan met my lewe daarvoor in: dit was om julle te spaar dat ek toe nie na Korinte toe gekom het nie. 24Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.

2 KORINTIËRS 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Daarom het ek besluit ek kom nie weer na julle toe as my besoek op droefheid uitloop nie, 2want as ek julle hartseer maak, wie bly dan oor om my op te beur, behalwe dié wat ek hartseer gemaak het? 3Dit is waarom ek liewer aan julle geskrywe het. Ek wou nie daar kom en hartseer gemaak word deur mense wat my gelukkig moes gemaak het nie, want ek is seker daarvan dat julle almal gelukkig is as ek gelukkig is. 4Ja, met groot bekommernis en beklemming van hart, en onder baie trane, het ek aan julle geskrywe. Dit was nie om julle hartseer te maak nie, maar om julle te laat besef dat ek julle baie liefhet.

Vergifnis vir die oortreder

5As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal, of, om nie te oordryf nie, ten minste 'n deel van julle. 6Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. 7Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. 8Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom. 9Toe ek geskryf het, was dit juis om te wete te kom of julle aan my getrou gebly het en in alles gehoorsaam is.

10As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie. 11Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.

Die triomf van die evangelie

12Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak. 13Tog het ek nie gemoedsrus gehad nie, omdat ek my broer Titus nie daar gekry het nie. Daarom het ek van die mense daar afskeid geneem en Masedonië toe vertrek.

14Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. 15Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. 16Vir dié wat verlore gaan, is dit 'n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit 'n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat? 17Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.

2 KORINTIËRS 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bedienaars van 'n nuwe verbond

1Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? 2Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. 3Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.

4Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. 5Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, 6wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.

7Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, 8hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie? 9Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid. 10Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. 11As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter.

12Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op. 13Ons is nie soos Moses wat sy gesig met 'n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was. 14Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo. 15Maar vandag nog, elke keer as die wet van Moses voorgelees word, is daar 'n sluier oor hulle verstand. 16Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” 17“Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. 18Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

2 KORINTIËRS 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die apostels verkondig Jesus Christus, die Here

1God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. 2Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God 'n eerlike gewete het. 3As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. 4Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. 5Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. 6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.

'n Skat in kleipotte

7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,

sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

11Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.

12Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. 13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

Lewe deur die geloof

16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

2 KORINTIËRS 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. 2Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. 3Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. 4Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

6Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, 7want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. 8Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. 9Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. 10Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Die bediening van die versoening

11Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is. 12Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle 'n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. 13As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle. 14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

2 KORINTIËRS 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

1As medewerkers van God doen ons 'n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:

“Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,

en op die dag van redding het Ek jou gehelp.”

Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

8Ons ontvang eer en oneer,

ons word beledig en geprys.

Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar;

9as onbekendes, en tog is ons goed bekend;

as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe;

as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie;

10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd;

as armes, maar ons maak baie ander ryk;

as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Vermaning teen heidense invloed

14Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan 'n gelowige dieselfde belange hê as 'n ongelowige? 16Hoe kan 'n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:

“Ek sal onder hulle woon en wandel,

en Ek sal hulle God wees

en hulle sal my volk wees.”

17Daarom: “Gaan van hulle af weg

en sonder julle af,” sê die Here,

“en moenie wat onrein is, aanraak nie.”

“Dan sal Ek julle aanneem,

18en Ek sal vir julle 'n Vader wees,

en julle sal vir My seuns en dogters wees,”

sê die Here, die Almagtige.

2 KORINTIËRS 6AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.

Paulus se blydskap oor die koms van Titus en oor goeie berigte

2Maak vir ons plek in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het niemand uitgebuit nie. 3Ek sê dit nie om julle te beskuldig nie; ek het tog al vantevore gesê dat julle in ons harte is om mee saam te lewe en te sterwe. 4Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.

5Toe ons in Masedonië gekom het, het ons geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge. 6Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur deur die koms van Titus, 7en nie net deur sy koms nie, maar ook omdat julle hom opgebeur het. Hy het vertel van julle begeerte om ons te sien, en dat julle jammer is oor wat gebeur het en my nou ywerig verdedig. Dit alles het my nog blyer gemaak.

8Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. Miskien was ek tog jammer toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net vir 'n kort rukkie. 9Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, 10want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood. 11Kyk net wat die ervaring van droefheid volgens die wil van God aan julle gedoen het. Nou is daar by julle erns; meer nog, daar is verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is. 12Dus, al het ek so aan julle geskrywe, was dit nie omdat iemand onreg gepleeg of onreg gely het nie. Inteendeel, ek wou hê dat julle voor God tot die besef moes kom van hoeveel julle vir ons omgee. 13Juis daarom is ons nou so bly.

Ons is nie net bemoedig nie, maar ook besonder bly dat Titus so gelukkig is: julle almal het hom gemoedsrus gegee. 14Ek het by hom 'n bietjie met julle gespog, en julle het my nie teleurgestel nie. Soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, so blyk dit nou dat dit ook die waarheid was toe ons by Titus met julle gespog het. 15En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker as hy daaraan dink hoe julle almal gehoorsaam was en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het. 16Ek is baie bly dat ek in elke opsig op julle kan reken.

2 KORINTIËRS 7AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS