Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 206

2 TESSALONISENSE 1–3, FILEMON 1, PSALMS 79–80

Bybelteks(te)

1Van Paulus, Silvanus en Timoteus.

Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.

2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Die oordeel met die wederkoms van Christus

3Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. 4Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur.

5Dit alles is 'n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s'n, sal Hy 'n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in 'n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo.

11Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

2 TESSALONISENSE 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die wettelose mens

1En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek 'n ernstige versoek aan julle: 2Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie – of dit nou vir julle gesê word in 'n profetiese uitspraak of in 'n preek of in 'n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. 3Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. 4Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.

5Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6En julle weet nou wat hom nog teëhou, sodat hy eers as dit sy tyd is, sy verskyning sal maak. 7Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees, 8en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.

9Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaardgaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders 10en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 11Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. 12En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

Aan God die dank

13Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.

15Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur 'n brief was.

16-17En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade 'n blywende troos en goeie hoop gegee.

2 TESSALONISENSE 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bid vir ons

1Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle. 2Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie.

3Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. 4Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou.

5Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!

Die plig om te werk

6Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie.

7Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê 8of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle 'n las te wees nie. 9Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg. 10Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”

11Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. 12Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.

13Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. 14En as iemand nie ons bevele, soos ons dit in hierdie brief vir julle gee, gehoorsaam nie, sonder dan daardie man af en vermy hom, dat hy kan skaam kry. 15Moet hom egter nie soos 'n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos 'n broer.

Seën

16Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!

17Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus.

So teken ek elke brief. Dit is my handskrif.

18Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle almal wees!

2 TESSALONISENSE 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Van Paulus, 'n gevangene ter wille van Christus Jesus, en van ons broer Timoteus.

Aan Filemon, ons vriend en medewerker, 2en aan ons suster Affia en aan Argippus, ons medestryder, en aan die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaarkom.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Filemon se liefde en geloof

4Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God 5omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys. 6My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou 'n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. 7Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het.

Paulus pleit vir Onesimus

8Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, 9doen ek liewer 'n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus, wat 'n ou man is en nou ook 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. 10Ek doen 'n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. 11Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my.

12Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom.

13Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie 'n gevangene is. 14Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. 15Miskien was hy 'n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, 16nou nie langer net as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf: as 'n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my; hoeveel te meer sal hy dit dan nie vir jou wees nie, as mens en as broer in die Here.

17Dus, as jy my as deelgenoot in die geloof beskou, ontvang hom net soos jy my sou ontvang. 18As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. 19Hier skryf ek, Paulus, met my eie hand: “Ek sal betaal.”

Ek hoef jou natuurlik nie daaraan te herinner dat wat jy is, jy aan my te danke het nie.

20Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos 'n broer in Christus. 21Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet ook dat jy selfs meer as dit sal doen. 22Hou sommer ook vir my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee.

Groete en heilwense

23Epafras, wat saam met my ter wille van Christus Jesus 'n gevangene is, stuur vir jou groete; 24ook my medewerkers Markus, Aristargos, Demas en Lukas stuur groete.

25Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees!

Help ons, o God, ons Redder

1'n Psalm van Asaf.

Heidene het u land binnegedring, o God,

hulle het u heilige tempel ontwy

en Jerusalem in puin gelê.

2Hulle het die lyke van u dienaars

aan die voëls gegee om te vreet,

die vleis van u troue dienaars aan die wilde diere.

3Hulle het die bloed van u dienaars

rondom Jerusalem laat vloei soos water.

Niemand het hulle begrawe nie.

4Ons het 'n bespotting vir ons buurvolke geword,

ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons.

5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?

Sal u toorn dan vir altyd duur,

u woede soos 'n vuur bly brand?

6Laat u gramskap die heidene tref: hulle dien U nie;

laat dit die koninkryke tref wat u Naam nie aanroep nie.

7Dit is hulle wat vir Jakob tot niet gemaak

en sy woonplek verwoes het.

8Moet tog nie die ongeregtighede van vorige geslagte

op ons laat neerkom nie,

ontferm U tog gou oor ons,

want ons kragte is gedaan.

9Help ons, o God, ons Redder,

ter wille van die eer van u Naam,

red ons, vergewe ons ons sondes

tot die eer van u Naam.

10Waarom moet die heidene sê:

“Waar is hulle God nou?”

Laat ons aanskou hoe u straf die heidene tref

oor die bloed van u dienaars wat vergiet is.

11Slaan tog ag op die gesug van die gevangenes.

Red deur u groot mag dié wat met die dood bedreig word.

12Betaal ons bure dubbel en dwars terug, Here,

vir die bespotting wat U van hulle moes verduur.

13Ons, u volk en u kudde, sal U altyd loof,

van geslag tot geslag sal ons van u roemryke dade vertel.

Verskyn tog tot ons redding

1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. 'n Getuienis van Asaf. 'n Psalm.

2Luister tog, Herder van Israel,

U wat die nageslag van Josef soos 'n kudde lei;

U wat oor die gerubs troon, verskyn tog aan ons!

3Openbaar u mag aan die stamme Efraim, Benjamin en Manasse,

kom help ons tog!

4Laat dit weer met ons goed gaan, o God,

verskyn tog tot ons redding!

5Here, almagtige God,

hoe lank nog sal U afsydig staan

teenoor die gebed van u volk?

6U het aan ons trane vir kos gegee

en ons 'n beker vol verdriet laat drink.

7U laat ons bure teen ons veg,

en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan,

verskyn tog tot ons redding!

9U het 'n wingerdstok in Egipte uitgehaal

en dit hier kom plant nadat U die nasies uitgedrywe het.

10U het vir hom plek reggemaak,

sy wortels het gegroei en hy het die land ingeneem.

11Sy skaduwee het die berge oordek,

sy ranke die magtige seders.

12Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see,

sy lote tot by die Eufraat.

13Waarom het U die mure om hom afgebreek?

Al die verbygangers stroop hom,

14die wildevark uit die bos verwoes hom,

gediertes uit die veld vreet hom op.

15Almagtige God, kyk tog uit die hemel af

en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok,

neem hom weer onder u sorg.

16Hou in stand wat U met u eie hand geplant het,

die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid verbrand het,

deur u oordeel te gronde gaan.

18Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is,

oor die volk wat U vir U grootgemaak het.

19Dan sal ons nie weer van U af wegdraai nie.

Hou ons aan die lewe, dan sal ons u Naam aanroep!

20Here, almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan,

verskyn tog tot ons redding!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS