Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 205

1 TESSALONISENSE 1–5, SPREUKE 31

Bybelteks(te)

1Van Paulus, Silvanus en Timoteus.

Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.

Genade en vrede vir julle!

Die voorbeeld van die Tessalonisense

2Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.

1 TESSALONISENSE 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus se werk in Tessalonika

1Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op 'n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle is of ander 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos 'n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry. 9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle 'n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos 'n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. 14Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.

Paulus se begeerte om weer die gemeente te besoek

17Wat ons betref, broers, toe ons nog maar 'n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien. 18Daarom wou ons weer na julle toe kom; ek, Paulus, het keer op keer probeer kom, maar die Satan het ons verhinder. 19Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? 20Júlle is immers ons trots en ons blydskap!

1 TESSALONISENSE 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om alleen in Atene agter te bly. 2Ons het vir Timoteus, ons broer en medewerker in diens van God, wat saam met ons die evangelie van Christus verkondig, na julle toe gestuur om julle in julle geloof te versterk en moed in te praat 3sodat nie een van julle onder die vervolginge sou begin wankel nie. Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle. 4Toe ons nog by julle was, het ons julle al gewaarsku dat ons vervolg sal word, en soos julle weet, het dit ook gebeur.

5Toe ek dus nie langer kon uithou nie, het ek vir Timoteus gestuur om vas te stel hoe dit met julle geloof staan: of die verleier julle nie reeds verlei het en al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het nie.

6Nou is Timoteus van julle af terug by ons, en hy het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde. Hy het ons vertel dat julle nog altyd die aangenaamste herinneringe aan ons het en dat julle net so na ons verlang as ons na julle. 7Daarom, broers, het ons in al ons nood en swaarkry weer moed geskep vir julle omdat julle nog glo. 8Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik. 9Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.

11Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

1 TESSALONISENSE 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

'n Lewe volkome aan God toegewy

1En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe. 2Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. 3Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. 4Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; 5julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. 6Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. 7God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. 8Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

9Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. 10En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe. 11Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. 12Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.

Die opstanding uit die dood

13Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. 14Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

15Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. 16Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

18Troos mekaar dan met hierdie woorde.

1 TESSALONISENSE 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die wederkoms van die Here

1Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. 3Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos 'n dief oorval nie. 5Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7Dié wat slaap, is van die nag; en dié wat hulle dronk drink, is van die nag. 8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Laaste opdragte

12Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

14Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. 15Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.

23Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.

25Broers, bid ook vir ons.

26Groet al die medegelowiges met 'n soen van Christelike broederskap.

27In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word.

28Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.

1 TESSALONISENSE 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Die woorde van koning Lemuel van Massa.

Sy moeder het vir hom dié voorskrif gegee:

2My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het,

oor wie ek 'n gelofte gedoen het,

3moenie jou krag op vrouens vermors nie,

moenie jou lewe verspil met hulle nie;

hulle bring konings tot 'n val.

4Dit pas konings nie om te drink nie, Lemuel,

dit pas hulle nie,

dit pas mense met gesag nie om hulle aan drank oor te gee nie.

5As hulle drink, vergeet hulle wat die wet bepaal

en laat hulle nie reg geskied aan al die minderbevoorregtes nie.

6Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan,

laat dié wat swaar ly, drink;

7as so 'n mens drink, vergeet hy van sy armoede

en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie.

8Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie,

kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan;

9praat, en lewer regverdige uitsprake,

laat reg geskied aan die armes en ellendiges.

10'n Knap vrou is baie werd,

baie meer as edelstene.

11Haar man steun op haar

en pluk die vrugte van haar werk.

12Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie,

haar hele lewe lank.

13Sy maak wol en vlas bymekaar

en geniet dit om dit te verwerk.

14Sy is soos die handelskepe,

sy bring die kos van ver af in.

15Sy staan op as dit nog nag is

en maak kos vir haar huisgesin;

ook haar slavinne kry hulle deel.

16Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit,

sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het.

17Sy pak die werk aan met krag,

haar hande staan vir niks verkeerd nie.

18Sy stel vas of die wins goed is,

haar lamp bly heelnag brand.

19Sy werk met die spinwiel,

haar hande bly besig met die weefstoel.

20Sy het 'n oop hand vir die armes,

sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.

21Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu:

hulle dra almal warm klere.

22Sy maak self vir haar dekens

en sy dra klere van linne en wol.

23Haar man is welbekend by die stadspoort

waar hy saam met die leiers beraadslaag.

24Sy maak klere en verkoop dit,

sy lewer gordels aan die handelaars.

25Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid;

sy ken geen kommer oor die toekoms nie.

26As sy praat, is dit met wysheid;

as sy leiding gee, is dit met liefde.

27Sy hou goeie toesig oor haar huishouding;

lui is sy nie.

28Haar kinders prys haar,

haar man bewonder haar:

29“Daar is baie knap vrouens,

maar jy oortref hulle almal!”

30Uiterlike skoonheid hou nie,

'n mooi voorkoms is nie alles nie;

as sy die Here dien,

dán verdien 'n vrou om geprys te word.

31Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen;

laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS