Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 204

DANIËL 11–12, PSALMS 76–78

Bybelteks(te)

DANIËL 11

1“In die eerste regeringsjaar van Darius die Mediër het ek opgetree om hom te bemoedig en te beskerm. 2Wat ek jou nou gaan vertel, staan vas. Daar sal nog drie konings oor Persië regeer, en dan 'n vierde, wat ryker as al die voriges sal wees. As hy deur sy rykdom magtig geword het, sal hy die hele wêreld teen die Griekse ryk opsweep. 3Dan sal 'n dapper koning op die toneel verskyn wat oor 'n groot ryk sal regeer en sal maak wat hy wil. 4Maar sy mag sal skaars gevestig wees of sy koninkryk sal opgebreek en volgens die vier windstreke verdeel word. Dit sal nie na sy nakomelinge oorgaan nie. Sy koninkryk sal omgekeer word en na heeltemal ander persone toe oorgaan, en hulle sal nie die mag hê waaroor hy beskik het nie.

5“Die koning van die suide sal sterk word, maar een van sy generaals sal nog sterker word as hy en sal oor 'n baie groot ryk heers. 6Na verloop van tyd sal hulle met mekaar 'n bondgenootskap aangaan, en die dogter van die koning van die suide sal aan die koning van die noorde as vrou gegee word om die bondgenootskap te bekragtig. Sy sal egter nie haar invloed daar behou nie, en haar pa sal geen gesag daar hê nie. Sy en dié wat haar gebring het, en ook haar pa en haar man, sal in dié tyd ondergaan. 7In haar pa se plek sal een van haar familielede koning word, teen die leër van die koning van die noorde optrek, sy vesting binnedring en as oorwinnaar met die inwoners doen wat hy wil. 8Hy sal ook hulle gode en hulle beelde met hulle skatte van silwer en goud na Egipte toe wegvoer. Dan sal hy die koning van die noorde 'n aantal jare met rus laat. 9Dié sal sy gebied binneval, maar sal die aftog moet blaas terug na sy land toe.

10“Sy seuns sal hulle vir oorlog klaarmaak en groot leërs bymekaarmaak. Een van hulle sal al verder en verder opruk soos 'n vloedgolf wat alles oorspoel, en hy sal uiteindelik die vesting van die koning van die suide aanval. 11Dié sal woedend teen hom, die koning van die noorde, optrek en die groot leër wat hy byeengebring het, verslaan. 12Wanneer die leër gevange geneem is, sal die koning van die suide selfvoldaan raak. Hy sal tienduisende verslaan, maar tog nie die oorwinnaar bly nie. 13Die koning van die noorde sal terugkom nadat hy 'n groter leër op die been gebring het as die vorige, en na verloop van 'n aantal jare sal hy sy verskyning maak met 'n groot en goed toegeruste leër. 14In daardie tyd sal baie teen die koning van die suide in opstand kom, en ook uit jou volk sal mense wat geweld voorstaan, in opstand kom met die gedagte dat 'n visioen so in vervulling gaan, maar hulle sal verslaan word.

15“Dan sal die koning van die noorde 'n vestingstad beleër en dit inneem, en die magte van die suide sal nie kan standhou nie. Selfs die keurtroepe sal nie sterk genoeg wees om hom teë te hou nie. 16Hierdie invaller sal maak soos hy wil, niemand sal hom in die weg staan nie. Hy sal ook die beloofde land in besit neem en dit ten volle in sy mag kry. 17Hy sal besluit om die volle krag van sy koninkryk teen die koning van die suide in die stryd te werp en sal, om dié se koninkryk te vernietig, met hom 'n bondgenootskap sluit en dit bekragtig deur aan hom 'n besonderse meisie as vrou te gee. Die plan sal egter nie geluk nie, daar sal niks van kom nie. 18Dan sal die koning van die noorde hom toelê op die kusgebiede en baie verower, maar daar sal aan sy vermetele optrede 'n einde gemaak word deur 'n ander leier vir wie hy nie in gelyke munt sal kan terugbetaal nie. 19Hy sal koers kies na die vestings toe in sy eie land, maar hy sal verslaan word en tot 'n val kom, en dan is dit klaar met hom. 20Hy sal opgevolg word deur iemand wat 'n belastinggaarder sal aanstel om die rykdom van die koninkryk te vergroot. Dié koning sal binne enkele jare om die lewe gebring word, maar nie in die openbaar of in 'n geveg nie.

21“Hy sal opgevolg word deur 'n veragtelike persoon wat geen koninklike status besit nie, maar wat sy weg sal baan terwyl die mense niks vermoed nie en wat die mag sal kry deur slinksheid. 22Hy sal die leërs van die instromende mag voor hom wegvee en uitwis, ook die leier van die verbondsvolk. 23Die veragtelike persoon sal troubreuk pleeg teen die bondgenootskappe wat met hom aangegaan word en hy sal groot en sterk word, al is sy nasie klein. 24Hy sal ryk gebiede van 'n provinsie onverwags binnegaan en doen wat sy voorgangers nie kon regkry nie: hy sal wat hy buit en roof en in besit kry, uitdeel. Hy sal vestingstede met slim planne in die hande kry, maar dit sal van korte duur wees.

25“Hy sal al sy krag inspan teen die koning van die suide en hom aandurf met 'n groot leër. Die koning van die suide sal hom met 'n groot en sterk leër gereed maak vir die geveg, maar hy sal nie standhou nie omdat daar sameswerings teen hom sal wees. 26Mense aan sy eie hof sal hom breek. Sy leër sal oorweldig word, en baie van sy soldate sal sneuwel. 27Die twee konings sal bose planne in die mou voer en sal mekaar aan dieselfde tafel sit en belieg, maar dit sal hulle nie baat nie, want hulle einde is klaar bepaal.

28“Dan sal die koning van die noorde met baie besittings na sy land toe terugkeer, maar hy sal eers optree teen die gewyde verbondsvolk. Nadat hy dit gedoen het, sal hy teruggaan na sy eie land toe.

29“Op die bestemde tyd sal hy die suide weer binneval, maar hierdie keer sal dit nie weer gaan soos die vorige keer nie. 30Skepe van die westelike kuslande sal teen hom optrek en hy sal skrik en omspring. Dan sal hy sy woede kom koel op die gewyde verbondsvolk deur die raad te volg van dié wat afvallig geword het van die gewyde verbondsvolk. 31Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en 'n ding oprig wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig. 32Die koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan. 33Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense, maar 'n tyd lank sal hulle doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder word. 34Wanneer dit hulle tref, sal hulle 'n bietjie hulp ontvang, en baie sal vir die skyn by hulle aansluit. 35Dan sal die vervolging party van die verstandige leiers tref sodat die volk gelouter, gesuiwer en gereinig kan word tot die eindtyd toe, want die einde is klaar bepaal.

36“Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur. 37Die koning van die noorde sal hom nie steur aan die gode van sy voorgangers of aan die god wat deur vrouens bemin word of aan enige ander god nie, maar sal homself belangriker as hulle almal beskou. 38Hy sal nie hierdie gode vereer nie, maar die vestinggod, 'n god vir wie sy voorgangers nie geken het nie. Hom sal hy vereer met goud, silwer, edelstene en kosbare geskenke. 39Met behulp van dié vreemde god sal hy teen die vyand se versterkte vesting optree. Aan wie hom erken, sal hy groot eer bewys en hulle as regeerders oor baie aanstel. Hy sal grond aan hulle uitdeel as geskenke.

40“In die eindtyd sal die koning van die suide hom aanval, maar hy sal teen die koning van die suide opruk met strydwaens, ruitery en baie skepe en sal die een land na die ander oorval soos 'n oorstroming. 41Hy sal selfs die beloofde land inval. Baie lande sal voor hom val, maar Edom, Moab en die beste dele van Ammon sal uit sy mag ontkom. 42Hy sal sy mag uitbrei oor baie lande, en selfs Egipte sal nie ontkom nie. 43Hy sal oor Egipte se skatte, sy goud, sy silwer, al sy kosbare dinge, beheer hê en hy sal ook die Libiërs en die Kussiete onderwerp. 44Dan sal gerugte uit die ooste en die noorde hom ontstel, en hy sal woedend optrek om baie mense dood te maak en uit te roei. 45Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die pragtige berg waar die heiligdom staan. Maar dan sal hy aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie.

DANIËL 12

1“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. 2Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. 3Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.

4“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.”

5Ek, Daniël, het toe twee ander persone by die Tigrisrivier sien staan, een aan die duskant en een aan die anderkant. 6Een van hulle het aan 'n man wat linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal hierdie onbegryplike gebeurtenisse nog aanhou?”

7Toe hoor ek die man praat wat die linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het. Hy het sy regter- sowel as sy linkerhand na die hemel toe opgesteek en 'n eed afgelê by Hom wat ewig lewe, en het geantwoord: “Die hele vasgestelde tyd. Wanneer die gewyde volk se mag heeltemal vernietig is, sal al hierdie dinge ophou.”

8Ek het dit gehoor maar dit nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, waarop gaan dit alles uitloop?”

9Toe sê hy: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die woorde is verseël en word geheim gehou tot die eindtyd toe. 10Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan. 11Van die tyd dat die daaglikse offer afgeskaf is en die ding opgerig is wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sal daar twaalf honderd en negentig dae verloop. 12Dit sal goed gaan met wie geduldig bly tot dertien honderd vyf en dertig dae verby is. 13Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”

PSALMS 76

God kom om die hulpeloses te red

1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.

2God het Hom in Juda bekend gemaak,

sy Naam is groot in Israel;

3sy tuiste is in Salem, sy woning op Sion.

4Daar het Hy die brandpyle, die skild en die swaard vernietig,

die aanval van die vyand afgeslaan. Sela

5Die glans waarmee U verskyn het,

was skitterender as dié op die hoogste berge.

6Die dapper soldate van die vyand

is in hulle slaap oorval en geplunder;

nie een van die krygsmanne kon 'n hand oplig nie.

7Toe U ingegryp het, God van Jakob,

was strydwa en perd daarmee heen.

8As u toorn ontbrand,

laat U die mens sidder en beef.

Wie kan dan voor U staan?

9Uit die hemel het U u uitspraak bekend gemaak.

Die mensdom het bang geword en stilgebly

10toe God gekom het om te oordeel,

om al die hulpeloses op die aarde te red. Sela

11Ook die woede van 'n mens dien u lof,

selfs die laaste reste van die woede

gebruik U in u diens.

12Bring aan die Here julle God die dankoffers

wat julle belowe het!

Almal rondom Hom moet geskenke bring vir die Ontsagwekkende,

13vir Hom wat die oormoed van maghebbers breek,

vir Hom voor wie die konings van die aarde sidder.

PSALMS 77

Sal die Here vir altyd verstoot?

1Vir die koorleier. Ter herinnering. Van Asaf. 'n Psalm.

2Ek roep na God om hulp,

ek roep na God, want Hy sal my hoor.

3In my nood soek ek hulp by die Here;

ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek

sonder om moeg te word;

maar ek vind geen troos nie.

4Ek dink aan God en ek sug,

ek dink na en ek is verslae. Sela

5U laat my wakker lê,

ontsteld en sprakeloos.

6Ek dink aan vroeër dae,

aan jare lank gelede.

7As ek so in die nag lê en terugdink

en peins, vra ek my af:

8“Sal die Here vir altyd verstoot

en nooit weer genade betoon nie?

9Het daar vir altyd 'n einde gekom aan sy trou?

Geld sy beloftes dan glad nie meer nie?

10Het God vergeet om medelye te hê?

Het Hy in sy toorn

sy ontferming onttrek?” Sela

11En ek sê:

“My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”

12Ek wil dink aan die dade van die Here,

ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër.

13Ek wil nadink oor al u werk

en oor al u dade peins.

14Alles wat U doen, is heilig, o God.

Waar is 'n god so groot soos God?

15U is die God wat wonderdade doen;

U het u mag onder die volke geopenbaar.

16U het u volk deur u krag gered,

die kinders van Jakob en Josef. Sela

17Toe die waters U sien, o God,

toe die waters U sien, het hulle gebewe,

die diep waters het gesidder.

18Die wolke het water uitgegiet,

uit die donderwolke het dit gedreun,

u weerligte het in alle rigtings geblits.

19U donderslae het die lugruim gevul,

weerligstrale het die wêreld verlig,

die aarde het geskud en gebewe.

20U het deur die see gekom,

u weg deur magtige waters gebaan.

Niemand het u spoor gesien nie.

21U het u volk soos 'n kudde gelei

deur die hand van Moses en Aäron.

PSALMS 78

Sodat die volgende geslag dit kan weet

1'n Gedig van Asaf.

Luister na wat ek jou leer, my volk,

luister aandagtig na wat ek sê.

2Ek gaan 'n gedig voordra,

ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede.

3Wat ons gehoor het en wat ons weet,

wat ons vaders ons vertel het,

4sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.

Ons sal aan die volgende geslag vertel

van die roemryke dade van die Here en van sy mag,

van die wonderdade wat Hy gedoen het.

5Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee,

aan Israel sy onderwysing.

Hy het ons voorvaders beveel

om dit aan hulle kinders bekend te maak,

6sodat die volgende geslag dit kan weet

en die kinders wat nog gebore sal word,

dit weer aan húlle kinders kan vertel.

7So sal hulle dan op God vertrou

en nie vergeet wat Hy gedoen het nie,

maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het

8en nie wees soos die voorvaders nie.

Dié was 'n opstandige en ongehoorsame volk,

'n onbestendige geslag wat nie aan God getrou was nie.

9Die Efraimiete was goed gewapen en bedrewe met die boog,

maar toe die geveg begin, het hulle gevlug.

10Hulle het die verbond met God nie gehou nie,

en geweier om te lewe soos Hy hulle geleer het.

11Hulle het vergeet van sy werke,

van die wonderdade wat Hy hulle laat sien het.

12Voor die oë van hulle voorvaders het Hy wonders gedoen

in Egipte, in die veld by Soan.

13Hy het die see oopgekloof

en hulle laat deurtrek.

Hy het die water laat opdam

en dit het soos 'n muur gestaan.

14Bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei,

snags met die lig van 'n vuur.

15Hy het rotse in die woestyn oopgekloof

en soos by groot waterstrome almal se dors geles.

16Hy het water uit die rots laat stroom,

dit soos riviere laat vloei.

17Maar hulle het aangehou om teen Hom te sondig;

in die woestyn het hulle teen die Allerhoogste in opstand gekom.

18Hulle het God getart

toe hulle kos gevra het na eie smaak

19en God uitgedaag het:

“Kan God hier in die woestyn kos gee?

20Hy het wel teen 'n rots laat slaan

en die waters het gevloei,

spruite het gestroom;

maar sou Hy ook brood kon gee

en vleis aan sy volk kon voorsit?”

21Toe die Here dit hoor,

het Hy kwaad geword;

Hy het 'n vuur teen Jakob laat ontbrand,

teen Israel sy toorn laat woed

22omdat hulle nie op God vertrou het

en op sy hulp staatgemaak het nie.

23Hy het die wolke daarbo gebied

en die deure van die hemel oopgemaak:

24Hy het manna op hulle laat reën,

uit die hemel kos aan hulle gegee om te eet.

25Van hierdie brood uit die hemel het elkeen geëet.

God het vir hulle oorgenoeg kos gestuur.

26Hy het die oostewind laat opsteek

en deur sy krag die suidewind laat waai.

27Soos sandkorrels, so baie voëls het Hy op hulle laat reën,

voëls so volop soos die sand van die see.

28Hy het dit in die kamp

rondom hulle tente laat val.

29Hulle het geëet, meer as genoeg,

Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het.

30Maar hulle gulsigheid het geen perke geken nie.

Hulle kos was nog so in hulle mond,

31toe tref die toorn van God hulle.

Hy het 'n slagting onder die grotes aangerig,

die keur van Israel laat omkom.

32Tog het hulle bly sondig

en sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie.

33Daarom het Hy hulle hulle dae vrugteloos laat deurbring

en hulle jare vol kommer.

34Elke keer as God 'n slagting onder hulle aangerig het,

het hulle na sy wil gevra,

hulle bekeer en na Hom toe gekom.

35Hulle het bely dat God hulle rots,

dat die Allerhoogste hulle verlosser is.

36Maar hulle was vals teenoor Hom,

hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie,

37hulle was ontrou aan Hom,

hulle het hulle nie aan sy verbond gehou nie.

38Maar Hy is genadig, Hy vergewe sonde,

Hy wis sy volk nie uit nie.

Dikwels het Hy sy toorn bedwing

en sy gramskap nie laat losbreek nie.

39Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is,

wind wat verbywaai en nie terugkom nie.

40Hoe dikwels was hulle in die woestyn opstandig teen Hom

en het hulle Hom daar in die barre wêreld bedroef!

41Oor en oor het hulle God getart

en het hulle optrede die Heilige van Israel gegrief.

42Hulle het nie aan sy mag gedink nie,

aan die dag waarop Hy hulle van die vyand verlos het nie:

43Hy het in Egipte sy magtige dade gedoen,

sy wonders in die veld by Soan;

44Hy het hulle riviere in bloed verander

sodat hulle nie uit hulle waterstrome kon drink nie;

45Hy het swerms muggies tussen hulle ingestuur

wat nie opgehou het met byt nie;

ook paddas,

en dié het die lewe vir hulle ondraaglik gemaak;

46Hy het hulle oes aan sprinkaanswerms gegee,

die vrug van hulle arbeid laat afvreet;

47Hy het hulle wingerde deur die hael laat wegslaan,

hulle wildevyebome laat versuip;

48Hy het hulle vee aan die hael oorgegee,

hulle kuddes aan die weerligstrale;

49Hy het sy gloeiende toorn op hulle losgelaat:

gramskap, woede en rampe,

'n hele vrag onheil;

50Hy het sy toorn vrye loop gegee,

hulle lewens nie gespaar nie

en hulle aan die pes uitgelewer;

51Hy het al die eersgeborenes van die Egiptenaars getref,

die eerstelinge in die wonings van Gam.

52Maar sy eie volk het Hy uitgelei

en hulle soos 'n kudde skape deur die woestyn laat trek.

53Vir hulle het Hy veilig gelei, en hulle was nie bang nie,

maar hulle vyande, dié is deur die see oorweldig.

54Hy het sy volk gebring na die gebied wat Hy afgesonder het,

na die bergland wat Hy deur sy mag verower het.

55Hy het nasies voor sy volk uit verdryf

en aan sy volk 'n land as besitting gegee.

Hy het daardie nasies se woonplekke aan die stamme van Israel gegee.

56Maar hulle het God die Allerhoogste getart

en teen Hom in opstand gekom.

Hulle was nie aan sy gebooie gehoorsaam nie.

57Net soos hulle voorvaders was hulle afvallig en ontrou,

so vals soos 'n onbetroubare wapen.

58Hulle het Hom vertoorn met hulle afgodsdiens op die hoogtes

en Hom uitgetart met hulle gesnede beelde.

59Toe God dit sien, het Hy kwaad geword

en Israel verwerp.

60Hy het die tabernakel in Silo verwoes,

die tent waarin Hy onder die mense gewoon het.

61Hy het die volk wat Hy deur sy mag verower het,

in ballingskap weggestuur,

sy uitverkore volk in die mag van die vyand gegee.

62Hy het sy volk aan die swaard oorgegee,

kwaad geword vir dié wat aan Hom behoort.

63Die jongmanne het in die vuur omgekom:

daar is nie meer huweliksliedere vir die jongmeisies gesing nie.

64Die priesters het deur die swaard gesterf,

die weduwees het nie kans gekry om hulle mans te begrawe nie.

65Daarna het die Here weer ingegryp.

Dit was asof Hy geslaap het,

soos iemand wat in 'n roes was en nou wakker geword het.

66Hy het sy vyande teruggedryf

en hulle vir altyd 'n eerlose neerlaag laat ly.

67Hy het die geslag van Josef verwerp

en teen die stam Efraim gekies.

68Hy het die stam Juda verkies,

Sionsberg wat Hy liefhet.

69Hy het sy heiligdom hemelhoog gebou

en dit soos die aarde vir altyd vas laat staan.

70Hy het Dawid as sy dienaar gekies

en hom van die skaapkrale af weggeneem.

71Agter die lammerooie het Hy hom weggehaal

om sy volk Jakob, sy eiendom Israel, te versorg.

72Dawid het die volk met toewyding versorg

en hulle met oorleg gelei.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS