Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 203

DANIËL 6–10, PSALM 75

Bybelteks(te)

DANIËL 6

Daniël oor sy geloof in 'n leeukuil gegooi

1Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe hy twee en sestig jaar oud was. 2Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. 3Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word. 4Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 5Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. 6Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.”

7Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe! 8Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word. 9Stel dan nou so 'n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word nie; dit moet onherroeplik wees, 'n wet van Mediërs en Perse.”

10Koning Darius het toe so 'n dekreet uitgevaardig.

11Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.

12Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. 13Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos 'n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.”

Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is 'n onherroeplike wet, 'n wet van Mediërs en Perse.”

14Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.”

15Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het 'n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer.

16Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.”

17Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in 'n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

18Daar is 'n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie.

19Die koning is na sy paleis toe en het 'n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. 20Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. 21Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?”

22Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe! 23My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.”

24Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het. 25Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur.

26Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld gewoon het, 'n skrywe gerig: “Voorspoed! 27Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word.

“Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig;

sy koninkryk sal nie vernietig word nie,

sy heerskappy sal nooit eindig nie.

28Hy red en bevry,

Hy doen tekens en wonders

in die hemel en op die aarde;

Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”

29Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering van Kores die Pers.

DANIËL 7

Daniël se visioen oor vier diere wat uit die see uit opkom

1In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël 'n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4Die eerste het soos 'n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos 'n mens, en 'n mens se verstand is aan hom gegee. 5Die tweede dier het soos 'n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6En toe ek weer sien, was daar nog 'n dier, een soos 'n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van 'n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar 'n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. 8Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar 'n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

9“Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit,

en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit.

Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol.

Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur.

10Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei.

Duisende der duisende het Hom gedien,

miljoene het daar voor Hom kom staan.

Die hofsitting het begin,

en die boeke met die aanklagte is oopgemaak.

11“Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. 12Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog 'n tyd lank gespaar.

13“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.

14“Aan dié menslike wese is die heerskappy

en eer en koningskap gegee

sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien.

Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy,

dit sal nie tot niet gaan nie;

sy koningskap sal nie ophou nie.

15“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. 16Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: 17Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. 18Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit.

19“Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. 20Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. 21Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. 22Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang.

23“Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is 'n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. 24Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. 25Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. 26Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. 27Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees.

28“Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”

DANIËL 8

Daniël se visioen oor die skaapram en die bokram

1Nadat ek, Daniël, hierdie visioen gesien het, het ek in die derde regeringsjaar van koning Belsasar nog 'n visioen gesien. 2In dié visioen het ek my in die vestingstad Susan bevind, in die provinsie Elam. Ek sien toe dat ek by die Ulairivier is 3en toe ek kyk, sien ek 'n skaapram met horings by die rivier staan. Sy horings was lank; die een was langer as die ander en het later as die ander een uitgekom. 4Ek het die ram na die westekant, die noordekant en die suidekant sien stoot, en geen dier was teen hom opgewasse nie. Niemand was in staat om iemand uit sy mag te red nie. Hy het gemaak wat hy wil en het baie magtig geword.

5Terwyl ek nog hieraan aandag gee, kom daar uit die weste 'n bokram aan wat so vinnig oor die aarde beweeg dat hy nie grond raak nie. Dié bokram het 'n opvallende horing tussen sy oë gehad. 6Hy het aangekom na die skaapram met die twee horings, wat ek by die rivier sien staan het, en hom met alle mag stormgeloop. 7Ek het gesien hoe hy tot by die skaapram kom, hom briesend stamp en sy twee horings afbreek. Die skaapram was nie opgewasse teen hom nie en hy het die skaapram teen die grond geslinger en hom vermorsel. Daar was niemand wat die skaapram uit sy mag kon red nie.

8Die bokram het baie magtig geword, maar op die hoogtepunt van sy mag is sy groot horing afgebreek. In dié se plek het daar vier opvallende horings uitgekom; hulle het na die vier windstreke toe gewys. 9Uit een van die horings het daar 'n horing uitgekom wat eers onaansienlik was, maar toe buitengewoon magtig geword het na die suidekant, na die oostekant en na die pragtige stad se kant toe. 10Hy het so magtig geword dat hy selfs die hemelse leërmag aangedurf het en party van hulle, die sterre, op die grond gegooi en vertrap het. 11Hy het selfs die Hoof van daardie leërmag aangedurf deur die daaglikse offer aan Hom te verbied en sy heilige woning af te breek. 12'n Sondige erediens is in die plek van die daaglikse offer ingestel en die ware godsdiens vertrap. Hierdie horing was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.

13Ek het 'n hemelwese hoor praat, en 'n ander hemelwese het vir die een wat praat, gevra: “Hoe lank sal die dinge van die visioen aanhou: die ding van die daaglikse offer, die skrikwekkende sonde, die prysgawe van die heiligdom en die vertrapping van die hemelse leërmag?”

14Hy sê toe vir my: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.”

15Nadat ek, Daniël, die visioen gesien het, het ek gesoek na 'n verklaring daarvoor. Meteens staan daar toe voor my iemand wat soos 'n man lyk, 16en ek hoor 'n stem uit die Ulai roep: “Gabriël, verklaar vir Daniël die gesig!” 17Hy het nader gekom na die plek toe waar ek gestaan het, en toe hy by my kom, het ek bang geword en vooroor op die grond geval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mens, dié visioen slaan op die eindtyd.” 18Terwyl hy met my praat, het ek bewusteloos geraak en daar gelê met my gesig op die grond. Maar hy het my gevat en my op my voete getel 19en vir my gesê: “Ek sal jou vertel waarop die toorn van God gaan uitloop. Dit gaan oor die eindtyd. 20Die skaapram met horings wat jy gesien het, staan vir die koninkryk van Medië en Persië. 21Die harige bokram staan vir die koninkryk van Griekeland, en die groot horing tussen sy oë is die eerste koning. 22Dat dit afgebreek is en dat daar vier in sy plek gekom het, beteken dat daar vier koninkryke uit daardie nasie sal ontstaan, maar hulle sal nie so sterk soos die eerste wees nie. 23Teen die einde van hulle heerskappy, wanneer die sonde sy hoogtepunt bereik het, sal 'n hardvogtige en slinkse koning op die toneel verskyn. 24Hy sal baie sterk word, maar nie deur eie krag nie. Hy sal ongelooflike verwoesting aanrig en sal voorspoedig wees in alles wat hy doen. Hy sal magtiges vernietig, ook die heilige volk. 25Deur sy vindingrykheid sal hy slaag met sy sluwe optrede. In sy verwaandheid sal hy baie mense goedsmoeds om die lewe bring. Hy sal selfs die hoogste Regeerder uitdaag, maar sal vernietig word sonder die toedoen van 'n mens. 26Wat oor die aande en oggende aan jou geopenbaar is, sal werklik gebeur. Maar jy moet die visioen geheim hou, want dit sien op die verre toekoms.”

27Ek, Daniël, was gedaan en het lank siek gelê. Daarna het ek opgestaan en weer my werk in die koning se diens gedoen. Ek was egter ontsteld oor die visioen, en niemand het geweet wat met my aangaan nie.

DANIËL 9

Daniël bid om vergifnis vir sy volk; die einde van die verdrukking word aangekondig

1Dit was in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros. Hy was van geboorte 'n Mediër maar het koning geword oor die Galdese ryk. 2In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare 'n puinhoop sou wees. 3Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi.

4Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. 5Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U.

10“Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met 'n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. 12U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie.

15“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen. 16Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”

20Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, 21terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer. 22Hy het my kom inlig en vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te lig. 23Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar 'n antwoord gegee, en ek het gekom om dit vir jou te vertel, want God het jou lief. Gee dus ag op wat ek sê, sodat jy die visioen kan verstaan. 24Daar is sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad vasgestel. In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en die sondes 'n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge. Dit is die tyd waarin 'n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word. 25Jy moet nou goed verstaan, vandat die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat 'n regeerder kom wat deur God uitverkies is, sal sewe tydperke wees. Twee en sestig tydperke lank sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote, maar dit sal moeilike tye wees. 26Aan die einde van die twee en sestig tydperke sal 'n regeerder onskuldig doodgemaak word. Die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van 'n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn. Die einde sal kom soos 'n oorstroming; daar sal oorlog wees tot die einde toe, rampe soos besluit is. 27Dié regeerder sal vir een tydperk 'n vaste ooreenkoms aangaan met die vooraanstaandes en teen die helfte van dié tydperk sal hy die diereoffers en die graanoffers afskaf. Hy sal op die een hoek van die tempel 'n ding sit wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, en dit sal daar staan tot alles verby is. Dan sal oor dié regeerder wat soveel verwoesting aangerig het, losbars wat oor hom besluit is.”

DANIËL 10

Die verbondsvolk in die eindtyd

1In die derde regeringsjaar van koning Kores van Persië het Daniël wat Beltsasar genoem word, 'n openbaring ontvang. Dit was 'n egte openbaring, maar dit was moeilik om te verstaan. Tog het Daniël dit begryp nadat die betekenis daarvan in 'n visioen aan hom geopenbaar is.

2In daardie tyd het ek, Daniël, drie weke getreur. 3Ek het die volle drie weke geen lekker kos geëet nie, my mond nie aan vleis of wyn gesit nie en geen reukolie gebruik nie.

4Op die vier en twintigste dag van die eerste maand was ek by die groot rivier, die Tigris. 5Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. 6Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning.

7Net ek, Daniël, het die visioen gesien. Die mense by my het dit nie gesien nie. Tog was hulle so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het 8en ek alleen agtergebly het. Toe ek hierdie indrukwekkende visioen sien, het ek magteloos en doodsbang geword en het ek geen krag meer gehad nie. 9Toe hoor ek die man praat, en terwyl ek hom nog hoor praat, het ek bewusteloos vooroor op die grond geval. 10Daarna het 'n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. 11Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.”

Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. 12Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13Die engel van die Persiese Ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. 14Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.”

15Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. 16Toe het iemand wat soos 'n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. 17Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.”

18Toe het hy wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. 19Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!”

Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.”

20Hy het toe vir my gesê: “Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het. En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom. 21Maar eers sal ek jou vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Daar is niemand wat my teen hulle bystaan nie behalwe julle engel Migael.

PSALMS 75

Dit is God wat verneder of verhef

1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.

2Ons loof U, o God, ons loof U;

U is by ons, u magtige dade moet bekend gemaak word.

3“As die tyd vir my optrede aanbreek,” sê God,

“oordeel Ek regverdig.

4As die aarde met al sy bewoners sou wankel,

dan grondves Ek hom weer stewig. Sela

5Vir die hooghartiges sê Ek: Moenie hooghartig wees nie,

en vir die goddelose: Moet jouself nie verhef nie!

6Moet jou nie teen die hemel verhef

en aanmatigende dinge sê nie.”

7Verheffing kom nie uit die ooste of uit die weste

of uit die woestyn nie!

8Nee, dit is God wat verneder of verhef,

Hy is die regter!

9Daar is 'n beker in die hand van die Here.

Dit is vol skuimende wyn met gif gemeng.

Hy laat die goddeloses van die aarde daaruit drink;

hulle moet selfs die afsaksel opdrink,

die beker leegdrink.

10Maar ék sal altyd getuig,

altyd sing tot eer van die God van Jakob.

11“Ek sal die mag van die goddeloses verpletter,” sê God,

“maar die regverdige sal Ek hoog verhef.”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS