Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 202

DANIËL 1–5, PSALM 74

Bybelteks(te)

Daniël en sy vriende in die paleis van Nebukadnesar

1In die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van Babel teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. 2Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook 'n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre.

3Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om uit die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense. 4Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal. 5Die koning het bepaal dat hulle 'n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree. 6Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja, 7maar die hoofpaleisbeampte het vir hulle ander name gegee: Daniël is Beltsasar genoem, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego.

8Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. 9God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël. 10Maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.”

11Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en Asarja: 12“Maak asseblief tien dae lank 'n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink. 13Vergelyk dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en handel dan met ons na bevind van sake.”

14Die amptenaar het toe hulle versoek toegestaan en tien dae lank 'n proefneming met hulle gemaak.

15Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het. 16Toe het die amptenaar die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee.

17God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.

18Op die tyd wat koning Nebukadnesar bepaal het dat die jongmanne voor hom gebring word, het die hoofpaleisbeampte dit gedoen. 19Die koning het met hulle gepraat en hy het onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Toe het hulle in diens van die koning getree.

20In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk.

21Daniël het in diens van die paleis gebly tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

Daniël verklaar die droom van Nebukadnesar

1In die tweede regeringsjaar van koning Nebukadnesar het hy 'n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy nie kon slaap nie.

2Toe het hy die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers laat roep om sy droom vir hom uit te lê. Hulle het toe voor die koning kom staan 3en hy het vir hulle gesê: “Ek is ontsteld oor 'n droom wat ek gehad het en ek wil weet wat die droom beteken.”

4Die sterrekykers het die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning baie lank lewe! Vertel ons die droom, dan sal ons dit vir u uitlê.”

5Die koning sê toe vir die sterrekykers: “Ek het klaar besluit: as julle my nie die droom en sy uitleg kan gee nie, sal julle aan stukke gekap word en sal van julle huise puinhope gemaak word. 6Maar as julle die droom en sy uitleg gee, sal julle baie geskenke en groot eer van my ontvang. Gee my dus die droom en sy uitleg.”

7Hulle sê toe weer vir die koning: “U Majesteit moet die droom vir ons vertel, dan sal ons dit uitlê.”

8Toe sê die koning: “Ek weet goed julle wil net tyd wen omdat julle sien ek het klaar besluit 9dat as julle die droom nie uitlê nie, daar vir julle net een straf voorlê! Daarom het julle afgespreek om vir my 'n klomp leuens te vertel totdat die omstandighede mag verander. Vertel vir my die droom dat ek kan weet of julle sy uitleg kan gee.”

10Die sterrekykers het die koning geantwoord: “Daar is geen mens op aarde wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie. 11Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie.”

12Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring. 13Daar is toe 'n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word.

14Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak.

15Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. 16Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee.

17Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is 18en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie. 19Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in 'n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. 20Daniël het gesê:

“Mag die Naam van God altyd geprys word,

Hy aan wie die wysheid en die mag behoort,

21Hy wat tye en omstandighede verander,

wat konings afsit en konings aanstel,

wat aan die wyse manne die wysheid gee

en die verstand aan dié wat insig het,

22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar

en wat weet wat in die duisternis is;

by Hom is die lig.

23Ek loof en prys U, God van my voorvaders,

omdat U aan my wysheid en mag gegee het.

U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het,

U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.”

24Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.”

25Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.”

26Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?”

27Daniël het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u 'n droom, 'n visioen gehad. 29Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u 'n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het.

31“U het 'n visioen gehad. Daar was 'n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends. 32Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. 33Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. 34Toe u nog so kyk, breek daar 'n klip los sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. 35Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het 'n groot rots geword en het die hele aarde bedek. 36Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê.

37“U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee. 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. 39Ná u sal 'n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna 'n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. 40Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. 41Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op 'n koninkryk wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u gesien het, is daar yster tussen die klei. 42Die tone en voete, deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels swak sal wees. 43Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is: daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie 'n eenheid word nie, net soos yster nie met klei meng nie. 44In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur 'n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. 45En dat u 'n klip uit 'n rots sien losbreek het sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.”

46Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar 'n graanoffer en 'n wierookoffer aan hom geoffer moet word.

47Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.”

48Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. 49Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

Daniël se drie vriende uit die brandende oond gered

1Koning Nebukadnesar het 'n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babel. 2Toe het hy opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaar moes kom vir die wyding van die beeld wat die koning laat oprig het. 3So het al die hoë amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaargekom vir die wyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het en hulle het voor die beeld gaan staan.

4'n Aankondiger het hard geroep: “Alle volke, nasies en taalgroepe, julle word beveel: 5Wanneer julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument, moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid. 6Wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in 'n brandende oond gegooi word.”

7Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, gebuig en dit aanbid.

8Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het. 9Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning baie lank lewe! 10U het 'n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid. 11Wie nie buig en die beeld aanbid nie, moet in 'n brandende oond gegooi word. 12Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.”

13Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, 14en Nebukadnesar het vir hulle gesê: “Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 15Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in 'n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?”

16Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

19Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. 20Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. 21Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. 22Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. 23Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval.

24Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?”

En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!”

25Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos 'n hemelwese!”

26Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!”

En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom.

27Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie.

28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid. 29Daarom vaardig ek 'n bevel uit dat enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en dat sy huis 'n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.”

30Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel.

Die belydenis van Nebukadnesar

1“Koning Nebukadnesar aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld woon: Voorspoed!

2“Ek betuig met blydskap dat ek die tekens en wonders wat die allerhoogste God gedoen het, kon belewe.

3“Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders!

Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk,

sy heerskappy duur van geslag tot geslag.

4“Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gewoon, 5maar toe het ek 'n droom gehad wat my ontstel het, visioene in my slaap, wat deur my kop gemaal en my laat bang word het. 6Daarom het ek 'n bevel uitgevaardig dat al die koninklike raadgewers voor my gebring moes word om vir my die droom uit te lê. 7Toe het die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle kon dit nie vir my uitlê nie. 8Uiteindelik het Daniël, genoem Beltsasar na die naam van my god en in wie die gees van die heilige gode is, ingekom en ek het hom die droom vertel.

9“Ek het vir hom gesê: Beltsasar, hoof van die towenaars, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen geheim vir jou onverklaarbaar is nie. Hier is nou my droom, lê dit vir my uit.

10“Ek het hierdie visioen in my slaap gehad:

“Toe ek kyk,

sien ek 'n boom in die middel van die aarde,

en dit was baie hoog.

11Die boom het so groot en sterk geword

dat sy top aan die hemel geraak het,

en dit was oral op die aarde sigbaar.

12Sy blare was mooi en sy vrugte was groot,

daar was genoeg kos aan hom vir die hele wêreld.

Onder hom het die wilde diere skaduwee gesoek,

en in sy takke het die voëls nes gemaak.

Alles wat leef, het van hom hulle kos gekry.

13“Toe ek nog so kyk, terwyl ek in my slaap die visioen sien, kom daar 'n wag, 'n engel, uit die hemel uit af. 14Hy het hard geroep:

“ ‘Kap af die boom, kap af sy takke,

stroop af sy blare en gooi weg sy vrugte.

Die wilde diere moet onder hom uit wegvlug

en die voëls uit sy takke uit.

15Maar bind 'n yster- en 'n bronsband om sy stomp

en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld.

Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word

en van plante leef saam met die wilde diere.

16Sy verstand moet anders word as dié van 'n mens,

hy moet die verstand van 'n dier kry.

Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.

17“ ‘Hierdie aankondiging berus op 'n besluit van dié wat wag hou, die engele, en hulle maak hierdie beslissings bekend. So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil; Hy stel selfs die onbelangrikste mens daaroor aan.’

18“Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Lê dit nou vir my uit, Beltsasar, want geen raadgewer in my koninkryk is in staat om dit vir my uit te lê nie. Jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.”

19Toe het Daniël, ook genoem Beltsasar, 'n oomblik verstom gestaan, verbyster deur sy gedagtes. Die koning het vir hom gesê: “Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie, Beltsasar.”

Beltsasar het geantwoord: “U Majesteit, het die droom maar eerder op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders! 20Die boom wat u gesien het, wat so groot en sterk geword het dat sy top aan die hemel geraak het, en wat oral op die aarde sigbaar was, 21waarvan die blare mooi en die vrugte groot was en waaraan daar genoeg kos was vir die hele wêreld, waaronder die wilde diere gebly en in wie se takke die voëls nes gemaak het, 22die boom is u, U Majesteit. U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan die hemel, u mag strek oor die hele aarde. 23U Majesteit het 'n wag, 'n engel, uit die hemel uit sien afkom, en hy het gesê: ‘Kap af die boom en verwoes dit, maar bind 'n yster- en 'n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.’

24“Dit is die uitleg, U Majesteit, dit is die besluit van die Allerhoogste oor u: 25U sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil. 26Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word sodra u erken dat die Hemel regeer. 27Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.”

28Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom. 29Na twaalf maande, terwyl hy op die dak van die paleis geloop het, 30het hy gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan 'n koningstad gemaak, tot my eer en roem.”

31Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar 'n stem uit die hemel: “Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word. 32Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.”

33Op dieselfde oomblik het oor Nebukadnesar gekom wat oor hom gesê is. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere van 'n arend en sy naels soos dié van 'n voël.

34“Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen. 35Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie.

36“Ek het in dié tyd my verstand teruggekry, en my koninklike waardigheid, my eer en majesteit is aan my teruggegee. My raadgewers en hoofamptenare het my opgesoek, my koningskap is herstel en ek het selfs meer mag gekry as tevore. 37Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.”

Die skrif aan die muur by die ete van koning Belsasar

1Koning Belsasar het 'n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5Meteens verskyn daar toe 'n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik. 7Hy het hard geroep dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is en dit vir my kan uitlê, sal 'n koninklike kleed aangetrek word en 'n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.”

8Al die koninklike raadgewers het ingekom, maar hulle was nie in staat om wat geskryf is, te lees en dit vir die koning uit te lê nie. 9Toe het koning Belsasar nog banger en bleker geword. Ook sy hoofamptenare het verslae gestaan.

10Onderwyl die koning en sy hoofamptenare aan die praat was, het die koningin die eetsaal binnegekom. “Mag die koning baie lank lewe!” het sy gesê. “U moenie so bang en bleek wees nie. 11Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u voorganger is daar gevind dat hy skranderheid, insig en wysheid het soos dié van die gode. U voorganger, koning Nebukadnesar self, het hom aangestel as hoof van die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders. 12Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee.”

13Daniël is toe na die koning toe gebring, en die koning het vir hom gevra: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge wat deur my voorganger die koning hierheen gebring is uit Juda? 14Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat jy oor skranderheid, insig en buitengewone wysheid beskik. 15Die raadgewers, die voorspellers, is na my toe gebring sodat hulle kan lees wat geskryf is, en dit vir my kan uitlê, maar hulle is nie in staat om 'n uitleg te gee nie.

16“Ek het gehoor jy kan dinge uitlê en probleme ontrafel. As jy dan nou vir my kan lees wat geskryf is, en dit kan uitlê, sal daar vir jou 'n koninklike kleed aangetrek word en 'n goue halsketting omgehang word, en sal jy as derde in rang regeer.”

17Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê.

18“Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee. 19Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou. 20Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. 21Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil. 22Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. 23U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe.

25“Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ 26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. 27‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.”

29Daniël is toe op bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk.

30Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

Dink tog aan u verbond

1'n Gedig van Asaf.

Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot?

Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?

2Dink tog aan u gemeente

wat U lank gelede u eiendom gemaak het,

die volk wat U vir Uself as besitting verkry het,

Sionsberg waarop U gewoon het!

3Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê,

die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het.

4Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink,

en hulle het hulle vaandel daar opgerig.

5Dit het gelyk soos wanneer iemand met 'n byl bosse skoonkap.

6Hulle het al die houtsneewerk

met byl en koevoet stukkend geslaan.

7Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek,

die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek.

8Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.”

En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek.

9U openbaar U nie meer aan ons nie,

daar is geen profeet meer nie,

niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie.

10Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder?

Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster?

11Waarom help U ons nie?

Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie?

12God is van altyd af my koning,

dit is Hy wat op die aarde redding bring.

13Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het,

U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het.

14U wat die koppe van die Leviatan verpletter het

en hom vir die haaie gegee het,

15U wat fontein en stroom laat uitbreek het,

U wat standhoudende riviere laat opdroog het.

16Dit is U aan wie dag en nag behoort,

U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,

17U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;

somer en winter is die werk van u hand.

18Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here,

'n barbaarse volk belaster u Naam.

19Moet tog nie dié wat deur U onderrig is,

aan hierdie ondiere uitlewer nie,

moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie!

20Dink tog aan u verbond,

want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking.

21Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie,

red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys.

22Kom tog, o God! Laat geld tog u reg.

Dink tog daaraan hoe u eer

dag vir dag deur barbare geskend word.

23Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie:

die geskreeu van u teëstanders,

die aanhoudende rumoer van u vyande.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS