Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 193

ESEGIËL 16–20, PSALM 62

Bybelteks(te)

Jerusalem het hom eerloos gedra

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het. 3Jy moet sê: So sê die Here my God vir Jerusalem: Kanaän is die land van jou herkoms en jou geboorte. Jou pa was 'n Amoriet, jou ma 'n Hetiet. 4Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie, nie met sout ingevryf nie en nie in doeke toegedraai nie. 5Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is.

6“Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef, 7groei!’

“Ek het jou soos 'n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. 8Toe Ek by jou verbykom en sien dat jy volwasse begin word, het Ek jou onder my sorg geneem en vir jou klere aangetrek. Ek het My met 'n eed aan jou verbind en met jou 'n verbond aangegaan, sê die Here my God. Jy het Myne geword. 9Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. 10Ek het vir jou 'n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. 11Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 12'n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en 'n pragtige krans op jou kop. 13Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om 'n koningin te wees. 14Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was 'n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God.

15“Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om 'n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. 16Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords. 17Jy het jou juwele gevat, van my goud en my silwer wat Ek vir jou gegee het, en vir jou mansbeelde gemaak en met hulle jou afgodery bedryf. 18Jy het jou veelkleurige rok gevat en dit vir hulle aangetrek, jy het my olie en my wierook voor hulle neergesit. 19Ek het jou gevoed met fynmeel, olie en heuning, maar jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit as offers met 'n aangename geur. Ja, dit is wat gebeur het, sê die Here my God. 20Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie, 21dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand? 22Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie.

23“Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het, 24het jy boonop op elke oop plek vir jou 'n offerbult gebou, vir jou 'n hoogte ingerig. 25By elke kruispad het jy vir jou 'n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer. 26Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart. 27Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag. 28Toe het jy met die Assiriërs gehoereer, want jy was nog nie bevredig nie; jy het met hulle gehoereer, maar ook toe is jy nie bevredig nie. 29Jy het aanmekaar bly hoereer met die Galdese handelaars, maar ook dit het jou lus nie bevredig nie. 30Jou koors was hoog toe jy dit alles gedoen het,” sê die Here my God. “Jy het jou gedra soos 'n skaamtelose hoer. 31Jy het by elke kruispad vir jou 'n offerbult gebou, op elke oop plek 'n hoogte. Maar jy was nie eens soos 'n gewone prostituut nie, jy het jou neus opgetrek vir betaling. 32Jy is soos 'n immorele vrou wat ander mans ontvang en nie haar eie man nie. 33Al die prostitute kry betaling, maar jy betaal jou minnaars, van oral af lok jy hulle met geskenke na jou toe om met jou te hoereer. 34Jy het met jou hoerery juis die teenoorgestelde gedoen van wat ander vrouens doen: niemand het agter jou aangeloop nie; jy het betaal, jy is nie betaal nie. Jy is net die teenoorgestelde.

35“Daarom, hoer, hoor die woord van die Here!” 36So sê die Here my God: “Jy het jou eerloos gedra, jou sonder skaamte ontbloot om met jou minnaars te hoereer, met al jou afskuwelike afgode. Jy het vir hulle die bloed van jou kinders gegee. 37Daarom gaan Ek al jou minnaars bymekaarbring, almal van wie jy gehou het, almal vir wie jy lief was en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek gaan hulle van oral af rondom jou bymekaarbring en dan gaan Ek jou ontbloot voor hulle sodat hulle na jou kan kyk terwyl jy heeltemal kaal is. 38Ek gaan jou straf soos vrouens gestraf moet word wat owerspel en moord gepleeg het. Ek laat jou die moorde voel, die gramskap, die woede. 39Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars. Hulle sal jou offerbulte afbreek, jou hoogtes verwoes. Hulle sal jou klere uittrek, jou juwele afvat en jou kaal, sonder klere daar laat staan. 40Hulle sal 'n vergadering bymekaarroep om jou te veroordeel, hulle sal jou met klippe doodgooi en jou met hulle swaarde in stukke kap, 41hulle sal jou huise afbrand. So sal hulle jou vonnis voltrek ten aanskoue van al die vrouens. Ek maak 'n end aan jou hoerery. Jy sal nie weer geskenke uitdeel nie.

42“Eers wanneer Ek my gramskap teen jou laat uitwoed het, my woede op jou gekoel het, sal Ek bedaar en nie meer bitter wees nie. 43Jy het die tyd van jou jeug vergeet en My woedend gemaak, en Ek het wat jy gedoen het, op jou kop laat afkom,” sê die Here my God. “By al jou afskuwelike dade het jy boonop nog dié aanstootlike dinge gedoen.

44“Almal wat van spreekwoorde hou, sal oor jou ook een hê: ‘Die dogter is soos die ma.’ 45Jy is jou ma se dogter. Sy het 'n weersin gehad in haar eie man en kinders. Jy is jou susters se suster. Hulle het 'n weersin gehad in hulle mans en kinders. Julle ma was 'n Hetiet en julle pa 'n Amoriet. 46Jou ouer suster is Samaria. Sy en haar dogters woon noord van jou. Jou suster wat jonger as jy is, is Sodom. Sy en haar dogters woon suid van jou. 47Jy het nie net min of meer hulle voorbeeld gevolg en hulle afskuwelike dade nagedoen nie, jy was erger as hulle met alles wat jy gedoen het. 48So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “jou suster Sodom en haar dogters het nie gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. 49Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie. 50Hulle was hooghartig en het voor my oë afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle laat verdwyn, soos jy gesien het. 51Samaria het nie die helfte van die sondes gedoen wat jy gedoen het nie. Jy het baie meer afskuwelike dinge gedoen as hulle. Teenoor al die afskuwelike dinge wat jy gedoen het, lyk dit of jou susters 'n goeie lewe gelei het. 52Dié skande moet jy ook nog dra, dat jy met jou sonde vir jou susters ingestaan het: jy het afskuweliker dinge as hulle gedoen en dit laat voorkom asof hulle in vergelyking met jou 'n goeie lewe gelei het. Jy moet nou die skande en skaamte dra dat jy aan jou susters die skyn van onskuld besorg het. 53Ek gaan hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters en die lot van Samaria en haar dogters, en joune daarmee saam. 54So sal jy jou skande dra en jou moet skaam oor wat jy alles gedoen het wat hulle bevoordeel het. 55Dit sal met jou susters Sodom en Samaria en met hulle dogters weer gaan soos vroeër, net soos met jou en jou dogters. 56Jy het jou mond vol gehad oor jou suster Sodom. Dit was die tyd toe jy nog vol verwaandheid was, 57voordat dit bekend geword het hoe sleg jy is. Nou is dit die Arameërs en almal in hulle omgewing, en ook die Filistyne wat jou verag en jou van alle kante loop en spot. 58Jy dra nou die straf op jou afstootlike, afskuwelike dade, sê die Here.”

59So sê die Here my God: “Ek het met jou gemaak soos jy gemaak het. Jy het die eed waaraan jy gebind was, met minagting behandel en die verbond verbreek. 60Maar Ek sal die verbond weer laat geld wat Ek met jou in jou jeug gesluit het en Ek sal dit altyd in stand hou. 61Jy sal dink aan jou gedrag en jou skaam wanneer Ek jou susters vat, die een ouer as jy en die een jonger as jy, en hulle vir jou as dogters gee, al sal hulle nie deel in my verbond met jou nie. 62Ek sal my verbond met jou in stand hou, en jy sal besef dat Ek die Here is. 63Jy sal daaraan dink en jou skaam. Jy sal van skaamte nie weer jou mond oopmaak nie, want Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het,” sê die Here my God.

Ek maak groot bome klein en klein boompies groot

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, jy moet vir Israel 'n fabel, 'n gelykenis, vertel. 3Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God:

“Die groot arend met die groot vlerke,

die lang vlerkpenne en die digte, bont vere

het na die Libanon toe gekom

en die top van die seder weggevat.

4Hy het die boonste takkie afgepluk,

dit na die land van die handelaars toe gebring

en dit daar in die stad van die smouse gaan neersit.

5Daarna het hy 'n steggie uit Israel gevat

en dit in die grond gesit

waar daar baie water was en waar dit kon floreer.

6Die steggie het gegroei en 'n wingerdstok geword

wat welig was maar laag op die grond moes bly

met sy blare na die arend toe gedraai

en sy wortels onder hom.

Dit het 'n wingerdstok geword, ranke gemaak

en lote uitgeskiet.

7Daar kom toe nog 'n groot arend

met groot vlerke en baie vere,

en die wingerdstok draai sy wortels na dié arend toe

en stuur sy ranke in dié se rigting

sodat die arend vir hom nog meer water kan gee

as wat daar was op die plek waar hy geplant was.

8Hy was geplant in goeie grond, by baie water;

hy kon ranke maak en druiwe dra,

hy kon 'n pragtige wingerdstok geword het.

9“Jy moet sê: So sê die Here my God:

“Sal dit goed gaan met die wingerdstok?

Gaan die eerste arend dan nie sy wortels uittrek

en sy vrugte vernietig

sodat al sy druiwe verdroog wat aan die ryp word was nie?

Daar is nie groot mag en baie mense nodig

om hom met wortels en al uit te trek nie.

10Hy is geplant, maar sal hy goed groei?

Sal hy nie heeltemal verdor

wanneer die oostewind hom tref nie?

Hy sal verdroog op die plek waar hy gegroei het.”

11Die woord van die Here het tot my gekom: 12“Jy moet vir hierdie weerbarstige volk vra: Weet julle nie wat dit beteken nie?

“Jy moet sê: Die koning van Babel het na Jerusalem toe gekom, die koning en die amptenare van die stad gevat en na hom toe in Babel gebring. 13Daarna het hy iemand uit die koninklike geslag gevat, met hom 'n ooreenkoms gemaak en hom 'n eed van trou laat sweer. Die koning van Babel het die vooraanstaande mense uit die land weggevat 14sodat die koninkryk swak sou wees en nie in opstand sou kom nie en sodat daar aan die ooreenkoms gehou sou word en dit sou bly bestaan. 15Maar die nuwe koning van Jerusalem het in opstand gekom teen die koning van Babel en gesante na Egipte toe gestuur om perde en baie manskappe te vra. Maar sal hy slaag met sy onderneming? Sal hy vrykom as hy so iets doen? Sal hy vrykom as hy die ooreenkoms verbreek?

16“So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “hy sal binne-in Babel sterf, in die stad van die koning wat hom koning gemaak het. Hy het sy eed van getrouheid aan daardie koning geminag en die ooreenkoms met hom verbreek. 17Die farao sal nie in die geveg help met 'n groot leërmag, met baie manskappe nie. Inteendeel, daar sal 'n beleëringswal teen Jerusalem opgegooi word en beleëringswerke gebou word met die doel om baie mense uit te roei. 18Die koning het sy eed van getrouheid geminag en die ooreenkoms verbreek. Hy het 'n plegtige onderneming gemaak en toe tog al hierdie dinge gedoen: hy kan nie vrykom nie.”

19So sê die Here my God: “So seker as Ek leef, Ek laat hom die gevolge dra daarvan dat hy die eed van getrouheid aan My geminag en die verbond met My verbreek het. 20Ek gooi my vangnet oor hom, hy word gevang in my net, en Ek bring hom na Babel toe waar Ek hom sal laat boet vir sy ontrou aan My. 21Al sy soldate wat saam met hom sal probeer vlug, sal met die swaard doodgemaak word, en dié wat oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Dan sal hulle besef dat dit Ek, die Here, is wat gepraat het.”

22So sê die Here my God: “Ek vat die top van die hoë seder weg en plant hom, Ek pluk die sagte boonste takkie af en plant hom op 'n hoë berg. 23Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal 'n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak. 24Al die bome in die veld sal weet dat Ek die Here is. Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droë bome bot. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.”

Dit is die mens wat sondig wat sal sterf

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Waarom gebruik julle in die land Israel hierdie spreekwoord:

“ ‘Die vaders eet groen druiwe,

en dan word die kinders se tande stomp’?

3“So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “julle sal nie meer dié spreekwoord in Israel gebruik nie. 4Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf. 5Wie wil leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen:

6“hy sal nie aan die offermaaltye op die berge deelneem nie,

hy sal nie hulp soek by die afgode van die volk Israel nie,

hy sal nie 'n ander se vrou onteer nie,

hy sal nie aan 'n vrou raak wat menstrueer nie,

7hy sal niemand verdruk nie,

hy sal goed wat hy in pand geneem het, teruggee,

hy sal niemand beroof nie,

hy sal van sy kos gee vir dié wat honger is,

hy sal klere gee vir dié wat nie klere het nie,

8hy sal nie geld op rente uitleen nie

en nie woekerwins vat nie,

hy sal hom van onreg weerhou

en reg laat geskied in sake tussen mense,

9hy sal lewe volgens my voorskrifte,

my bepalings gehoorsaam en hulle getrou nakom.

“So iemand leef volgens my wil en hy sal bly lewe,” sê die Here my God.

10“Maar so iemand kan 'n wilde seun hê wat moord pleeg of van dié sondes doen 11terwyl die pa dit nie gedoen het nie. As die seun aan die offermaaltye op die berge deelneem, 'n ander se vrou onteer, 12die mens in nood en die arme verdruk, mense beroof, goed wat hy in pand geneem het, nie teruggee nie, hulp soek by afgode en so afskuwelike dade pleeg, 13geld op rente uitleen of woekerwins vat, kan hy nie bly lewe nie. Hy sal nie bly lewe nie, hy het al hierdie afskuwelike dinge gedoen en hy moet dood. Hy verdien die dood.

14“Maar so 'n seun kan op sy beurt 'n seun hê, en dié kan al die sonde sien wat sy pa doen en My dien en nie sulke sondes doen nie. 15Hy neem nie deel aan die offermaaltye op die berge nie, soek nie hulp by die afgode van die volk Israel nie, onteer nie 'n ander se vrou nie, 16verdruk niemand nie, vat niks in pand nie, beroof niemand nie, gee van sy kos vir dié wat honger is, gee klere vir dié wat nie het nie, 17weerhou hom van verdrukking, vat nie rente of woekerwins nie, doen wat Ek bepaal en lewe volgens my voorskrifte. So iemand sal nie sterf vir sy pa se sondes nie, hy sal bly lewe. 18Maar sy pa sal sterf vir sy eie sonde. Hy het mense verdruk en beroof en het verkeerde dinge gedoen tussen sy mense.

19“Julle vra waarom die seun nie die straf op sy pa se sonde kan dra nie? Omdat die seun reg laat geskied en reg leef. Hy is gehoorsaam aan al my voorskrifte en hy voer hulle uit, en daarom sal hy bly lewe. 20Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra.

21“Maar die goddelose wat hom van al sy sondes bekeer, al my voorskrifte nakom, reg laat geskied en reg doen, sal bly lewe, hy sal nie sterwe nie. 22Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie. Hy sal bly lewe op grond van die reg wat hy doen. 23Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.

24“En as iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en die afskuwelike dinge doen wat die goddelose doen, sal hy nie bly lewe nie. Nie een van die goeie dinge wat hy gedoen het, sal in sy guns tel nie, want hy het ontrou geword en hy sal sterf op grond van sy sonde wat hy gedoen het.

25“Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Luister, Israel, tree Ék nie reg op nie? Dit is julle wat nie reg optree nie! 26As iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en op grond daarvan sterf, sterf hy op grond van die onreg wat hy gepleeg het. 27En as 'n goddelose hom bekeer van sy goddelose optrede en hy laat reg geskied en doen reg, hou hy hom in die lewe. 28Omdat hy tot insig gekom het en hom bekeer het van al sy oortredings wat hy begaan het, sal hy bly lewe, hy sal nie sterwe nie. 29En dan sê Israel: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Is dit Ek wat nie reg optree nie, Israel? Dit is julle wat nie reg optree nie!

30“Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede,” sê die Here my God. “Bekeer julle, bekeer julle van al julle oortredings, sodat die sonde nie julle val bewerk nie. 31Laat vaar al julle oortredings en kry 'n nuwe gesindheid, 'n nuwe gees. Waarom wil julle sterf, Israel? 32Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie,” sê die Here my God, “maar dat hy hom bekeer en bly lewe.”

'n Treurlied oor die konings van Israel

1“Jy moet hierdie treurlied sing oor die konings van Israel. 2Jy moet sê:

“Wat 'n leeuwyfie was jou ma nie tussen die leeus nie!

Haar lêplek was tussen die jong leeus,

daar het sy haar welpies grootgemaak.

3Sy het een van haar welpies grootgemaak

en hy het 'n jong leeu geword.

Hy het geleer om sy prooi te vang

en selfs 'n mensvreter geword.

4Maar die nasies het van hom gehoor

en hom in 'n vanggat gevang.

Hulle het hom met hake

na Egipte toe gesleep.

5“Toe die leeuwyfie sien sy kry nie haar sin nie

en dit is klaar met die verwagting wat sy gehad het,

vat sy nog een van haar welpies

en maak van hom ook 'n jong leeu.

6Hy het tussen die leeus rondgestap

en 'n jong leeu geword.

Hy het geleer om sy prooi te vang

en selfs 'n mensvreter geword.

7Hy het hulle weduwees vir hom gevat

en hulle stede verwoes.

Die land en almal daarin was verskrik

vir sy gebrul.

8Die mense het die nasies in die lande rondom

teen hom aangehits,

en dié het hulle vangnet oor hom gegooi

en hom in 'n vanggat gevang.

9Hulle het hom in 'n hok gesit

en hom met hake na die koning van Babel toe gesleep.

Hulle het hom daar gevange laat hou

sodat hulle nie weer sy brul sou hoef te hoor

op die berge van Israel nie.

10“Jou ma was soos 'n wingerdstok

wat langs die water geplant is.

Van die baie water

het hy druiwe en ranke gehad.

11Hy het sterk lote gehad,

geskik vir koninklike septers.

Hy het hoog gegroei, tot by die wolke,

en jy kon hom uitken aan sy hoogte en sy baie ranke.

12Maar hy is in woede uitgeruk

en op die grond neergegooi.

Die oostewind het hom uitgedor

en sy vrugte is afgepluk.

Sy sterk lote het verdroog en is verbrand.

13Toe word die wingerdstok in die woestyn geplant,

in 'n droë dorsland,

14maar daar het vuur uit die lote gekom

en sy ranke en vrugte verteer.

Toe was daar nie meer sterk lote aan die wingerdstok,

geskik vir koninklike septers nie.”

Dit is 'n treurlied hierdie. Dit het 'n treurlied geword.

Ek handel soos die eer van my Naam dit vereis

1Op die tiende van die vyfde maand, in die sewende jaar, het daar van die leiers van Israel gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het voor my kom sit, 2en toe kom die woord van die Here tot my: 3“Mens, praat met die leiers van Israel. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Het julle gekom om My te raadpleeg? So seker as Ek leef, Ek laat My nie deur julle raadpleeg nie, sê die Here my God. 4Oordeel jý oor hulle, mens, oordeel jý. Vertel vir hulle van die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het. 5Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: Die dag toe Ek Israel, die nageslag van Jakob, gekies het en My met 'n eed aan hulle verbind het, het Ek My aan hulle bekend gemaak in Egipte. Ek het My met 'n eed aan hulle verbind en gesê: ‘Ek, die Here, is julle God.’ 6Ek het My daardie dag met 'n eed verbind om hulle uit Egipte uit te bring na 'n land toe wat Ek vir hulle verken het, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande. 7Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg die afstootlike afgode, moet julle nie verontreinig met Egipte se afgode nie. Ek, die Here, is julle God.’ 8Maar hulle het hulle teen My verset, hulle wou nie na My luister nie. Hulle het nie hulle afstootlike afgode weggegooi nie en het nie afgesien van Egipte se afgode nie. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in Egipte, 9maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie, en toe het Ek My bekend gemaak aan hulle voor die oë van die nasies en my volk uit Egipte gebring.

10“Ek het hulle uit Egipte gebring en hulle die woestyn in laat trek. 11Ek het aan hulle my voorskrifte gegee en my bepalings aan hulle bekend gemaak, sodat elkeen wat daarvolgens optree, in die lewe sou bly. 12Ek het ook my sabbatte aan hulle gegee om vir hulle 'n teken te wees van die verhouding tussen hulle en My, en sodat hulle sou weet dat Ek, die Here, hulle geheilig het. 13Maar Israel het hulle teen My verset in die woestyn. Hulle het nie volgens my voorskrifte gelewe nie en het my bepalings verwerp waarvolgens elkeen moes optree om in die lewe te bly. Hulle het my sabbatte gruwelik ontheilig. Ek het gedink Ek sal my toorn daar in die woestyn teen hulle laat losbreek om hulle uit te roei, 14maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die nasies voor wie se oë Ek my volk uit Egipte gebring het nie. 15Ek het ook daar in die woestyn 'n eed afgelê dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek aan hulle gegee het nie, die land wat oorloop van melk en heuning, die sieraad onder al die lande. 16Hulle het immers my bepalings verwerp, nie volgens my voorskrifte gelewe nie, my sabbatte ontheilig en die afgode van hulle keuse gedien. 17Maar Ek het hulle jammer gekry en hulle nie uitgeroei nie, Ek het nie 'n end aan hulle gemaak in die woestyn nie.

18“Ek het in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Moenie volgens die gebruike van julle voorvaders leef nie, moenie aan hulle maniere vashou nie, moet julle nie verontreinig met hulle afgode nie. 19Ek, die Here, is julle God. Leef volgens my voorskrifte, kom my bepalings na en leef daarvolgens, 20hou my sabbatte heilig sodat hulle die teken kan wees van die verhouding tussen My en julle, sodat julle kan weet dat Ek, die Here, julle God is.’ 21Maar ook die kinders het hulle teen My verset. Hulle het nie volgens my voorskrifte gelewe nie en nie my bepalings nagekom waarvolgens elkeen moes optree om in die lewe te bly nie. Hulle het my sabbatte ontheilig. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in die woestyn. 22Maar Ek het My bedwing en gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die nasies voor wie se oë Ek my volk uit Egipte gebring het nie. 23Ek het ook daar in die woestyn 'n eed afgelê dat Ek hulle onder die nasies sou verstrooi, hulle oor ander lande sou versprei. 24Hulle het immers nie my bepalings nagekom nie, hulle het my voorskrifte verwerp, my sabbatte ontheilig en by hulle voorvaders se afgode hulp gesoek. 25Ek het vir hulle voorskrifte gegee wat nie goed was nie en bepalings waardeur hulle nie in die lewe kon bly nie. 26Ek het hulle onrein laat word deur hulle offergawes waarin hulle al hulle eersgeborenes verbrand het, Ek wou hulle skrikbevange maak sodat hulle sou besef dat Ek die Here is.

27“Praat met Israel, mens, sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle voorvaders het My ook nog in my eer aangetas deur heeltemal ontrou aan My te word. 28Ek het hulle na die land toe gebring wat Ek met 'n eed beloof het om aan hulle te gee, en hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom wat hulle gesien het, hulle diereoffers gebring, hulle geskenke neergesit wat My gekrenk het, hulle wierookoffers verbrand en hulle drankoffers uitgegiet. 29Ek het vir hulle gesê: Wat se hoogte is dit waarnatoe julle gaan?”

Dié soort plek word vandag nog 'n hoogte genoem.

30“Sê vir Israel: So sê die Here my God: Julle het julle verontreinig op dieselfde wyse as julle voorvaders en julle het in julle ontrou aan My hulle afstootlike afgode gedien. 31As julle vir die afgode geskenke aandra en julle kinders as offers verbrand, as julle julle nog steeds verontreinig met julle afgode, moet Ek My deur julle laat raadpleeg, Israel? So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie. 32Wat in julle gedagtes opgekom het, sal nie gebeur nie. Julle dink: ons wil soos die ander nasies wees, soos die mense in ander lande, ons wil hout en klip dien.

33“So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal oor julle regeer met mag en krag en Ek sal my toorn oor julle laat losbreek. 34Ek sal julle met mag en krag tussen die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het en my toorn oor julle laat losbreek. 35Ek sal julle bring na die woestyn tussen Babel en Israel en daar my saak teen julle van aangesig tot aangesig stel. 36Soos Ek my saak teen julle voorvaders in die woestyn van Egipte gestel het, so sal Ek dit met julle doen,” sê die Here my God. 37“Ek sal vasstel dat julle almal daar is en julle oordeel op grond van die eise van die verbond. 38Ek sal dié van julle wat hulle teen My verset en opstandig is, uitsoek en hulle laat trek uit die land waar hulle woon, maar in die land Israel sal hulle nie kom nie. Hulle sal besef dat Ek die Here is.

39“En wat julle betref, Israel,” sê die Here my God, “loop na julle gode toe, dien hulle, nou en later, as julle nie na My wil luister nie en my heilige Naam nog wil oneer aandoen met julle geskenke aan afgode en met julle afgode self.

40“Op my heilige berg, op die hoë berg van Israel,” sê die Here my God, “daar, in dié land, sal die hele Israel My dien. Daar sal Ek weer goedgesind wees teenoor hulle en daar sal Ek bereid wees om hulle offergawes, hulle eerstelingoffers en al hulle geskenke aan die heiligdom te ontvang. 41Die reuk van julle offers sal vir My aanneemlik wees. Wanneer Ek julle onder die volke uit laat trek en julle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek julle verstrooi het, sal Ek My deur julle voor die oë van die nasies laat ken as die Heilige. 42Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle na die land Israel toe bring, na die land wat Ek met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee. 43Daar sal julle julle optrede en al die dinge waarmee julle julle verontreinig het, in herinnering roep en julle sal 'n weersin in julleself kry oor al die sondige dinge wat julle gedoen het. 44Wanneer Ek met julle handel soos die eer van my Naam dit vereis en nie volgens julle sondige optrede, julle slegte dade nie, sal julle besef dat Ek die Here is. Dit, Israel, sê die Here my God.”

Ek gaan my swaard uit sy skede trek

45Die woord van die Here het tot my gekom: 46“Mens, draai jou gesig na die suide toe, laat vloei jou woorde na die suide toe, tree op as profeet teen die bos in die oop veld, die Suidland. 47Jy moet vir die bos in die Suidland sê: Hoor die woord van die Here!”

So sê die Here my God: “Ek gaan jou aan die brand steek. Elke groen boom en elke droë boom in jou gaan verbrand. Die vlamme sal nie geblus word nie, dit sal elke gesig skroei, van die suide van die land af tot in die noorde. 48Al wat leef, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.”

49Toe sê ek: “Ag, Here my God, hulle sê ek praat net altyd in raaisels.”

Net by God vind ek rus

1Vir die koorleier. 'n Belydenis. 'n Psalm van Dawid.

2Net by God vind ek rus,

van Hom kom my redding.

3Net Hy is my rots en my redding,

my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.

4Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger

en my probeer doodmaak,

'n man wat reeds is soos 'n muur wat wil omval,

'n klipmuur wat omgestoot word?

5Hulle probeer my uitwerk;

hulle skep behae in leuens;

met die mond seën hulle,

in die hart vervloek hulle. Sela

6Net by God vind ek rus,

want op Hom vertrou ek.

7Net Hy is my rots en my redding,

my veilige vesting, sodat ek stewig staan.

8God is my redding en my krag.

Hy is my rots, my sterkte,

God is my toevlug.

9Vertrou altyd op Hom, my volk,

stort julle hart voor Hom uit!

God is vir ons 'n toevlug. Sela

10Mense is verganklik,

mense is niks:

op 'n skaal wys hulle geen gewig nie,

saam is hulle minder as niks.

11Moenie op geweld vertrou nie;

roof sal jou niks in die sak bring nie.

As jou rykdom toeneem,

moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.

12Een ding het ek God hoor sê,

nee, twee:

dat net God mag het 13en 'n mens net op U, Here, kan vertrou,

en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS