Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 191

ESEGIËL 6–10, SPREUKE 27

Bybelteks(te)

Ek sal teen hulle optree

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, kyk na die berge van Israel toe en tree op as profeet teen hulle. 3Jy moet sê: Berge van Israel, hoor die woord van die Here my God!”

So sê die Here my God vir die berge, vir die heuwels, vir die klowe en vir die valleie: “Ek gaan oorlog oor julle bring, Ek gaan julle hoogtes vernietig, 4julle altare verwoes, julle wierookaltare stukkend breek, die mense dood voor hulle afgode laat neerval. 5Ek sal die Israeliete se lyke voor hulle afgode gooi, hulle bene rondom die altare strooi. 6Waar julle ook al woon, Israeliete, sal die stede in puin gelê word en die hoogtes verwoes word: julle altare sal in puin lê en verwoes wees, julle afgode sal stukkend gebreek word en verdwyn, julle wierookaltare sal in stukke geslaan word en daar sal niks oor wees van julle handewerk nie. 7Wanneer die dooie liggame tussen julle lê, sal julle besef dat Ek die Here is.

8“Tog sal Ek party dit laat oorleef, Ek sal party van julle aan die swaard laat ontkom wanneer julle oor baie lande onder die nasies verstrooi word. 9Dié van julle wat ontkom het, sal My onthou daar waar hulle ballinge geword het tussen die nasies. Die ballinge sal onthou hoe Ek in my eer aangetas is deur hulle ontroue gesindheid wat hulle van My af laat wegdraai het agter hulle afgode aan en 'n weersin in hulleself kry oor die bose optrede, oor al hulle afskuwelike dade. 10Hulle sal besef dat Ek die Here is en dat Ek nie verniet gesê het dat Ek hierdie onheil oor hulle sal bring nie.”

11So sê die Here my God: “Slaan jou hande inmekaar, stamp met jou voete, kerm oor al die bose, afskuwelike dade van Israel: hulle gaan sterf deur oorlog, deur hongersnood, deur pes. 12Wie ver is, sal aan pes doodgaan; wie naby is, sal in die oorlog val; en wie oor is en behoue gebly het, sal van honger doodgaan. Dan sal my woede op hulle gekoel wees. 13Wanneer die lyke tussen hulle afgode lê rondom hulle altare op elke hoë heuwel, op elke bergtop, onder elke groen boom, elke welige groot boom, op elke plek waar hulle geoffer het vir al hulle afgode, sal hulle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal teen hulle optree en die land 'n verlate, skrikwekkende plek maak, van die woestyn af tot by Ribla, oral waar hulle woon. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Die einde kom

1Die woord van die Here het tot my gekom. 2So sê die Here my God oor die land Israel:

“Mens, die einde kom! Die einde kom dwarsoor die land.

3Land, jou einde is daar,

want Ek laat my toorn teen jou losbreek,

Ek gaan jou straf vir wat jy gedoen het,

Ek gaan die straf vir al jou afskuwelike dade oor jou laat kom.

4Ek sal jou nie verskoon nie,

jou nie jammer kry nie.

Ek gaan die straf vir wat jy gedoen het, oor jou laat kom;

jou afskuwelike dade sal jou tref.

Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

5So sê die Here my God:

“Daar kom 'n ramp! 'n Groot ramp!

6Die einde kom, die einde kom!

Dit begin jou tref, dit kom!

7Die ergste kom vir jou, inwoner van die land,

die tyd kom, die dag is naby,

die dag waarop daar nie vreugde nie

maar ontsteltenis op die berge sal wees.

8Nou, binnekort, laat Ek my woede losbreek teen jou,

Ek gaan my toorn op jou koel

en jou straf vir wat jy gedoen het,

Ek gaan die straf vir al jou afskuwelike dade oor jou laat kom.

9Ek sal jou nie verskoon nie,

jou nie jammer kry nie.

Ek gaan die straf vir wat jy gedoen het, oor jou laat kom;

jou afskuwelike dade sal jou inhaal.

Dan sal jy besef dat dit Ek, die Here, is wat jou straf.

10“Die dag is hier, dit kom,

die ergste gaan gebeur.

Soos die mag toegeneem het,

het die eiegeregtigheid toegeneem.

11Die goddelose heerskappy sal met geweld te doen kry,

maar nie van die kant van die inwoners van die land nie,

nie deur hulle verset, hulle protes nie, nie deur 'n klag van hulle kant nie.

12“Die tyd het gekom, die dag het aangebreek

dat die een wat koop, nie bly moet wees nie,

en die een wat verkoop, nie spyt nie,

want die toorn van die Here rus op almal in die land.

13Die verkoper sal wat hy verkoop het, nie terugkry nie,

al leef hy en die koper altwee nog.

Wat Ek oor almal in die land bekend gemaak het, staan vas:

almal is skuldig, niemand sal sy lewe behou nie.

14Hulle kan maar die ramshoring blaas

en alles gereed maak vir die geveg,

maar hulle sal nie eens die geveg kan begin nie,

want my toorn rus op almal in die land.

15“Oorlog buite, pes en hongersnood binne:

wie buite op die land is, sal in die oorlog sterf;

wie in die stad is, sal verteer word deur honger en pes.

16Dié wat ontkom, sal op die berge skuil

en soos die duiwe in die valleie

saam sit en kla, elkeen oor sy sonde.

17Al die hande sal slap hang,

daar sal water teen al die knieë afloop;

18die mense sal rouklere aantrek

en skrikbevange raak;

elke gesig sal verslae wees,

elke kop kaalgeskeer.

19“Hulle sal hulle silwer op die strate weggooi;

hulle goud sal nutteloos wees:

hulle silwer en hulle goud kan hulle nie red

die dag as die toorn van die Here losbreek nie.

Hulle sal hulle honger nie daarmee kan stil

en hulle daaraan nie kan vol eet nie.

Dit is juis hulle silwer en goud

wat hulle in sonde laat verval het:

20hulle was so trots op hulle versiersels, so ingenome daarmee,

dat hulle daarvan vir hulle gode gemaak het,

afskuwelike, walglike goed.

Dit is waarom Ek hulle goud en silwer nutteloos laat word.

21“Ek gee dit oor aan vreemdes as buit;

die goddeloses van die aarde sal dit roof en ontwy.

22Ek sal maak of Ek niks sien nie,

en hulle sal my kosbare tempel ontwy,

rowers sal daar inkom en dit ontwy.

23Maak gereed die kettings vir die gevangenes,

want die land se regters is moordenaars,

die stad is vol geweld.

24Ek bring die slegste nasies,

hulle sal die huise in die land vat.

Ek maak 'n end aan die hoogmoed van die mense met mag,

hulle heiligdomme sal ontwy word.

25Wanneer die angs kom, sal hulle vrede soek,

maar dié sal daar nie wees nie.

26Ramp op ramp sal kom,

gerug op gerug.

Hulle sal tevergeefs by die profeet 'n openbaring soek;

ook die priester sal nie leiding kan gee nie,

en die oumense sal nie raad hê nie.

27Die koning sal treur,

die vername mense sal angsbevange wees,

die mense in die land sal die hande wring van vrees.

Ek gaan aan hulle doen wat hulle verdien,

Ek gaan hulle straf soos hulle self mense gestraf het.

Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Die straf is naby vir Jerusalem

1Op die vyfde van die sesde maand, in die sesde jaar, het ek in my huis gesit, en die leiers van Juda het voor my gesit. Daar het die mag van die Here my God my toe plotseling in besit geneem. 2Ek het 'n gesig gesien. Daar was 'n mensvormige gestalte. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, was hy van vuur en van sy heupe af boontoe het dit gelyk soos blink, gloeiende metaal. 3Hy het iets uitgesteek wat soos 'n hand gelyk het en my aan my hare gevat: die Gees het my in die lug opgetel en my na Jerusalem toe gebring. Dit het gebeur in die gesig wat van God af gekom het. Die Gees het my gebring na die ingang van die poort aan die binnekant, die een wat na die noorde toe kyk, daar waar die afgodsbeeld gestaan het wat soveel heftige toorn veroorsaak het. 4Hier het ek die magtige verskyning van die God van Israel weer gesien, net soos die keer in die vallei. 5Hy het vir my gesê: “Mens, kyk noord!”

Ek het gekyk, en daar aan die noordekant van die poort by 'n altaar het daardie afgodsbeeld wat toorn veroorsaak, gestaan, by die ingang! 6God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen hulle? Sien jy die vreeslike afskuwelike dinge wat Israel doen, hier ver van my heiligdom af? Maar jy sal nog afskuweliker dinge sien.”

7Toe bring Hy my by die poort in die voorhof van die tempel, en daar sien ek 'n gat in die muur. 8Hy sê toe vir my: “Mens, breek af die muur!”

Toe ek die muur begin afbreek, sien ek 'n poort. 9God het vir my gesê: “Gaan in en kyk die gruwelike, afskuwelike dinge wat hulle hier doen!”

10Ek het ingegaan en gekyk. Daar was afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel wat rondom teen die mure uitgekap is. 11Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en 'n geurige wierookwolk het opgestyg. 12God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.”

13Toe sê die Here vir my: “Jy sal nog afskuweliker dinge sien wat hulle doen,” 14en Hy bring my by die ingang van die poort noord van die huis van die Here. Daar het vrouens gesit en huil oor Tammus.

15Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Maar jy sal nog afskuweliker dinge as hierdie sien.”

16Hy bring my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here toe. Daar in die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was 'n stuk of vyf en twintig man met hulle rug na die tempel van die Here toe en hulle gesig na die ooste toe, en hulle was besig om in aanbidding voor die son neer te val na die ooste toe. 17Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Was dit nie genoeg dat Juda dié afskuwelike dinge hier gedoen het nie? Hulle het boonop die hele land vol geweld gemaak, en dan kom tart hulle My nog met die druiweranke wat hulle voor hulle neuse rondswaai. 18Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.”

1Toe hoor ek die Here hard roep: “Die straf is naby vir die stad! Elkeen het sy wapen in die hand vir die vernietiging!”

2Daar kom toe ses manne van die boonste poort af, die poort wat noord kyk, elkeen met die wapen vir die verwoesting in sy hand. Een van hulle het linneklere aangehad, met 'n skrywersakkie aan sy gordel. Die manne het langs die bronsaltaar kom staan. 3Die magtige teenwoordigheid van die God van Israel het van die gerub af waarbokant dit was, opgestyg en by die tempel se drumpel gaan staan. Die Here het na die man geroep met die linneklere aan en die skrywersakkie aan sy gordel 4en vir hom gesê: “Gaan deur die stad, deur Jerusalem, en maak 'n merk op die voorkoppe van almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.”

5Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: “Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! 6Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Begin by my heiligdom!”

Hulle het toe begin met die ou manne voor die tempel. 7Die Here het vir die manne met die wapens gesê: “Verontreinig die tempel, maak die voorhowe vol lyke. Gaan dan verder.”

Hulle het toe verder gegaan en die mense in die stad begin doodmaak. 8Terwyl hulle aan die doodmaak was, het ek alleen agtergebly en ek het op my gesig platgeval en geroep: “Ag, Here my God, gaan U al wat van Israel oor is, uitroei terwyl U u toorn teen Jerusalem laat losbreek?”

9Hy het vir my gesê: “Die sonde van Israel en Juda is enorm groot. Die land is vol moord, die stad vol verdraaiing van die reg. Hulle dink: die Here is nie meer in die land nie, die Here sien nie. 10Daarom sal Ek nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Ek sal wat hulle doen, op hulle eie kop laat afkom.”

11Die man met die linneklere aan en die skrywersakkie aan die gordel laat toe weet: “Ek het gedoen wat U my beveel het.”

1Ek sien toe bokant die gewelf bo die koppe van die gerubs iets soos saffier met die vorm van 'n troon. Dit was sigbaar bokant die gerubs. 2Die Here het vir die man in linneklere gesê: “Gaan in tussen die wiele onder die gerubs, maak jou twee hande daar tussen die gerubs vol kole en strooi dit oor die stad.”

Die man het gegaan terwyl ek kyk. 3Die gerubs het regs van die tempel gestaan toe die man daar aankom, en die wolk het die binneste voorhof gevul. 4Die magtige teenwoordigheid van die Here het van bo die gerubs af opgestyg en bokant die tempel se drumpel gaan staan. Die tempel is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die magtige teenwoordigheid van die Here. 5Die geruis van die gerubs se vlerke kon tot in die buitenste voorhof gehoor word. Dit was soos die gedruis wanneer die almagtige God praat. 6Toe Hy die man met die linneklere beveel: “Gaan vat vuur tussen die wiele, tussen die gerubs,” het hy langs 'n wiel gaan staan. 7'n Gerub het sy hand daar tussen die gerubs uit na die vuur toe uitgesteek wat tussen die gerubs was, en kole gevat en dit gesit in die twee hande van die man met die linneklere aan. Die man het dit gevat en uitgekom.

8Onder die vlerke van die gerubs het iets sigbaar geword; dit het gelyk soos menshande. 9Ek het langs die gerubs vier wiele gesien, een langs elke gerub. Die voorkoms van die wiele was dié van edelstene. 10Hulle het eenders gelyk, en dit was of daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was. 11Hulle kon beweeg in die rigting van enige van hulle vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. 12Die gerubs se lywe, hulle rûe, hulle hande en vlerke en al vier wiele was rondom vol oë. 13Iemand het vir my gesê dit is wiele. 14Elke gerub het vier gesigte gehad: die eerste was dié van 'n gerub, die tweede dié van 'n mens, die derde dié van 'n leeu, die vierde dié van 'n arend. 15Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde wesens as wat ek by die Kebarrivier gesien het. 16Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg langs hulle, en wanneer die gerubs hulle vlerke gespan het om van die grond af op te styg, het die wiele nie van koers verander nie en langs hulle gebly. 17Wanneer die gerubs gestaan het, het die wiele gestaan, en wanneer die gerubs opgestyg het, het die wiele opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele.

18Die magtige teenwoordigheid van die Here het van die tempel se drumpel af beweeg en bokant die gerubs gaan staan. 19Die gerubs het hulle vlerke gespan en voor my oë van die grond af opgestyg. Toe hulle beweeg, is die wiele saam met hulle. Die gerubs het by die ingang van die oostelike poort van die huis van die Here gaan staan, en die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant hulle. 20Dit was dieselfde wesens as wat ek onder die God van Israel gesien het by die Kebarrivier, en ek het besef dit is gerubs. 21Elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en onder hulle vlerke het dit gelyk of daar menshande is. 22Hulle gesigte het gelyk soos die gesigte wat ek by die Kebarrivier gesien het. Elke wese het reg vooruit beweeg.

1Moenie roem oor wat jy môre verwag nie;

jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.

2Laat dit aan 'n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie;

laat dit uit 'n ander se mond kom, nie uit joune nie.

3Klip en sand is swaar om te dra,

maar die ergernis wat 'n dwaas veroorsaak, is swaarder as altwee.

4Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is 'n onkeerbare vloed;

teen jaloesie is niemand opgewasse nie.

5'n Openlike bestraffing is beter

as liefde wat onsigbaar bly.

6Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken;

iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.

7As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie;

as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet.

8Soos 'n voël wat sy nes net so los,

so is 'n man wat sy gesin in die steek laat.

9Reukolie en wierook is iets om te geniet,

maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.

10Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan

na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie:

'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is.

11As jy wysheid leer, my seun, sal dit my gelukkig maak

en sal ek kan terugantwoord as ek weer skimpe oor jou hoor.

12'n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie,

onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.

13As 'n vreemde vir iemand borg staan,

vat sy klere van hom af;

hou dit as pand, al staan hy borg vir 'n slegte vrou.

14As iemand sy buurman vroegdag met 'n geskreeu môre-sê,

kan mense dink hy is besig om hom te vervloek.

15Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag,

so is 'n vrou wat aanhou kyf.

16Wie haar probeer keer, kan net so wel die wind probeer keer

of olie met sy hand probeer vashou.

17Yster slyp yster,

vriende vorm mekaar.

18Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet;

wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang.

19Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk,

so sien jy jouself in wat jy dink.

20Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie;

'n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie.

21Die waarde van silwer word in 'n smeltkroes getoets,

dié van goud in 'n oond,

dié van 'n mens aan die lof wat hy ontvang.

22Al stamp jy 'n dwaas in 'n stampblok,

al stamp jy hom saam met sandkorrels in 'n vysel,

jy sal sy dwaasheid nie uit hom uit kry nie.

23Sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het,

gee aandag aan jou veetroppe.

24Rykdom hou nie vir altyd nie;

selfs koninklike mag is nie blywend nie.

25As daar van die gras hooi gemaak is, die veld weer groen word

en die voer uit die berge ingebring is,

26sal die skape jou klere voorsien

en die bokke sorg vir die koopprys van 'n stuk grond.

27Daar sal genoeg bokmelk wees om jou en jou gesin te voed

en ook nog jou slavinne te onderhou.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS