Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 190

ESEGIËL 1–5, PSALM 60

Bybelteks(te)

Die opdrag aan Esegiël

1Op die vyfde van die vierde maand, in die dertigste jaar, was ek tussen die ballinge aan die Kebarrivier. Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom. 2Dit was op die vyfde van die maand en dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin.

3Die woord van die Here het tot die priester Esegiël seun van Busi gekom. Dit het gebeur aan die Kebarrivier in Galdeërland. Die mag van die Here het vir Esegiël daar in besit geneem.

4Ek het 'n gesig gesien. Daar het 'n storm uit die noorde gekom, 'n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was 'n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal. 5Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het 'n mensvormige voorkoms gehad, 6maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. 7Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. 8Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar menshande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. 9Die een se vlerke het aan die een langs hom s'n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg. 10Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van 'n mens, regs dié van 'n leeu, links dié van 'n bul, en agter dié van 'n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. 11Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek. 12Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. 13Die vorm van die wesens, hulle voorkoms, was soos dié van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet. 14Die wesens het soos weerlig heen en weer geskiet. 15Terwyl ek so na die wesens kyk, sien ek 'n wiel op die grond langs elke wese met sy vier gesigte.

16Die voorkoms van die wiele en hulle afwerking was soos dié van edelstene. Hulle het eenders gelyk en al vier was so gemaak dat daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was; 17hulle kon in die rigting van enige van hulle vier kante beweeg, maar hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. 18Die wiele was groot en indrukwekkend en al vier se vellings was rondom vol oë. 19Wanneer die wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. 20Waarheen die Gees ook al wou, het hulle beweeg, en die wiele het saam opgestyg, want die wesens se gees was in die wiele. 21Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele; wanneer die wesens staan, staan die wiele; wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam op, want die wesens se gees was in die wiele.

22Bokant die wesens se koppe was iets wat gelyk het soos 'n gewelf, blink en skrikwekkend soos 'n ysberg. Die gewelf was bokant hulle koppe oopgespan. 23Onderkant die gewelf het hulle vlerke gestrek, die een teen die ander, en elkeen het met twee vlerke sy lyf bedek. 24Ek het die geruis van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geruis van 'n sterk waterstroom, soos die stem van die Almagtige, soos die gedruis van 'n menigte mense bymekaar, soos die gedreun van 'n leërmag. Wanneer hulle tot stilstand kom, het hulle hulle vlerke laat sak.

25Daar het 'n stem gekom van bokant die gewelf bo die wesens se koppe af. Hulle het hulle vlerke laat sak wanneer hulle tot stilstand kom. 26Bokant die gewelf bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van 'n troon, en daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens, hoog daarbo. 27Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met 'n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met 'n helder glans rondom. 28Die glans rondom was soos dié van die reënboog in 'n wolk na die reën. Dit was soos die magtige verskyning van die Here. Toe ek dit sien, val ek plat en ek hoor 'n stem praat.

1Die stem het vir my gesê: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.”

2Terwyl Hy met my praat, kom die Gees in my en laat my regop staan. Ek het die stem met my hoor praat. 3Hy het vir my gesê: “Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe, 'n opstandige nasie wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorvaders het hulle teen My verset tot op hierdie dag toe. 4Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê, 5of hulle luister of nie, want hulle is 'n weerbarstige volk, maar hulle sal agterkom dat daar 'n profeet tussen hulle is. 6En jy, mens, moenie vir hulle bang wees nie, ook nie vir wat hulle sê nie, al stuit jy op weerstand, op dorings, al sit jy op skerpioene. Moenie bang wees vir wat hulle sê nie, moenie vir hulle skrik nie. Hulle is 'n weerbarstige volk. 7Jy moet vir hulle sê wat Ek sê, of hulle luister of nie, want hulle is weerbarstig. 8En jy, mens, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie weerbarstig wees soos hierdie weerbarstige volk nie, maak oop jou mond en eet wat Ek jou gee.”

9Toe sien ek daar is 'n hand na my toe uitgesteek, en in die hand was 'n boekrol. 10Die hand het die boekrol voor my oopgerol. Dit was aan albei kante volgeskryf, en wat daarop geskryf was, was klaagliedere, treurliedere en smartroepe.

1Die stem het vir my gesê: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.”

2Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet. 3Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.”

Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.

4Toe sê Hy vir my: “Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê. 5Jy word nie gestuur na 'n volk wat 'n onverstaanbare, moeilike taal praat nie, maar na die mense van Israel toe, 6ook nie na baie volke toe met onverstaanbare, moeilike tale sodat jy nie kan verstaan wat hulle praat nie. Het Ek jou maar na hulle toe gestuur! Hulle sou na jou geluister het. 7Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik. 8Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s'n. 9Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees, vir hulle skrik nie. Hulle is 'n weerbarstige volk.”

10Hy het verder vir my gesê: “Mens, onthou alles wat Ek vir jou sê, luister goed daarna 11en gaan na die ballinge toe, na jou volksgenote toe; spreek hulle aan, sê vir hulle wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie.”

12Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my die gedreun van 'n groot aardbewing en 'n stem: “Die hemel self moet die magtige verskyning van die Here loof!”

13Daar was die geruis van die wesens se vlerke wat aan mekaar geraak het, die gedreun van die wiele daarmee saam en die gedreun van die groot aardbewing. 14Die Gees het my opgetel en my weggevat, en ek is daar weg, swaarmoedig en ontsteld. Die mag van die Here het my op 'n harde manier in besit geneem. 15Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit.

16Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: 17“Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku.

18“Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. 19As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou.

20“En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot 'n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. 21As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.”

22Die mag van die Here het my daar in besit geneem. Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe, Ek sal daar met jou praat.”

23Ek is toe na die vallei toe. Die magtige verskyning van die Here het daar gestaan, net soos ek Hom aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval, 24maar die Gees het in my gekom en my regop laat staan. Die Here het met my gepraat, Hy het vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis. 25Mens, jy sal vasgebind word met toue, sodat jy nie tussen die mense kan kom nie. 26Ek laat jou tong aan jou verhemelte vassit, sodat jy nie kan praat nie en hulle nie kan bestraf nie, al is hulle 'n weerbarstige volk. 27Maar wanneer Ek jou die opdrag gee en jou tong losmaak, moet jy vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê. Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil: hulle is 'n weerbarstige volk.”

Die beleg en val van Jerusalem

1“Mens, vat 'n baksteen, sit dit voor jou neer en teken daar 'n stad op: Jerusalem. 2Beleër die stad; bou beleëringswerke, gooi 'n beleëringswal teen hom op, slaan 'n kamp op, stel stormramme rondom hom op. 3Vat dan 'n ysterplaat en laat hom 'n ystermuur wees tussen jou en die stad. Kyk na die stad toe. Hy moet beleër wees, en jy moet hom beleër. Dit is 'n teken vir Israel.

4“Dan moet jy op jou linkersy gaan lê en die sonde van die volk Israel op jou neem. Jy moet hulle sonde dra die volle getal dae dat jy op jou sy lê. 5Soveel jare as wat hulle bly sondig het, soveel dae lê Ek jou op: drie honderd en negentig dae lank moet jy die sonde van die volk Israel dra. 6En as jy daarmee klaar is, moet jy op jou regtersy lê en die sonde van die volk Juda dra, veertig dae lank: Ek lê jou 'n dag op vir elke jaar.

7“Kyk stip na die beleëring van Jerusalem, dreig die stad, tree as profeet op teen hom. 8Ek bind jou met toue vas, sodat jy nie van die een sy op die ander kan draai voor jy klaar is met die beleëring nie.

9“Vat koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt, sit dit in 'n skottel en maak vir jou kos daarvan. Jy moet daarvan eet so lank jy op jou sy lê, drie honderd en negentig dae lank. 10Die kos wat jy elke dag moet eet, moet twee honderd en dertig gram weeg, en jy moet dit met tussenposes eet. 11Die water wat jy moet drink, moet afgemeet word: ses honderd en sewentien milliliter. Jy moet dit met tussenposes drink. 12Jy moet die kos gebruik in die vorm van brood en dit gaarmaak op die droë uitwerpsel van mense waar almal dit kan sien.

13“So sal die Israeliete ook onrein kos eet tussen die nasies waarheen Ek hulle gaan verstrooi, sê die Here.”

14Toe sê ek: “Ag, Here my God, ek is nooit verontreinig nie, ek het van my jong dae af tot nou toe nie die vleis van diere wat gevrek het of deur roofdiere doodgemaak is, geëet nie, ek het ook nooit my mond gesit aan offervleis wat te lank oorgestaan en onrein geword het nie.”

15Die Here het vir my gesê: “Jy kan dan maar jou kos gaarmaak op beesmis in plaas van op die uitwerpsel van mense.”

16Verder het Hy vir my gesê: “Mens, Ek gaan hongersnood bring in Jerusalem. Hulle sal brood volgens gewig eet en met kommer, hulle sal water volgens maat drink en met huiwering. 17Wanneer hulle broodsgebrek het en dors ly, sal hulle mekaar met skrik aanskou en van hulle sonde vergaan.

1“Mens, vat 'n skerp swaard en gebruik dit vir 'n skeermes en skeer af jou hare en jou baard. Vat dan 'n skaal en deel die hare in drie. 2'n Derde moet jy binne-in die stad verbrand sodra die beleg verby is, 'n derde moet jy met die swaard rondom die stad fynkap, en 'n derde moet jy deur die wind laat wegwaai. Ek sal hulle met die swaard agtervolg. 3Jy moet 'n klompie hare agterhou en in die vou van jou klere toemaak, 4en van hulle moet jy nog 'n paar vat en in die vuur gooi en verbrand. Daar sal 'n vuur daarvandaan uitgaan na die hele Israel toe.”

5So sê die Here my God: “Hier is Jerusalem tussen die nasies waar Ek hom geplaas het, met ander lande rondom hom. 6Maar hy het hom verset teen my bepalings en my voorskrifte, hy was erger as die nasies en die lande rondom hom. Sy inwoners het my bepalings verwerp en het nie volgens my voorskrifte geleef nie.”

7So sê die Here my God: “Julle het erger te kere gegaan as die nasies rondom julle toe julle nie volgens my voorskrifte en my bepalings geleef het nie; julle het nie eens volgens die gebruike van die nasies rondom julle geleef nie.

8“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou ook jou teenstander word, Jerusalem, Ek gaan jou straf voor die oë van die nasies. 9Ek gaan oor al jou afskuwelike dade aan jou doen wat Ek nog nie gedoen het nie en nie weer sal doen nie. 10Vaders sal hulle eie kinders eet in jou, en kinders sal hulle eie vaders eet. Ek gaan jou straf en al jou inwoners wat oorbly, in alle windrigtings verstrooi. 11So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “omdat jy my heiligdom met al jou walglikhede, met al jou afskuwelikhede verontreinig het, gaan Ek jou kaalstroop sonder medelye, sonder genade. 12Een derde van jou inwoners sal van pes doodgaan of van honger omkom in jou, een derde sal rondom jou met die swaard doodgemaak word en een derde sal Ek na alle windrigtings toe verstrooi en met die swaard agtervolg. 13Dan sal my toorn gekoel wees en sal Ek my woede teen hulle tot bedaring bring en sal Ek tevrede gestel wees. Wanneer Ek so my woede op hulle gekoel het, sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle aangespreek het omdat Ek oor hulle begaan was.

14“Ek maak jou 'n puinhoop, Jerusalem, Ek maak jou die spot van die nasies rondom jou. Almal wat by jou verbygaan, sal dit sien. 15Die nasies rondom jou sal die spot met jou dryf en jou uitlag, jy sal dien as 'n waarskuwing en 'n afskrikmiddel vir hulle wanneer Ek jou in my toorn en in my woede straf en jou vir jou dade laat boet. Ek, die Here, sê dit.

16“Wanneer Ek my pyle op julle, inwoners van Jerusalem, afskiet, doen Ek dit juis om julle uit te roei. My pyle is swaar hongersnood waardeur julle uitgeroei sal word, en Ek sal dit al erger laat word, Ek sal julle kos laat opraak. 17Ek bring hongersnood en 'n roofdierplaag oor julle wat julle kinders sal uitroei; pes en bloedvergieting sal julle tref, Ek bring oorlog oor julle. Ek, die Here, sê dit.”

Help ons tog teen die vyand

1Vir die koorleier: op die wysie van “Die lelie”. 'n Getuienis. 'n Gedig van Dawid, vir onderwys bedoel, 2na aanleiding van sy geveg teen die Arameërs van Mesopotamië en die Arameërs van Soba toe Joab twaalf duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

3U het ons verstoot, o God,

ons uitmekaar geskeur.

U was kwaad vir ons.

Laat dit tog weer met ons goed gaan.

4U het die land laat bewe en dit oopgekloof.

Genees tog die wonde, want ons gaan tot niet.

5U het 'n ramp oor u volk gebring,

U het ons wyn laat drink wat ons laat steier het.

6Trek tog u dienaars saam onder u vaandel

dat hulle veilig kan wees teen die boog van die vyand. Sela

7Red ons deur u groot mag, en help ons,

sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word.

8God het in sy heilige woning gesê:

“As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel

en die Sukkotlaagte uitdeel!

9Aan My behoort Gilead, aan My behoort Manasse!

Efraim is my vernaamste vesting,

Juda my koninklike gebied.

10Moab is tot my beskikking,

Edom neem Ek in besit,

oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.”

11Wie sal ons na Edom toe lei,

ons bring na sy versterkte stad?

12U het ons verstoot, o God,

U trek nie saam met ons leërs uit nie, o God!

13Help U ons tog teen die vyand,

want die hulp van mense – dit is niks.

14Met God aan ons kant sal ons oorwin,

Hy self sal ons vyande vertrap.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS