Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 186

Jeremia 43–48, Psalm 56

Bybelteks(te)

Die vlug na Egipte toe

1Maar toe Jeremia klaar vir al die mense alles gesê het wat die Here hulle God gesê het en wat Hy vir hulle laat weet het, al hierdie woorde, 2het Asarja seun van Hosaja, en Joganan seun van Kareag, en al die ander hooghartige manne, vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie beveel om vir ons te sê ons moenie na Egipte toe gaan om daar te gaan woon nie. 3Dit is Baruk seun van Nerija wat jou teen ons opstook om ons in die mag van die Galdeërs te laat beland sodat hulle ons kan doodmaak of ons na Babel toe kan verban!”

4Joganan seun van Kareag, die leëraanvoerders en die manskappe wou nie een die Here gehoorsaam en in Juda bly nie. 5Hulle het almal saamgevat wat van Juda oor was, wat van oral waar hulle onder die ander nasies verstrooi was, teruggekom het om in Juda te bly, 6mans, vrouens en kinders, en ook die prinsesse en al die ander wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, geplaas was, ook die profeet Jeremia en Baruk seun van Nerija. 7Joganan-hulle het die Here nie gehoorsaam nie en is na Egipte toe. Daar het hulle in Tagpanges aangekom.

Nebukadnesar sal Egipte verower

8Die woord van die Here het in Tagpanges tot Jeremia gekom: 9Vat groot klippe en begrawe hulle in die grond, in die kleivloer van die ingang na die farao se paleis in Tagpanges. Doen dit terwyl van die Judeërs jou sien. 10Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek laat my dienaar koning Nebukadnesar van Babel haal en Ek sit sy troon bo-oor dié klippe wat Ek laat begrawe het en Ek span sy troonhemel daaroor. 11Nebukadnesar sal kom en Egipte verslaan. Wie aan pes moet sterf, sal aan pes sterf; wie as gevangene weggevoer moet word, sal as gevangene weggevoer word; wie met die swaard doodgemaak moet word, sal met die swaard doodgemaak word. 12Ek sal die tempels van Egipte afbrand en Nebukadnesar sal die gode verbrand of hulle as buit saamvat. Hy sal Egipte so skoon stroop soos wanneer 'n skaapwagter luise soek in sy klere, en daarna sal hy ongehinderd vertrek. 13Hy sal die klippilare in Bet-Semes stukkend slaan, Bet-Semes in Egipte, en hy sal die tempels van Egipte afbrand.

Die straf op die Judeërs in Egipte

1Die woord van die Here wat gekom het tot Jeremia vir al die Judeërs wat in Egipte gewoon het, in Migdol, in Tagpanges, in Memfis en in die Patrosstreek:

2So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het gesien watter rampe Ek alles oor Jerusalem en al die stede van Juda gebring het; hulle is vandag puinhope en daar woon niemand in hulle nie. 3Dit het gebeur omdat julle en julle voorvaders gesondig het en My in my eer gekrenk het toe julle vir ander gode wierookoffers gebring en hulle gedien het, gode van wie julle nie voorheen geweet het nie. 4Ek het my dienaars die profete almal na julle toe gestuur, vroeg en laat, en vir julle gesê: Moenie die afskuwelike dinge doen nie. Ek haat dit. 5Maar julle het nie geluister nie, nie gehoor gegee en julle van julle sonde bekeer en opgehou om wierookoffers vir ander gode te bring nie. 6Daarom het my gramskap en my toorn ontvlam. Dit het gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, en die stede het puinhope geword, verlate soos hulle vandag is.

7So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Waarom bring julle die groot ramp oor julleself, oor elke man en vrou, elke kind en suigling uit Juda, sodat daar niks van julle oor is nie? 8Julle tart My met wat julle doen, julle offer aan ander gode hier in Egipte waar julle kom woon het. So roei julle julleself uit en sal die mense op die hele aarde julle name as voorbeelde gebruik wanneer hulle mekaar iets slegs wil toewens of wil verneder. 9Het julle vergeet van die sonde wat julle voorvaders en die konings van Juda en hulle vrouens gedoen het en wat julle self en julle vrouens gedoen het in Juda en op die strate van Jerusalem? 10Julle het tot vandag toe nie berou daaroor nie, julle het nog nie eerbied vir My nie, julle leef nog nie volgens my wet en my voorskrifte wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het nie.

11Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gaan Ek julle swaar straf en die hele Juda uitroei. 12Ek gaan dié wat van Juda oor is en wat besluit het om hier in Egipte te kom woon, heeltemal vernietig. Julle sal almal deur die oorlog en deur hongersnood afgemaai word in Egipte. Van klein tot groot sal sterf deur oorlog en deur hongersnood. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder. 13Ek sal dié wat in Egipte woon, straf soos Ek dié in Jerusalem gestraf het: met oorlog, met hongersnood, met pes. 14Daar sal nie een vrykom van dié wat van Juda oor is en wat in Egipte gaan woon het nie, nie een om na Juda toe terug te gaan nie, hoe hulle ook daarna verlang om terug te gaan en daar te gaan woon. Hulle sal nie teruggaan nie, nie vrykom nie.

15Die mans, wat almal geweet het dat hulle vrouens vir ander gode offer, en al die vrouens wat teenwoordig was, 'n hele menigte, trouens, almal wat daar in Egipte in Patros gewoon het, het toe vir Jeremia gesê: 16“Ons gaan nie luister na wat jy vir ons sê in die Naam van die Here nie. 17Ons sal bly doen wat ons beloof het: ons sal vir die hemelkoningin wierookoffers bring en drankoffers uitgiet net soos ons, ons voorvaders, ons konings en ons amptenare in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het. Ons het daardie tyd genoeg te eet gehad, ons was voorspoedig, en geen ramp het ons getref nie. 18Dit is vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin wierookoffers te bring en drankoffers uit te giet dat ons aan alles gebrek het en dat ons sterf deur oorlog en deur hongersnood.”

19Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?”

20Toe sê Jeremia vir al die mense, vir die mans en die vrouens, vir almal wat hom so geantwoord het: 21“Het die Here nie juis gedink aan die wierookoffers wat julle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het nie, julle en julle voorvaders, julle konings en julle amptenare, het Hy nie juis dít in ag geneem nie? 22Hy kon julle gruweldade, die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie langer verdra nie. Daarom het julle land 'n puinhoop geword, iets wat mense met afgryse vervul en wat as voorbeeld genoem word wanneer mense ander iets slegs toewens, 'n land sonder inwoner, soos dit vandag is. 23Dit is omdat julle die wierookoffers gebring het en teen die Here gesondig het, omdat julle ongehoorsaam was aan die Here en nie geleef het volgens sy wet, sy voorskrifte en sy verordeninge nie, dat die ramp julle getref het soos dit vandag is!”

24Jeremia het verder vir al die mense, ook vir al die vrouens, gesê: Hoor die woord van die Here, alle Judeërs in Egipte! 25So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle en julle vrouens het gedoen wat julle beloof het. Julle het gesê julle sal bly by julle belofte om vir die hemelkoningin wierookoffers en drankoffers te bring. Hou by julle belofte, hou daarby, doen wat julle beloof het, doen dit!

26Maar hoor die woord van die Here, alle Judeërs wat in Egipte woon: Ek lê 'n eed af by my groot Naam: Nooit sal my Naam weer deur 'n enkele Judeër genoem word nie, niemand van julle almal in Egipte sal weer sê: “So seker as die Here my God leef” nie. 27Ek sal noulettend na julle kyk, ten kwade, nie ten goede nie, en elke Judeër in Egipte sal omgebring word: deur oorlog, deur hongersnood, totdat daar niemand oor is nie. 28Dié wat aan die oorlog ontkom en uit Egipte na Juda toe terugkom, sal min wees. Almal wat van Juda oor is en in Egipte kom woon het, sal tot die besef kom wie se woord bly staan, Myne of hulle s'n. 29Ek sal vir julle 'n teken gee dat Ek julle gaan straf in hierdie plek, sê die Here, straf sodat julle sal besef dat my woorde vasstaan, julle ten kwade. 30So sê die Here: Ek gaan die farao, koning Gofra van Egipte, oorgee in die mag van sy vyande, in die mag van dié wat sy lewe soek, net soos Ek vir koning Sedekia van Juda oorgegee het in die mag van sy vyand, die man wat sy lewe gesoek het, koning Nebukadnesar van Babel.

Ek sal jou jou lewe laat behou

1'n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija, toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. Dit was in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.

2So sê die Here die God van Israel oor jou, Baruk: 3Jy sê dit is klaar met jou, die Here het nog meer lyding by jou smart gevoeg, jy is al uitgeput van kla, jy kry nie rus nie? 4Die Here sê ek moet vir jou sê: So sê die Here: Wat Ek gebou het, slaan Ek plat; wat Ek geplant het, ruk Ek uit. Dit het gebeur met 'n hele land. 5En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie! Ek gaan 'n ramp oor alle mense bring, sê die Here. Tog sal Ek jou jou lewe laat behou waar jy ook gaan, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.

Teen die leërmag van die farao

1'n Woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het. Dit handel oor die ander nasies.

2Oor Egipte. Teen die leërmag van die farao, koning Neko van Egipte, wat in Karkemis aan die Eufraat is waar hy deur koning Nebukadnesar van Babel verslaan is; dit het gebeur in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.

3Hou reg die skilde, klein en groot,

ruk op vir die oorlog!

4Span in die perde, klim op die ryperde,

tree aan met helms op, vryf die spiese blink,

trek harnasse aan!

5Hoe is dit dan dat Ek hulle sien skrik en terugval?

Hulle soldate word uitmekaargejaag,

hulle slaan op die vlug

en draai nie weer om nie;

daar is paniek aan alle kante!

sê die Here.

6Selfs nie die vinniges kan wegkom nie,

die soldate kom nie vry nie.

Daar in die noorde,

op die oewer van die Eufraatrivier,

val hulle, slaan hulle neer.

7Wie is dit wat daar soos die Nyl oor sy walle stroom,

wat soos die groot rivier brul?

8Egipte stroom oor sy walle soos die Nyl,

hy brul soos die groot rivier

en sê: “Ek sal oor my walle stroom en die aarde bedek,

ek sal stede wegvee saam met hulle inwoners.”

9Spring, perde! Storm voort, strydwaens!

Trek op, soldate uit Kus en Put,

met skilde gewapen,

trek op, boogskutters uit Lud!

10Dié dag behoort aan die Here,

die Here die Almagtige.

Dit is 'n dag van wraak

waarop Hy Hom op sy vyande gaan wreek.

Die swaard sal oorgenoeg kry,

hy sal dronk word van hulle bloed:

daar is 'n offerfees vir die Here,

vir die Here die Almagtige,

daar in die noordland, op die oewer van die Eufraat.

11Gaan na Gilead toe, Egipte,

gaan haal balsem;

jou baie medisynes help nie,

jy word nie gesond nie.

12Die ander nasies hoor van jou vernedering,

jou smartkrete vul die aarde.

Soldaat na soldaat het geval,

die een het met die ander saam gesneuwel.

Daar wag 'n neerlaag vir Egipte

13'n Woord wat deur die Here aan die profeet Jeremia oorgedra is toe koning Nebukadnesar van Babel gekom het om Egipte aan te val.

14Julle moet dit in Egipte bekend maak,

julle moet dit laat hoor in Migdol,

julle moet dit laat hoor in Memfis en Tagpanges,

julle moet sê:

Staan gereed, maak jou reg,

want die swaard verteer reeds rondom jou!

15Hoe is dit dan dat jou aanvoerders afgemaai word?

Hulle bly nie staan nie, die Here stoot hulle om.

16Hulle bly struikel, hulle val oor mekaar,

en hulle sê: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe,

na die land toe waar ons gebore is,

weg van die swaard af wat so wild te kere gaan!”

17Hulle skree: “Daar is die farao, die koning van Egipte,

die grootprater wat sy kanse verspeel het!”

18So seker as Ek leef, sê die Koning

wie se Naam die Here die Almagtige is:

Daar kom iemand wat so magtig is

soos Tabor onder die berge,

soos Karmel aan die see.

19Pak julle bondels vir die ballingskap,

inwoners van Egipte!

Memfis gaan 'n verlate stad word,

verwoes en sonder inwoners.

20Egipte is 'n pragtige jong vers,

maar daar kom 'n blindevlieg uit die noorde.

21Die huurtroepe in Egipte

is soos vetgemaakte kalwers,

maar hulle sal almal omdraai en vlug,

hulle sal nie bly staan nie,

want die dag kom wanneer 'n ramp hulle tref,

die tyd wanneer daar met hulle afgereken sal word.

22Egipte sal sis soos 'n slang en padgee

wanneer die vyand se leërmag aankom,

wanneer hulle soos houtkappers met byle na Egipte toe aankom.

23Hulle gaan sy bos afkap, sê die Here,

al is die bos hoe dig.

Die leër van die vyand is groter as 'n sprinkaanswerm,

die soldate kan nie getel word nie.

24Daar wag 'n neerlaag vir Egipte,

hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.

25Die Here die Almagtige, die God van Israel, het gesê: Ek gaan afreken met Amon die god van No, met die farao, met Egipte en met sy gode en sy konings, en met almal wat op hom steun. 26Ek gee hom oor in die mag van dié wat hom wil vernietig, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy onderhoriges. Maar daarna sal Egipte weer bewoon word soos vroeër tye, sê die Here.

Jakob sal weer veiligheid en rus geniet

27Maar jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie!

Moenie bekommerd wees nie, Israel!

Ek gaan jou red uit daardie ver land,

Ek gaan jou nageslag red

uit die land waar hulle ballinge is.

Jakob sal weer veiligheid en rus geniet,

en niemand sal hom bedreig nie.

28Jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie,

sê die Here,

want Ek is by jou.

Wanneer Ek 'n einde maak aan al die nasies

waaronder Ek jou verstrooi het,

sal Ek aan jou nie 'n einde maak nie.

Maar Ek sal jou straf soos jy verdien,

jy sal nie ongestraf bly nie.

Teen die Filistyne

1'n Woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het. Dit handel oor die Filistyne, voordat die farao vir Gasa verower het.

2So sê die Here:

Daar kom vloedwater uit die noorde,

dit word 'n stroom wat oor sy walle stoot,

dit stroom oor die land en alles in hom,

oor die stad en sy inwoners.

Mense skree, al die inwoners van die land huil

3wanneer hulle hoor hoe die perdepote klap,

die strydwaens dreun, die wiele raas.

Pa's draai nie om om hulle kinders te help nie,

hulle hande hang slap.

4Die dag het gekom waarop al die Filistyne

uitgeroei word,

waarop elkeen wat vrygekom het

en vir Tirus en Sidon kan help,

doodgemaak word.

Die Here gaan die Filistyne uitroei,

dié wat nog oor is van almal

wat van Kaftoreiland af gekom het.

5Gasa sal rou met kaalgeskeerde kop,

Askelon sal woordeloos staan.

Julle wat nog oor is daar op julle vlakte,

hoe lank gaan julle julle van smart bly stukkend sny?

6“Ag, swaard van die Here,

hoe lank nog voor jy tot rus kom?

Gaan terug na jou skede toe!

Hou op, bedaar tog!”

7Maar hoe kan hy tot rus kom

as die Here hom die bevel gegee het,

hom 'n werk gegee het in Askelon en op die seekus?

Oor Moab

1Oor Moab. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:

Ellende wag vir Nebo, want hy word verwoes;

Kirjatajim word verneder en ingeneem,

die vestingstad word verneder en platgeslaan.

2Die roem van Moab word nie meer besing nie;

sy ondergang word in Gesbon beplan:

“Kom ons roei daardie nasie uit!”

Ook aan Madmen word 'n einde gemaak!

Die swaard is agter jou aan!

3Van Goronajim af klink smartkrete

oor die groot verwoesting en ondergang.

4Moab word uitmekaargeskeur;

smartkrete weerklink in sy dorpies.

5Sy mense klim huil-huil

die opdraand na Lugit toe uit;

benoude smartkrete oor die ondergang van Moab

weerklink op die pad af na Goronajim toe.

6Vlug! Probeer wegkom,

word liewer soos 'n kaal bossie in die woestyn!

7Omdat jy jou vertroue gestel het

in wat jy self gedoen en vergaar het,

word jy ook 'n gevangene

en word Kemos in ballingskap weggevoer

saam met sy priesters en sy amptenare.

8Die verwoester pak elke stad,

nie een kom vry nie.

Die Jordaanvallei gaan tot niet,

die hoogvlakte word verwoes,

want die Here het gepraat.

9Laat Moab vlug,

want die land lê in puin.

Sy stede lê verlate, sonder inwoners.

10Daar rus 'n vloek op elkeen wat traag is

om die werk te doen wat die Here hom gegee het,

op elkeen wat sy swaard nie vrylik

bloed laat vergiet nie.

11Moab sit van sy jeug af rustig,

so ongestoord soos wyn op sy afsaksel,

wyn wat nie van een kruik in 'n ander oorgegooi is nie.

Hy is nooit in ballingskap weggevoer nie;

sy smaak het dieselfde gebly,

sy geur het nie verander nie.

12Maar daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat Ek mense stuur wat wyn uitgooi,

en hulle sal Moab uitgooi,

hulle sal sy kruike leegmaak,

sy wynkanne stukkend slaan.

13Moab sal by Kemos nie hulp kry nie,

net so min as wat Israel hulp gekry het

by Bet-El op wie hy vertrou het.

14Hoe kan julle nog sê:

“Ons is soldate,

ons is manne wat reg is vir oorlog?”

15Die verwoester is al op pad

na Moab se stede toe,

en die keur van Moab se jongmanne

is op pad na hulle dood toe.

Dit is wat die Koning sê,

sy Naam is die Here die Almagtige:

16Die ramp wat Moab gaan tref, is naby,

sy ongeluk kom vinnig nader.

17Julle almal rondom hom,

julle almal wat hom by die naam ken,

kan maar met meegevoel die koppe skud

en sê: “Hoe het dié magtige ryk,

dié glansryke heerskappy, tot 'n val gekom!”

18Klim maar af van jou ereplek af

en gaan sit op die dorre aarde,

inwoner van Dibon,

want die verwoester van Moab is al op pad na jou toe;

hy gaan jou vestingstede in puin lê.

19Gaan staan op die uitkyk langs die pad,

inwoner van Aroër,

ondervra elke man en vrou

wat vlug, wat probeer ontkom,

vra: “Wat het gebeur?”

20Moab is verslaan, hy is angsbevange.

Huil, skreeu, gaan vertel by die Arnon

dat Moab verwoes is!

21Die straf het gekom na die land met die hoogvlakte toe,

na Golon, na Jahas, na Mefaät toe,

22na Dibon, na Nebo, na Bet-Diblatajim toe,

23na Kirjatajim, na Bet-Gamul, na Bet-Meon toe,

24na Kerijot, na Bosra, na al die stede in Moab toe,

ver en naby.

25Die heerskappy van Moab is vernietig,

sy mag is gebreek, sê die Here.

26Moab het hom groot gehou teen die Here;

maak hom dronk, laat hom aanhou braak,

laat hom ook 'n spot word!

27Jy het mos vir Israel gespot, Moab;

het Israel hom dan met diewe opgehou

dat jy met voldoening jou kop moes knik

elke keer as jy oor hom gepraat het?

28Vlug uit die stede! Gaan woon teen die kranse,

inwoners van Moab!

Word soos duiwe wat nes maak

bo teen die rante van 'n put.

29Ons het gehoor van Moab se vermetelheid,

sy opperste hoogmoed, sy verwaandheid,

sy vermetelheid en sy trots,

sy selfvoldaanheid.

30Ek ken sy hovaardigheid, sê die Here;

sy grootpratery bring niks,

al wat hy doen, kom tot niks.

31Daarom huil Ek oor Moab,

kla Ek oor die hele Moab,

en kerm die mense oor die manne van Kir-Geres.

32Meer as oor Jaser huil Ek oor jou, wingerd van Sibma;

jou ranke reik tot aan die see,

hulle strek tot by Jaser.

Die verwoester sak toe op jou vrugte en jou druiwe.

33Vreugde en gejuig het verdwyn uit die vrugteboorde en uit Moab;

Ek het die wyn laat wegraak uit die parskuipe;

die vreugde om druiwe uit te trap is daar nie meer nie,

daar is geen oesvreugde meer nie.

34Die hulpgeroep van Gesbon klink tot in Elale,

dit word gehoor tot by Jahas,

van Soar af tot by Goronajim en Eglat-Selisija.

Selfs die water van Nimrim het opgedroog.

35Ek maak 'n end, sê die Here, aan dié Moab

wat hoogtes toe gaan en aan hulle gode offer.

36Soos die klaagsang van 'n fluit,

so kla dit in My oor Moab.

Soos die klaagsang van 'n fluit,

so kla dit in My oor die mense van Kir-Geres:

alles wat hulle vergaar het, is daarmee heen.

37Almal treur: die koppe is kaalgeskeer, die baarde afgesny,

die hande het snye aan, almal dra rouklere;

38daar word oral op die dakke in Moab

en op sy stadspleine getreur,

want Ek het Moab gebreek

soos 'n kleipot wat niemand wil hê nie, sê die Here.

39Hoe angsbevange word Moab, hoe vlug hy ná sy neerlaag!

Huil maar, want Moab word 'n spot,

hy word 'n afskrikwekkende voorbeeld vir sy bure.

40So sê die Here:

Die vyand sal soos 'n aasvoël op Moab afsak

en oor hom sweef.

41Stede sal verower word,

vestings ingeneem word.

Daardie dag sal Moab se soldate so bang wees

soos vrouens wat vasgekeer is.

42Moab sal uitgeroei word en ophou om 'n volk te wees,

want hy het hom groot gehou teen die Here.

43Daar wag gevaar en vanggate en strikke vir julle,

inwoners van Moab, sê die Here.

44Wie van die gevaar af probeer wegkom, sal in 'n vanggat val,

wie uit 'n vanggat probeer uitklim, sal in 'n strik gevang word.

Ek bring oor Moab

'n jaar van afrekening,

sê die Here.

45In die skaduwee van Gesbon

staan die vlugtelinge sonder krag,

want daar het 'n vuur uit Gesbon uit gegaan,

'n vlam uit Sihon uit,

en dit het die voorkop van Moab,

die koppe van die grootpraters verteer.

46Dit is klaar met jou, Moab;

die volk van Kemos word uitgeroei.

Jou seuns word in ballingskap weggevoer,

jou dogters as gevangenes.

47Maar wanneer die tyd daar is,

sal Ek die lot van Moab verander, sê die Here.

Hier eindig die oordeel oor Moab.

In God stel ek my vertroue

1Vir die koorleier: op die wysie van “Die duif in die hoë bome”. Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat die Filistyne hom in Gat gevange geneem het.

2Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag,

vyande wat my vervolg van die môre tot die aand.

3Vroeg en laat jaag my teëstanders my,

en ek het baie vyande, o Allerhoogste.

4Die dag as ek bang word,

vertrou ek net op U.

5In God, wie se woord ek prys,

in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.

Wat kan 'n blote mens aan my doen?

6Hulle vergal my lewe gedurig met beskuldigings teen my,

al hulle bose planne is teen my gerig.

7Hulle lê op die loer en hou my dop,

hulle bly op my hakke,

so gretig wag hulle op my dood.

8Moenie dat hulle ongestraf bly vir hierdie vyandigheid nie!

Laat u toorn hulle vernietig, o God!

9My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie,

U het op my trane gelet.

In u boek staan hulle opgeteken.

10Die dag wanneer ek na U roep om hulp,

val my vyande terug.

Dít weet ek: God is aan my kant.

11In God, wie se woord ek prys,

in die Here, wie se woord ek prys,

12in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.

Wat kan 'n mens aan my doen?

13Ek moet my geloftes aan U nakom, o God,

ek wil U met dankoffers betaal,

14want U het my van die dood gered,

my voet nie laat struikel nie,

en met God by my kon ek my pad aanhou loop

en die lewenslig bly sien.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS